Afrikaanse universiteit skop nes in die Paarl

Hermann Giliomee by die bekendstelling van die Paarl-studiesentrum

Reg langs die gebou in die Paarl waar die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 op beskeie manier formeel beslag gegee het aan Afrikaans as skryftaal, word daar nou ’n nuwe baken vir Afrikaans as akademiese taal geplant.

Akademia, die nuwe private Afrikaanse hoëronderwysinstelling, open in Januarie volgende jaar sy deure ook in die Paarl met verskeie geakkrediteerde graad- en ander kursusse.

Die nuwe satellietkampus van Akademia, wat bekend staan as die Paarl-studiesentrum, sal in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan geleë wees.

Die historikus en voormalige adviesraadslid van Akademia, Hermann Giliomee,  het tydens ’n ontbytgeleentheid waar die nuwe Paarl-studiesentrum bekendgestel is, gesê die toekoms van Afrikaans as akademiese taal aan die Universiteit Stellenbosch (US) stuur op ’n tragedie af.

Wanneer die US se nuwe taalbeleid deurgevoer word, sal Afrikaans volgens Giliomee al hoe meer agteruitboer op Stellenbosch se kampus.

Maar, sê hy, goeie dinge wat niemand verwag het nie, het al uit groot nood vir Afrikaans tot stand gekom. “Akademia kan dalk een van daardie dinge word wat met groot sukses beloon word.”

Sy voorspelling is dat Afrikaans as akademiese taal op Stellenbosch toenemend afgeskryf sal word namate die universiteit vinnig besig is om te verengels.

Giliomee sê daar is reeds in die jare negentig gepleit dat Afrikaans as dominante taal aan die US behou moet word, maar dit het op dowe ore geval. Daar is nie op die waarskuwings ag geslaan nie.

Hy sê Stellenbosch het van die begin af geweet hy kan nie net op Afrikaans gerig wees nie en was nog altyd ook internasionaal gerig. “Afrikaans het studente in staat gestel om universele kennis in hulle eie taal te verskans.”

Die rooi ligte vir Afrikaans as onderrigtaal het volgens hom reeds in 1993 begin flits toe die destydse minister van nasionale onderwys, Piet Marais, die voormalige staatspresident FW de Klerk in ’n brief gewaarsku het dat daar geen pogings tot versoening aangewend word om Afrikaans as onderrigtaal te beskerm nie.

Giliomee sê die skrywer en Nobelpryswenner vir letterkunde JM Coetzee het aan hom geskryf sy simpatie lê by diegene wat vir Afrikaans as onderrigtaal veg.

“Nou gaan Engels die dominante taal van die US word. Afrikaans sal slegs op aanvraag aangebied word en die uiteinde is dat Engels heeltemal gaan oorneem,” sê Giliomee.

“In enige soortgelyke situasie is dit onafwendbaar dat die kleiner taal binne ’n paar jaar heeltemal uitgefaseer kan word.”

Hy sê studente wat steeds graag in Afrikaans wil studeer, is so toegewensgesind dat hulle liewer nie wil aandring op Afrikaans nie. “Maar daar bestaan nie iets soos taalordentlikheid as jy ’n bepaalde taal as taal van onderrig wil behou nie. Daar is slegs reëls wat geld.”

Hy sê Stellenbosch se voertaalbeleid sal binne die volgende paar jaar glad nie meer dieselfde wees nie. “Feitlik alles sal in Engels wees en Afrikaans sal aangewend word net wanneer dit “in aanvraag” is.

“Tot dusver het Stellenbosch redelik lig afgekom van die afgelope studente-onrus, maar dit kan aansienlik verander namate die demografie van die universiteit besig is om te verander,” waarsku hy.

Die toestroming van studente na Stellenbosch word al hoe groter. Die aandrang is dat 50 persent van die studente teen 2019 swart moet wees, teenoor die huidige 35 persent.

“Maar hoe gaan daardie doelwit bereik word sonder om weer een of ander vorm van rasseklassifikasie in te stel? Dit bring ons terug by die jare van apartheid waar mense selfs deur middel van, onder andere, ’n potlood in hulle hare volgens ras geklassifiseer is.”

Hy gee toe dat Stellenbosch die witste universiteit in die land is en sê dit is tragies dat bruin mense die grootste prys vir apartheid moet betaal. Bruin Afrikaanse studente se deelname aan die US is steeds die laagste.

Giliomee sê tot onlangs het bruin mense redelik stil gebly oor die taalkwessie. Nou gaan daar al hoe meer stemme in die bruin gemeenskap op ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal.

“Daar bestaan geen kans dat ’n bruin student uit die platteland goed gaan vaar op universiteit as hy gedwing word om in Engels te studeer nie.”

Giliomee, wat al verskeie boeke in Engels geskryf het, sê hy was 35 jaar oud toe hy die eerste keer in Engels begin publiseer het. “Ek sou dit nie kon regkry om in Engels te skryf as ek nie eers geleer het om die beheer van my huistaal te bemeester nie.”

Hy haal die filosoof John Degenaar aan wat kort voor sy dood gesê het dat as Suid-Afrika sukses wil behaal, daar vergeet moet word van nasiebou. Daar moet liewer daarop gekonsentreer word om ’n sterk demokrasie te bou.

Afrikaans het ’n ryk kulturele tradisie en is saam met Maleis-Indies, Hindi en Hebreeus een van slegs vier tale in die wêreld wat in die 20ste eeu tot ’n volwaardige letterkundige taal kon ontwikkel.

akademia_400Instellings soos Akademia kan volgens Giliomee ’n geweldige rol speel om Afrikaans as onderrigtaal te laat voorbestaan, selfs al was dit nie vir die huidige krisis waarin Afrikaans hom tans bevind nie.

Akademia se akademiese hoof, Piet le Roux, sê die vestiging van die Paarl-studiesentrum is deel van Akademia se doelstelling om ’n Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit te vestig.

“As gemeenskapsuniversiteit wil ons met een voet in die gemeenskap en die ander voet in die wêreld staan.”

Klasse aan die universiteit sal vanuit ’n hoëtegnologie sentrale ateljee gelyktydig aan ses tot agt sentrums in die land aangebied word.

Akademia het reeds tien jaar gelede planne begin beraam vir tersiêre onderrig in Afrikaans. Vyf jaar gelede is die eerste studente ingeskryf. Dieselfde akkreditasie as enige ander universiteit is op Akademia van toepassing.

Die eerste BCom-studente is in 2014 ingeneem en volgende jaar vind Akademia  se eerste gradeplegtigheid plaas.

Le Roux sê hulle studentegetalle het van 20 studente in 2011 gestyg tot 370 in 2015 en 406 dié jaar. Hulle verwag dat meer as 800 studente volgende jaar sal inskryf om daar te studeer. Hulle verwag dat daar teen 2020 sowat 2 500 studente by Akademia sal studeer.

Van die kursusse waaruit studente reeds kan kies, sluit in BCom-graadkursusse in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie, regte en finansiële beplanning.

Daar word ook ’n gevorderde diploma in projekbestuur aangebied, en hoër sertifikate in rekeningkunde en kantooradministrasie wat as oorbrugging gebruik kan word vir graadtoelating word ook reeds aangebied.

Foto's: Jean Oosthuizen

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Kommentaar

  • De Villiers Hauptfleisch

    Binnekort sal geen universiteit in die RSA (behalwe Akademia) meer enige vak of graadkursus in Afrikaans aanbied nie. Kyk na die Appèlhof se uitspraak vandag met betrekking tot die taalbeleid van die Vrystaatse Universiteit - slegs Engels! Op sy beurt word die Afrikaner nou verdruk in sy land van geboorte wat sy taal aanbetref. Dankie vir `n instansie soos Akademia, waarmee Afrikaans sal voortleef in hierdie land. Ons sal ons nie laat onder kry nie en dit is duidelik dat Akademia nou met rasseskrede sal groei.

  • Ek is baie positief teenoor Akademia ingestel, en sien 'n uiters suksesvolle rol vir hierdie instellling in die toekoms.

  • Cilliers van Niekerk

    Veels geluk, voorspoed, en dankie aan Akademia en sy stigter en eienaar, Solidariteit!

  • Carel van Wyk

    Eerstens wil ek positief wees en sê dat Akademia definitief waarde kan toevoeg tot Afrikaans se voortbestaan. Aan die anderkant besef ek ook dat alles in Suid-Afrika gaan verengels en dat dit selfs ten koste gaan wees van al die ander Afrika-tale. Ek het drie grade verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch en sou graag ook Akademia wil probeer vir ’n graadkursus. Ek sal enigiets basies doen(sonder om die ander Afrika-tale opsetlik te benadeel) om Afrikaans te bevorder en wens Akademia alle sukses toe. Ek sal graag wil weet wat behels die studiesentrum in Paarl en die verskillende studierigtings asook "nagraadkursusse"?

  • As 'n navorser gaan dit my verstand te bowe waarom 'n student in vandag se tye in Afrikaans aan 'n universiteit wil studeer. As jou Engels so vrot is, moet jy dalk alternatiewe oorweeg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top