Afrikaans spesiaal vir Jan Rap

  • 9

Daar is die grappie oor die oubaas op sy sterfbed wat met laaste sy asempies die opgekommandeerde familielede een vir een betrag en dan verneem “en waarnatoe gaan julle?” So dink ek aan Jan Rap en Afrikaans.

Ek tel my geliefkoosde Afrikaanse Sondagkoerant nou die Sondag op en voel dat hy lekker lyf het, vandag is hy sy geld werd, sê ek ingenome aan wederhelf. By die huis val blaaie en blaaie advertensies uit en halveer sy lyf net daar. Een in boekvorm tref met “Skoonheids” in wit op ’n rooi agtergrond en ek gooi dit met owerspelige gedagtes op die mat neer (om die skoonhede later te waardeer).

 Toe die geleentheid hom later voordoen, trek ek hom nader en kom tot my teleurstelling agter dat daar nie skoonheid staan soos in skoonhede nie, maar dat dit advertensies bevat wat die vroue probeer oortuig om roompies en salfies en goetertjies aan te skaf om in daardie skoonheid te ontwikkel, maak nie saak hoe stomp haar tanne is nie. Dit lui eintlik skoonheidsfees, met “fees” skuins onderkant baie kleiner gedruk. Daar is mos vir elke liewe ding ’n fees, elke week letterlik iewers in die land.  

 Hierdie skoonheidsfees-bylaag Jan, is in Afrikaans, geheel en al. Altans, dit was seker die bedoeling daarmee. ’n Mens moet seker die eienaars van die brosjure soort van dankbaar wees of hoe?

Die advertensies lui as volg en almal word nie hier weergegee nie:

Multi-Active Pak bevat : Sagte Skuimreiniger, Multi-Active Nagroom. R645.               

Ekstra Firming Pak bevat: Dagroom, Extra-firming Nagroom. R815               

Super Restorative Pak bevat: Super Restorative Nagroom, Dagroom en Sagte Skuimreiniger. R1240 vir altesaam 95ml se roompies.             

48hr Anti-perspirant Behandeling.               

En hier kon die vertaler nie bykom nie “Advanced Daily Dark Spot Corrector”.               

Maar hy kom te voorskyn met “ Mineralizing Water”. Die watertjies word aangebied teen R158 vir 150 ml.

In ’n ander ou se produkte is Bronwater (Spring Water) die ‘aktiewe’ bestanddeel.

Daar is iets soos Sysagte Lyfroom en Purifying Reinigingsjel.                

Daar is drievoudige teenveroudering-krag in een behandeling wat her-verdig die dermis-epidermis verbindinge en maak die vel weer plomp. (plomp?)

Daar is iets wat geen “potensiële prikkelmiddels soos parfuum, preserveermiddels of gluten bevat nie en is ook vir nikkel-sensiwiteit getoets” (ek wonder of dit vir oujongnooiens bedoel is).          

Daar is Mat Vogroom (Pore Refiner), net so geskryf.                

En Mat Vogroom (CC Cream)               

Opthydra Vogroom ...?               

Sy kan bevog met 5 tipes aktiewe hialuroonsuur (?) of stimuleer met phyto-kompleks bevogtiger en verhelder met spesiale fokus poeiers.                

Die volgende is taai op veroudering en sagkens op die vel:

Rich Lifting Remodelling Balsem.

Repair Filler Nagroom

Prime Revitalising Smoothing Room

Skinergy Perfecting Konsentraat

Daar is iets soos biomagnetiese microafskilfering en laegraad laserterapie in spesiaal-ontwerpte gesigbehandelings.

Anti-Ageing Rejuvenation is: intensiewe, stimulerende en verfermende behandeling.

Hydrating: Kits-bevogting vir enige tipe vel, insluitende verouderde velle. (velle? arme ouma.)

Age-Defying: is ’n gespesialiseerde velsorgreeks wat fyn lyntjies, plooie, ouderdomsvlekke en sakkerige vel teenkamp.

Daar is ’n sterk kollageen-opkikker met nuwe super-peptides om die vel se jeugdige metabolisme aan te wakker.

**** verbeter elastisiteit en plomp diep plooie op.

**** verskaf langdurige bevogting om ekstra droë, sensitiewe vel te help verlig en beskerm.

Daar is ’n Veerligte Bevogtiger, ’n vloeiroom-serum, ’n Targeted Dark Spot Verbloemer-Behandeling, daar is ’n stelsel om die hooftekens van veroudering hok te slaan, daar is reinings-water 400ml @ R65

En Jan, indien jy bekommerd is oor jou tanne, daar is ’n Kragborsel: Klinies bewys voortreflike 3D skoonmaak Aksie ossilleer, roteer en puls op te breek en verwyder gedenkplaat beter as ’n gereelde handleiding tandeborsel (seker ’n rekenaarvertaling). R995 en dan spaar jy nog R300.               

Hulle was darem bedagsaam. Vir ingeval die kliënt nie mooi verstaan nie, het hulle ’n pragtige, duidelike volkleurkiekie van elke buisie, botteltjie en houertjie naas die beskrywing geplaas. Soos die ouens op die TV-kanaal altyd sê, dis nie noodwendig hul sienswyse nie, kan die eienaars van my geliefkoosde Afrikaanse Sondagkoerant ook sê hulle staan nie pa vir die gebrek aan taalvaardigheid nie. Hulle word betaal om die brosjure saam met die koerant te versprei, maar darem.

Nou ja, groetnis

Raed-na-Gael.

 

  • 9

Kommentaar

  • Geagte Raed-na Gael,
    Jou gunsteling Sondagkoerant het op dees aarde niks met hierdie advertensie te doen nie, en is ook nie verantwoordelik vir die swak Afrikaans wat daarin voorkom nie. Al verantwoordelikheid wat die koerant het, is om as verspreidingskanaal daarvoor te dien, waarvoor die koerant betaal word, sodat jy Sondag na Sondag 'n Afrikaanse koerant kan lees.
    Verder: Hierdie adverteerder sou baie beter gedoen het om die advertensie-bylae in Engels te plaas. Die terminologie sou beter wees, en elke liewe Afrikaanse leser sou presies geweet het watter produkte aan die bod was en wat dit kwansuis kan doen. Maar die adverteerder het dit goedgedink om beleefd teenoor die Afrikaanse leser te wees en haar in haar eie taal te bedien. Miskien moet jy die adverteerder hiervoor krediet gee.
    Wat my eintlik van jou skrywe opval, is die neerhalende manier waarna jy na vroue verwys ...'om as daardie skoonheid te ontwikkel, maak nie saak hoe stomp haar tanne is nie ...'
    Probeer jy snaaks wees? Moet ons van die stoel af donner van die lag vir jou humor? Het alle ouer vroue stomp tanne?
    Wat my toe verder laat dink aan jou 'owerspelige gedagtes'. Vergeet daarvan broer, mooi, sexy Afrikaanse (jonger en ouer) vroue sal jou in jou moer stuur vinniger as wat jy kan 'tanne' sê.
    Dan haal jy aan uit die advertensie: ..."Daar is iets wat geen “potensiële prikkelmiddels soos parfuum, preserveermiddels of gluten bevat nie en is ook vir nikkel-sensiwiteit getoets.”
    En jy skryf daarna tussen hakies.. "(ek wonder of dit vir oujongnooiens bedoel is)..."
    My fok maar nou is jy darem snaaks. Die humor ruk my heeltemal van die stoel af soos 'n rukwind. Raed-na-Gael het metafories na 'n oujongnooi se "nikkel" verwys! O my aarde, jy weet nie wat's 'n metafoor nie? Sorry my ou, Hou jou liewer besig met, soos die advertensie sê ..."verbeter elastisiteit en plomp diep plooie op..."
    God save the Afrikaner from the Afrikaner.

  • Dankie, Raed-na-Gael, vir nog 'n nag se wakkerlê. Die 'gedenkplaat' vat die koek.
    Waar is die Sondagkoerant se redakteur - hy moet mos sorg dat hierdie soort goed nie verskyn nie of hoe? Stel hy nie die regte mense aan nie of wat?
    Ja-nee, lyk my Afrikaans is in sy moer.

  • Beste Raed-na-Gael,
    Nee, kyk! so kan dit waaragtig nie aangaan nie. Ons sal tipies Afrikaans, die spulletjie moet in suiwer Afrikaans begin vertaal. Ek sal so 'n paar probeer.

    Veelvuldigbedrywige pak bevat sagte skuimreiniger, veelvuldigbedrywige nagroom.
    Bykomende verhardende pak bevat: Bykomendverhardende nagroom.
    Meerderwaardige herstellende pak bevat Meerderwaardigheidsherstellende nagroom.
    48hr Teensweetbehandeling
    Gevorderde Daaglikse Swartvlekverbeteraar
    Bruiswater (Whê!)
    Nou kan jy en Jan Rap dit verder vat; ek's nou vrekmoeg.
    Groete,
    Angus

  • Dirk, jy klink soos die hoofseun wat Maandagoggend in die saal met sy geforseerde ridderlikheid sy beste voetjie voorsit om die jong onderwyseressies en meisietjies se kniegies te laat knak nadat hy die vorige Sondagaand op sy knieë neergesak het om vergifnis af te smeek vir die afgelope naweek se indiskresie en dat dit tog nie op die lappe moet kom nie. En dan my te wil aanspreek met "Geagte Raed-na-Gael". Ek het gesê ... man, ek wil húlle bewonder, en nie andersom nie, ek ken my perke. My donner man, jy stem met feitlik alles wat ek sê saam en herhaal dit weer in jou "uitk.k" so asof jy die insig had.
    Watse metafore? My f.k, dit staan so in die Afrikaanse vertaling, dis nie myne nie. Soos jy aangaan wil jy dat die arme vroue nou met hulle Afrikaanse Engels moet gaan navraag doen om 'n brosjure in daardie taal sodat hulle kan verstaan wat die hel hulle gaan aankoop. Ek sou dink dat jy die uitgewers daarvan sal aanvat omdat die te inhaling is om 'n paar R ekstra af te geknyp het om 'n ordentlike taalkundig korrekte brosjure aan te bied. Jou heel laaste sin man, verwys bleddie goed na jóú.
    Jan, sien jy waarom ek die "Dirk Rigters" kwalik neem vir die stand van ons taal?
    Angus, plaas jy maar 'n daadwerklike poging aangewend het tot 'n goeie vertaling in stede van jou sarkasme. Of verbloem jy eie tekortkoming?

  • Beste Raed-na-Gael,
    Ek het dit sowaar nie sarkasties bedoel nie. Jammer dat jy dit so insien. Gedink ek help maar net om ons taal te suiwer van al die Engels. Kyk dan net hoe het ek die Engelse Multi- vervang met suiwer Afrikaanse Veelvuldige, en ek het nou gedink jy sal my 'n pluimpie gee vir my skitterende Bruiswater.

    Na my skitterende, moeitevolle vertalingspogings hierbo, stem ek saam met Dirk. Waarom nie liewer die advertensie in Engels plaas nie? Ons Boere verstaan almal tog maar daai taal.
    Ten slotte: my tekortkomings is daar vir almal om te sien; ek verbloem niks. O, en toe weet jy nie wat 'n metafoor is nie? Sorry, my ou!
    Groete,
    Angus

  • Angus,
    Weet jý wat 'n metafoor is? Waar het ek iets geskryf in die trant van bv "die skip van die woestyn" (verwysende na 'n kameel). Om te "wonder of dit vir oujongnooiens bedoel is," is nie metafories gestel nie. En my ou, bruiswater het borrels in, soos sodawater en bruiswyn (sjampanje). Cheers!

  • Beste Raed-na-Gael,
    Ek het maar by Dirk gehoor jy weet nie wat 'n metafoor is nie. Maar noudat jy daarvan praat, kan jy mos aan ons oningeligtes verduidelik wat dit is. 'Skip van die woestyn', ja, maar wat is 'n metafoor? (en ek bedoel nie soos HAT dit verduidelik nie.)
    FC Boot het my 'veelvuldig' verbeter na 'meerdoelig'. Mooi skoot! Ek hou daarvan.
    Maar jy dra niks by met jou gesuipery oor my 'bruiswater' nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top