Akademiese gesprekke in Amsterdam: ’n Simposium oor die kuns van debat betreffende kultuur en die Suid-Afrikaanse openbare sfeer

  • 0

Simposium in Amsterdam: “The art of debate: Culture and the South African public sphere”

Op 9 November in die middel van Amsterdam by Keizersgracht 141, ’n adres wat elke Suid-Afrikaner in die gragtestad behoort te besoek, is daar ’n belangwekkende simposium in die Zuid-Afrikahuis gehou oor kultuur en die openbare domein in Suid-Afrika met die tema “The art of debate: Culture and the South African public sphere”. Margriet van der Waal, as besondere hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam (UvA), open die simposium. Dit is die eerste akademiese byeenkoms wat onder haar leiding as leerstoelhouer geskied in samewerking met die Zuid-Afrikahuis en ASCA (Amsterdam School of Cultural Analysis), een van UvA se navorsingskole in die Fakulteit Geesteswetenskappe. Die sprekers se kundigheid, en die diversiteit van hul verwysingsraamwerke in onder meer letterkunde, kuns en kultuur, asook die invloed van hul diverse akademiese opleiding in lande soos Nederland, Suid-Afrika, Rusland en Duitsland, sorg vir ’n geslaagde simposium met prikkelende perspektiewe en ’n uitwisseling van waardevolle idees.

Die eerste spreker, Rosemarie Buikema, professor van Kunst, Cultuur en Diversiteit aan Universiteit Utrecht, asook wetenskaplike direkteur van die Graduate Gender Programme, lewer ’n belangwekkende referaat oor eienaarskap van die publieke domein getiteld “Who owns the public space?”. Sy verwys na die studenteveldtogte “Rhodes Must Fall” en “Fees Must Fall” se pogings om Suid-Afrikaanse universiteite te dekolonialiseer. Een van die mees ekstreme voorbeelde van “dekolonialisering” was verlede jaar se brandstigting by die Regsfakulteit se biblioteek op die KwaZulu-Natal-universiteitskampus, waartydens waardevolle en onvervangbare boeke deur die vlamme verwoes is. Buikema voer aan dat een van die beweegredes vir hierdie aksie gebaseer is op ’n groep studente se spesifieke interpretasie van sekere stellings uit Franz Fanon se The wretched of the earth (1961): dat ’n nuwe wêreld uit die as van ’n oue kan ontstaan. Dit blyk dat die studente Fanon se uitings letterlik verstaan het, aangesien daar later ook geboue en monumente verbrand en beskadig is. Tydens die chaos van die studente-optogte nooi die Universiteit van Kaapstad Achille Mbembe uit om die studente toe te spreek. Buikema ontleed Mbembe se toespraak, “The de-colonization of the university and the question of the archive” op noukeurige wyse en jukstaponeer sy dinkproses met beelde wat deur Suid-Afrikaanse kunstenaars vervaardig is in reaksie op dieselfde vraagstuk: Hoe hanteer mens ’n nalatenskap van sosiale uitsluiting? Daar word spesifiek verwys na die kuns van Wim Botha en Sethembile Msezane as eksperimentele wyses van “rerooting” en “recentring” van die geskiedenis. Buikema glo dat die geesteswetenskappe ’n plig het teenoor die samelewing: “I firmly believe that one of the primary responsibilities of the humanities is to respond to effects caused by experiences of injustice, exclusion, and neglect.”

Lees gerus haar onlangse publikasie, Revoltes in de cultuurkritiek (2017), vir meer inligting oor veral die verhouding tussen kuns en politieke oorgang, sowel as moontlike antwoorde op die bostaande vraag oor hoe mens moet omgaan met ’n erfenis van uitsluiting en onderdrukking.

Rosemarie Buikema

Die volgende spreker was Carrol Clarkson, hoogleraar van Engelstalige Moderne Letterkunde aan die UvA en voormalige professor en departementshoof van Engelse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Met ’n insiggewende praatjie oor subjektiwiteit en die wet, getiteld “Redrawing the lines”, kyk sy na onder meer die rol van estetika in sosiale geregtigheid. Haar huidige navorsing bou voort op haar belangwekkende boek Drawing the line: Towards an aesthetic of transitional justice (2013). Haar belangstelling in die politieke oorgang in Suid-Afrika lê veral by die waarde van die subjektiewe betrokkenheid van die kunste wat aangewend kan word om op nuutgevonde wyse oor ’n meer regverdige samelewing te dink. Met ’n wye verwysingsraamwerk van vooraanstaande Suid-Afrikaanse skrywers, kunstenaars en regsteoretici ontwikkel Clarkson ’n teorie oor hoe die materiële uitdrukkings van subjektiewe toewyding verstaan kan word om by te dra tot, eerder as om afbreuk te doen aan, die proses wat tot ’n regverdiger samelewing kan lei:

I’m developing a theory of how the material expressions of subjective commitment could be understood to contribute to, rather than to detract from, the working-towards a more just society.

Sy brei hierop uit:

In writing, speech, and other forms of cultural and political expression, we create and change the sensory fields of what can be seen and heard. These sensory fields have traction on our thoughts, and affect social perceptions of what counts and of what matters. These perceptions, in turn, delineate the contours of personal, political and cultural commitments; the margins of exposure of one to another.

In haar interessante betoog verwys sy ook na voormalige Suid-Afrikaanse regters soos Yvonne Mokgoro, Albie Sachs en Zak Yacoob en ondersoek die subjektiewe en menslike aard van die regsproses wat gewoonlik as bloot objektief beskou word.

Hein Willemse en Carrol Clarkson

In sy tweeledige akademiese hoedanigheid as beide professor in Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Pretoria en die eerste bekleër van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij by Universiteit Gent in België kon Hein Willemse ook sy unieke stem toevoeg tot die simposium met sy referaat oor “Frayed South African identities and contested cultural spaces”. Afrikaans is ’n veelsydige taal wat deur verskeie rasgroepe gepraat word, maar soos Willemse tereg uitlig, was die nie-Afrikaner-Afrikaanssprekendes in die apartheidsjare nie op enige mediaplatform uitgebeeld of verteenwoordig nie – nie in koerante, tydskrifte, televisiekanale of op radiostasies nie. In sy ondersoek na die ingewikkelde vraagstukke betreffende Suid-Afrikaanse identiteit en betwiste kultuurruimtes betrek hy teoretici soos Jürgen Habermas en Nancy Fraser en ondersoek hul begrippe van “publieke sfeer” en “subaltern counterpublics”.

Willemse bestudeer tersaaklike kwessies oor Afrikaans as taal, ’n Afrikaanse identiteit en ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse identiteit in die hedendaagse Suid-Afrika. Die Afrikaanse taal bly steeds ’n hoogs gepolitiseerde saak, soos steeds te sien is in die Suid-Afrikaanse media. Hy opper vrae soos: Hoe trek die meeste Afrikaanssprekendes wat swart en arm is, voordeel uit hierdie boonste-middelklas-aanbiedinge? Hoekom lyk dit of die mediaprodukte, tradisionele of nuwe media, soos vroeër, hoofsaaklik die verstedelikte, ontwikkelde minderheid van Afrikaanssprekendes, eerder as die meerderheid daarvan, weerspieël? Wat moet ons doen oor die ander inheemse tale in Suid-Afrika? Hoe sal daar vir hulle voorsien word in die era van Engels as die de facto nasionale taal? Willemse merk tereg op dat gegewe die balans van politieke mag, die spanning rondom ekonomiese geregtigheid in Suid-Afrika en die onstabiele aard van “rasverhoudinge”, hierdie soort privatisering van kultuur, met sulke waargeneemde voorkeurbehandeling van Afrikaans deur ’n mediamaatskappy, in die lig van die ontmagtiging van alle inheemse tale, in die toekoms ’n netelige kwessie kan word. Sy slotopmerkings oor die Suid-Afrikaanse openbare ruimte en politieke wanadministrasie lui:

The public sphere of the early 21st century looks very different than in the apartheid era. Social and cultural spaces have opened up, and people have achieved much during their sustained political struggle. Yet, in some regards little has changed. The clamour for economic access, for decent employment and housing, for adequate schooling has not been silenced.

Ksenia Robbe, assistentprofessor by die Universiteit Leiden se Centre for the Arts in Society, bespreek in haar referaat, “Curating South African post-post-apartheid”, die rol van kuns in die ondersoek na voortdurende konflikte wat deur kolonialisme geproduseer of beïnvloed word. Sy voer aan dat in hierdie nuwe historiese Suid-Afrikaanse tydperk van post-postapartheid die strategieë om Suid-Afrika se geskiedenis en kultuur te bespreek en te verteenwoordig in sommige opsigte nie op peil is met die huidige toestand in die land nie. Sy fokus op strategieë van kuratoriese uitstallings as een van die mees sigbare voorstellings van die geskiedenis. In haar gedetailleerde en verhelderende bespreking van hierdie onderwerp verwys sy na uitstallings soos die onlangse Goede Hoop: Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600-tentoonstelling by die Rijksmuseum, asook die gepaardgaande kritiek wat in die media verskyn het oor aspekte soos die skeiding tussen die geskiedenis en die hede, en dat daar steeds namens die Ander gepraat word. Sy lig ook verskeie ander tentoonstellings uit waarin Suid-Afrika en Nederland met mekaar skakel (insluitend tentoonstellings in Nederland oor Suid-Afrikaanse kuns), sowel as verwysings na kunstenaars soos Brett Murray, Mohau Modisakeng en Simangaliso Sibiya. Aspekte van geheue, taal en beliggaming word ook bespreek.

Robbe kyk ook na kolonialisme se rol in die verkenning van historiese prosesse en hul gevolge, eerder as om hul betekenis te bepaal. Nog ’n aspek wat sy uitlig, is dat vrae oor dekolonisering in Suid-Afrika en gepaardgaande debatte nie meer binne die land vervat kan word nie en die argiewe van kolonialiteit ook nie na ruimtes buite bereik versend kan word nie. Ten slotte merk Robbe op dat die bespreking van hierdie kwessies ’n aspek is wat Suid-Afrika sal kan bydra tot die wêreldwye postkoloniale gesprek: “Generating discussion of these issues is one of the things that South Africa will doubtlessly contribute to the growing awareness of enduring colonial structures in Europe and elsewhere.”

Ksenia Robbe

Ismail Mahomed (foto verskaf)

Deur die loop van die middag kon Ismail Mahomed, hoof uitvoerende beampte van die Markteater Stigting (Market Theatre Foundation), danksy die kuberruimte, vanuit Johannesburg die simposium “bywoon”. Hy het die gehoor in klank en beeld via ’n video-oproep toegespreek oor Casa (Culture in Another South Africa) se 30-jaar-erfenis by die Markteater in “Remembering Casa at the Market Theatre”. In Desember 1987 het meer as 300 Suid-Afrikaanse kunstenaars in Amsterdam se teaters opgetree en gesprekke gevoer oor Suid-Afrika se toekoms as ’n vry land met ’n ryk en diverse kultuur. Vanjaar van 14 tot 18 September, 30 jaar na die Casa-byeenkoms, het ’n kontingent van Nederlandse en Suid-Afrikaanse kunstenaars weer verenig, dié keer by die Markteater Stigting. Die program, Casa: Looking back / Looking forward, was aangebied deur die Markteater Stigting in vennootskap met die Nederlandse Ambassade in Suid-Afrika. Die vyfdaagse multidissiplinêre program het onder meer filmvertonings, optredes en werkswinkels ingesluit wat gesorg het vir kulturele uitwisseling van vaardighede en kreatiewe denke. Mahomed voer aan dat die jeug ’n land vorm en dat juis daarom dialoë tussen generasies (“intergenerational dialogue”) van die uiterste belang is. Elke nuwe generasie van kunstenaars raak betrokke by ’n stryd, en selfs met beperkte hulpbronne maak hulle skeppings. Die kunste, merk Mahomed insiggewend op, is die katalisator waardeur mense dialoog kan skep.

Magriet van der Waal (Dirk Gillissen)

Hierdie simposium oor die kuns van debat rakende kultuur en die Suid-Afrikaanse openbare sfeer het gedien as ’n transnasionale Suid-Afrikaanse ruimte in Nederland waar mense met ’n opregte belangstelling in Suid-Afrikaanse vraagstukke met mekaar in gesprek kon tree. Kwessies van postkolonialisasie is natuurlik nie slegs binne Suid-Afrika se grense van belang nie, maar is wêreldwyd ’n pertinente vraagstuk waaroor diepsinnige dialoë gevoer word. Dié leersame middag het op tipies Nederlandse wyse met ’n gesellige borrel afgesluit.

Foto's: Elize Zorgman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top