Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 9

  • 2

Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.

Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.

Lees nog inskrywings hier.


 

Brussel
Geskryf 11 Maart 2017

Vir die eerste keer vandat ons in België aangeland het, is ek en DuPreez van tafel en bed geskei vir twee dae.

Hy is na Brussel toe, waar hy in ’n boheemse dakkamer intrek en ek bel my vriendin, wat naby aan Brussel woon, om te hoor of ek en my seer keel asseblief by haar aan huis kan kom aansterk.

Om siek te wees in die vreemde laat my blykbaar hunker na Mamma se koel vingers op my voorkop en wakkerword in ’n bekende bed.

Ek klim op ’n bus in stad toe.

My buspas kry ’n rooi boodskap van die masjien voor by die busdrywer. Nou wat nou? Ek wil nie dubbeld die bedrag vir ’n enkelkaartjie betaal nie.

Oudergewoonte slaan ek oor na Engels toe en vra huiwerig: “May I speak English?” (Wanneer die busbestuurder Franstalig is en jy spreek hom in enige ander “minderwaardige” taal aan, is die irrasionele, vyandige houding nie ’n aangename ervaring nie. Ek word eerder in Engels lelik behandel as wat ek as gevolg van my onlangs-uitgebroeide kuiken, Afrikaans, lelik behandel word!)

Die aantreklike, blonde busbestuurder glimlag breed: “It is your lucky day. You are from South Africa, yes? That is where I learnt to speak such good English. Maar ek praat ook baie goed Afrikaans.”

Ten spyte van 15 jaar in Engeland het ek dus nie met groot sukses my Afrikaanse aksent wanneer ek Engels praat, agtergelaat nie.

So ontmoet ek vir Siegrid, en terwyl ons deur die boomryke voorstede van Brussel ry, hoor ek haar storie in pragtige Afrikaans aan.

Siegrid. Die Belgiese vrou wat ’n boer ontmoet het 23 jaar gelede, sak en pak afgetrek het Suide toe en vir 17 jaar in die Kaap sou gaan woon. Haar twee dogters is in Suid-Afrika gebore en al haar vriende was om haar. Ongelukkig trek die Afrikaner toe in by een van die vriendinne en Siegrid het vyf jaar gelede weer teruggetrek België toe. Haar dogters sien hulself egter as Suid-Afrikaners wat België toe verhuis het en hulle mis hulle lewe daar doer ver daagliks.

Ek vra: “Hoekom dan terugtrek, Siegrid?”

“Want,” sê sy, “as enkelouer van twee dogters gee dit vir my groot gemoedsrus om te weet hulle is veilig waar hulle nou is. En hier is daar meer geleenthede vir ’n vrou soos ek om ’n goeie lewe vir haar kinders te kan gee. In Suid-Afrika sou ek nie as tuinier of busbestuurder kon werk soos ek nou doen en die standaard van lewe handhaaf wat ons nou het nie.”

So gaan dit klets-klets tot in Brussel. Dadelik na die hart en die wortel van die saak toe, soos gewoonlik die geval is met vroue, maak nie saak waar ek my op aarde bevind nie.

Maar tog meer intiem nou, as gevolg van Afrikaans. ’n Taal wat in kleur en klank meer verbind is aan die landskap waar sy ontstaan het as enige ander taal wat ek al teëgekom het.

Teen die tyd dat ek afklim, voel ons soos ou vriendinne.

Ek kan sien en hoor hoe mis sy lank terug se son en mense, ten spyte van die goeddeurdagte, rasionele besluit om dit alles agter te laat.

Ek voel diep aangeraak deur hierdie openhartigheid, hierdie menslikheid wat so plotseling voor my te staan kom.

Later daardie dag, weer op die bus, op pad terug. My buspas het homself toe nie intussen op toweragtige wyse uitgesorteer in my beursie nie en ek kry weer die rooi boodskap. Hierdie keer is dit ’n jong Marokkaan agter die stuur. Die rook trek by my kop uit toe hy my in Duits vra of ek dalk Spaans kan praat sodat ons mekaar kan probeer verstaan. “My Inglish mmmm bad.”

Ek vra: “En jou Nederlands?”

Hy kyk my verstom aan: “Jij begrijpt Nederlands?”

Ek kan nie glo wat hier voor my afspeel nie.

Teen die tyd dat ek by die metrostasie afklim, is ons dik pelle. Ek het selfs my selfoon, met die kraakvars “remix” van “Kan jy” wat ek vroeër op WhatsApp van Christiaan Rabie (my produsent by Fresh Cut Records) ontvang het, by sy oorfone ingedruk. Op hierdie manier word hy, vir die eerste keer, blootgestel aan ’n vreemde taal genaamd Afrikaans.

In my ganse lewe sal ek nooit Mustafa se gesigsuitdrukkings vergeet terwyl hy na my musiek luister, skemeraand op ’n bus deur die strate van Brussel nie.

Ek sê dankie Boontoe vir hierdie ryk, ronde lewe. Propvol verskille en ooreenkomste waar jy dit die minste verwag.

 

Lochristi
Geskryf 13 Maart 2017

Dit is Saterdag 11 Maart en ons volgende optrede vind more plaas in Lochristi, by De Loze Boer Feestzaal. Georganiseer deur die Marnixring Lokeren ter viering van hulle vyftienjarige bestaan.

Ek en DuPreez ontmoet mekaar by Brussel Centraal-stasie en ruil gesondheidsverslae uit. Ons is beide nog verkoue, met seer kele. Die konsensus is dat ons nou “baie versigtig met ons gesondheid moet omgaan”.

Annari voor graffiti in Noord-Brussel se busstasie

(Ter inligting: daar is Brussel Noord-, Brussel Centraal- en Brussel Zuid-stasies. Dit is “Brussel” en nie “Brussels” nie. Jy sê nie daardie “s” nie. En Brussel Midi is ook Brussel Zuid. Goed so? Les afgehandel.)

Ons neem die trein na Lokeren, waar Georges van Dammes, voorsitter van die Marnixring Lokeren, ons by die stasie ontmoet.

Tuis ontmoet ons sy vrou, Tjee. ’n Donker krulkop-, oopkop vrou met geheel ander politieke en kulturele oortuigings as haar eggenoot en die ander organiseerders wat ons tot dusver ontmoet het. Sy huiwer ook nie om haar hieroor uit te laat nie, maak nie saak wie frons of maak luid keel skoon nie. Tog is die verhouding tussen Georges en Tjee vol teerheid en wedersydse respek.

Vir my is dit ’n nuutjie. Waar ek vandaan kom, maak jy ’n laer van mense om jou bymekaar wat presies net soos jy dink en doen; en die res, wel, vir hulle kan daar alleen maar gebid word. Hoe verfrissend is hierdie nuwe moontlikheid nie!

Tydens aandete hoor ek en DuPreez meer van Georges se stokperdjie. Hy brou sy eie bier in die garage. DuPreez sou later berou hê oor sy entoesiastiese belangstelling. Party van die biere wat hy vanaand nuttig se alkoholpersentasie is 12%. ’n Man moet met respek omgaan met so iets wanneer jy gewoond is aan Castle Lite.

Die Sondagoggend skyn die son en verloop die klanktoets by De Loze Boer seepglad.

Klanktoets in Lochristi

Wanneer die gehoor opdaag, is daar die gevoel van ’n deftige kamerkonsert eerder as ’n “vertoning”.

DuPreez se optrede ontroer my vandag. Hy sing “Jy”, soos altyd, vir my. Maar vandag gaan ek aan die huil. Later diagnoseer hy my met “homesicknessgeite”.

Geen verblindende verhoogligte beskerm my vandag teen die mense se reaksies op die musiek nie en ek voel ’n klein bietjie naak.

Tydens die Lochristi-optrede

Maar die reaksie van die gehoor is oorweldigend. Ons word omarm, ingetrek, vertel, deel van …

Ek voel lig soos ’n veertjie.

Annari, Tjee en Georges van Dammes na die optrede

Al wat ons nou nog moet doen voor Georges ons in Gent gaan aflaai na die vertoning, is om ’n foto te neem tussen die krokusse in Tjee en Georges se tuin.

DuPreez en Annari tussen die krokusse in Tjee en Georges se tuin

  • 2

Kommentaar

  • Weereens en van Harte...DANKIE vir die heerlike, lewendige toerbeskrywing! Dit word net al lekkerder en ons wens dit wil asseblief tog nie ophou nie!

  • Nadine Hamaekers

    Lieve Annari en Du Preez
    Ik wil jullie nogmaals hartelijk bedanken voor jullie bezoek aan onze school campus de helix. De leerlingen vonden het heel fijn en interessant. Als ze nu aan Zuid-Afrika denken, dan denken ze aan jullie, twee bijzondere, getalenteerde en warme mensen.
    Ook van jullie concert in Genk heb ik genoten. Ik luister nog bijna iedere dag naar de CD! Zo mooi! Hopelijk komen jullie nog eens terug op tournee in België.
    Heel veel groetjes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top