Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir drama aan Amy Jephta – commendatio

  • 0

Wessel Pienaar, Amy Jephta en Andries Visagie
Foto: Naomi Bruwer

Die Eugène Maraisprys vir drama is aan Amy Jephta toegeken vir haar drama Kristalvlakte.

Huldigingswoord: Andries Visagie

Kristalvlakte van Amy Jephta is gebaseer op Bertolt Brecht se bekende drama Mutter Courage und Ihre Kinder. Die drama word geplaas binne die bende-oorloë op die Kaapse Vlakte in die jare tagtig van die vorige eeu en die hoofkarakter, Priscilla, word uitgebeeld as ’n smous wat saam met haar kinders profyt maak uit die omringende sosiale ontwrigting. Moreel is Priscilla dus allermins onkreukbaar, maar Amy Jephta stel Priscilla, anders as in Brecht se oorspronklike drama, as ’n meer genaakbare moederlike figuur voor wat haar kinders teen die vernietigende invloed van misdaad probeer beskerm. Kristalvlakte word sodoende ’n aangrypende kreatiewe verwerking van die grondteks wat die besondere visie van Amy Jephta oordra.

Die krag van hierdie indrukwekkende drama lê verder in die ryk en geskakeerde omgang met Kaaps wat in enkele gevalle met woordverklarings (in die vorm van voetnote in Standaardafrikaans) toegelig word. Die rampspoed wat Priscilla en haar kinders uiteindelik te beurt val, word meevoerend uitgebeeld en die verskeurdheid wat Priscilla ervaar tussen haar band met haar kinders en die wil om ten alle koste te oorleef, word uiteindelik dramaties baie suksesvol belig.

Kristalvlakte is met sukses tydens die Suidoosterfees opgevoer en die teks is eweneens baie keurig uitgegee. Alhoewel die grondteks ’n werk van Bertolt Brecht is, is die omsetting daarvan besonder kreatief en innoverend sodat die oorplasing na konfliksituasies op die Kaapse Vlakte baie goed slaag. Die drama is ontstellend en boeiend en getuig van ’n baie fyn aanvoeling vir die uitbeelding van dramatiese situasies wat die aandag van lesers sowel as toneelgangers enduit bly vasvang.

Voorsitter, ek versoek u om die Eugène Maraisprys aan Amy Jephta vir haar drama Kristalvlakte te oorhandig.

Stellenbosch
Junie 2017

Lees Temple Hauptfleisch se boekresensie van Kristalvlakte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top