Algehele lekkerte

Ek wil vandag 'n stroomop-brief skryf. Dit druis in teen die meerderheid briewe en geskrifte op die werf. Dit is nie polities, seksueel, ekonomies, of Godsdienstig van aard nie.

Sit nou die Satteragaand, stoksielalleen ongekwes in my nes en kyk beeldradio. Wat 'n gawe program bied die Afrikaanse kanaal op DSTV toe nou op die kykkassie aan.

Ek is nie 'n kenner of groot aanhanger van die hedendaagse Afrikaanse musiek nie, maar het die program terdeë geniet. Wat ek van die program gehou het, die mense was skoon gewas en ordentlik aangetrek. Jy kon hulle hoor sing. Die musiek was luisterbaar en gemaklik op die oor. Daar is 'n mark en 'n aanhang van die ander tipes musiek en het ek gelukkig die keuse om dit af te skakel of na 'n ander kanaal oor te skakel. Ek is aangenaam verras deur die musikale verwerkings en optrede van die orkes en die agtergrond-musikante. Ons kan voorwaar trots wees op die talent wat ons in die land oor beskik.

Sondagmiddag se program van die arrogante Neiderlander met sy viool en groot orkes het my ook rustig gestem. Daar was 'n dame van Suid-Afrika wat gesing het wat my na mense verlang het wat ek nie ken nie. Dit is lekker om sulke programme te kan kyk en verstom te staan oor die talent wat mense het.

'n Paar mense het al vir my gesê dat ek ver behoort te kom met my stem. Ver van ander mense af.

Dit was nogtans lekker.

Reusedwerg

Kommentaar

  • Stem saam Reusedwerg, musiek bly musiek. Wat die moderne lawaai betref, ek het beslis beter geluide uit ’n hondsdol aap hoor kom as wat die vuilgatte met geskeurde klere staan en gil in ’n mikrofoon.

    Ek deel ook jou probleem met jou stem, al wat tussen my en die verhoog staan is my stem.

    Singende groete

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.