Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

  • 1

Al wat ek weet
Marita van der Vyver

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799378856

Marita van der Vyver vertel vir Naomi Meyer van haar boek Al wat ek weet, wat pas in die 2017 kykNET-Rapport Boekpryse se filmkategorie benoem is.

Marita, baie geluk met jou benoeming op die kortlys van die kykNET Rapport-boekpryse. Al wat ek weet is ’n kragtige titel. Het jy van die begin af geweet dit gaan hierdie boek se titel wees? En wat Gabriel sou weet?

Dankie. By sommige van my boeke is die titel daar voordat ek die eerste sin skryf, en by ander kom die titel eers lank nadat die laaste sin geskryf is. Al wat ek weet val in die tweede kategorie. My voorlopige titels was variasies van Wegkyk en stilbly of Anderpad kyk of so iets. Eers nadat die manuskrip gekies is as een van die wenners in Lapa se kompetisie, het die redakteur, Miemie du Plessis, gevra waarom ek nie die titel van die eerste hoofstuk (en een van Gabriel se eerste slam-rympies) as titel vir die hele boek gebruik nie. En toe is dit so vanselfsprekend dat ek nie kon glo ek het nie vroeër daaraan gedink nie. Maar miskien moes ek juis eers die hele storie skryf om agter te kom wát Gabriel weet? En ek hoop elke leser sal ’n eie antwoord op die vraag vind. 

’n Boek oor verlies en aandadigheid, of een oor musiek en die liefde? Kan mens hierdie temas van mekaar skei? Hoe sou jy die boek opsom?

Dit het begin by aandadigheid. Dis waarom ek aanvanklik ’n titel in gedagte gehad het wat skuld suggereer. Stilbly oor onreg is ook ’n manier van saamstem en skuldig wees aan die onreg. Maar die verlies en die liefde, en veral die reddende krag van woorde en taal – eerder as musiek – het amper onmiddellik deel van die storie geword. 

Wat was die sneller vir hierdie verhaal? En wat het jou geïnspireer om hierdie storie te skryf?

Ek is op ’n dag in my motor deur ’n onbeskofte fietsryer sleggesê – darem nie so vieslik beledig soos Gabriel se ma in die storie nie – terwyl my liewe saggeaarde man langs my niks gesê het om my te “verdedig” nie. Hy het my net probeer keer om nie die fietsryer verder uit te tart nie, want hy kon sien die man was irrasioneel en moontlik gewelddadig. My onmiddellike reaksie was om vies te wees vir my man – en dit het my aan die dink gesit. Ek sou tog nie wou hê Alain moet uitspring en in ’n fisieke geveg betrokke raak nie! Ek háát fisieke geweld. Dus was hy waarskynlik reg om my net te probeer kalmeer sodat ons kon wegkom. Maar sê nou een van ons kinders het agter in die kar gesit? Watse boodskap sou ’n kind oor so ’n voorval kry? En toe hardloop my skrywersverbeelding met my weg en ek dink: sê nou maar ek was só ontsteld omdat my man my nie verdedig het nie dat ek ’n ongeluk gemaak het ... En dis hoe Gabriel se storie begin het. Hy het die seun geword wat agter in die kar sit. 

Vertel my van Gabriel. En van Sasha. Of van Gabriel se pa.

Ek was aanvanklik nie seker of ek die storie uit Gabriel se oogpunt of uit sy pa se oogpunt moes skryf nie. In die weergawe wat vir Lapa se kompetisie ingeskryf is, was daar stukke wat uit die pa se oogpunt geskryf is. Toe sê Miemie vir my: “Laat vaar die pa, Marita. Tieners gee nie om wat pa's en ma's dink nie. Hulle wil hulle eie stories lees.” Ek het dit natuurlik reeds geweet, omdat ek al ander tienerboeke geskryf het, maar ek moes dit net weer ’n keer hoor. Toe skrap ek al die dele wat uit die pa se oogpunt geskryf is – maar toe word sommige van daardie dele ’n soort proeflopie vir my volgende volwassene-roman, Misverstand, waarin daar ook ’n pa en seun is wat ’n moeilike verhouding het. Miskien gaan niks verlore nie? Of hoe het Hennie Aucamp dit nou weer gestel?

Hoe het jy navorsing gedoen oor rap-musiek? En hoe verskil rap-musiek in Frankryk van dié in Suid-Afrika?

Dit was nie nodig om navorsing te doen nie, want ek is jare lank in my eie huis met rap-musiek gebombardeer! Veral een van ons drie seuns (Hugo) het niks anders geluister nie – en noudat hy 25 is, luister hy steeds meestal rap. Maar ek het begin luister omdat ek nie net blindelings wou veroordeel sonder dat ek weet wat ek veroordeel nie – en toe word dit vir die seuns ’n uitdaging om vir my te wys dat gangsta rap wat vol vloekwoorde en seksisme is, nie die enigste soort rap is nie, en toe kom ek van rap by slam uit en by spoken word poetry en ’n hele nuwe wêreld word vir my oopgemaak. Ek het heelwat navorsing oor praatpoësie op die internet gedoen, omdat dit nog so ’n nuwe ding in Suid-Afrika is, maar in Amerikaanse hoërskole word daar al lank slam-kompetisies gehou. Dit sal vir my fantasties wees as hierdie boek kan help om ook in Suid-Afrikaanse skole so ’n tradisie te begin.

Hierdie boek is ’n jeugboek. Dink jy ’n storie kies ’n ouderdomsgroep? Of dalk vra ek: Voel en beleef mens nog so intens as mens ’n grootmens is as wanneer mens jonger is?

Aangesien ek vir verskeie ouderdomme én in verskillende genres skryf, glo ek die storie kies die ouderdom en die genre. Maar ek dink tog tieners het ’n emosionele intensiteit wat die meeste volwassenes iewers langs die pad verloor. En as jy vir tieners wil skryf, is die grootste uitdaging miskien om hierdie emosionele intensiteit te bly voel.

Skryf ’n jeugboek vinniger en makliker as ’n boek vir volwassenes?

In my geval is dit moontlik vinniger bloot omdat my jeugboeke gewoonlik dunner is as my volwassene-boeke. Maar dis beslis nie makliker om ’n goeie jeugboek te skryf as om ’n goeie volwassene-boek te skryf nie. Ek dink die rede waarom soveel literatore steeds jeugboeke onderskat, is dat hulle ongelukkig steeds onder die wanindruk verkeer dat dit “makliker” skryfwerk is.

Die feit dat jy self ’n tiener in jou huis het, en ’n seun wat nou al die huis verlaat het: help dit om vir hierdie ouderdomsgroepe te skryf? Of skryf ’n skrywer met ’n stem wat nie regtig bedoel is vir werklike familielede nie, maar eerder omdat die skrywer ’n skrywer is met ’n eie stem?

Ek was in ’n taamlik uitsonderlike posisie om die afgelope twee dekades altyd ’n tiener in die huis te hê. Vir die meeste ouers is die tienerjare mos maar ’n aaklige tydperk wat binne ’n paar jaar verbygaan, maar omdat ek hierdie laslapgesin van “jou, my en ons kinders” het, en omdat daar ’n gaping van 14 jaar tussen die oudste en die jongste kind is, het ek die tienerjare veel langer as ander ouers belewe. As skrywer het dit my ongetwyfeld gehelp om die wêreld van die tiener lewendig en aktueel te hou. Trouens, noudat ons laatlamdogter 17 is en amper op pad universiteit toe, weet ek nie of ek nog kans gaan sien om jeugboeke te skryf wat in hedendaagse tieners se heelal afspeel nie. Ons sal maar moet sien ...

Wat lees jy op die oomblik?

Fred Khumalo se aangrypende Dancing the death drill. Ek probeer hier in Frankryk tred hou met Suid-Afrikaanse romans – nie net Afrikaanse romans nie. Een van die kragtigste romans wat ek die laaste ruk gelees het, was Kopana Matlwa se Period pain.

En waaraan skryf jy op die oomblik, as jy iets daaroor wil verklap?

Ek werk aan ’n draaiboek vir wat hopelik ’n internasionale rolprent gaan word – met die medewerking van Deon Meyer, wat ’n paar jaar gelede ook my arm gedraai het om die draaiboek van my roman Dis koue kos, skat self aan te durf. Daarna het ek meegewerk aan een of twee ander draaiboeke wat op my romans gegrond is, maar hierdie keer is die uitdaging groter, omdat dit ’n nuwe storie is wat van voor af uitgedink moet word – en dis boonop in Engels! Soos my man altyd sê, waarom die maklike uitweg kies as daar ’n moeilike manier is om ’n ding te doen?

Foto van Marita van der Vyver: Naomi Bruwer

  • 1

Kommentaar

  • Eleanor George

    So lees ek op amper-sestig en nadat, ek omtrent 4,5 dekades laas 'n Afrikaanse boek opgetel het, hierdie tienervehaal en ek kon hom nie neersit nie. Baie dankie en baie geluk Marita van der Vyver.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top