Afrikaanse onderwys onder beleg

  • 2

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

http://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

Na aanleiding van die protes by Hoërskool Overvaal, het Jonathan Jansen in ’n onlangse RSG-gesprek rondom skole se taalbeleid aan Heindrich Wyngaard gesê dat die reg van toegang toenemend swaarder as die reg tot moedertaalonderrig sal weeg. Danie van Wyk gee sy mening.

In Afrikaans bestaan daar ’n uitdrukking: Skoenmaker, hou jou by jou lees. Dit sou my kort boodskap aan Panyaza Lesufi wees: Jy bevind jou op ’n terrein waarvan jy baie min weet of waaroor jy baie swak ingelig is.

Onderwys behoort nie ideologies gedryf te word nie, maar op suiwer en bewese opvoedkundige beginsels. Een van hierdie beginsels is die belang van moedertaalonderrig. Wêreldwyd word dit as ’n nie-onderhandelbare onderwysbeginsel beskou. Leerders sal presteer slegs indien hulle die geleentheid gebied word om in hulle moedertaal onderrig te ontvang. Dit is wetenskaplik begrond en onbetwisbaar. Ontwikkelde lande plaas die fokus op moedertaalonderrig, terwyl ontwikkelende lande nie die voordele daarvan kan insien of besef nie.

Ongelukkig is politieke druk besig om toe te neem op Afrikaanse onderwys. Politieke opportuniste soos Lesufi sal Afrikaanse onderwys alte graag bestempel as ’n nalatenskap van apartheid. Ons is reeds meer as 20 jaar in ’n nuwe bedeling en die boodskap word steeds uitgedra dat Afrikaans die taal van die verdrukker is en die verpolitisering van die taal gaan voort. Die afskaling van die taal is kortsigtig en dit is ’n onreg teenoor veral arm bruin en swart Afrikaanssprekende kinders. Ook word opleidingsgeleenthede vir ’n beter toekoms hulle doelbewus ontneem. Op lang termyn gaan Suid-Afrika ’n duur prys hiervoor betaal.

Daar bestaan egter voldoende bewyse: Afrikaanse onderrig is steeds uitmuntend en puik. Die top-matriekleerder vir die 2017-matriekeksamen is Janke van Dyk van ’n Afrikaansmedium skool in Bellville en in die tweede plek is Matthys Carstens van Durbanville Hoër. Afrikaanse hoërskole met 100%-slaagsyfer is geen uitsondering nie. Afrikaanse kinders presteer in ons samelewing danksy onderrig in hul moedertaal. Dit is ’n drogredenasie om aan te neem dat kinders wat in Engels onderrig ontvang, beter in hul loopbane sal vaar as ander wat in Afrikaans opgelei is.

Die bewering kan ook nie aanvaar word dat Afrikaanse onderrig onderwys vir wit kinders is nie. Daar is talle bruin en swart kinders wat voormalige model C-skole bywoon. Daar bestaan bruin Afrikaanse skole in die Wes-Kaap waar ’n groot persentasie van die leerdertal swart kinders is. Swart ouers stuur hul kinders na hierdie skole omdat dit funksionele, presterende skole is en hulle die beste onderrig vir hul kinders verlang. Ongelukkig is mnr Lesufi se verwysingsraamwerk onderwys in Gauteng. In die Wes- Kaap bevind ons ons in ’n Afrikaanse omgewing en sal dit moeilik wees om hierdie tipe aksies hier te dryf. Hy verkeer onder die waan dat Afrikaanse onderwys diskriminasie, uitsluiting, eksklusiwiteit en negatiewe afskeiding beteken. Inteendeel; Afrikaanse onderwys is nierassig en weerspieël die toekoms van ons land.

Dit is hierdie kinders wat die waardes en gesindhede verwerf wat hulle nodig het om waardevolle bydraes tot hulle samelewing te kan lewer en selfstandig te kan lewe. Hulle sal met selfvertroue hul plek enige plek in die wêreld kan volstaan. Afrikaans voldoen aan al die funksies van onderwys en is ’n simbool van nasionale eenheid. Dit is ’n inheemse taal en ’n nasionale bate wat tot voordeel van alle burgers van die land kan strek. Die taal se skanse is lankal afgebreek en is die medium waarin miljoene mense daagliks leef.

Dit is nou in ons hande as Afrikaanssprekendes – wit, bruin en swart – om toe te sien dat ons taal nie in vergetelheid sal raak nie, en nie aan Lesufi en ander ’n geleentheid te bied om deur middel van hul onverantwoordelike politieke uitsprake en aksies ’n atmosfeer te skep om Afrikaans weer eens in die spervuur te plaas nie. Laat ons die taal depolitiseer en destigmatiseer deur Afrikaanse onderwys ’n vriendelike gesig/beeld te gee en dit gelykstaande te maak aan “uitnemend” en “presterend”. Slegs dan sal die Lesufi’s van hierdie wêreld hul gesindheid en ingesteldheid jeens die taal verander en dit omarm as deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Die tyd het aangebreek dat ’n indringende/aangrypende gesprek oor onderwys, en beslis oor Afrikaanse onderwys, so spoedig moontlik deur alle rolspelers gehou word om te verhoed dat ons telkemale gekonfronteer word oor die waardetoevoeging van Afrikaanse onderwys al dan nie.

Danie van Wyk

Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust

Kuilsrivier

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    "Onderwys behoort nie ideologies gedryf te word nie, maar op suiwer en bewese opvoedkundige beginsels."

    Hierdie stelling, wat die hele argument onderskryf en waarsonder dit nie water hou nie, is aanvegbaar. Regter Louis Harms het regsgeleerdes daarop attent gemaak dat "Context is everything" in die uitleg van kontraksterme.

    Dit is ook so in die onderwys. Mens kan nie kinders wil onderrig asof die wêreld om hulle nie bestaan nie, of dat hulle eie belang ten koste van ander afgedwing kan word nie. Hulle is tog deel van 'n gemeenskap wat wyer strek as die huis, die skool, die voorstad, provinsie en selfs die land.

    Die negatiewe houding wat Afrikaans - en Afrikaanssprekendes - tans beleef kan deels toegeskryf word aan kortsigtige en selfsugtige denke en houdings soos wat in hierdie artikel onderskryf word.

    Ek kan nie daarmee saamgaan nie.

  • Andre Badenhorst

    Die negatiewe houding wat Afrikaanssprekendes tans beleef kan deels aan 'n gebrek aan denke deur sekere regsgeleerdes met 'n SC chip op die skouer en met 'n veroordelende houding (sonder om sy emosionele aansprake feitelik te staaf) soos in die kommentaar hierbo, toegeskryf word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top