AKA 2016: Die ekologie van Afrikaans in ’n verander(en)de landskap

  • 1

Anne-Marie Beukes (foto: Imke van Heerden)

Gegrond op die hooflesing gelewer by die “Gesigte van ’n taal. Gesprek oor meertaligheid”-gesprek op 10 April 2016 tydens die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (AKA), Nederland.


Benewens Suid-Afrika se 11 amptelike tale word daar sowat 25 tot 30 tale daagliks in die land gebruik. Mens kan daarom met vrymoedigheid sê dat kultuur- en taaldiversiteit een van die wesenskenmerke van Suid-Afrika is. Dit is daarom geen wonder nie dat debatte oor “die taalkwessie”, of oor taalbeleid en goeie of gebrekkige beleidsimplementering, of mense se taalregte en die oorheersing van sekere tale by tye groot aandag trek. Tans is die plek en toekoms van Afrikaans as ’n onderrig- en wetenskapstaal op almal se lippe, veral na aanleiding van veldtogte soos #AfrikaansMustFall en die oënskynlike voorkeur vir eentaligheid by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat.

Lees ook:
Foto’s en videos AKA 2016: Zuilenzaal
Alle foto’s: Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016
NeerlandiNet

In sulke omstandighede kom die gebrek aan doeltreffende taalbeleid en -beplanning uit gesprekke op platforms soos Gelyke Kanse na vore en word aksies voorgestel om die vermeende opdringing van eentaligheid te probeer teëwerk en taaldiversiteit op histories Afrikaanse universiteitskampusse te bestuur.

Insigte uit die ekolinguistiek bied die moontlikheid om sulke debatte en aksies ter wille te wees en uiteindelik toestande te help skep wat Afrikaans se gesonde naasbestaan met ander tale en hulle taalgemeenskappe te bewerkstellig. ’n Belangrike vertrekpunt van ’n ekolinguistiese benadering tot taalbeleid, -beplanning en -bestuur is dat daar ’n oorsaaklike verband tussen taal- en kultuurdiversiteit bestaan en dat ’n gesonde taalekosisteem hierdie verband sinvol moet verreken binne ’n omgewing soos dié in Suid-Afrika waar taalhulpbronne beperk is.

Soos in alle gesonde ekosisteme moet daar ook in ’n taalekosisteem ’n goeie balans gehandhaaf word tussen die tale en taalgemeenskappe wat van mekaar afhanklik is met die doel om die sorgvuldige bewaring van die diversiteit in die taalhabitat te verseker, in samewerking met taalgemeenskappe. ’n Dinamiese intratalige ekosisteem waarin al die verskillende variëteite van Afrikaans ruimte gegee word sodat al haar sprekers ’n integrale deel van die taalgemeenskap kan vorm, moet die allervertrekpunt wees. In so ’n habitat word niestandaardtaalvariëteite geag as noodsaaklike uitdrukkingsmiddele en hulpbronne in ’n dinamiese ekosisteem.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die plek en rol van ’n burgerlike liggaam soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat na inklusiwiteit streef, onontbeerlik is.

Die Taalraad is ’n sambreelorganisasie waarby 42 Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies ingelyf is (http://afrikaansetaalraad.co.za) met die doel om Afrikaans te beskerm en te bevorder, en om oor alle grense heen die sprekers van die taal te bemagtig. Dit sluit in die erkenning van al die dinamiese variëteite van Afrikaans sodat al haar sprekers omarm word in ’n ekodinamiese taalhabitat en só eienaarskap aanvaar vir die welstand van hulle taal.

Daarbenewens is die Taalraad se standpunt dat die toekoms van Afrikaans ook lê in die harmonieuse uitleef van ’n konstruktiewe naasbestaansrol in ’n meertalige Suid-Afrika. Die naasbestaansrol sluit ook in om konstruktiewe vennootskappe met ander Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe te sluit ter wille van die bevordering van ons taaldiversiteit en die handhawing van meertaligheid. Die belangrike kwessie wat dus in hierdie tydsgewrig aandag verg, is hoe Afrikaans se habitat daar uitsien en in welke mate daar sprake is van ’n gesonde ekodinamika.

Die refreine “Solank mense Afrikaans praat, is daar niks te vrese nie” en “Agge nee wat, kyk hoe blom Afrikaans by die feeste” word voortdurend voorgehou as aanduiding van Afrikaans se vitaliteit. Dit is inderdaad so dat Afrikaans in vele domeine lewenskragtig is, maar ekosisteme, en dus ook ’n taalekosisteem, se gesondheid word op lang termyn bepaal deur die handhawing van ’n versigtige balans tussen die verskillende komponente of, in die geval van taal, verskillende domeine waarin die taal gebruik (kan) word.

Ondanks die afskaling van institusionele steun van die staat en die inkorting van Afrikaans in die openbare domein, gedy Afrikaanse op kultuurgebied. Dis alom bekend dat kultuurfeeste die afgelope twee dekades sterk gegroei het, soos ook Afrikaanse musiek. Die KKNK se bywoningsyfer het byvoorbeeld van 30 314 in 1995 gegroei tot 200 000 in 2004. Eweneens het die US Woordfees in 2016 ’n rekordgetal kaartjies verkoop en ook rekordverkope van boeke aangeteken. Afrikaans is inderdaad steeds ’n sterk literêre taal. Met die inkorting van Afrikaanse uitsaaityd op SABC se TV-kanale gaan kykNET sedert 1999 van krag tot krag en stel meerdere kanale vir Afrikaanse kykers beskikbaar. Onlangs het Media24 ook nóg ’n Afrikaanse kanaal, Via, bekendgestel. Afrikaanse gemeenskapsradiostasies floreer en so ook RSG, wat toenemend die breë Afrikaanse gemeenskap bereik. So het RSG se luisteraartal oor die laaste dekade van ’n paar honderd duisend tot bykans twee miljoen luisteraars gegroei. Verder is die skaarste aan goeie Afrikaanse films die afgelope jaar of twee beëindig met etlike goeie films wat hul verskyning op die kringloop maak.

Daar is helaas in die onderwysdomein minder rede tot opgewondenheid. Die getal eentalige Afrikaanse skole het die afgelope twee dekades drasties verminder deur ’n swaai weg van die moedertaalvoorkeur na Engels as taal van onderrig en leer. Die huidige regering beskou eentalige Afrikaanse skole en universiteite as relikte van die apartheidsbedeling wat in die pad staan van transformasie deurdat dit algemene toegang tot onderwyshulpbronne belemmer. Die balans in die ekosisteem van Afrikaans word beduidend skeefgetrek as gevolg van die aantrekkingskrag van Engels as die vermeende “neutrale bindtaal” en met boonop ook die belofte van ’n internasionale mobiliteitswaarborg. Dit wil voorkom asof daar van owerheidsweë pogings is om (Engels-)eentaligheid in die onderwysdomein te bevorder, waarvan onder meer die huidige LUR vir onderwys in Gauteng se e-platform vir leerderregistrasie in die toelatingsproses tot openbare skole ’n voorbeeld is.

Dit wil voorkom asof daar van owerheidsweë pogings is om (Engels-)eentaligheid in die onderwysdomein te bevorder, waarvan die huidige LUR vir onderwys in Gauteng se e-platform vir leerderregistrasie in die toelatingsproses tot openbare skole ’n voorbeeld is.

Wat die plek van Afrikaans op universiteitsvlak betref, is daar ongetwyfeld rede tot ernstige kommer. Suid-Afrikaanse universiteite word ook gekonfronteer met die eis om internasionalisering deur middel van Engels wat as die lingua academica beskou word. Die weiering van die onderwysowerhede om die Gerwel-aanbevelings in 2002 te aanvaar dat daar plek sou wees vir twee Afrikaanse universiteite, resoneer nou sterk in die gemoedere van Afrikaanssprekendes terwyl hulle toenemend taalruimte inboet. Voorgraadse studente wat hulle studie volledig deur die medium van Afrikaans wil aanpak, het tans slegs ’n baie beperkte keuse van programme aan – ten beste – twee universiteite. So ’n moontlikheid bestaan van 2017 nie meer aan die Vrystaatse Universiteit nie, en waarskynlik binnekort ook nie by die Universiteit Stellenbosch nie. Dit is ’n skrynende ironie dat die bestaansruimte vir die enigste Afrikataal wat in die 20ste eeu volle universiteitstatus bereik het en as ’n waardige wetenskapstaal in die akademie gebruik (kan) word, beduidend inkrimp. Die uitwerking wat hierdie stand van sake op Afrikaans in die wetenskapsbeoefening en verspreiding van kennis het, blyk onder meer uit die skerp daling van artikels in Afrikaans wat in vaktydskrifte verskyn van 14% in 1990 tot omtrent 3% in 2002.

’n Belangrike aanduiding van die gesondheid van Afrikaans se ekosisteem is die taal se digitale voetspoor. Die afgelope twee dekades het die internet en die wêreldwye web nie slegs van sosiale media en koerante die medium geword nie, maar ook van navorsing deur middel van soekenjins. Die bydrae wat die digitale funksies deur die medium van Afrikaans sou kon lewer om ’n gesonde balans in die taal se ekosisteem te bewerkstellig, kan van deurslaggewende belang wees. Trouens, die voortbestaan van ’n dinamiese Afrikaanse ekosisteem sal stellig beïnvloed word deur die benutting van mensliketaaltegnologie en die digitale ruimte. In hierdie konteks is Afrikaanse taaltegnologiese hulpbronne en toepassings vir Afrikaans soos wat die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA) reeds beskikbaar stel, onontbeerlik. Daarby kom die gewilde Wikipedia, tans die grootste webgebaseerde bron van kennis, wat ongetwyfeld ’n rol kan speel om Afrikaans se krimpende ruimte in die kennissfeer teë te werk. Slegs ’n baie klein persentasie van die meer as vyf miljoen artikels op Wikipedia is tans in Afrikaans beskikbaar, ’n agterstand wat dringend ingehaal moet word.

Die ontstaan en groei van Afrikaans is in vele opsigte merkwaardig. Om die voortgesette gesondheid van die taal se ekosisteem te verseker, gaan gewis ywerige en versiende taalbeplanning verg. Die Afrikaanse taalgemeenskap beskik oor “taalkapitaal” en het ’n markwaarde: hoe meer die taal in die volle spektrum van sosio-ekonomiese domeine benut word, hoe meer sal haar waarde toeneem (soos byvoorbeeld in die onderwysdomeine en die arbeidsmark).

Afrikaans se toekoms lê in die eerste plek in goeie, toepaslike taalbestuur deur die burgerlike samelewing, maar ook in vennootskap met staatstrukture soos die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taal en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), asook die media, ander taal- en kultuurliggame, vakbonde en akademici. Afrikaans se heil lê daarbenewens ook in die uitleef van ’n konstruktiewe naasbestaansrol in ons meertalige land. Die smee van vennootskappe en die deel van skaars taalhulpbronne tussen die inheemse taalgemeenskappe gaan gebiedend noodsaaklik wees om die heersende ideologie van eentaligheid teë te werk en ’n gesonde, dinamiese taalekosisteem aan die suidpunt van Afrika te verseker. Die Afrikaanse Taalraad is ten sterkste tot hierdie strewe verbind.

Anne-Marie Beukes

Departement Linguistiek, Universiteit van Johannesburg

Voorsitter: Afrikaanse Taalraad

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top