Agter die maskers

  • 2

“Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.” Dié bekende uitdrukking kom in my gedagtes op toe die bloedrooi gordyne ooptrek en ek hom in die kollig sien staan. Agter die figuurlike masker vertolk hy die rol van Romeo. Romeo en Juliet, albei gesterf vir kamma-kamma liefde, lê op die grond soos die gordyn toegaan. Ek, net ’n lid van die gehoor, wonder wie die man agter die akteur is. Wie is hy as die gordyn sak? As die ligte verdof en hy die masker afhaal … sien iemand die ware hy?

As jong kinders het ons maskers geknip uit kleurvolle karton en papboksies. Kunstenaars het ons gesigte toegeverf, sodat ons soos ons helde en heldinne kon lyk. Ons het probeer iets of iemand anders wees, al was dit net vir ’n dag. Vermom as ’n bekende karakter kon jy sê net wat jy wil en wees net wie jy wou …

Jou verbeeldingswêreld het geen grense gehad nie en die moontlikhede was eindeloos. Tog wonder ek hoekom die grootmense nie toe al vir ons gesê het om net onsself te wees nie? Is ons, sonder masker of pretensie, dan nie genoeg nie? Hoekom probeer tieners groot wees en ander se drome navolg? Dra grootmense dan nie maar net maskers nie, of kom jy by ’n punt waar jy die masker weggooi?

Waarnemend en stil merk ek maskers op wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Maskers van lae grimering, lang kuiwe, dikraambrille, Kersvaderbaarde en velle oortrek met inkprentjies, waaragter mense skuil. Sommige is baie kreatief, hulle dra sommer meer as een masker. Dié mense word tweegesigte, draadsitters en soms “te goeie” mense genoem. Duidelik is die maskers van vandag nie meer van karton en boks nie.

In besige winkelsentrums dra almal donker maskers wat huil met toe oë. Hulle raak blind vir hul foute, sien niemand raak nie en merk net promosies op. Mense met professionele maskers, maak hulle van deurskynende glas. Hierdie maskers lag uitbundig, selfs wanneer dit swaar dra daar binne. Dieselfde laggende maskers is dié wat soms hulle lewens beëindig!

Die meeste mense dra hul maskers te lank en dan kleef dit vas. Die glimlaggende masker plak dan permanent op die gebroke siel vas. Die gom trek pynlik stukkies vel af wanneer hulle ontmasker word. Die ontmaskering is die seerste, maar die bevryding is ongelooflik. Gelukkig vind die meeste akteurs geliefdes wat hulle genoeg vertrou om die grimering af te was. Om in stukke te breek en jou ware self te ontbloot verg moed.

Want agter die masker skuil meer as die geraamtes in jou kas. Die brose, kwesbare jy skuil agter ’n oorlogsmasker om jouself teen die aanslae van die wêreld te beskerm.

In ons afknouerige samelewing dra baie van ons maskers as selfverdediging, maar dit is tyd om die tweegesig-nasie te ontmasker en voorgee te beëindig!

Agter die masker skuil al die akteur se foute en sy letsels. Hy maak seker daar is nie ’n enkele siel in die sitplekke oor nie, maar sien my nie in die donker skadu nie. Hy loer versigtig en trek dan die gordyn oop. Toe hy sy masker afhaal, sien ek meer as net sy foute. Ek sien sy individualiteit, sy unieke skoonheid en sy hart. Hy begin die mooiste melodie sing en in daardie oomblik haal ek my masker af, die balk in my eie oog. Uit die skadu klap ek hande en hy bloos trots.

God het jou nie geskape met ’n masker nie; hou op vrees wat die wêreld sal dink en wees net … maskerloos en braaf!

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top