Afrikaans vandag en môre

Hans du Plessis (foto: Izak de Vries)

Hierdie lesing is op 21 Oktober 2016 by die ATKV-simposium in Clanwilliam gelewer. Hier is nog inligting oor die geleentheid.

Een ding is seker: Afrikaans is allermins ’n koloniale erfenis. Dit is van huis uit Afrikaans.

Hierdie stelling word wetenskaplik ondersteun deur die jongste navorsing van taalkundiges, soos onder andere prof Christo van Rensburg in ’n verskeidenheid artikels wat oor die afgelope klompie jare in tydskrifte en boeke verskyn het. Dit is feite oor die Afrikaans van gister. Ek praat oor Afrikaans vandag en môre. Waar staan Afrikaans en waarheen is ons met dié erfenis op pad?

Afrikaans is vandag een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika, maar dit is net op papier. Die Suid-Afrikaanse taalwerklikheid lyk anders. Die elf amptelike tale wat in die Grondwet verskans word, is die gevolg van kompromieë. Dit was in die wording van ons demokrasie ’n kompromis ten einde botsende emosies oor taal te probeer versoen. Die probleem vandag is egter dat dit vernuftig misbruik word om van Engels die enigste de facto amptelike taal te maak deur die gebruik van drogargumente, soos dat almal mos Engels verstaan of dat jy tog nie al elf tale op ’n botteltjie sout kan gebruik nie. Daarom moet alles net Engels wees! Afrikaans moet leer om tussen ander tale te bestaan, is al as onvriendelike argument teen Afrikaans gebruik – asof Engels dit op enige plek op aarde geleer het!

Die vraag is vir my nie of Afrikaans vandag en môre tussen tien ander tale in Suid-Afrika gaan oorleef nie. Dit doen hy al vir meer as vierhonderd jaar! En dit is ook nie die eerste eeuwending dat ’n krisis vir Afrikaans op loer lê nie. Inteendeel, Afrikaans is gewoond daaraan om ’n krisis te oorleef.

Afrikaans, het Christo van Rensburg nou pas verduidelik, is ouer as die volksplanting. Dit is die klein reënboog in die groot Suid-Afrikaanse linguistiese reënboog en die prestasies van Afrikaans oor die afgelope byna vier eeue is indrukwekkend.

Die vraag waarom dit vandag vir my gaan, is nie wie die taal van buite bedreig nie, maar wat ons self van binne daarmee en daarvoor doen. Wat verkondig ’n Afrikaanse kultuurorganisasie soos die ATKV oor Afrikaans? Wat hoor ons kinders by hulle ouers en onderwysers oor die toekoms?

Ek het baie positiewe goed om oor Afrikaans te sê, ek is net nie oortuig dat die toekoms in die amptelikheid van Afrikaans lê nie! Toe Afrikaans geen amptelike status vóór 1925 gehad het nie, het hy floreer. Vandat Afrikaans in Namibië geen amptelike status meer het nie, gaan dit voor die wind met die taal. Die Afrikaanse boek of musiek het geen amptelike status nie, nog minder die hoogs suksesvolle kunstefeeste. Sonder amptelike status of ondersteuning floreer die produkte van die taal. Toe moedswillige Afrikaanse mense met een middernagtelike e-pos Aardklop tot niet wou maak, toe staan die fees binne vier maande weer op!

Ek is nie blind vir die gevaartekens nie, en ek hoef u nie te wys op die fel aanslag teen Afrikaans vanuit die korporatiewe sektor en vanuit verskeie politieke geledere en op alle vlakke van regering nie. Dit is daar vir enigeen om te sien. Die absolute ontkenning van Afrikaans as taal van die wetgewer, die reg, die onderwys en selfs die kerk, is duidelik. Dit is ook nie nodig om verder met u oor die verwoesting van Afrikaans in die korporatiewe wêreld te praat nie. Uitsprake soos dat personeel in nasionale en internasionale besighede nie met mekaar in Afrikaans mag kommunikeer nie, omdat dit dan kwansuis mense uitskakel, is algemeen.

Advertensies van bekende maatskappye met ’n groot Afrikaanse klantebasis is uitsluitlik in Engels al is hulle grootste koopkrag Afrikaans. Ek weet nie wanneer laas u op ’n kruiebotteltjie na ’n Afrikaanse naam op die etiket gesoek het nie, dit terwyl Afrikaanse resepteboeke die kook- en bakmark totaal oorheers.

Miskien is die heel ergste die Afrikaanse advertensies met die minagtende slotsin of dan trefsin in Engels!

My vraag is vandag egter nie wat politici en die korporatiewe napraters met Afrikaans gaan doen nie, maar wat ek en jy daarmee maak. As die toekoms van Afrikaans van politieke partye en dom adverteerders afhang, is dit omtrent net die VF+ en Virseker wat die moed het om net oor en in Afrikaans te praat.

Die punt is: Afrikaans is onder druk in Suid-Afrika, maar die sprekers se aandeel daaraan wil ek nie onderskat nie.

My vrees vir die toekoms van Afrikaans lê daarom nie buite die Afrikaanse gemeenskap nie! Was dit nie vir Afrikaanssprekendes nie, het Afrikaans ’n toekoms gehad. Vir my is daar van binne ten minste twee voorbeelde van die vernietiging van Afrikaans: Die Afrikaanse hoër onderwys en die Afrikaanse godsdiens! Daaroor, dink ek, moet ons reguit met mekaar praat. Miskien skuil die vrees vir die toekoms van Afrikaans in ons gebrek aan kommunikasie en selfvertroue. Dit skuil ook in ons gedienstigheid en in ’n selfvervaardigde taalstryd sonder ’n strategie. Daar is te veel van ons wat aktief probeer om alles in Engels te doen.

Soos predikers wat dink hulle kan die godsdiens net in ’n kortbroek en vrot Engels aan jongmense verkoop, in plaas daarvan om die evangelie te verkondig. Dit lyk al meer vir my of Afrikaans op tersiêre vlak nie vyande nodig het nie. Die De Viljees en die Jansens sorg sommer self vir die marginalisering van akademiese Afrikaans. Op die kuns- en kultuurgebied kelder ons sommer self ’n nasionale kunstefees met ’n enkele middernagtelike e-pos. Gelukkig laat ons dit sommer self met groot moeite en wonderbaarlike vernuf binne vier maande herleef.

Daar is met ander woorde tog die positiewe kant van Afrikaans vandag, soos byvoorbeeld die opbloei van die Afrikaanse boek, Afrikaans in die digitale wêreld of Afrikaans op kunstefeeste, Afrikaanse musiek, RSG en kykNET se kanale. Die ATKV!

Dit sal my seker vergewe word as ek die Afrikaanse boek as voorbeeld hier voorhou, nie net vanweë my subjektiwiteit nie, maar ook omdat die Afrikaanse boekbedryf een van die moderne wonders van Afrikaans is.

Ten spyte van ’n donker internasionale boekprentjie lyk die Afrikaanse boektoneel meer rooskleurig. Op grond van inligting van Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-uitgewers, is slegs 24% van boektitels wat gedurende 2004 in Suid-Afrika verkoop is, hier te lande uitgegee. Dié markaandeel het egter in 2014 tot 36% gestyg. Dit beteken dat Suid-Afrikaans geproduseerde boeke in dieselfde dekade van 9 000 tot ongeveer 16 000 gestyg het. Dit het binne 10 jaar dus amper verdubbel.

In ander syfers gestel: Waar boekhandelaars 10 jaar tevore net meer as 1½ miljoen Suid-Afrikaans vervaardigde boeke kon verkoop, het hulle in 2014 amper 3,6 miljoen Trots-Suid-Afrikaans-publikasies van die hand gesit.

Die opbloei van die Afrikaanse boek is bepaald nie die gryp van ’n verslane taalgemeenskap na die spreekwoordelike laaste strooihalm nie! Gegewens oor Afrikaanse boekverkope skets ’n gunstige prentjie, en dit bevestig net hoe lojaal Afrikaanssprekende lesers is.

In 2015 is daar 10,5 miljoen boeke in Suid-Afrika verkoop. Omtrent 80% hiervan was
niefiksie, soos biografieë, handboeke, boeke oor sport, selfdoenboeke, memoires, resepteboeke, kinderboeke, volwasse inkleurboeke en goed-voel-boeke. Van dié 10,5 miljoen is net 20% volwasse fiksie, en ’n fraksie daarvan was Suid-Afrikaanse publikasies, min of meer 500 000 00. Volgens Nielsens Bookscan, wat boekverkope by hoofstroom-boekwinkels meet, was ’n skrale 3% hiervan Engelse boeke.

Uit die 525 000 volwasse fiksie wat verlede jaar in Suid-Afrika verkoop is, was 450 000 Afrikaans romans, en net 75 000 Engels! En nog beter nuus vir die Afrikaanse boek is dat die Suid-Afrikaanse romansier wat in Engels skryf gemiddeld 600–1000 eksemplare van ’n roman verkoop, teenoor die Afrikaanse romanskrywer se gemiddeld van 3000 – as jy nie Chanette Paul of Irma Joubert, Sophia Kapp of Deon Meyer is nie, vir hulle is 6 000 sommer niks.

Bloot op grond hiervan is Afrikaans ’n bate vir Suid-Afrika, ’n finansiële bate met ’n onmisbare boekwaarde.

Daar is ’n stuk of ses miljoen mense wie se moedertaal Afrikaans is en veertien miljoen in totaal wat Afrikaans kan gebruik. Konserwatief geskat beteken dit dat maklik tien miljoen mense in Suid-Afrika daagliks in Afrikaans leef of werk. As jy dan dink Afrikaans is onbelangrik, is jy die probleem. Nie Afrikaans nie!

Vir my is ons grootste uitdaging daarin dat Afrikaners moet verstaan dat die taal se grense verder as die Afrikaner strek. Die vraag is steeds hoe ons ’n gesplete taalgemeenskap in ’n nuwe eenheid kan omskep? Hier is "ons" vir my die kernwoord, want die tien miljoen Suid-Afrikaners wat Afrikaans daagliks gebruik, moet die "ons" herdefinieer op ’n manier wat nie een van ons uitsluit nie. Dit is vir my waaroor ons moet praat maar, en dit is die kruks: Ons moet ons nie laat definieer nie. Ek laat my nie deur politici, buitestanders of bitterbekke vertel wie ek is en wat my geskiedenis is nie. Maar dan moet die totale "ons" ons definieer. Moet net nie weer die "ons" vanuit een oog en een oor en een tong wil omskryf nie. Dit is nie hoe ek demokrasie verstaan nie.

Wit en Afrikaanse bevoorregting in die vorige politieke bestel is ’n feit. Die vraag vir die toekoms is egter: Wat maak jy van jou bevoorregting? Want Afrikaans is steeds bevoorreg, al is dit nie meer institusioneel nie. Dit gaan nie help om te sit en wonder oor bevoorregting wat was of nie meer is nie. Doen tog net iets!

’n Goeie voorbeeld van doen is die 60 000 handtekeninge teen die besoek van die omstrede Amerikaanse pastoor, Steven Anderson, op grond waarvan die minister hom toegang tot die RSA weier.

Dit, eerder as ’n gekibbel met ’n minister, kan ook vir die behoud van Afrikaans op tersiêre vlak werk. Op Facebook het ek ’n stukkie oor die behoud van Afrikaans op die Potchefstroomkampus van die NWU geplaas. Dit het 256 000 kyke, meer as 4 000 delings en 2 600 likes gekry, en net een enkele verwerping! Wat nou van ’n Afrikaanse kampus, Meneer die Minister? Die Stellenbosch-argument dat Afrikaansgebruikers nie Afrikaanse onderrig verkies nie, is pure Stellenbosch-twak!

Afrikaans is hier om te bly. Miskien moet 16 Junie in Suid-Afrika as taaldag verklaar word, veeltaligheidsdag, want dit is die dag waarop ek vir die eerste keer moes verstaan dat een taal nie afgedwing kan word nie. Die regering verstaan dit nou nog nie.

Die bydrae van die ATKV en Afrikaans op so ’n veeltaligheidsdag sal wees om Afrikaans as die taal van versoening te bemark.

Die toekoms van Afrikaans lê in my en jou hande.

Wat tot hiertoe ter sprake was, in Christo se praatjie en in myne, is hoofsaaklik gegrond op feite oor Afrikaans, feite uit gister en feite uit vandag. Dit is die feitelike storie van Afrikaans. Kom ons noem dit in modeterme die faksionele narratief, omdat die storie op die feite berus. Ons het die feitelike storie van Afrikaans vertel, maar dit is net die begin. Faksionele narratief het ongelukkig ook ’n ander betekenis, naamlik dat ons feitelike storie net deur ’n faksie binne die Suid-Afrikaanse tale-geheel aanvaar word! Dit maak daarvan ’n eksklusiewe narratief. En ’n nasionale narratief is per definisie inklusief, meer nog as dit ’n veeltalige narratief wil wees.

Aparte narratiewe van afsonderlike taalgemeenskappe behoort tot die verlede, want dit is faksionele narratiewe.

Daar is tot dusver in die demokratiese Suid-Afrika nie sprake van ’n nasionale narratief nie. Dit het in die filosofie van Nelson Mandela bestaan, maar die meeste faksies wou daaraan torring om hulle eie narratiewe te pas. Die toekoms is die herformulering van die inklusiewe Mandela-narratief, wat insluit sonder om uit te sluit. Die inklusiewe, nasionale storie van ’n nuwe Suid-Afrika mag niemand uitsluit nie: Nie armes nie, nie rykes nie; nie swart nie, nie wit nie en ook nie bruin nie. As die narratief die Khoi of Boesman uitsluit, is dit net so sleg as een wat die Zoeloes uitsluit.

Een ding wat die inklusiewe narratief in aanmerking sal moet neem, is dat die geskiedenis van Suid-Afrika nie die geskiedenis van Afrika is nie. Grootskaalse kolonisering van Afrika is byvoorbeeld ’n verskynsel van die laaste kwart van die negentiende eeu. Die geskiedenis van ’n veelvolkige Suid-Afrika is ’n geskiedenis wat al in die sestiende eeu begin, met die Khoi en die Boesman as eerste akteurs op die Suider Afrikaanse verhoog.

Daar is ook ’n ander storie wat op sy eie waarheid gegrond is, en dit is dat Engels in Suid-Afrika die taal van versoening is. Engels het as versoener totaal misluk sedert 1994, soos wat dit as versoener tussen 1806 en 1925 misluk het. Die ANC het in Engels misluk, die US, UK, UV, UJ, Wits en Tukkies is besig om in Engels te misluk. Engels het die taal van polarisasie geword!

Dit impliseer ’n nuwe nasionale narratief, ’n meesternarratief en dit is die veeltalige meesternarratief van linguistiese insluiting.

Taal is meer as ’n blote kommunikasiemiddel. Ons is die taal wat ons praat; ek en jy is die storie wat ons van onsself vertel. ’n Nasie word die storie wat hy van homself glo.

Maar in Suid-Afrika probeer ons ’n nuwe nasie sonder sy eie storie bou. Ons het nie ’n nasionale narratief nie omdat ons nie ’n nasionale droom het nie. Dit is omdat ons ’n veeltalige narratief vereng het tot ’n eentalige narratief. Elke taalgemeenskap in Suid-Afrika moet toegelaat word om in sy eie taal deel van die nasionale narratief te word.

Die bevoorregte posisie wat Afrikaans tussen 1925 en1994 gehad het, sal hy nooit weer hê nie. Daar sal ’n nuwe plek vir hom gevind moet word, en dit lê nie in sy amptelike status nie, maar in sy vermoë om deel van die nasionale narratief te word.

Die nasionale narratief het tot dusver in Engels misluk, al is Engels die enigste de facto amptelike taal. Nasiebou het in Engels misluk.

Die toekoms lê in die erkenning van veeltaligheid, en hierin kan Afrikaans as taal van versoening ’n beduidende rol speel. Dit is net Afrikaans wat byvoorbeeld oor die versoenende vokatiewe van oom en tannie of oupa en ouma beskik.

Ons moet egter aanvaar dat veeltaligheid in die huidige Suid-Afrika steeds beskou word as een van die merkers van apartheid, al dui die sukses van kykNET, RSG en die ATKV op die teendeel.

Daarom is die skep van ’n bewustheid van die feit dat veeltaligheid misbruik kan word vir die herinstelling van kolonialisme en apartheid die hoeksteen van ’n veeltalige nasionale narratief. Veeltaligheid in Suid-Afrika is polities die sondebok gemaak in die stille stryd om die hegemonie van Engels te vestig. Veeltaligheid in Suid-Afrika kan egter van hierdie polities verdagte angel ontslae raak deur ’n paar taalwerklikhede in die praktyk te verreken.

In die eerste plek moet erken word dat slegs Engels en Afrikaans nasionaal gebruik word. Tweedens is daar verder net twee taalgroepe met ’n beduidende aantal moedertaalsprekendes, en dit is die Nguni- en die Sotho-taalgroep. In die lig hiervan is vier nasionaal amptelike tale logies, terwyl die ander tale, wat die Khoi- en Boesman-tale insluit, regionaal as amptelike tale erken word. Dit moet ook iets soos gebaretaal insluit.

’n Engelse nasionale narratief is nie die antwoord nie, dit het sedert 1994 klaaglik misluk omdat dit by verstek meer as 50% Suid-Afrikaners uitsluit. Om dieselfde rede is ’n eksklusief Afrikaanse nasionale narratief ondenkbaar, indien nie onnosel nie.

Die nasionale narratief waarvan ek droom, is ’n veeltalige nasionale narratief, per definisie dan ’n multikulturele narratief. Daar is egter duidelike voorwaardes vir die insluiting van Afrikaans in sodanige multitalige nasionale droom.

Die eerste voorwaarde is persoonlik, naamlik dat ek as Afrikaner eerlik met myself moet wees in dié sin dat ek daarmee nie heimlik die behoud van reaksionêre wit eksklusiwiteit probeer verskans nie, al sluit my droom iets soos ’n staatsondersteunde Afrikaanse PUK-kampus van die NWU in.

Die tweede voorwaarde is dat ons die politieke gronde vir die wrewel teen Afrikaans nie kan onderskat nie.

As jy my ’n persoonlike blik op die #Fees must Fall-beweging sal verskoon, wil ek dit stel dat die hele beweging niks anders is nie as #Apartheid must fall nie. Volg ’n mens die argumentasielyne van kundiges, soos Theuns Eloff, Helen Zille of Max du Preez, lei ek daaruit af dat die onrus nie net ’n ongenoeë, om dit sagkens te stel, met 1994 is nie, maar met die behoud van te veel reste uit die politieke bedeling voor '94. Te min het vir te veel verander.

Ek dink nie dit is soseer die Kodesa-onderhandelinge as sodanig nie, maar die toepassing van die kompromieë in sowel pres Mbeki as pres Zuma se presidensies. Die onderwys is een voorbeeld daarvan, want vir my is die grootste menseregtevergryp ná '94 die miskenning van die jeug se reg om basiese vaardighede en sinvolle onderwys in die moedertaal te kry.

Miskien moet ek dan ten slotte sê dat die nasionale narratief in wese die #Kodesa moet herleef insluit.

My nasionale narratief hou rekening met veeltaligheid.

Waar kom die ATKV nou in? mag jy vra.

In die eerste plek dink ek die ATKV kan ’n nuwe Kodesa vir die jong mense van ná 94 fasiliteer waaruit ’n veeltalige nasionale narratief geformuleer kan word as die Suid-Afrikaanse kultuurdroom. Daar is genoeg voorbeelde van hoogs suksesvolle veeltalige projekte van die ATKV, soos jeugdaggesprekke, koor- en musiekkompetisies, redenaars, boekgesprekke, ens. Miskien moet ons die riel-sukses uitbrei na ’n weekkompetisie: Maandag die finaal van ’n landswye Volkspelekompetisie, Dinsdag die finaal van ’n landswye Venda-slangdans, Woensdag tradisionele Zoeloedanse. Saterdagaand die wennerskonsert op die verhoog van die Taalmonument.

Veeltaligheid is ’n én-filosofie, nie ’n óf-filosofie nie! Dit gaan vir my daarom nie om óf Engels óf Afrikaans nie, ek is nie teen die gebruik van Engels nie, maar een ding weet ek: Ek gaan nie weer Engels praat voordat Engels gedekoloniseer is nie. Christo van Rensburg het in sy bydrae gelukkig pas binne twintig minute bewys dat Afrikaans van meet af gedekoloniseer is.

Kommentaar

  • Heilna du Plooy

    Baie goeie stuk met relevante en oortuigende argumente. Die mees neerdrukkende uitspraak wat ek in 'n lang tyd gehoor het, is die gedagte wat volgens 'n verklaring van die Taalraad by die Universiteit van Stellenbosch uitgespreek is, naamlik dat indien universiteite Engels word, skole ook sal verengels en dan is Afrikaans op universiteit nie meer 'n probleem nie. Afrikaans word dus beskou en eintlik gemerk as 'n "probleem" maar dan 'n probleem wat met die "regte bestuur" eventueel sal uitfaseer. Ek vermoed dat dieselfde argument stilweg ook by ander universiteite gehuldig word. Vir enige Afrikaanse mens (wat soos hierbo werklik alle Afrikaanssprekers insluit) is so 'n siening sinies en koelbloedig en dus verwerplik. Mag Hans du Plessis se positiewe voorstelle soos hier uiteengesit iewers neerslag vind en mag so veel as moontlik taalbewuste en taalsensitiewe mense uit die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale dit steun.

  • Barry Saayman

    "Afrikaans is vandag een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika, maar dit is net op papier. Die Suid-Afrikaanse taalwerklikheid lyk anders ... Ek het baie positiewe goed om oor Afrikaans te sê, ek is net nie oortuig dat die toekoms in die amptelikheid van Afrikaans lê nie! Toe Afrikaans geen amptelike status vóór 1925 gehad het nie, het hy floreer. Vandat Afrikaans in Namibië geen amptelike status meer het nie, gaan dit voor die wind met die taal." - Prof Hans du Plessis
    Artikels 6 en 29(2), 30, 31 en 235 van die Grondwet, 1996 is in Suid Afrika ter sprake.
    Wat is die status van moedertaalonderrig in die skole van Namibië en wat sal die status van moedertaalonderrig in Suid Afrika wees, indien Afrikaanssprekendes om die een of ander kortsigtige rede afstand sou doen van Afrikaans as een van die amptelike tale?
    Die kombinasie Afrikaans eerste taal en Engels eerste tweede taal het vele geslagte Afrikaanssprekendes vir dekades baie goed gedien.
    Ek wonder of diegene wat hieraan wil torring enigsins weet wat hulle doen.
    Ek het werklik 'n groot probleem met mense wat onverdraagsaam teenoor diversiteit is en daarom die Anglo-Amerikaanse model van monoglottisme ongrondwetlik in multi-kulturele Suid Afrika bevorder.
    Die afskaling van Afrikaans op vele terreine moet aandag kry juis om diversiteit en menswaardigheid te bevorder. Dis is 'n skande dat daar in hulle oë geen plek vir Afrikaans enkelmediumuniversiteite in Suid-Afrika is nie.
    Dit is ook 'n skande dat die regering van die dag versuim het om die opdrag in artikel 6 van die Grondwet, 1996 na te kom om inheemse tale te ontwikkel en op standaard te bring.
    Ek sou akkoord kon gaan indien Du Plessis sou argumenteer dat hy oortuig is dat die toekoms van Afrikaans nie "net" in die amptelikheid lê nie.
    "Ek gaan nie weer Engels praat voordat Engels gedekoloniseer is nie."
    Dit gaan baie lank neem.
    Dit is een van die teenstrydighede van "nasionale bevryding" dat die bevrydingsbewegings van sommige Afrikastate die taal van die imperialis (Frans, Engels en Portugees) as hulle eie aanneem. Maar daar is stemme in Afrika teen hierdie kortsigtige gebruik wat ook nie deur China, Indië, Noord-Afrika en Afrikaanssprekendes gevolg is nie -
    "Decolonising the Mind: the Politics of Language in African Literature (Heinemann Educational, 1986), by Kenyan novelist and post-colonial theorist Ngũgĩ wa Thiong'o, is a collection of non-fiction essays about language and its constructive role in national culture, history, and identity. The book, which advocates for linguistic decolonization, is one of Ngũgĩ's best-known and most-cited non-fiction publications, helping to cement him as a preeminent voice theorizing the "language debate" in post-colonial studies.[1]" - Wikipedia
    Dit word tereg van voorheen wit universiteite verwag om nie- Engelssprekende studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe ingevolge subartikel 29(2) van die Grondwet, 1996 paslik te akkommodeer.
    Die volskaalse verengelsing van voorheen Afrikaanse universiteite is egter myns insiens ongrondwetlik en 'n vorm van herkolonialisering.
    Daar behoort daarom 'n sonsondergangsklousule vir hierdie hulp aan voorheen benadeelde gemeenskappe te wees. Dit is in hulle kinders se belang dat hulle hul eie tale so spoedig moontlik op standaard sal bring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top