AHM Scholtz (1923–2004)


Van links na regs is Gazina (sy vrou), Annari van der Merwe (uitgewer), Lilly (dogter) en AHM Scholtz by sy huis in Mafikeng.

Sêgoed van AHM Scholtz

“Mens vat jou eie gevoelens en dan sit jy dit in ’n mens in. Dis wonderlik wat ek geleer het in die drie jaar wat ek die boek geskryf het. As jy op dieselfde plek sit, op dieselfde tyd, dan kom daai goed so maklik, en daar’s party dae wat jy jou eie goed kom sit en lees en dan wonder jy, het ek die geskryf, dit klink dan so mooi. En daar’s partykeer wat jou karakter jou sê wanneer hy wil huil of hy wil lag.”

“Alles wat ek maak, moet ek met liefde maak, anders kry ek dit nie reg nie. Apartheid of nie apartheid nie, as jy liefde het, kan jy alles verdra.”

“Nou in die rustige jare sê ek vir myself: Jammer dat Afrikaans sy eie haat gebroei het deur dié wat beter moes geweet het. Haat vir mekaar se velkleur – só simpel, só onnodig, só Goddeloos. Gedurende vyftig jaar van onderdrukking en nou nog eindig ek my gebede met: ‘Here, ek weet U verstaan.’”

Oor Afrikaans: “Laat ek dit mooi stel. My mamma se tet was bruin, en die melk wat die suigling gevoed het, was Afrikaans. Met mooi, sagte woorde druk die moeder haar kind teen haar hart vas. Hy kry die tepel in sy mond, met sy eerste lewende woorde in sy moedertaal – vat, my liefste. My oupa het vir my gesê, gaan haal my skoene, my kind. Ek voel die ou skeefgeloopde veldskoene, so sag, so teer, so Afrikaans en ek voel vir Oupa.

Vatmaar, sê Scholtz, “is geskryf in ’n chronicle van gevoelens en menslikheid, van ’n tyd wat nie mag vergeet word nie. Toe ’n mens se naam meer werd was as die fatsoen van sy gesig. Daar was nie wit, bruin of swart mense nie, hulle was van Vatmaar.”

Aambeeld

Wie weet
sê die aambeeld vir die hamer,
Waarom slaan jy my op een plek?

En die hamer vir die aambeeld:
Waarom verander jy nie die klank nie?

Weet jy dan nie?
So verander die Smid die rou stuk yster
In sy Hand – met liefde

Dié gedig is deur AHM Scholtz voorgedra by sy ontvangs in 1996 van die Eugène Marais-prys vir sy roman Vatmaar. (Die Burger, 19 November 2007)

Is goed lieg ’n vereiste om ’n goeie skrywer te wees (Stephanie Nieuwoudt): "’n Leuen se skepper is die leuenaar en ’n goeie leuenaar of eerlike mens weet hoe om sy goed sleg te balanseer, waar hy buite die storie staan." (Die Burger, 29 Julie 1998)

"’n Skrywer sonder ondervinding en mensekennis sal ’n swak skepper van lewendagge gedagtes op papier wees." (Die Burger, 29 Julie 1998)

Watter behoefte bevredig die skryfproses by hom (Stephanie Nieuwoudt)? "Daar sal altyd net 'n eerste wees. Die eerste houvas van jou baba in die kraamsaal en die eerste houvas van jou skryfwerk in die vorm van 'n boek. Alle babas en alle boeke is 'n entiteit op hul eie. Skryfwerk gee net bevrediging as dit aanvaar word." (Die Burger, 29 Julie 1998)

Hy het sy lewe op onderdanigheid gebou (aan Kobus Burger): "Ek het vroeg in die lewe gevind dat as jy onderdanig is, dan leer jy makliker. Maar onderdanigheid kan nie saam met onbeskoftheid gaan nie." (Beeld, 12 Desember 1996)

Gebore en getoë

Andrew Henry Martin Scholtz is op 28 Julie 1923 in Kimberley gebore, die oudste van tien kinders. Sy ma was ’n “huismoeder”, soos hy self sê, en sy pa was ’n tuig- en saalmaker. Andrew slaag sy standerd 5 aan die Beaconsfield Coloured School in Kimberley, maar moet die skool verlaat om te gaan werk nadat sy pa sy heup gebreek het en bedlêend was. Sy ma kry vir hom werk by sy oom as ’n skrynwerkersleerling.

Verdere studie en werk

As gevolg van die gebrek aan geld en die nood wat hulle ondervind het, het die jong Andrew gedwing gevoel om hom in Oktober 1940 by die leër aan te sluit. Hy was net 17 jaar oud, maar het vir hulle vertel dat hy 21 jaar oud is. Hy wou aanvanklik by die Kaapse Korps aansluit, maar daarvoor moes hy ’n rybewys hê en dít het hy nie gehad nie. Hy het gevolglik by die artillerie-eenheid aangesluit. Almal het hom as blank aanvaar en hy het hom dit laat welgeval "om my familie te laat eet, nie om ’n witman te wees nie".

Hy het later erken dat om ’n soldaat in ’n wit bataljon te wees, ’n groot indruk op hom gelaat het. Hy moes hierdie leefwyse vir vyf jaar volhou sonder om ooit sy masker te laat glip. In 1945, nadat hy in Kenia, Ethiopië en Egipte geveg het en ook twintig maande ’n krygsgevangene in die noorde van Italië was, het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het egter nie betyds ontsnap om sy pa te groet voordat hy gesterf het nie.

Op 12 Junie 1948 trou Andrew en Gazina Ortell, wat die moeder van hulle twaalf kinders sou word, in die hof in Kimberley. Die nuwe bestel in Suid-Afrika ná die Tweede Wêreldoorlog het Andrew ontnugter gelaat en hy het besluit om hom weer te wend tot die ambag waarvoor hy hom as jong man bekwaam het. Hy het vir ’n ruk as ’n bouer en skrynwerker in Swaziland gewerk, asook later in Botswana. Daarna het hy as bou-aannemer in Mafikeng gaan werk. Een van sy grootste ideale was om eendag sy eie beesplaas aan te skaf. Geld was nie die probleem om sy eie Bosveldplaas te besit nie, maar wel die apartheidswetgewing wat ’n stokkie voor hierdie ideaal gesteek het.

Annari van der Merwe skryf in Die Burger (19 November 2004) dat hy eers na sy aftrede, "ná ’n leeftyd van harde werk in sy ruim en selfgeboude huis, hom kan wy aan die dinge van die gees – ’n diep godsdienstige instelling wat sy skryfwerk gevoed het en dit gesuiwer het van bitterheid. Sy skryfwerk is deurspoel met erbarming en geduld met menslike swakheid en dit verklaar die aanklank wat sy werk by so ’n wye spektrum mense gevind het."

In 1995 verskyn die 72-jarige Andrew se debuutroman, Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie. Vatmaar is in wese ’n boek met ’n Afrikaanse siel. Andrew het dit egter aanvanklik in Engels geskryf – in skoolkladboeke in sy eie handskrif, waarna sy dogter dit oorgetik het. Hy het drie jaar lank aan die storie geskryf en gewerk en het dit daarna na die uitgewers David Philip in Kaapstad gestuur. Hulle het dit egter na die pasgestigte Kwela Boeke aangestuur, omdat hulle gemeen het dat Engels nie reg aan die storie sou laat geskied het nie. Kwela Boeke is juis gestig om "nuwe talent te ontdek, te identifiseer en te ontgin".

Hy vertel self wat daarna gebeur het: "Annari van der Merwe van Kwela Boeke sê toe 'Dis ’n Afrikaanse storie, man, ons maak dit Afrikaans.’ Wat's sy naam, Wium van Rensburg, nee Wium van Zyl, hy’t dit oorgetolk. Toe hy klaar is, stuur hulle dit aan my, en toe’t ek nou veranderinge gemaak, want sy Afrikaans is ’n bietjie te hoog. Jy weet, hy sê ’n vrou se dy; ek weet nie wat’s ’n dy nie, dis ’n boud. Ons sê ook nie wildheid nie, maar praat van wildigheid. Die’t ek dan verander. Want dis Afrikaans met ’n difference. Dis gaat eerder as gaan.” Annari getuig ook dat Vatmaar dié boek is wat in haar loopbaan as uitgewer bo alle ander boeke uitstaan.

Andrew het ook verder vertel dat Vatmaar sy ontstaan gehad uit stories wat sy ouma aan hom vertel het, asook oor dít wat hy geweet het van die mense van die outyd toe mense "met liefde gelewe het en dit nie ’n skande was om met ’n gelapte broek te loop nie".

Jakes Gerwel het as volg oor Vatmaar geskryf: "AHM Scholtz se eerstelingroman Vatmaar – ‘n storie van die bruinmense van Suid-Afrika” – is ’n merkwaardige letterkundige gebeurtenis. Die skrywer, met weinig van die opsigtelike literêre geskooldheid van die tipiese Afrikaanse skrywer, openbaar hierin ’n verbluffende tegniese beheer oor die verwikkelde ineengevlegtheid van verhaallyne, magdom van karakters, verskuiwing van tydsvlakke en afwisseling van perspektiewe terwyl hy steeds die ongekunsteldheid handhaaf waaraan die vertelling en uitbeelding hul egtheid en oortuigingskrag ontleen."

En Gerwel is nie al een wat so dink nie, want in 1996 loop Vatmaar weg met die Eugène Marais-prys, die M-Net-prys en die CNA-Debuutprys – ’n uitsonderlike prestasie vir ’n debuutroman. Vatmaar word ook vertaal in Nederlands deur Riet de Jong-Goossens en hierdie Nederlandse uitgawe beleef ’n tweede en derde druk. Dit word in Duits vertaal deur Arnold Blumer en die Engelse vertaling is deur Chris van Wyk behartig. In 2002 verwerk die bekende regisseur Janice Honeyman die roman vir die verhoog en première dit met groot welslae in die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch voordat dit ook by die KKNK en in die Baxter- en die Staatsteater op die planke gebring word. Honeyman ontvang in 2003 ’n Fleur du Cap-toekenning vir hierdie produksie.

Nadat Andrew die pryse vir Vatmaar gewen het, het Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 29 Julie 1998) hom gevra of sy lewe dalk anders sou uitgewerk het indien hy op ’n jonger ouderdom sou begin skryf het. Hierop het hy geantwoord: "Daar is ’n tyd vir alles, ’n tyd vir geboorte en ’n tyd om dood te gaan. Ek het nie veel lewenstyd oor nie. My siekte, asma, het my laat skryf. Ek kon nie meer so vryelik rondbeweeg soos toe ek nog ’n bou-aannemer was nie. Om besig te bly, het ek begin skryf. As ek vroeër moes geskryf het, het my siekte my vroeër ingevang. 'n Skrywer se skryfwerk verander by die dag, al het hy ook sy storie uit gelê."

Die resensies oor Vatmaar was oorwegend baie positief. In Beeld van 4 Desember 1995 skryf LS Venter: "Alles wat die skrywer hier (in die voorwoord tot die roman) oor sy eie roman sê, is waar. Maar dis beperk. Want in hierdie boek groei die stories van ’n eenvoudige bruin gemeenskap uit tot ’n roman wat die raaisels en diepte van menslike geluk en ongeluk peil.

"Dat die mens in Vatmaar bly en arm en veronreg is, word in hierdie groei van storie tot roman half toevallig. Die lokale en anekdotiese word verruim tot ’n romangeheel wat oortuig en boei omdat dit ’n kunstenaarsvisie op al wat menslik is, bevat.

"Die roman is los van bou, maar nie daarom struktuurloos of saamgeflans nie. In so ’n sestigtal hoofstukke vertel ’n hele aantal fiktiewe vertellers hulle verhale oor Vatmaar en sy mense. Elke storie voer die verhaallyn verder of vul ’n vorige vertelling aan. Hieraan lees die leser al klaar geboeid.

“Terselfdertyd dra elke storie by tot ’n sentrale romanidee, naamlik dat die mens net mens binne ’n gemeenskap is. En die geheue van hierdie gemeenskapbestaan is die stories wat vertel word.

"Die hele struktuur van Vatmaar berus op die storieverteltradisie van die ongeletterde mens. Stories is in die Vatmaar-wêreld ’n veredelde en dikwels hoogs gestileerde kulturele besit. Wat daarin in herinnering geroep word, is die ontstaansgeskiedenis van die plek waar die mens bly, die familiegeskiedenis van jonk en oud, die groot skandes en skades en raaisels van die ou tyd. Om met die subtitel van Vatmaar te praat: stories hou die tyd wat nie meer is nie ’n ‘lewendagge’ ding.

"Dis nie net die inhoud van die stories in Vatmaar wat vol heerlike afwisseling en verbeelding is nie. Ook die aard van die stories en die storievertellers verskil. Daar is dié vertellers wat weet hoe om ’n kort storie lank te maak; daar is stories wat herhaaldelik vertel word; maar daar is ook stories wat net eenmaal vertel word, omdat dit te seer of te verleë maak.

"Omdat die gesproke woord vir die ongeletterde mens ’n denkwyse is, kom daar in die vertellings van eenvoudige karakters skryende en soms aforistiese formulerings voor. Nêrens klink dit egter onnatuurlik of geforseerd nie. (...)

"Vatmaar bied die leser dieselfde vreugde en stof tot nadenke wat Engela van Rooyen met haar Met 'n eie siekspens dit onlangs en Elsa Joubert dit destyds met Die swerfjare van Poppie Nongena gedoen het. Dis die soort roman wat Mikro met Die koperkan en FA Venter met Swart pelgrim probeer skryf het, maar nie kon nie. Scholtz se roman is derhalwe ’n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse prosakuns."

Op LitNet skryf Chris van der Merwe dat daar nie in Vatmaar ’n hoofkarakter is waarom die roman gebou is nie, maar dat die dorp Vatmaar sentraal staan en ’n mens dus die dórp die “hoofkarakter” kan noem – "al die verskillende karakters en verhale in die boek vorm ’n soort mosaïekpatroon, waarin alles saam bydra om ’n beeld te gee van die tipe plek wat Vatmaar was."

Vir Van der Merwe is daar veral twee temas wat die belangrikste is. "Die eerste is die probleem van onskuldige lyding. Die roman bring die vraag na vore: waarom verhinder God nie dat ’n goeie mens swaarkry nie? Sorg God dan nie vir die goeies en straf die slegtes nie – waarom gebeur daar soveel dinge op aarde wat onregverdig lyk?

"Tant Wonnie is seker die duidelikste voorbeeld van ’n goeie mens wat onverdiend swaarkry. Waarom moet sy so arm wees? Waarom moet sy onregverdig van diefstal aangekla word? Waarom moet sy in die tronk beland? Uit die geskiedenis van Tant Wonnie blyk dit egter dat die goeie mens (dikwels) wel geluk vind, maar eers na ’n tyd van swaarkry. Nadat sy in die tronk was, word Tant Wonnie vrygespreek en kry sy ’n pensioen. So ook, nadat Kenneth sy geliefde Kaatjie aan die dood afgestaan het, vind hy geluk met Suzan. Die feit dat hy Kaatjie verloor het, bring hom na Vatmaar, waar hy geluk saam met Suzan vind en vir Vatmaar ’n kliniek laat oprig. Die slegte dinge het wel ’n gelukkige en sinvolle einde – alles werk ten goede uit."

Die volgende belangrike tema in Vatmaar is dié van die liefde. "Dit gaan om die liefde tussen man en vrou, maar ook die liefde in die algemeen tussen mens en medemens. Die liefde wat in die roman waardeer word, is ’n goedheid wat oor grense gaan: grense van taal, van ras en kleur, van kerk en geloof. Teenoor die algemene menslike neiging om mense wat 'anders' is, te veroordeel en te verstoot, is daar die helde en heldinne van Vatmaar met ’n grenslose goedheid: byvoorbeeld Ma Khumalo wat ’n blanke seun as kind aanneem en hom grootmaak; Oupa Lewies met sy liefde vir ’n swart vrou; Suzan wat vir Nellie Ndola troos, al is sy onaantreklik en donkerder van kleur."

Van der Merwe eindig sy bespreking só: "Scholtz se romantiese uitbeelding van die wêreld van sy jeug, sy nostalgiese terugkyk na ’n verlore platteland – dit is in die Afrikaanse prosa nie onbekend nie. Maar Scholtz se boek is totaal anders as die tradisionele plaasroman. Hier is die 'gekleurdes' nie op die rand van die verhaal nie, maar in die sentrum. Hier is die opset nie patriargaal nie, maar vroue en mans is gelykes, met vrouekarakters wat dikwels die hooffigure is. In Scholtz se roman is daar nie ’n enkele verteller nie, maar ’n reeks vertellers, want Vatmaar is almal se storie – Vatmaar gee stem aan ’n hele gemeenskap."

Ná die verskyning van die Nederlandse vertaling was ook die ontvangs in Nederlands oorwegend positief. Gawie Keyser (Die Burger, 20 Oktober 1997) het berig dat Vatmaar ’n wêreld wat aan die Nederlanders onbekend is, blootgelê het, veral die feit dat Afrikaans nie net deur blankes gepraat word nie.

In Zuidelijk Afrika skryf Margreet de Lange: "Vatmaar is ’n pragtige boek, waarvan die literêre waarde minstens gelyk is aan die politieke belangrikheid van die publikasie daarvan."

Robert Dorsman, wat self ook verantwoordelik is vir vertalings in Afrikaans, skryf in Trouw "dat die skrywer deurgaans die baas bly oor sy vele karakters, mense met wonderlike name soos Ta Vuurmaak, Tant Wonnie, Boitjie Afrika ... en Hendruk Jannewarie. Scholtz bring hulle oortuigend tot lewe; hulle word nooit marionette nie." Dorsman vind dat die humor "van elke bladsy af dans".

Dorsman gaan voort: "Die vernaamste probleem was miskien om die regte toon te vind. Scholtz se Afrikaans is bedrieglik eenvoudig; skynbaar agteloos vertel hy sy verhaal, en die Afrikaanse taal lyk so baie soos Nederlands. Dit lees soepel; die vertaling doen reg aan Scholtz se ongedwonge gewone-mensestyl. Die vertaling moet liefs naas die oorspronklike teks gelees word."

Chris van Wyk was verantwoordelik vir die Engelse vertaling van Vatmaar wat in 2000 verskyn het. Hy het aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 14 Junie 2000) vertel dat die vertaling van Vatmaar Afrikaans weer vir hom "oopgemaak" het, aangesien dit ’n taal is "waarin jy soveel emosies kan uitdruk. Die verhaal het my ingetrek. Die boek is ’n herinnering aan 'n vergete tyd. As die mense van Suid-Afrika werklik ten volle ontwikkelde mense wil wees, moet hulle ook van hul verlede weet. Die mense van Vatmaar is simbolies van die Suid-Afrikaanse gemeenskap, waar mense van verskillende kleure en agtergronde tog bymekaar uitgekom en ’n nuwe gemeenskap gevorm het. Vatmaar is ’n historiese dokument wat vir elke mens van hierdie land van waarde behoort te wees."

Oor die proses van die vertaling self het Van Wyk aan Nieuwoudt verduidelik dat dit vir hom makliker is om "woord vir woord te vertaal en dan later terug te gaan om aan die teks te skaaf sodat ’n sekere gevoel oorgedra kan word. Selfs al is dit hoe aanloklik, probeer ek om nie die teks aan te pas nie, want dan ontneem jy die skrywer van sy skepping. Die uitdaging was om nie net die woorde en beelde te vertaal nie, maar ook om die sentimente van die karakters oor te dra. Sommige woorde soos ta en ’n eienaam soos Vuurmaak kan jy nie vertaal nie, want dit is so inherent deel van die gemeenskap en die storie. Die woorde is ook behou met ’n glossarium, waar woorde soos skollie, tjarrie en vastrap verduidelik word."

Chris van Wyk het ook vertel dat Vatmaar hom heeltemal onverhoeds betrap het. "Nadat ek hierdie pragtige boek gelees het, het ek die skrywer gebel en gesê ek het dit só geniet, ek sou dit graag self wou geskryf het. Hy het die kompliment innemend aanvaar, maar mnr Scholtz het nie besef in hoe ’n mate ek bedoel het wat ek gesê het nie.

"Wat ek bedoel het, was dat skrywers gebore word om te skryf. Hulle word gebore met daardie misterieuse drang om vir ander mense stories te vertel. Om hul vaardigheid te slyp, lees hulle dan baie ander mense se stories. En literêre teorieë. En uiteindelik begin hulle vergeet dat al wat hulle eintlik wil doen, is om ’n storie te vertel.

"Vatmaar is ’n oorspronklike werk; daar is geen literêre teorieë, geen slypskool-nonsens, geen desperaatheid om gehoor te word nie. Geen kleur- of geurmiddels nie. Dit is skoon, vlekkeloos, suiwer. En dit pols met sy eie betowering.

"Al wat ek sal doen as ek volgende keer ’n slypskool vir ontluikende skrywers aanbied, is om hulle aan te sê om Vatmaar te lees en só te skryf wat waarskynlik die moeilikste ding op aarde is om te doen. Rushdie se Midnight's Children is beskryf as ’n vaart op ’n see van stories. Vatmaar dobber stadig op ’n rivier van verhale, onopvallend, op sy eie dierbare, hartseer tyd totdat jy tot op die boot verlei word en dan kán jy nie, inderdaad wíl jy nie, aan wal gaan nie.

"Om dit anders te stel, om Vatmaar te lees, is soos om op ’n lui agtermiddag ou, swart-wit foto's gewys te word deur ’n ouma. En dan vertel Ouma jou hoekom dié mooi vrou so jonk dood is, hoe dit gekom het dat daardie man blinde kinders gehad het, hoe hierdie mense te werk gegaan het om 'n gesteelde diamant te verkoop.

"Terwyl die Suid-Afrikaanse letterkunde voortgaan om ons ou bekende landskappe te wys, neem Vatmaar ons na ’n plek en tyd wat deur geskiedenis en ideologie uitgewis is wel, byna. Boeke soos Vatmaar behoort elke dag geskryf te word. Dit gaan egter ’n lang tyd neem voor ons weer ’n storie soos dié gaan hoor." (Beeld, 15 Mei 2000)

Oor die verhoogstuk het die regisseur, Janice Honeyman, aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 10 April 2002) vertel dat sy die roman vir die verhoog verwerk het omdat Vatmaar ’n boek oor die land en sy mense is. "Ek dink aan alles in terme van die teater. Vatmaar is ’n boek wat ek onmiddellik besef het ek in teater kan omskep. Deur hul eie stories kan nasies hul eie geskiedenis ontdek en die konteks daarvan verstaan binne die tyd waarin hulle leef. Eie stories is uiters belangrik vir 'n nasie om trots in sy identiteit te kweek. As Suid-Afrikaners of dit nou ons krieketspan of ons akteurs is het ons só 'n minderwaardigheidskompleks oor ons Afrikanerskap dat dit ons verlam. Dis nonsens. Ons is net so goed soos enige ander nasie. (...)

"Die boek het my geroer oor die hart en die gees van die skrywer wat deur sy karakters na vore kom. Dit vergestalt onskuld en oorlewing in moeilike omstandighede danksy liefde, ondersteuning en mededeelsaamheid."

Sy het op daardie stadium nog nie ’n kans gehad om met Andrew Scholtz te praat nie."Ek wil ’n video maak en dit vir hom Mafikeng toe vat. Ek wens hy kon fees toe kom, maar hy is te siek vir die reis.

Op die KKNK se Voorbrandfees het Honeyman Vatmaar voor gehore in die bruin gemeenskappe opgevoer. "Dit was een van die ongelooflikste ervarings van my lewe. Die stuk is na die gemeenskap waaruit dit gebore is, geneem. Die mense het uit die gehoor met die akteurs gepraat. Van kinders tot ouers het hulle ten volle in elke oomblik ingeleef.

"Ek wil hê die stuk moet Johannesburg toe gaan, en Okiep toe, en Springbok en Oranjemund en Carnarvon en Citrusdal en Clanwilliam toe. Ek wil hê elke Suid-Afrikaner moet die verhaal as hul eie opeis.

"Kunstenaars is deur ’n tyd toe hulle onseker was oor die boodskap wat hulle moes uitdra. Hulle was so gewoond om die vorige bestel te kritiseer, dat hulle nie geweet het wat om met die nuwe regering te doen nie. In dié tyd het industriële teater gedy. Maar die afgelope paar maande kry ek die gevoel dat kunstenaars meer selfvertroue het om te sê wat hulle wil. Die argument dat gehore musiekteater wil hê en nie kans sien vir drama nie, is twak. Teatergangers sit deur die lang Vatmaar. Hulle is honger vir drama.”

Intussen sit Andrew nie stil nie en nog twee boeke vloei uit sy pen voort. In 1996 verskyn Langsaan die vuur: vyf lewensverhale, waarin daar verhale is wat deurdrenk is van ware pyn en lyding wat daagliks in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ervaar word.

Gabriël Botma was Die Burger (30 Julie 1997) se resensent van Langsaan die vuur. Die vyf verhale in die boek kan gesien word as "lewensverhale" wat die periode dek vanaf die geboorte van Kasper Crudorp in 1695 tot die dood van ’n sekere Kwela Modise in 1982.

Vir Botma was die een groot negatiewe punt van Langsaan die vuur dat die verhale nie ’n geheel vorm nie en nie soos die omslagteks dit beskryf, "een groot verhaal oor die 'agteruit dae van gister' is nie. Botma het voortgegaan: "’n Taamlike teleurstelling, want seker die uitstaande aspek van Vatmaar was juis die manier waarop ’n magdom karakters en stories tot ’n geheel saamgesnoer is.

"Waar Vatmaar in alle opsig verras, verbaas, vermaak en ontroer het, is Langsaan die vuur ’n afskaduwing. Dit is asof jy voorstudies van die meesterstuk lees, of stukke wat nie daardie fassinerende legkaart gehaal het nie. Maar selfs al aanvaar jy dat Langsaan die vuur eerder as ’n versameling kortverhale as ’n roman beoordeel moet word, verdwyn die spook van Vatmaar nog nie.

"Die parallelle met van die karakters en situasies in Vatmaar is in die meeste gevalle net te sterk. Waar die skrywer wel beduidend daarvan afwyk, soos in die eerste verhaal van die slaweseun wat later met sy eienares trou, en die laaste een oor die vryheidsvegter, is die resultate nie heeltemal oortuigend nie. Dit strek Scholtz nietemin tot eer dat hy dit reg kry om selfs ’n afkeurende, onwillige leser soms te laat regop sit. Al is dit net deur ’n oorspronklike woord of frase, of met die ontwapenende menslikheid wat die onderbou van sy verhale vorm. Uit dié oogpunt is dit beslis die moeite werd om Langsaan die vuur te lees."

In Beeld van 21 April 1997 sluit LS Venter sy bespreking van Langsaan die vuur as volg af: "Wie Vatmaar en Langsaan die vuur optel en lees, kan daarvan verseker wees dat hy/sy die vriend word van ’n verteller wat met die diep wysheid van ’n eenvoudige mens na ’n groot stuk Afrikaanse lewe kyk."

In 1998 word Afdraai: ’n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering gepubliseer. Laasgenoemde, wat Scholtz ’n roman van versoening noem, se aanvanklike titel was Tapisserie en dit handel oor die Anglo-Boereoorlog en sy nadraai.

Vir Phil du Plessis was die grootste pluspunt van Afdraai die feit dat daar geskryf word oor sekere fasette van die Afrikaanse kultuur wat nie baie aandag geniet het in die verlede nie. "Die landelike gemeenskappe wat ten tye van die Anglo-Boereoorlog in die republieke gewoon het, was ’n etniese mengsel, maar Afrikaans was ’n gemene deler, so ook die feit dat hierdie pioniers uit noodsaak gesorg het dat so ver moontlik vrede en toegeneentheid geheers het.

"Scholtz se dorpie Afdraai, met die Brinks en hul bywoners die Oliviers, en as arbeiders die Juriese en Photso's op Brinks Pos daar naby, word deur die skrywer met regte lewens geskiedskryf. Afrikaans as ontwikkelende taal is ’n belangrike deel van die kroniek. Die destydse Afrikaans wat die karakters gebruik, het die eenvoudige, direkte segging van die vroeë taalbewegings.

"Ná die Tweede Wêreldoorlog, met die opkoms van gewettigde wit rassisme, verloor beide gemeenskap en taal deernis. Dat die skrywer hom in sy verhaal nie werklike wraak [toe-eien] nie, is ’n kenmerk van sy duidelik piëtistiese geloof. Van plaas na konsentrasiekamp praat Scholtz dieselfde taal as in die vroeë vertellings van Magrietha Uys. Sy deel egter glad nie die skrywer se vergewensgesindheid nie.

"In ’n verhaal wat oor 'n halwe eeu verloop, is dit natuurlik dat karakters sterf. In die helfte van die vertelling tref ’n weerligstraal Joshua en Hester, die sentrale karakters van die boek, een van die mees melodramatiese oomblikke.

"Ongelukkig is dit ook asof die weerligstraal die boek toe getref het, want die hele vertelling verloor stoom. Mens voel daarna dat elke moontlike manier gebruik word om elke los draadjie met mening na die einde toe vas te maak. (...)

"Op die ou end, in geheelindruk, is die verhaal té kompleks verweef, en gemanipuleer vir effek. My vertwyfeling oor die boek se waarde as skeppende literatuur het eers met die tweede en derde lees gekom. Die eerste lees was proe-proe, soos aan ’n nuwe bottel konfyt. Daarna het dit te soet geraak, sandsuiker en al. As roman is die styl soms werklik te outyds.

"Aan die outentisiteit van ’n volksvertelling soos dié is daar nie te twyfel nie, en die boek het wel ’n emosionele slaankrag en baie kostelikhede. As skeppende literatuur is dit egter ’n goedversorgde maar moeë ou motorkar wat jare lank op die sinkplaatpaaie van die ou republieke die stof laat opslaan het. Die nuwe verf van publikasie besorg daaraan geen groter literêre waarde nie."

George Weideman (Rapport, 24 Januarie 1999) het as volg geskryf oor Afdraai: "Die vertelling is ’n mengsel van gelatenheid en emosionele opwelling en Scholtz slaag veral wanneer hy onderbeklemtoon. Die vertelling begin wel in die onlangse hede: twee susters en hul plaasvoorman haal uit dekades se rommel ’n aangeslane koperemmer vol skietgate, asook ’n paar velletjies papier wat gebruik is om ’n kas se laaie te bedek.

"Dis hierdie 'artefakte' wat Scholtz gebruik om geslagte wit, bruin en swart se lotsverbondenheid storiegewys saam te snoer. Die byna onleesbare kampdokument word dan vanaf die tweede hoofstuk die beginpunt van die vertellinge, langs verskeie kleiner 'geskiedenisse', van Brinkspos en Afdraai se mense. Hoe dié mense ná 1948 uitmekaargedryf word, is hier nie net statistiek en dokumentasie nie; dis rou tot op die been.

"Op die ou end, wanneer die leser terug is in die 'hede', is die oorheersende gevoel: ons moet na mekáár toe afdraai; ons het mekáár nodig. Soms hinder lastige perspektief-wisselinge; soms is daar veral aan die begin ’n soort ongemaklikheid in die vrystelling van inligting en kom dit nie altyd spontaan oor nie. En dan is daar die talle kere dat karakters die gang van die geskiedenis 'voorspel'. Die 'wete' dat daar eendag ’n man uit die gevangenis gaan kom om die swartes te verlos (p 12 en verder) is [...] ’n hinderlike ideologiese greep. Die hinderlikste is dalk die manipulerende rol van die toeval, wat meebring dat die storie soms aan geloofwaardigheid inboet.

"Afdraai is ’n knap kroniek – knap vanweë die krag van sy eenvoud, die byna naïewe vertelstyl, die fyn flitse karakterisering en bowenal die onmiskenbare strekking van menslikheid en van 'vergeefnis', 'erbarming' en 'versoening sonder maat', soos wat die skrywer in sy opdrag en nawoord bepleit."

Scholtz het ook gedigte geskryf, maar dit is nooit gepubliseer nie.

In 2002 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Andrew deur die Patrick Petersen-gedenkprys aan hom toe te ken. Rudi Daniels onthou dat die ASV dit gedoen het omdat Andrew deur sy werk gestalte gegee het aan ’n belangrike doelstelling van die organisasie, naamlik "om die stories te vertel van mense wat andersins nie vertel sou word nie; om gesig te gee aan die gesigloses; en om stem te gee aan die stemloses”.

In 2009 is Andrew Scholtz met ’n Suid-Afrikaanse literêre toekenning (Sala) vereer in die kategorie postume literêre toekenning.

Op Woensdag 17 November 2004 sterf Andrew Scholtz op Mafikeng aan akute asma nadat hy die laaste twee maande van sy lewe ook blind was. Maar hy sal altyd die beste onthou word vir Vatmaar.

Huldeblyke

  • Annari van der Merwe: "'Daar is in elke uitgewer se loopbaan een boek wat bo alle ander uitstaan,' het Danie van Niekerk, die voormalige uitvoerende hoof van Tafelberg, eenkeer gesê. Vir hom was dit Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Vir my is dit Vatmaar, slegs die derde boek wat onder die Kwela-druknaam verskyn het. Selfs voor Vatmaar nog beskikbaar was, het ek geweet dat ek in my tyd by Kwela nie 'n meer uitsonderlike publikasie sal hanteer nie. ’n Relatief groot eerste oplaag is gedruk, want, het ek vol oormoed gesê, as hierdie boek nie werk nie, verkoop ek my huis.

"Hy hét gewerk, en meer as enige ander boek het Vatmaar vir Kwela op die map gesit. Dié debuutwerk van ’n 72-jarige voormalige handewerker met net laerskoolopleiding is met drie literêre pryse bekroon, en was ’n sukses in Nederlandse, Duitse en Engelse vertaling. Dit is op die planke gebring en onlangs is ’n opsie op die filmregte geneem. Die simboliese betekenis van die man wat amper in ’n biegtoon, asof dit ’n beperking was, gesê het hy kan net oor die armes, oor die eenvoudiges van gees, skryf, is nie so maklik meetbaar nie. En nou is AHM Scholtz nie meer nie, net soos die tyd waarvan hy die 'lewendagge verhaal' in Vatmaar vertel. (...)

"Dit is vir Vatmaar – ’n storie van die bruinmense van Suid-Afrika – wat hy onthou sal word en waarmee hy die grootste bydrae tot die Afrikaanse letterskat van na 1994 gemaak het. Ek was bevoorreg om hom van naderby te kon leer ken, om intiem met sy unieke skryfwerk te kon werk, en saam met hom die 'buite perke' plat dak van die groot wit huis in Geraniumstraat te kon betree, waar hy soos ’n alchemis van ouds iets edels uit ’n vreemde blou vloeistof wou laat uitkristalliseer." (Die Burger, 19 November 2002)

  • Willem Fransman jr: "'n Seder het in Mafikeng geval. Oom AHM Scholtz is nie meer nie. Maar wat ’n voorreg was dit nie om in sy teenwoordigheid te wees nie. Die oompie wat, met sy sagte stem, met soveel deernis kon praat oor 'my mense'. En wat so gevoelvol daardie mense van sy grootword-wêreld met deernis en menslikheid kon teken.

"Ons eerste en enigste kennismaking was in Bloemfontein met die oorhandiging van die Patrick Petersen-toekenning wat die Afrikaanse Skrywersvereniging aan hom gegee het. Moeg van die lang reis vanaf Mafikeng na Bloemfontein het hy opgedaag. Hygend van die asma wat sy beweeglikheid sou beperk. Hy het die vertrek statig binnegekom. Amper soos ’n koninklike. Met al sy oorlogsmedaljes op sy bors het hy so trots, so fier, daar uitgesien. Sy aanvaardingstoespraak was ook nie deurspek met clichés nie. Nee, dit was eerder die woorde van ’n dankbare mens wat deur medeskrywers vereer word – en wat volgens hom nie waardig is om 'so iets' te verdien nie. Na die oorhandiging het ek ’n greep uit sy debuutroman, Vatmaar, opgevoer. Ironies genoeg nogal die een oor die eerste begrafnis uit die Sendingkerk op Vatmaar. Dié van ouma Lewis!

"Na die vertoning het hy trane in sy oë gehad, opgestaan en my hand kom vat. Dit was die eerste keer dat hy sy eie werk op die planke gesien het. ’n Mens kon die dankbaarheid in sy oë lees. Vir hom was niks te veel moeite nie. Die uitlig van die klein mens het duidelik uit al sy werk geblyk. Maar daardie eienskappe was ook in homself teenwoordig.

"Hoewel dit nie wyd bekend is nie, was hy ook ’n digter. Maar hy was bowenal ’n fyn waarnemer wat oor sy bestaanswêreld met ’n eerlikheid geskryf het wat ons nie voor Vatmaar geken het nie. Hy het ’n nie-bruin leserskorps in die binnekamers van die bruin mense ingeneem en hul hartsgeheime ontsluit. Sonder pretensie. En sonder omhaal van mooi woorde soms.

"Annari van der Merwe moet ook baie krediet kry dat sy oom Henry 'opgetrek het na ’n hoër plek en nie net daaronder gelos het nie' (sy woorde). Vatmaar is haar vlagskip-produksie. ’n Seder het beslis geval in Mafikeng en die jong boompies (lees opkomende skrywers) treur oor sy heengaan. Die skrywerswêreld is van nog ’n stryder ontneem. Mooi loop, oom Scholtz." (Die Burger, 20 November 2004)

  • Beeld-hoofartikel: "'Ek gaan ’n storie vertel van die bruin mense van Suid-Afrika,' het AHM Scholtz in sy bekroonde roman Vatmaar geskryf. Die verskyning van Vatmaar in 1995 was ’n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse letterkunde. Met dié boek het Scholtz skrywers wat vervreem was van Afrikaans teruggebring na hul moedertaal. Dit was nie langer ’n taal wat hulle net in privaatheid gepraat het nie, maar waarmee hulle hul in die openbaar kon identifiseer. Scholtz, wat net laerskoolopleiding gehad het, was die eerste skrywer sonder formele opleiding wie se werk gepubliseer is. Dit het aan ander die selfvertroue gegee om ook húl stories met lesers te deel. Laat ons vir Scholtz ’n kers aansteek omdat hy ’n bepaalde Afrikaanse leefwêreld vir ons oopgeskryf het soos nooit vantevore nie. En laat ons ook hulde bring aan sy uitgewer, Annari van der Merwe van Kwela, wat voorheen stemloses soos Scholtz ’n stem gegee het." (Beeld, 22 November 2004)
  • Chris van der Merwe: "Met ’n pragtige humor en ’n sprankelende taal het Scholtz vir ons in sy drie boeke ’n aantal onvergeetlike karakters geskep; het hy nuwe ruimtes vir die Afrikaanse prosa en die Afrikaanse leefwêreld oopgemaak. Hy was ’n romantikus en ’n realis ineen, wat sowel die hoë ideale van ’n grenslose liefde as die harde realiteit van rassisme geopenbaar het. Sy werk is deurtrek met ’n positiewe religieuse instelling, maar beeld ook situasies uit waarin die gelowige kopskuddend sê: 'Nee, nee, my God' (Langsaan die vuur, p 115). Kenmerkend van sy oeuvre is die eenvoud daarvan; tog bevat dit ’n diepsinnige en gesofistikeerde lewenswysheid. Vir só iemand haal ek my hoed af." (LitNet)

In sy huldeblyk op LitNet ná die afsterwe van AHM Scholtz vat Chris van der Merwe AHM Scholtz se klein, maar belangrike oeuvre as volg saam: "[H]y, wat maar min geleerdheid besit, besluit om ’n roman te skryf, en op 72-jarige leeftyd verskyn uit sy pen Vatmaar – 'n lewendagge verhaal van 'n tyd wat nie meer is nie. Dit word ’n reusesukses, verower verskeie literêre pryse in Afrikaans en vaar ook uitstekend in Nederlandse, Duitse en Engelse vertaling.

"Die meeste mense verbind Scholtz uitsluitlik met hierdie een grootse werk en vergeet van sy ander twee boeke: Langsaan die vuur – Vyf lewensverhale (1996) en Afdraai – 'n Kroniek (1998). In hierdie twee boeke toon Scholtz egter ook dat hy ’n uitstekende verteller is, iemand met ’n unieke styl en eie lewensuitkyk.

"In Langsaan die vuur rig hy sy oog op vyf onbekende mense, soos wat hy self die grootste deel van sy lewe was, en vertel hul buitengewone stories. Die verhale het ’n dokumentêre inslag, met foto's, geboorte- en sterfdatums daarby – Scholtz herinner ons aan die 'stiltes' in ons geskiedenis, hy wil aan die ongehoordes ’n stem gee. Die 'terroris' Kwela Modise van die laaste verhaal, wat uiteindelik as vryheidsheld vereer word, herinner ons daaraan hoe maklik die oordeel van die geskiedenis kan verander. Soos in sy ander werke, rig Scholtz hom steeds teen die kunsmatige verdelings in die samelewing en sien hy Afrikaans as bindende krag:

"Ons is almal Afrikaners, sê Richard – soos in Engels gesê: African. En ons taal maak ons Afrikaans. Mens is die taal wat jy praat, Ethel, sê hy. Hulle gee die wit Afrikaners die naam Boere – wat ’n mooi woord: mense van die land. Maar die Engelse se vrees draai ’n mooi woord om en sê: Boors, wat klink soos wildevarke op Engels. Dis ons almal se land, Ethel. Die land waarin jy gebore is, is jou land. Sy klim op die bed. Ek hoop hulle verander die lelike woord, Cape Coloured, sê sy moeg. Dit klink vir my soos ’n dier wat ingekleur is (p 77).

"In Afdraai plaas Scholtz sy eie stempel op bekende temas in die Afrikaanse letterkunde: die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 en die plaasroman. Dit is asof hy afdraai van die ou bekende perspektief van Afrikaner-nasionalisme. Wanneer hy oor die konsentrasiekampe vertel, is dit nie Afrikaner-lyding wat sentraal gestel word nie, maar die feit dat ’n gekleurde persoon hier algemene waardering vind, anders as in die na-oorlogse jare. In die opbou van die verwoeste plaas is dit nie die blanke boereman wat sentraal is nie, maar ’n bywonervrou van gemengde afkoms; ook die belangrike rol van die gekleurde werkers word beklemtoon.

"'Ras-egtheid' word nooit by Scholtz op prys gestel nie, maar juis die liefde wat kunsmatige grense oorskry.

"'Die liefde ken nie grense nie' – so sê Flip in die onvergeetlike toneel van Ouma Lewies se begrafnis in Vatmaar. 'In my Father's house are many mansions' is die gepaste teksvers by hierdie geleentheid, waar daar uit die Engelse Bybel gelees word ter wille van Ouma Lewies se Engelssprekende man. Oom Chai, wat die diens lei, en Oupa Lewies omhels mekaar 'soos net tweelinge kan', haal elkeen sy kakiesakdoek uit en droog mekaar se trane af. Hierdie 'tweeling' kan nie deur die verskille in taal en kerkverband en ras geskei word nie.

"Die helde en heldinne van Vatmaar is diegene wat oor die grense van ras liefhet – mense soos die swart vrou MaKhumalo wat ’n wit seun aanneem, Oupa Lewies wat met ’n swart vrou trou, en Suzan wat vir Nellie Ndola troos, al is laasgenoemde swart en lelik.

"Naas hierdie persone wat die ideale van die roman beliggaam, is daar egter ook ander wat die harde werklikheid van rassisme verteenwoordig, byvoorbeeld Oupa Lewies se twee kinders: Elsa, lig van kleur, Rooms-Katoliek en Engels, wat haar neus optrek vir die mense van Vatmaar, en Tommy, wat ’n swart vrou seksueel misbruik en dan verstoot.

"Vatmaar is ’n eenvoudige verhaal, maar dit is nie simplisties nie. Wanneer die goeie tant Wonnie onskuldig gearresteer word, kom oeroue kwelvrae na vore: Waarom moet die onskuldige ly? Waarom laat God dit toe? Wanneer tant Wonnie deur die konstabel tronk toe geneem word, flits ’n hele reeks herinneringe deur haar gedagtes. Hulle het almal te make met gevalle waar mense onregverdig ly – veral gekleurde persone wat deur blankes mishandel word. Tant Wonnie vind haar vrede deur die geloof in God wat in haar woon en haar onder alle omstandighede bystaan. Hoewel hierdie geloof deur ’n paar gevaarlike knikke gaan, het tant Wonnie se lewe wel ’n gelukkige einde – die gelukkige afloop wat so dikwels in Scholtz se werk te vinde is.

"Sy boeke openbaar egter nie ’n naïewe siening dat goedheid altyd na verdienste beloon word nie. In teenstelling met die gang van tant Wonnie se lewe, waar haar geloof vrugte afwerp, is daar die geval van twee mense wat saam met haar in die hof beland: Benny O'Grady en Hendruk Jannewarie, wat albei van diefstal aangekla word. Benny steur hom nie aan die waarheid nie – sy advies is: 'Onthou, sê altyd jy is onskuldig en doen jou bes om nie skuldig te lyk nie' (p 163). Sy taktiek werk, en hy wen sy saak, alhoewel hy in werklikheid skuldig aan diefstal is. 'Met ’n glimlag het hy gesê sodat almal dit kon hoor: Geregtigheid het geseëvier – en gedink aan die ander vyf skape wat hy by Mineer Lambrecht gesteel het' (p 165). Hendruk, daarenteen, wat in werklikheid onskuldig is, en altyd die waarheid praat, en wat dink: 'Noulat ek die waarheid vertel het, sal die waarheid my vrymaak' (p 171) – hy kry ag jaar hardepad."

Publikasies:

Publikasies

Publikasie

Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie

Publikasiedatum

  • 1995
  • Skooluitgawe 2008

ISBN

  • 0795700059 (sb)
  • 9780795702648 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 1996
  • M-Net-prys 1996
  • CNA-debuutprys 1996

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens
  • Duits vertaal deur Arnold Blumer
  • Engels vertaal deur Chris van Wyk

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Langsaan die vuur: vyf lewensverhale

Publikasiedatum

1996

ISBN

0795700385 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afdraai: ’n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering

Publikasiedatum

1998

ISBN

0795700628 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor en deur AHM Scholtz beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top