Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 5

  • 3

Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.

Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.

Lees nog inskrywings hier.


 

Skoolbesoek – Maasmechelen: Deel 1

Geskryf op Vrydag 10 Maart in Brussel, België

Ná ons vertoning in Genk kuier en klets ons tot die vroeë oggendure met ons gashere en -vrouens asof ons ou vriende is (hoewel ons hulle maar nog net 10 ure lank ken!). Annari moet by Guy-hulle oornag en ek, drie huise af in die straat, by Nico-hulle. Die aand eindig met ’n rasend honger Annari wat kaalvoet in die koue, soos Racheltjie de Beer waaroor sy in een van haar liedjies sing, hardloop na my huis om ’n oorblytoebroodjie te kom gryp wat met liefde in ons kleedkamers geplaas was vóór ons optrede.

Vroeg die volgende oggend is ons weer uit die vere – dis die dag van ons skoolbesoek aan Campus Helix in Maasmechelen.

Maar eers, natuurlik, word daar weer ’n reusagtige buffet uitgelê vir ontbyt – sjampanje, maklik ses verkillende vleissoorte, selfs meer kase, en omelette gemaak van vars eiers wat die oggend gelê was deur Nico-hulle se “kipjes” agter in hulle tuin.

In die vele gesprekke om die ontbyttafel bespreek ons onder meer die radikale verskille in statistieke tussen Suid-Afrika en België: werkloosheidsyfers verskil hemelsbreed, lewensverwagting verskil byna 40 jaar, geweld teen vroue is skokkend hoër in ons vaderland as hier. En uiteindelik kom ons uit by die vraag: Hoe kry Europa dit reg om oënskynlik “beter” te wees in soveel opsigte?

Ek en Annari kan maar net ons koppe skud by die gedagte aan wat mens kan vermag oor honderde jare wanneer ’n hele bevolking byna elke dag bedreig word deur verkluiming indien hulle nie daadwerklik iets gaan dóén om hul lewens te verbeter nie: Belgiese boere moes deur die eeue heen heel winter lank houtvure laat brand om water te kook wat in ondergrondse pype vloei om die grond op te warm waarin hulle bleek “witloof”-plantjies moet groei, anders sou daar nooit ’n oes wees nie! Afrika is in vergelyking hiermee die land van absolute melk en heuning – hy gee grondstowwe en gewasse so mildelik dat dit maklik is om te dink dit kon vir ewig aanhou. Maar natuurlik kan selfs ons oorvloedryke, geliefde vasteland nie ongeskend bly teen die tempo waarteen die bevolking daar groei nie.

Europa is nie perfek nie. Ek is terdeë bewus van die oorloë, kolonialistiese uitbuiting en ander verskikkings waarvoor Europeërs deur die geskiedenis verantwoordelik was. Maar een ding is seker: mag die hele wêreld hier ’n lessie kom leer oor harde werk, vasberadenheid en onwrikbare toewyding tot vooruitgang.

Ná ontbyt neem Guy ons na die skool waaraan hy verbonde was vanaf die sewentigerjare tot sy aftrede vier jaar gelede – hy is duidelik erg trots op hierdie instansie waaraan hy byna sy hele beroepslewe gewy het – en met reg: die pragtige skoolgebou uit die vroeë 1900’s, met sy talle nuwe aanbouings en uitbreidings, laat voorwaar my en Annari se monde oophang – ons kan nie uitgepraat raak oor hoe verstommend baie geld en mannekrag België het om te spandeer aan uitstekende opvoeding, sosiale-ondersteuningsprogramme, die kunste en biblioteke nie. Wanneer ’n gemeenskap verby die punt is om hom te bekommer oor hongersnood, kan hy hom natuurlik begin bemoei met “hoër” behoeftes. Ek kan nie anders as om ’n skietgebedjie op te stuur nie dat Afrika tog ook hier sal uitkom eendag …

Ons word met ’n nou stel trappe vele vloere opgeneem tot by die ouditorium bo in die dak van die skool se hoofgebou, en ons groep skoliere daag op. Ek noem nogal aan Annari dat ek byna meer gespanne is as voor ’n verhoogoptrede – sê nou maar hierdie jongmense stel eenvoudig glad nie belang daarin om met ons te gesels oor Afrikaans en Suid-Afrika nie?

Ons word ’n mikrofoon in die hand gestop. Ek maak keel skoon. Jy kan ’n speld hoor val …

Word vervolg

Voor die imposante hoofgebou van Campus Helix

Die pragtige kapel by Campus Helix wat deesdae nie meer vir godsdienstige byeenkomste gebruik word nie

Die trappe by Campus Helix herinner aan Hogwarts!

  • 3

Kommentaar

  • Ek is so jammer dat ek dit almal het gemis deur my verblyf by die Woordfees op Stellenbosch. Soos hulle geniet ek elke jaar die gasvryheid in SA se mense en die hoogtepunt is vir my die laaste jare die ongelooflyke kulturele fees in die eerste week op Stellenbosch. Dis regtig om jaloers te wees op sulke reënboog- en kulturele ekspressie.
    Dis lekker om julle verhaal te lees en ek geniet dit baie ...

  • Ag lees ons nou lekker aan jou avonture! Ek hoor sommer jou stem soos wat ek lees, dis asof ek in 'n gesprek met jou staan. Voorspoed daar!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top