Akademiepryse 2017: Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing aan Gerhard Geldenhuys

  • 5

Wessel Pienaar, Gerhard Geldenhuys en PA Brink
Foto: Naomi Bruwer

Die Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing is aan Gerhard Geldenhuys oorhandig.

Huldigingswoord: PA Brink

Professor Gerhard Geldenhuys word vereer vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het in die ontrafeling van die molekulêre oorsake van sekere sterk oorgeërfde hartspier- en bewegingsiektes. Kennis van siektedraers se mate van verwantskap het 'n groot rol gespeel om oorsaaklike gene te vind en, waar die geen reeds bekend was, die wisselende grade van die erns van die siektes weens ander invloede te verklaar.

In teenstelling met tradisionele genealogiese navorsingswerk, wat fokus op 'n stamvader se van-verspreiding, is belangstelling hier die siekteveroorsakende geenvariant se stamverspreiding: Nie 'n stamvan met 'n stamboom nie, maar 'n stamgeen met 'n geenboom word opgestel. Familieverbintenisse word gebruik om die siektegeen, die stamgeen, te volg en vrouelyne is ook krities. Dink mooi: Jong Afrikaanssprekendes vandag sal 12 geslagte terug, in die laat 1600’s, 2 048 stamouers hê ‒ meer as die aantal persone van Europese oorsprong aan die Kaap in die laat 1600’s. So, nodeloos om te sê, sommige voorouers sal meer as een keer in jou voorgeslagte voorkom. Kennis moet ook geneem word van gekruiste lyne.

Professor Geldenhuys het gewerk op families met hart- en senuweesiektes wat ondersoek is deur navorsers by die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Dit sluit in Lang QT-sindroom, wat neig tot ernstige hartdisritmieë, flouteaanvalle en soms skielike sterftes in jongmense; familiële hartblok, 'n stadige hartslag weens vertraagde geleiding; hipertrofiese kardiomiopatie, 'n neiging tot spontane hartspier-verdikking; en aritmogene regterventrikulêre displasie, 'n vorm van regterhartspierswakte met dikwels ernstige ritmestoornisse en Parkinson se siekte, 'n breinsiekte met trae beweging en bewerasie.

Professor Geldenhuys het in 1998 uitgetree as dosent in toegepaste wiskunde by Maties met 'n uitstekende navorsingsrekord en prestasie in werk oor uraanverrykingskaskades, grafiekteorie, die wiskundige modellering van konflik, en onderrig van toegepaste wiskunde. Sedertdien doen hy genealogiese navorsing met 'n groot publikasie- en voordrag-uitset, en verskeie toekennings.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Hugenote-Vereniging-en-D.F. du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing aan Gerhard Geldenhuys te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

  • 5

Kommentaar

  • Henriette Geldenhuys

    Ons familie is baie trots op ons pa, Gerhard Geldenhuys, en verheug dat hy hierdie prys ontvang het. Hy het met soveel toewyding so baie werk gedoen, wat insluit deur argiewe gegaan en grafstene besoek om hierdie familiegeskiedenisse na vore te bring, wat nog nooit voorheen gedoen is nie.

  • Marilie Randewijk

    Prof Geldenhuys was 'n briljante toegepaste wiskundedosent! Ek is nie verbaas dat hy uitstekende werk in 'n ander veld gedoen het nie. Baie geluk Professor Geldenhuys!

  • Koos Holtzhausen

    Veels geluk aan ons vriend Gerhard en sy familie. Ons is bly oor die erkenning vir sy deeglike werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top