Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

  • 0

 Opsomming 

Afrikaans is die moedertaal van ’n beduidende groep sprekers in die Republiek van Namibië, waar dit ook as ’n lingua franca tussen verskillende taalgroepe dien. Hierdie artikel gaan die vestiging, verspreiding en gebruik van Afrikaans as lingua franca na in prekoloniale en koloniale Namibië tot die Suid-Afrikaanse oorname, toe die taal amptelike status verwerf het. Afrikaans is in Namibië ingebring aan die begin van die 19de eeu deur die Oorlams, verwesterste Khoi-Khoin-groepe wat meestal ’n vorm van Nederlands gebruik het. Gedurende dieselfde tyd het sendelinge onder die Oorlams en die plaaslike Nama van Suid- en Sentraal-Namibië begin arbei, wat gelei het tot groter standvastigheid in die plaaslike gemeenskappe. Weens die sosio-ekonomiese en politiese magsoorwig van die Oorlams het hul taal die prestigetaal geword wat nie net toenemend deur die Nama gebruik is nie, maar ook deur ander groepe wat met hulle in kontak gekom het. Gedurende 1810–1840 is Afrikaans oor ’n groot deel van Namibië versprei as lingua franca weens die Oorlams se hegemonie. Vanaf hierdie tyd tot die Duitse oorname in die 1880’s is Afrikaans wyd gebruik in die diplomasie, onderwys, godsdiens en handel deur beide moedertaal- en niemoedertaalsprekers. Alhoewel die Duitse besetting gelei het tot die verlies van sekere hoë funksies van Afrikaans, is die taal steeds wyd gebruik as lingua franca, ’n posisie wat versterk is deur die koms van die Basters en blanke boere uit Suid-Afrika vanaf die 1870’s. Laasgenoemde gebeurtenis het die aantal sprekers van die taal vergroot en die gebruik daarvan oor ’n wyer geografiese area versprei. Teen die tyd van die Suid-Afrikaanse oorname van Namibië was Afrikaans reeds wyd verspreid as ’n lingua franca en is dit in ’n groot verskeidenheid funksies gebruik, wat die langlewendheid van die taal in dié land verseker het.

Abstract

Afrikaans as lingua franca in Namibia, c. 1800–1920

Afrikaans is the mother tongue of a sizeable group of speakers in the Republic of Namibia, where it also serves as a lingua franca among speakers of different languages. This article investigates the establishment, spread and use of Afrikaans as a lingua franca in precolonial and colonial Namibia until the annexation by South Africa, when the language achieved official status. Afrikaans was introduced to Namibia at the turn of the 19th century by the Oorlams, Westernised Khoikhoi groups who mostly used a form of Dutch for communication. During this same period, missionaries started to labour among the Oorlams and the indigenous Nama of South and Central Namibia, which led to greater stability in the local communities. Due to the greater socio-economic and political power of the Oorlams, their language became the prestige language which was increasingly used by both the Nama and other groups with whom they came into contact. During 1810–1840 Afrikaans spread as a lingua franca over a large part of Namibia due to the hegemony of the Oorlams. From this period until the German annexation during the 1880s, Afrikaans was widely used for diplomacy, teaching, religion and trade by both mother-tongue and non-mother-tongue speakers. Although the German annexation led to the loss of certain higher function for Afrikaans, the language remained being widely used as a lingua franca, a position which was strengthened by the arrival of the Basters and European farmers from South Africa from the 1870s onwards. The latter event increased the number of speakers of Afrikaans and spread its use over an even wider geographic area. By the time of the South African annexation of Namibia, Afrikaans was already widely used as a lingua franca in a large number of functions, which ensured the longevity of the language in that country.

1. Inleiding

Namibië is die enigste gebied buite die Republiek van Suid-Afrika waar Afrikaans deur ’n beduidende groep van die bevolking as eerste taal gebruik word. Afrikaans is ook die dominante lingua franca tussen verskillende taalgroepe in dié land (Roberge 2003:15). Daar word dikwels aangeneem dat hierdie situasie die gevolg is van die Suid-Afrikaanse besetting van die Namibiese grondgebied gedurende ’n groot gedeelte van die 20ste eeu. Toe Afrikaans in 1925 ’n amptelike taal in Suid-Afrika geword het, het dit ook in die destydse Suidwes-Afrika amptelike status verwerf. Die geskiedenis van Afrikaans in hierdie deel van die wêreld gaan egter aansienlik verder terug, en die taal daar het inderdaad parallel met Afrikaans in Suid-Afrika ontwikkel. Reeds in die 19de eeu is Afrikaans wydverspreid in Namibië gepraat, en het dit tussen verskillende groepe en in verskillende funksies as ’n lingua franca gedien. Hierdie artikel wil dié geskiedenis nagaan en aan ’n groter publiek bekendstel.

Die doel van hierdie stuk is nie net om vas te stel of Afrikaans ’n lingua franca in Namibië was nie, maar ook hoe dit gekom het dat Afrikaans in Namibië ingevoer is, en waarvoor en deur wie dit gebruik is. Met ander woorde, wat was die omvang van die kennis en gebruik van Afrikaans?

Du Plessis (1994:122) skryf tereg dat “die sosiokulturele verloop van sake in vorige eeue ’n duidelike invloed op Afrikaans se historiese verloop moes gehad het.” Dit is hierdie historiese benadering wat hier onder gevolg word. Taalverandering en taalgebruik hang ten nouste saam met sosiopolitiese, ekonomiese en kulturele veranderinge. Volgens die Namibiese historikus Brigitte Lau (1987:2) was sosio-ekonomiese kragte die beweegredes vir die grootskaalse veranderinge wat vanaf die begin van die 19de eeu in Namibië plaasgevind het en die verdere verloop van die land se geskiedenis drasties sou beïnvloed. Hierdie veranderinge was ten nouste gekoppel aan ’n verandering in die taalsituasie van die land. Gevolglik word daar in hierdie artikel in besonderhede ingegaan op die veranderinge wat aan ’t plaasvind was in 19de-eeuse Namibië op politiese, sosiale, ekonomiese en kulturele vlakke. Al hierdie faktore het saamgewerk om ’n nuwe gemeenskap te skep wat grotendeels Afrikaans as lingua franca gebruik het.

Hierdie artikel is nie ’n studie van die taalvorm(e) wat gebruik is deur die onderskeie groepe in Namibië nie. Gevolglik word die term Afrikaans in sy wydste sin gebruik as ’n term wat alle variëteite van die taal omvat. Ontleders soos Van der Merwe (1989:83) wys daarop dat die Oorlams se taalgebruik nader aan moderne Afrikaans gestaan het as aan Nederlands. Sy stel daarom voor dat mens die term Oorlamsafrikaans, wat ’n subvariëteit van Oranjerivierafrikaans is, daarvoor moet gebruik.1 Omdat daar egter ook ander groepe in Namibië was wat ander variëteite van die taal gebesig het, sal dit sake onnodig verwikkel om elke subvariëteit te benoem. Hierdie taalgebruikers het ook geskrewe dokumente nagelaat. Wanneer hulle geskryf het, het hulle gepoog om in ’n hoër register as hul gesproke taal te skryf. Hul teikentaal was dus Nederlands, alhoewel hul gesproke taal nader aan moderne Afrikaans was. Hul geskrewe taal was dus iets van ’n intertaal, en daarom word daar in hierdie stuk die term Hollands daarvoor gebruik, eerder as Nederlands.

Hierna word die vestiging, verspreiding en aard van Afrikaans as lingua franca in Namibië vanaf ongeveer 1800 tot 1920 nagegaan. Naas ’n kort oorsig van die belangrikste teoretiese terme wat in die stuk gebruik word (in afdeling 2), bestaan die res uit ’n chronologiese oorsig van hierdie prosesse. Die vestiging, verspreiding en aard van Afrikaans as lingua franca word in die daaropvolgende vier afdelings (3 tot 6) bespreek. Alhoewel daar by elke afdeling ’n chronologiese tydperk aangedui word, moet dit slegs as ’n ruwe aanduiding gesien word, aangesien historiese prosesse nooit stilstaan of altyd eweseer inmekaar verweef is nie. Ten slotte word die teorie en die geskiedenis in die gevolgtrekking saamgetrek.

2. Teoretiese agtergrond

2.1 Die aard en funksie van lingua francas in Afrika

’n Lingua franca word deur UNESCO gedefinieer as “a language which is used habitually by people whose mother tongues are different in order to facilitate communication between them” (aangehaal in Samarin 1968:661). ’n Taal is dus ’n lingua franca wanneer dit gebruik word (i) as ’n kommunikasiemiddel (ii) deur  groepe met verskillende moedertale (iii) op ’n gereelde grondslag. Dit blyk dat veral (ii) ’n belangrike rol speel, want die hoofdoel van ’n lingua franca is om as ’n kommunikasiemiddel te dien tussen mense wat nie oor ’n gemeenskaplike taal beskik nie (Trudgill 1995:133). Dit is nie van belang of die betrokke taal wel of nie die moedertaal van een van die groepe is nie.

Daar word op grond van drie groepe kriteria tussen verskillende lingua francas onderskei, naamlik (i) die bereik van die taal se funksie, soos byvoorbeeld handelstale en verkeerstale; (ii) die funksie van die taal as kommunikasiemedium waaronder veral kontaktale tel; en (iii) taalkundige kenmerke van die taal soos by pidgins en kreole (Heine 1970:15; Samarin 1968:661).

Verskillende soorte tale kan as lingua francas gebruik word, naamlik natuurlike tale, gepidginiseerde tale en beplande of kunsmatige tale (Samarin 1968:661–7). Eersgenoemde veronderstel dat die taal wat as lingua franca gebruik word, wel die moedertaal van een van die groepe in die kommunikasiesituasie is. Laasgenoemde is tale wat spesiaal geskep of ontwerp word om as neutrale kommunikasiemiddels te dien, met ander woorde, nie een van die partye se moedertaal word gebruik nie. ’n Pidgin is, eenvoudig gestel, ’n lingua franca wat geen moedertaalsprekers het nie en wat histories uit ’n natuurlike taal ontwikkel het (Trudgill 1995:157).2 Hierdie artikel handel nie oor die taalkundige vorm van die Afrikaans wat in Namibië gebruik is nie, maar eerder oor die sosiolinguistiese gebruik daarvan; gevolglik word daar nie hier ingegaan op watter variëteit van Afrikaans as die lingua franca in Namibië gebruik is nie.

Die belangrikste feit aangaande gepidginiseerde lingua francas is dat hulle in kontaksituasies ontstaan; trouens, dat hulle die linguistiese gevolg is van kontak tussen verskillende taalgemeenskappe. Soos Samarin (1968:668) tereg opmerk: “Lingua francas accompany – in fact, make possible – culture contact and acculturation.” Hierdie kontak is gewoonlik internasionaal of interetnies (daarom is daar altyd minstens twee taalgroepe by betrokke) en berus op kommunikasie, handel en administrasie. Die funksie van die lingua franca is dus om kontak op hierdie gebiede te fasiliteer.

Ernst Schultze het in 1933 lingua francas op grond van hul funksies in vier groepe verdeel, naamlik (i) nedersettingspidgins; (ii) handelspidgins; (iii) kunsmatige hulptale; en (iv) slawe- en bediendetale (Heine 1970:19). Almal verwys na die oorsprong van die taal, en met die uitsondering van (iii) na die spesifieke funksionele omvang wat gelei het tot die ontstaan van hierdie tale.

Mens kan hierdie funksionele verdeling van Schultze verder uitbrei, want daar is ook lingua francas wat as skool- of administrasietale ontstaan het naas dié wat weens werkskontak tot stand gekom het, byvoorbeeld Fanagalo (Heine 1970:19–21).

Hierdie verdelings van verskillende soorte lingua francas op grond van die funksie waarvoor die taal gebruik word, kan misleidend wees, aangesien dit die indruk skep dat die taal vir slegs één funksie gebruik word. Alhoewel dit wel soms die geval is, word die meeste lingua francas in ’n wye reeks funksies gebruik. Soms word verskillende variëteite van die taal in verskillende funksies gebruik.

Heine (1970:23-5) tref ’n verdere diachroniese onderskeid tussen lingua francas in Afrika. Volgens hom kan mens onderskei tussen dié tale waarvan die ontstaan en ontwikkeling afgehang het van kontak tussen Europeërs en Afrikane (en hul tale), en dié tale wat sonder hierdie Afro-Europese kontak ontwikkel het. Laasgenoemde noem hy die A-tipe-tale en eersgenoemde die B-tipes. ’n A-tipe lingua franca is ’n taal wat deur ’n militêre oorwinning in die prekoloniale tyd ’n ander groep se gebied ingedra is en daar as lingua franca versprei het. ’n B-tipe lingua franca is die gevolg van Europese invloed in Afrika. Hierdie tale het veral ontstaan rondom kommunikasie- en handelsnetwerke wat die binneland van Afrika “oopgemaak” het vir Europese invloed. Die B-tipe-tale se oorsprong is ook dikwels die gevolg van die koloniale ontwikkeling van opvoedings- en administrasiesisteme, veral met sendelinge as die agente van die proses. Daar moet egter in gedagte gehou word dat hierdie onderskeid nie altyd duidelik is nie. Dit is soms moeilik om te besluit as watter tipe lingua franca ’n spesifieke taal geklassifiseer moet word.

2.2 Taalgroei

Wanneer twee of meer taalgroepe bymekaar kom, dien een se taal as die betrokke lingua franca maar nie die ander een s’n nie. Waarom is dit so? Hierdie ontwikkeling is die gevolg van meer as net blote taalkennis (of die gebrek daaraan). Waarom sal een taal in ’n gegewe situasie groei (m.a.w. meer sprekers verwerf), en ’n ander taal agteruitgaan en inderdaad soms sprekers afstaan aan die nuwe lingua franca? Hierdie prosesse is ten nouste gekoppel aan sosiopolitiese, ekonomiese en ander oorsake.

Steyn (1980:5–22) identifiseer twee prosesse wat veroorsaak dat tale groei of kwyn, naamlik demografiese prosesse en die assimilasie van een (taal)groep deur ’n ander. Die aantal sprekers van ’n taal kan vermeerder weens ’n styging in die aantal geboortes of ’n daling in die aantal sterftes; of weens migrasie en kolonisering. Steyn (1980:6) wys egter daarop dat migrasie slegs ’n moontlikheid vir taalgroei
of -agteruitgang skep, maar dat daar ander faktore is wat die realisering daarvan bepaal.

Nuwe immigrante kan met die omliggende gemeenskappe assimileer. Daar is verskillende tipes assimilasie, te wete ekonomiese, kulturele en sosiale assimilasie, asook biologiese assimilasie deur ondertrouery. Een groep kan geheel en al met die ander assimileer en hul taal, kultuur en ander gewoontes aanneem sonder om iets daaraan te verander. Daar kan egter ook vermenging tussen die onderskeie kulture plaasvind, en ’n nuwe een kan ontwikkel. Dit is sogenaamde kreolisering. Dieselfde proses geld ook ten opsigte van taalvermenging. ’n Nuwe taal kan ontwikkel uit die vermenging van die twee of meer tale van die gemeenskap; of een groep kan die taal van die ander aanneem, wat ’n geval van taalverplasing of -verskuiwing verteenwoordig.

Taalverplasing hoef natuurlik nie in sy totaliteit plaas te vind nie. In die taalsosiologie word daar onderskei tussen twee basiese soorte taalfunksies, naamlik hoë en lae funksies. Lae funksies verteenwoordig die gebruik van ’n variëteit in alledaagse situasies met vriende en familie vir kommunikasie. By hoë funksies onderskei Steyn (1980:16) tussen (i) ekonomiese funksies in die openbare en private sektore; (ii) kultureel-sosiale funksies soos by die letterkunde, media, godsdiens en onderwys; en (iii) praktiese funksies, wat saamhang met ekonomiese funksies. Sommige gemeenskappe gebruik een variëteit van hul taal vir hoë en ’n ander vir lae funksies – ’n tipiese geval van sogenaamde diglossie, soos byvoorbeeld die geval was met Afrikaans in die 19de eeu3 – onderwyl in sommige gemeenskappe twee totaal verskillende tale gebruik word vir hoë en lae funksies (soos in Middeleeuse Europa, waar Latyn in hoë funksies gebruik is). Taalverskuiwing kan in enige van die funksies plaasvind: ’n gemeenskap kan dit byvoorbeeld nodig vind om om ekonomiese redes ’n lingua franca te gebruik, maar met betrekking tot ander funksies by hul moedertaal te hou. Hoe dit ook sy, daar is al dikwels aangetoon dat hoe minder funksies ’n taal het, hoe skraler sy kans op oorlewing is (vgl. Steyn 1980:21–2).

Taalverskuiwing hang ook saam met die status van ’n taal, en die houding van sprekers van alle tale in die gemeenskap teenoor die betrokke taal. Die status van ’n taal word onder meer deur die plek (sosio-ekonomies en polities) van sy sprekers in die gemeenskap bepaal, asook deur die beeld wat dit het (wat weer afhang van die beeld van die sprekers onder ander taalgroepe). Status en posisie in ’n gemeenskap hang dikwels af van wie oor mag beskik. Militêre mag, beheer oor die ekonomie, onderwys en sosio-kulturele lewe is almal faktore wat meehelp om aansien en mag aan ’n groep te verskaf. Dit word dan dikwels oorgedra op hul taal en ander mense beskou die taal dan as ’n noodsaaklike roete tot dié sukses (vgl. Steyn 1980:27–45).

Hierdie prosesse word almal duidelik geïllustreer in die geskiedenis van die vestiging en verspreiding van Afrikaans in Namibië.

3. Die invoer van Afrikaans in Namibië, ca. 1800–1810

3.1 Namibië teen ca. 1800

Dit is nie nodig vir die doeleindes van hierdie artikel om op die vroeë geskiedenis van Namibië in te gaan nie, maar daar moet kortliks gelet word op die sosiopolitiese situasie in dié gebied teen ca. 1800, aangesien dit ’n rol gespeel het in die invoer en vestiging van Afrikaans in Namibië.

Die pastorale Khoi-Khoin (of Khoekhoen) het oorspronklik in die noorde van die teenswoordige Botswana gewoon, maar het mettertyd agter weiveld aan suidwaarts getrek. By die Oranjerivier het die trekkende Khoi-Khoin-stamme in twee verdeel: een groep het wes langs die Oranjeriver en die ander suid na die Boland beweeg. Dit is die westelike groep wat uit die verskillende Nama-stamme bestaan het. Hulle het later verder verdeel, met een groep wat noordwaarts na Groot Namakwaland getrek het en ’n ander wat suidwaarts in Klein Namakwaland inbeweeg het. Laasgenoemde groep het hier weer die vroeëre suidwaartse stamme teëgekom (vgl. Elphick 1985:10-22).

Nienaber (1989:13) onderskei op grond van geografiese en genealogiese faktore tussen drie “heelhede” by die Khoi-Khoin: (i) die Nama-groep; (ii) die Kaapse en Korannagroep, en (iii) die Oostelike groep.

Verskillende etniese groepe was teen die 18de eeu in die huidige Namibië gevestig. In die noorde was die Owambo en ten suide van hulle die Herero. Dit lyk asof die Swakoprivier die natuurlike grens gevorm het tussen wat bekend gestaan het as Hereroland (oftewel Damaraland) en die Groot Namakwaland, waar die Nama gewoon het. Hiernaas was daar ook die Damara (ook bekend as die Bergdamara), wat verspreid tussen die ander groepe gewoon het (Wellington 1967:141–51; Legassick 1989:364).

Die Damara is ’n interessante en enigmatiese groep mense. Volgens Jonker Afrikaner het hulle “van altyd af” in Namibië gewoon (Lau 1987:5). Die Damara is deur die Nama en die Herero geminag, en is deur hulle onderwerp en as bediendes gebruik. Interessant is egter die feit dat alhoewel die Damara ’n negroïede volk is, hulle die Nama-taal (en in groot mate ook hul kultuur) aangeneem en gebruik het (Wellington 1967:139-40; Nienaber 1989:68). Nienaber (1989:79) beskou dit as ’n aanduiding dat daar eeue gelede ’n stryd tussen die Khoi-Khoin en die Damara moes gewees het. Laasgenoemde is deur die Khoi-Khoin oorwin en verslaaf en het mettertyd hul taal aangeneem. Hierdie scenario moet egter as gissing beskou word, aangesien daar geen herinnering van so ’n stryd voorkom by óf die Nama óf die Damara nie. Was dit egter wel die geval, is dit interessant om daarop te let dat reeds vóór die koms van die Oorlams daar sprake was van taalverskuiwing in Namibië as gevolg van militêre mag. Dit is ironies dat van die totale aantal Nama-sprekers vandag waarskynlik twee derdes Damara is (Nienaber 1989:69).

Lau (1987:7) wys daarop dat die Nama nie aanspraak gemaak het op ’n spesifieke gebied nie, maar dat hulle regoor die hele Groot Namakwaland gewoon het. Dit is belangrik om te onthou dat die Nama nie een groot verenigde “volk” (in ’n politiese sin) was nie. Die 18de-eeuse reisiger Otto Mentzel het opgemerk dat die enigste verskil tussen die Nama van Groot Namakwaland en wat hy die “Little Namacquas” noem,

lies in the name, and it is very doubtful which of the two is the larger or more numerous tribe, for the Great Namacquas also live together in small families, which often consists of barely a hundred to a hundred and fifty people in one kraal, all told. They too live scattered and separated from each other like the Little Namacquas. (Mentzel 1944:310)

Hierdie “small families” van Mentzel verwys waarskynlik na die verskillende Nama-stamme in Namibië.4

Daar was egter kohesie tussen die stamme: hulle het ’n “familie van stamme” gevorm waarvan één stam, in dié geval die //Khaun, oftewel die Rooinasie, die hoofstam was (Nienaber 1989:60). Die Rooinasie, met hul tradisionele gebied rondom Hoachanas, was die voorste stam van die familie met sewe stamme wat onder hulle geressorteer het. Volgens Nienaber (1989:361–2) het die term Rooinasie ’n ruimer en enger toepassing. Laasgenoemde toepassing verwys na die “hoofstam”, terwyl die ruimer betekenis meer inklusief is en op die groep stamme in die familieverband dui. As sodanig staan die Rooinasie in Nama teenoor die “Swart Volk” (≠Nu-khoen) wat die Herero, die Damara en hul stamgenote omvat. Gevolglik word Rooinasie dikwels as sambreelterm gebruik om na ál die Nama in 19de-eeuse Namibië te verwys.

Dit is te verwagte uit die situasie soos hier bo geskets dat die tale wat teen ca. 1800 in Namibië gebesig is, almal inheemse tale was wat deur die plaaslike gemeenskap gebruik is (met die uitsondering van die Bergdamara, wat die taal van hul oorheersers aangeneem het). Teen die vroeë 19de eeu was die situasie dus as volg: Bantu-tale is in die noorde gebruik, terwyl Nama in die sentrale en suidelike deel van Namibië die gebruikstaal was.

Dit is nie hier die plek om in te gaan op die verskillende ontdekkingstogte na Namibië toe voor 1800 nie (vgl. hieroor Esterhuyse 1968:6–8; Wellington 1967:158–9; Preller 1941:12–14). Wat egter van belang is, is dat hierdie “ondersoeke” van Europeërs in Namibië geen invloed op die tale of taalgebruik van die inwoners gehad het nie. Die leiers van jag- en ander ekspedisies het dan ook gewoonlik Khoi-sprekers van die Kaap met hulle saamgebring om as tolke op te tree. Alhoewel ons vir seker weet dat ’n blanke boer, Gideon (of Guillaime) Visagie en sy gesin (wat heel waarskynlik ’n vroeë vorm van Afrikaans gepraat het) reeds teen 1791 in die omgewing van Keetmanshoop geboer het, weet ons weinig oor hul omgang met die plaaslike bevolking en hoe hulle met mekaar gekommunikeer het (Preller 1941:14–6; Du Plessis 1985:53; Van der Merwe 1989:21).5 Daar het egter vir die volgende 60 jaar geen ander blanke boere na Namibië getrek nie, sodat Nama teen 1800 sonder twyfel die taal was wat algemeen in Sentraal- en Suid-Namibië gebruik is.

Die toestand sou egter drasties verander met die koms van die Oorlams en die veranderinge wat hierdie gebeurtenis binne die daaropvolgende dekades op sosiopolitiese, ekonomiese en kulturele gebied sou teweegbring.

3.2 Die opkoms van die Oorlams

Soos hier bo uitgewys is, het sommige van die Khoi-Khoin suidwaarts getrek en hulle onder meer in die omgewing van die Kaapse skiereiland gevestig. Dit is met hierdie inheemse inwoners van Suid-Afrika dat die Nederlanders en ander Europese volke vanaf die 16de eeu, en dan veral ná 1652, kontak gehad het.

Die kontak tussen dié twee groepe het spoedig gevolge gehad. Daar was binne ’n paar jaar ’n mate van akkulturasie van die Khoi-Khoin deurdat hulle as bediendes en werkers vir die koloniste opgetree het (vgl. Groenewald 2002:97–116). Dit het ’n belangrike invloed op hul taalgebruik gehad: aangesien die Khoi-Khoin die afhanklike party was en kennis van hul taal feitlik totaal onbekend by Europeërs was, moes hulle ’n vorm van Nederlands aanleer. Reeds teen 1656 kon Van Riebeeck aanteken dat die Khoi-Khoin in die omgewing van die Fort reeds Nederlands “al redelijck fray begunnen te leeren spreecken” (aangehaal in Groenewald 2002:119). Slegs tien jaar ná die stigting van die verversingspos is daar berig dat “alle of de meeste Hottentots, te weten, die dicht aan het Fort de goeder hope wonen ... spreken door het daghelix verkeren met d’ onzen de Duitsche tale” (aangehaal in Van der Merwe 1989:9).

Hierdie akkulturasie het hand aan hand gegaan met die disintegrasie van die tradisionele Khoi-Khoin-gemeenskappe aan die Kaap. Historici meen dat die inherente onstabiliteit van die ekonomiese en politieke stelsels (wat totaal op veebesit aangewese was) van die Khoi-Khoin duidelik na vore gekom het toe die koloniste die ekonomiese toneel betree het en dit binne ’n kort tydjie verander het. Gevolglik is groot getalle Khoi-Khoin genoop om by koloniste in diens te tree, of na die binneland te migreer, of hulle is geen ander keuse gelaat as veeroof nie, wat weer tot onmin en oorloë aanleiding gegee het. Daarby het die pokke-epidemies die Khoi-Khoin so swaar getref dat hulle as ’n onafhanklike volk met hul eie leefwyse teen 1713 nie meer in die Suidwestelike deel van die Kaap (met ander woorde, die deel wat deur Europese koloniste beset is) kon bestaan nie (vgl. Elphick 1985).

Wat het van hierdie Khoi-Khoin geword? Deur die integrasie van hul tradisionele sosiopolitiese en ekonomiese sisteme enersyds, en hul groeiende akkulturasie en aanpassing by die nuwe koloniale sisteme andersyds, het daar nuwe groepe ontstaan. Omdat heelwat ontheemde Khoi-Khoin vir die koloniste begin werk het, het hulle nouer kontak met sowel slawe as koloniste gehad. Seksuele vermenging tussen die groepe het tot nuwe “kategorieë” aanleiding gegee wat deur Nigel Penn as volg beskryf word:

The word “Bastaard” was used to refer to those born of miscegenous relationships. The term described a wide range of people of differing status, and the nuances of its meaning changed with changing attitudes. ... In the Cape colonial context, there were three major instances of miscegenation: Europeans with slaves; Europeans with Khoikhoi; and slaves with Khoikhoi. (Penn 2005:20)

Eersgenoemde was relatief skaars in die binneland (weens die klein aantal slawe buite die suidwestelike deel van die Kaap). Die nageslag van die laaste groep het as Bastaard-Hottentotten bekend gestaan, terwyl die kinders van koloniste en Khoi-Khoin gewoonlik Bastaards of Basters genoem is (Penn 2005:20; vgl. ook Elphick en Shell 1989:200–2). Die opkoms van hierdie groepe dui enersyds op die mate van akkulturasie van die verskillende groepe, maar andersyds ook op die ander sosiale standaarde wat in die 17de en 18de eeue gegeld het. Ras en etnisiteit was minder van belang as sosio-ekonomiese en kulturele onderskeidings, soos die historikus Martin Legassick verduidelik: “The eighteenth-century colour line ... was a blurred one in which the criteria of legal and social status by no means always coincided with those of ethnic origin” (Legassick 1989:363)

Naas die verskillende groepe Basters was daar nog ’n groep wat die produk was van akkulturasie, naamlik die Oorlams. Die vroegste bekende definisie van hierdie groep dateer uit 1806 en is gegee deur die sendeling Christian Albrecht: “Das Volk hier [d.i. op Adam Kok se plaas] nennt man Oorlammers, das sind Hottentotten, die im Oberland [d.i. verder suidwaarts] bei den Buren geboren und aufgewachsen sind und meist Niederdeutsch verstehen und sprechen können ...” Ietwat later het dieselfde persoon verklaar: “‘Orlam’ heissen alle Namaqua, welche etwas holländisch reden, auch einige holländische Sitte angenomen haben, entweder weil sie früher bei den Bauern dienten, oder sonst viel mit Bauern Umgang hatten ...” (albei aahalings in Nienaber 1989:794; vgl. Legassick 1989:368–9).

Duidelik blyk hieruit dat Oorlam na iemand van Khoi-Khoinafkoms verwys het wat deur kontak met “Boere” (d.w.s. Europese koloniste) laasgenoemde se taal en gewoontes aangeneem het. Alhoewel die Oorlams dus serogeneties aan die Khoi-Khoin verbonde was, was hulle kultureel nader aan die Europese koloniste (vgl. Van der Merwe 1989:11). Dit is om hierdie rede dat hulle die naam Oorlam gekry het: dié woord het ontwikkel uit die Maleise orang lama, wat “iemand wat bekend is met die land” beteken en die antoniem is van orang beharoe, wat dui op “iemand wat nuut of onlangs aangekom het”. Albei hierdie uitdrukkings was in koloniale Nederlands gebruik (Van Riebeeck het dit alreeds in Suid-Afrika gebruik; vgl. Nienaber 1989:800). In Suid-Afrika het eersgenoemde term ontwikkel tot die byvoeglike naamwoord oorlams in die betekenis van “bedrewe, geleerd, kundig”, maar ook “uitgeslape”, terwyl laasgenoemde ontwikkel het in baar in die sin van “onervare, ongeleerd, rou, dom” (Nienaber 1989:800). Hierdie uitdrukkings was tot die 20ste eeu nog in hierdie betekenisse bekend onder Afrikaanssprekendes, soos blyk uit hierdie uitspraak van Gustav Preller:

Engelse en Duitsers het aan hierdie Afrikaans woord [d.i. Oorlams] ’n eienaardige betekenis geheg en daar ’n stamnaam van gemaak, waar hulle van “the Oorlams” praat, terwyl dit, soos die welwillende leser(-es) sal weet, net ’n hoedanigheid aandui, in hierdie geval naamlik die omstandigheid dat die betreffende indiwidu of stam Hollands of Afrikaans praat en verstaan; m.a.w. dat hulle “slimmer” is as die wat “baar” is. (Preller 1941:27)

Die Khoi-Khoin het dus in die loop van die 18de eeu grotendeels as onafhanklike volk in die gekoloniseerde dele van die Kaap verdwyn. Maar uit die kontak met hul kultuur en die nuwe, Europese een het daar ander groeperinge ontstaan. Die Khoi-Khoin het grotendeels ontstam en hul taal verloor (vgl. Groenewald 2004:29–30) en geleidelik die Nederlandse taal en gewoontes aangeneem. In die 18de eeu was hulle wel regstegnies vry, maar in die praktyk ekonomies onderhorig.

’n Nuwe samelewing het dus ontstaan: een wat die Europese kultuur as teiken gehad het. Gevolglik was die samelewing gestratifiseer op grond van sosio-ekonomiese en kulturele oorwegings van die Europese samelewing. Die sosiale skaal kan soos volg opgesom word: onderaan was die slaaf, sosiaal en ekonomies nie vry nie en dikwels met ’n vreemde kultuur; dié is gevolg deur die ontheemde Khoi-Khoin was as arbeiders gewerk het maar ekonomies afhanklik was; gevolg deur die Oorlams wat Europese gewoontes aangeneem het en dikwels in besit was van ’n geweer, ’n perd en soms ’n wa. Bokant hulle was die Basters, wat hulle geroem het op hul deels-blanke afkoms, en dikwels vooruitstrewend was met hul eie grond (vgl. Nienaber 1989:24–9). Die term Baster het dus beide afkoms én ekonomiese klas aangedui. Die Graaff-Reinetse magistraat, H.C.D. Maynier, het Basters beskryf as “such Hottentots, particularly of the mixed race, who possessed some property, were more civilised”, terwyl die ontdekkingsreisiger Heinrich Lichtenstein verklaar het dat hulle hulself as “swarthy Hollanders” beskou in wie se gedrag daar “a certain good-natured ostentation, a sort of vanity” was wat syns insiens daarop gedui het “that they considered themselves as much superior to the rude Hottentots” (albei aanhalings in Legassick 1989:370). Die oorspronklike inwoners van die Kaap het hulle in groot mate sosiaal, ekonomies en kultureel met die nuwe maghebbendes se kultuur geïntegreer; en hul sosiale prestige, asook hul politieke en ekonomiese mag, het op die mate van hul integrasie met dié kultuur berus.

Vanaf die middel van die 18de eeu het die Oorlams en Basters, parallel met die blanke trekboere, in groter getalle verder noordwaarts begin beweeg. Dit is belangrik om te besef dat dit nie by enige van hierdie groepe om ’n gekoördineerde of beplande trekpoging gegaan het nie, maar dat dit eerder ’n geleidelike proses was (Penn 2005). Nóg moet mens dink dat die Oorlams as ’n groep getrek het. Daar het inderdaad geen één so ’n groep bestaan nie, en ’n stam was hulle beslis nie. Von Moltke (1976:37) praat met reg van “saamgeflanste groepies” in hierdie verband. Hierdie groepe het ook nie net uit Oorlams bestaan nie, maar ook Basters, gedroste slawe en ander mense ingesluit (Penn 1999:73–99). Die Oorlamsgroepe het dus nie net uit verwesterste en ontheemde Khoi-Khoin bestaan nie, maar het ook elemente van slawe, vryswartes en blankes bevat (Du Plessis 1985:125).

Daar is verskeie redes waarom die Oorlamsgroepe besluit het om verder noordwaarts te trek. Die koloniale regering het die Oorlams as Khoi-Khoin beskou wat dus wetlik nie grond uit eie reg kon besit nie (tensy hulle as gedoopte Basters beskou is), wat beteken het dat hul houvas op hul grond swak was en hul sosiale status aldus verlaag is. Vir die statusbewuste Oorlams was dit onaanvaarbaar, aangesien hulle hulself as verhewe bo die Khoi-Khoin beskou het (Van der Merwe 1989:12–13). Bowendien het die regering se instelling van die sogenaamde Corps Pandoeren6 in 1781–82 die Oorlams verplig om militêre diens in Kaapstad te gaan verrig, en wel onder die status van die Khoi-Khoin, wat onaanvaarbaar vir hulle was (Legassick 1989:373–4). Die belangrikste rede was waarskynlik ekonomies van aard: weens die verskuiwende grensgebied (sien hier onder), waar blanke boere al hoe verder noordwaarts trek, is die Basters en Oorlams gedwing om verder noord hul eie heil te soek (vgl. Penn 2005:170–217 oor dié proses).

Die grensgebied (my vertaling van die Engelse frontier zone) is ’n belangrike konsep vir die begryp van hierdie geskiedenis. Legassick omskryf ’n grensgebied as “a fluid region of social transition, relatively autonomous from both colonial base and the indigenous social systems, but dependent on both” (Legassick 1989:360, my kursivering; vgl. Penn 2005:9–14 vir ’n gedetailleerde bespreking). Tot met die 19de eeu was beide die noordelike en die oostelike grensgebiede “oop”, met ander woorde daar was nie ’n duidelike afbakening van waar die een moondheid se mag ophou en die ander s’n begin nie. Die grensgebied bly vloeibaar en die magsentrum het weinig beheer daaroor. Gedurende die 19de eeu is die grensgebiede “gesluit” (die Oosgrens voor die Noordgrens), maar trekkers het oor albei beweeg en aldus die grens van die Kaapkolonie se mag en beskerming verlaat. Hierdie konsep kan ook nuttig gebruik word in die taalgeskiedenis, want totdat die grensgebiede in die 19de eeu gesluit is, het hulle ooreengestem met ’n soort “taalgrens” – ’n gebied waar kennis en gebruik van Hollands geleidelik oorgegaan het tot ’n gebied waar kennis van die taal beperk was en inheemse tale oorwegend gebruik is – ’n tipe oorgangsfase, dus.

Die hoofinstelling van die grensgebied was die kommando, wat bestaan het uit berede en gewapende koloniste en hul afhanklikes, insluitende mense van (deels) Khoi-Khoin-afkoms. Die doel van ’n kommando was sowel polities – die handhawing van orde en as strafekspedisies – as ekonomies – die uitvoer van strooptogte. Die kommando was egter afhanklik van die koloniale magsbasis vir wapens en ammunisie, en om die ekspedisies te “legitimeer” (Legassick 1989:361; Penn 2005:108–54). Die oop grensgebiede waarin die kommando’s aktief was, het gedurende die 19de eeu noord- en ooswaarts beweeg. Die noordwaartse uitbreiding van die grensgebied is hoofsaaklik deur “nie-Europeërs” gedoen. Die opkoms van die kommando’s het afgehang van die toegang tot vuurwapens en perde. Baie Oorlams was bereid om in ruil vir vuurwapens as gidse op te tree vir die kommando’s en gevolglik het die meeste kommando’s bestaan uit ’n groot aantal mans wat nie Europese koloniste was nie (Legassick 1989:368).

Die dryfkrag agter die Oorlams se binnetrek van Namibië was die kommando-groep. Die Oorlams het nie net kultureel nie, maar ook sosiaal, polities en ekonomies grootskaalse veranderinge van hul Khoi-Khoin-verlede ondergaan. Hierdie proses word goed deur Lau (1987:20) opgesom:

These Oorlams who often formed an autonomous commando group and tried to maintain it, were people who were resourceful enough to reject the subordinate roles they were forced into as the settlement at the Cape expanded. Characteristically, the men vested with leadership positions in such a commando owned some property, were of “mixed” descent and were baptised. They had clearly broken away from the social relationships which had characterised Khoi groups. The people they collected around themselves had diverse origins: they were runaway slaves, dispossessed Khoi retainers and the like. (My kursivering)

Al die voorgaande dien te bewys dat die Oorlams, wat ca. 1800 net suid van die Oranjerivier gereed was om met hul kommando-kultuur Namibië binne te trek, nie dieselfde mense was as hul voorouers wat eeue vantevore in daardie gebied van hul stamgenote, die Nama, geskei en suidwaarts getrek het nie. Op politieke, ekonomiese en kultuurgebiede was die Oorlams ’n Westersgeoriënteerde samelewing afhanklik van Westerse kommoditeite (vgl. Dedering 1990:25–7).

Meer nog: die Oorlams het hulself nie as Khoi-Khoin beskou nie. Volgens die sendeling Johannes Olpp het hulle só ’n assosiasie as ’n belediging beskou: “Von uns Europärn sind alle diese heute in Bausch und Bagen mit dem Namen Hottentotten bennant worden. Das ist aber in ihren Augen ein gräuliches Unrecht ...” (aangehaal in Nienaber 1989:50).

Dit blyk verder uit die feit dat bykans niemand meer teen hierdie tyd binne die grense van die Kaapkolonie die Khoi-taal gepraat het nie, soos Lichtenstein in die vroeë 19de eeu berig: “Wenig Hottentotten, die in der Colonie geboren sind, wissen von ihr [eie taal] mehr, als ein Paar hängen gebliebene Idiotismen. Alle sprechen sie Holländisch ...” (aangehaal in Groenewald 2004:42 aantekening 4, eie kursivering). Dit blyk ook verder uit die Nama-woord wat die Oorlams later in Namibië gebruik het om na hulself te verwys, naamlik manada, wat “Hollandsprekers” beteken (Dedering 1990:27).

Du Plessis (1985:51) gee ’n goeie opsomming van die situasie van die Oorlams teenoor die Nama op hierdie historiese tydstip wanneer hy skryf:

Teen hierdie historiese agtergrond is dit duidelik dat die Oorlamsgroepe ... wat Noord van die Oranjerivier kom woon, nie meer, en in hoë mate linguisties nie meer, verbind kan word met die Khoekhoe wat hierdie gebied voor die koms van die kolonialisering verlaat het nie.

Dit is hierdie verwesterste Oorlams wat Afrikaans Namibië binnegebring het.7

3.3 Die Oorlams in Namibië

Teen ca. 1800 was daar ten suide van die Oranjerivier geakkultureerde en verwesterste groepies Oorlams wat rondom kommando’s gestruktureer was. Ten noorde van die Oranje was daar die Nama, wat histories verwant was aan die Oorlams. Laasgenoemde groep was nog nie beïnvloed deur Westerse sosio-ekonomiese en kulturele gebruike nie en het steeds hul nomadiese bestaan gevoer. Hierdie situasie sou binne die daaropvolgende paar dekades drasties verander met die intrek van die Oorlams enersyds, en die aankoms van die sendelinge andersyds.

Mens moet in gedagte hou dat beide die Nama en, in ’n ietwat mindere mate, die Oorlams, se lewenswyse nomadies van aard was. Reeds voordat die Oorlamsgroepe hulle permanent in Namibië gevestig het, het hulle al strooptogte oor die Oranjerivier na die binneland onderneem (vgl. Lau 1987:21). Dit is teen hierdie agtergrond dat die migrasie van die Oorlams beskou moet word.

Teen die begin van die 19de eeu kan daar tussen verskillende Oorlamsgroepe rondom die Oranjerivier in die Noordwes-Kaap onderskei word: (i) die Afrikaners onder Jager Afrikaner; (ii) die Bethaniërs, wat uit verskillende groepies of families bestaan het; (iii) die Gobabis-groep onder Amraal Lambert; (iv) die Berseba-groep onder Dietrick Isaak; en (v) die Witboois onder leiding van Kido Witbooi. Die name van hierdie groepe weerspieël hoe dié groepe eintlik meestal uit verskillende families bestaan het onder leiding van een dominante gesin. Hulle het eers heelwat later in Namibië ’n groepsidentiteit ontwikkel en is daarom dikwels vernoem na die gebied waar hulle hul uiteindelik na vele omswerwinge gevestig het (Nienaber 1989:45). Die Afrikaners en die Bethaniërs was waarskynlik die eerste Oorlamsgroepe wat hulself ná 1800 in Namibië gevestig het. Gedurende die daaropvolgende vyftig tot sestig jaar het nog verdere Oorlamsgroepe die oopmaak van Namibië benut en die gebied binnegetrek.

Wat was die oorsprong van hierdie groepe? Die vroegste optekening van die naam Afrikaner dateer uit 1761.8 In hierdie jaar berig die Stellenbosse landdros, Adriaan van Schoor, dat “de Bosjesmans Hottentotten Capitain Claas en Afrikaner” (hulle was dus broers), asook hul vader, “Oude Ram”, moeilikheidmakers in die Bokkeveld is en dat hulle vir Adam Kok aangerand het. Afrikaner word beskryf as synde iemand met “een vrij arroganten en boosen imborst”. Van Schoor reken dat hulle “van een zeer roofzugtigen en wreden aard zijn” en stel voor dat Oude Ram en Afrikaner na Robbeneiland verban moet word ter wille van die vrede (aanhalings in Nienaber 1989:93–4; vgl. Penn 2005:168). Dit is dan ook gedoen, en Afrikaner sterf in 1777 aldaar. Hierdie persoonsnaam het ’n familienaam geword en Klaas (oftewel Claas) het later as Klaas Afrikaner bekend gestaan (Nienaber 1989:97).

In 1792 het Klaas Afrikaner ’n suksesvolle kommando namens die Kaapse regering teen die Khoisan gelei. Omdat hy geweier het om by die Corps Pandoeren aan te sluit, het Klaas hom met sy seuns, Jager en Titus, en hul volgelinge op Petrus Pienaar se plaas in die Calvinia-omgewing gaan vestig. Nes Pienaar se ander beskermling, Jan Bloem, het die Afrikaners vir hom strooptogte uitgevoer en beeste geroof – togte wat hulle tot diep in die binneland van Namibië geneem het (Penn 2005:187-201). In 1796 het die Afrikaners stry gekry met Petrus Pienaar en hom vermoor (Bradlow 1980:97–8; Penn 2005:199–200). Jager is voëlvry verklaar en die Afrikaners het na ’n eiland in die Oranjerivier gevlug. Daar het hulle ander Oorlams, Basters, Khoi-Khoin en selfs Xhosas rondom hulle versamel en van daar af vir ’n tyd lank ’n lae-intensie-oorlog teen die Kaapse regering gevoer (Legassick 1989:374–5).

Die Afrikaners se afhanklikheid van strooptogte het hulle later gedwing om oor die Oranjerivier te trek. Presies wanneer die Afrikaners Namibië binnegetrek het, is nie duidelik nie, maar dit was ná 1796 en voor 1805 (vgl. Lau 1987:20–21; Van der Merwe 1989:14) dat hulle hul gevestig het in die suidoostelike gedeelte van (teenswoordige) Namibië: by Afrikanerskraal (later Jerusalem genoem) en Blydeverwacht (ook as Blyde Uitkomst bekend).

In ’n brief van 9 Februarie 1803 skryf “Africander/Jager/Tidis” (waarskynlik die twee broers saam) dat hulle ’n sendeling wil hê, al is hy of hulle “de Groote Kwaad doender”. Volgens die eindskrif is die brief geskryf “Bijna aan de onderkant/ Van de Groot Rivier” (brief getranskribeer in Van der Merwe 1989:187–8). In die brief verwys die skrywers na “de andere Leraars boven in de Revier” na wie hulle sou kon gaan. Aangesien daar op dié stadium geen sendelinge noord van die Oranjerivier was nie, maar wel in Klein Namakwaland, kan mens aanneem dat die brief ten noorde van die rivier geskryf is (tensy die verwysing ’n oos-wes bedoeling het, en dus slaan op die sendelinge onder die Griekwas na die ooste).

Uit die brief blyk verskeie ander belangrike sake. Die Afrikaners is bewus van die reputasie wat hulle weens hul strooptogte verwerf het. Belangriker is egter dat die skrywers ’n “leraar” (sendeling) verlang, nie net ter wille van hul eie sielsheil nie, maar ook vir die “veel volk die gaan Leeren wiel.” Die verwesterste Oorlams (wat nou gevestig blyk te wees en ’n minder nomadiese lewenstyl lei) is begerig om hul Westerse lewenswyse te verdiep en begeer ’n sendeling vir godsdienstige en onderwysdoeleindes. Nog meer merkwaardig is dat hulle skryf in hul aangenome taal, Hollands, wat hierdie brief waarskynlik die eerste Afrikaanse dokument maak wat noord van die Oranjerivier geskryf is.

Gedurende die laat 18de eeu, en dwarsdeur die 19de eeu, het verskeie Oorlamsgroepe uit die Kaap hulle rondom Pella gevestig (net suid van die Oranjerivier). Teen ongeveer 1804 het die Boois-Frederiksfamilie onder leiding van Jakobus Boois van Pella getrek en hulle tussen die Nama van /Ui=gantes (later Bethanië genoem) gevestig. Verskeie ander groepe het hulle later by hierdie “Bethaniërs” gaan aansluit (Heese 1978:18; Lau 1987:22–3; Nienaber 1989:185).

Daar was dus teen die einde van die eerste dekade van die 19de eeu twee groepe in suidelike Namibië wat sosiopolities, ekonomies en kultureel deels verwesters was. As oorwegend Oorlamsgroepe, kan daar aangeneem word dat hulle ’n vorm van Afrikaans gebruik het. Hierdie geakkultureerde groepe het die grensgebied oor die Oranjerivier geskuif, slegs enkele jare voordat die eerste blanke inwoners Namibië as sendelinge binnegekom het.

3.4 Die aanvang van sendingwerk in Namibië

Die migrasie van die Oorlams en die aanvang van sendingwerk in Namibië het tyd- en pleksgewys saamgeval: Suid-Namibië gedurende die eerste dekade van die 19de eeu. Beide die invoer van die verwesterste Oorlamskultuur en die kersteningsaksies van Europeërs het dramatiese gevolge gehad vir die inheemse Namibiese mense: nie net sosiopolities en ekonomies nie, maar ook wat hul taalgebruik betref. Mens kan dalk, soos Nienaber (1989:45-6) impliseer, ’n onderskeid tref tussen die polities-ekonomiese veranderinge wat deur die koms van die Oorlams veroorsaak is en veranderinge op die “geestelik-sosiale” vlak wat teweeggebring is deur die intrede van die sendelinge; maar sake soos hierdie is baie meer ineengestrengel en nie naastenby so eenvoudig nie. Ten minste wat die taalsituasie betref, skyn dit of die koms van die Oorlams tesame met die begin van sendelingaktiwiteite taalverplasing en -verskuiwing in Namibië beïnvloed het.

Die eerste sendelinge in Namibië was die broers Christian en Abraham Albrecht en Johann Seidenfaden, almal in diens van die Londense Sendinggenootskap. In Januarie 1806 arriveer hulle in Blydeverwacht, waar hulle dadelik begin met die oprig van geboue (Heese 1978:20). Volgens Dedering (1991:31), “the first missionaries were invited by the Khoikhoi to establish stations in southern Namibia. The Nama hoped to benefit from the economic and social services provided by the European residents.” Soos uit latere gebeure sou blyk, het die inwoners van Namibië die sendelinge as ’n nuttige verbintenis met die Kaap en sy Westerse kommoditeite (veral vuurwapens) gesien. Wat hulle waarskynlik nie besef het nie, is dat die teenwoordigheid en invloed van die sendelinge drastiese gevolge vir hul lewenswyse sou hê.

Soos eerder gemeld, het die Oorlams in die omgewing van Afrikanerskraal en Blydeverwacht gewoon. Jager Afrikaner het die nabyheid van die sendelinge verwelkom, en volgens Robert Moffat het hy teenoor hulle opgemerk: “As you are sent by the English, I welcome you to the country; for though I hate the Dutch, my former oppressors, I love the English; for I have always heard that they are the friends of the poor black man” (aangehaal in Heese 1978:21).

Blykbaar kon nie net die Oorlams nie, maar ook sowat die helfte van die Khoi-Khoin-inwoners van Blydeverwacht, Hollands verstaan, wat die sendelinge se taak aansienlik vergemaklik het (Heese 1978:21). Dit lyk egter asof daar ’n mate van wrywing was tussen die verskillende Nama-groepe vir die guns van die sendelinge (en die gepersepteerde voordele wat daaruit te put was). Die situasie is vererger omdat die Oorlams, weens hul taalkennis en kennis van Europese gewoontes en gebruike, begunstig was. So is die Oorlams gebruik as tolke, gidse en werkers; met die daarmee gepaardgaande voordele. Later het sommige Oorlams die sendelinge se assistente geword, en selfs later sendingwerk onderneem. Hierdie wedywering tussen die Nama en die Oorlams het aanleiding gegee tot onenigheid, en daar was spanning tussen die twee groepe rondom die sendingstasies (Dedering 1990:34; vgl. Lau 1987:24–5).

Jan Kagas, die leier van die //Haboben-Nama-stam (ook bekend as die Veldskoendraers), het ’n sendeling vir sy mense versoek. Gevolglik het Seidenfaden vanaf 1806 tot 1808 Heirochabis beman. Ondertussen het die Albrechts besluit om hul sendingstasie na Warmbad te verskuif. Daar kon hulle, naas die Oorlams, ook die belangrike Bondelswart-stam bearbei. Hulle het daar ook ’n skool begin waar Hollands vir lees- en godsdiensonderrig gebruik is (Heese 1978:23). In 1808 het die sendelinge hul aktiwiteite ook na buiteposte uitgebrei. Teen die einde van 1809 was daar reeds 1 200 name in die kerkboeke (Heese 1978:25–6). Die skool het gegroei en heelwat mense het leer lees (Heese 1978:50). Teen 1811 moes die Albrechts egter Warmbad ontruim en suidwaarts vlug. ’n Paar dae later het Jager Afrikaner Warmbad vernietig en het die sendingaksie in Namibië ’n paar jaar lank tot ’n einde gekom.

Die teenwoordigheid van sendelinge in Suid Namibië het groot veranderinge teweeggebring op alle vlakke van die inwoners se lewens. Die sendelinge en hul aktiwiteite het ’n sekere prestige gedra. Gevolglik was baie mense gretig om mee te doen aan aktiwiteite soos skoolonderrig, en selfs naaldwerkklasse en sangonderrig. Dat hierdie aktiwiteite as merk van onderskeiding gedien het, blyk uit die feit dat Jager Afrikaner sy kinders van Afrikanerskraal af na die skool in Warmbad gestuur het (Heese 1978:21). Al hierdie aktiwiteite is in Hollands verrig. Indien mens aanneem dat die taal reeds ’n mate van aansien geniet het weens die groeiende prominensie van die Oorlams, het dit teen die einde van die eerste dekade van die 19de eeu begin ontwikkel as ’n prestigetaal, ten minste in die suide van Namibië. Mens kan dus argumenteer dat die teenwoordigheid van die Oorlams, en hul taal, die sendelinge se werk vergemaklik het, en veroorsaak het dat verwestersing verhaas is.

Binne ’n kwessie van tien jaar het groot sosiopolitiese veranderinge in Namibië plaasgevind. Die binnetrek van die verwesterste Oorlams het saamgeval met die begin van die sending na Namibië, en hierdie proses inderdaad vergemaklik. Afrikaans is as spreektaal tussen 1800 en 1810 in Namibië ingevoer en in sekere funksies gebruik. Met die koms van die sendelinge is die funksies van die taal verder uitgebrei, en is dit ook gebruik vir opvoeding, godsdienstig en andersins. Meer nog: Afrikaans is ook gebruik as kommunikasiemiddel tussen die Duitssprekende sendelinge, die Afrikaanssprekende Oorlams en die Nama-sprekende plaaslike inwoners. Reeds vroeg ná sy invoer in Namibië word Afrikaans dus reeds as lingua franca gebruik, ten minste in die suidelike deel. In die daaropvolgende 30 jaar sou die taal drasties verder in Namibië versprei, ’n proses wat ten nouste saamhang met die uitbreiding van die Oorlams se mag.

4. Die verspreiding van Afrikaans in Namibië, ca. 1810–1840

4.1 Transformasie in die Namibiese gemeenskappe

Die binnetrek van die Oorlams en die aanvang van sending in Namibië het ’n transformasie op sosiale en staatkundige vlakke in dié gebied teweeggebring en veroorsaak dat die vloeibare, “oop” grensgebied tot in die suidelike deel van Namibië verskuif het. Die transformasie wat in Suidelike Afrika met die uitbreiding van die Europese invloedsfeer na die Kaap in die 17de eeu begin het, het nou ook Namibië binnegekom (vgl. Legassick 1989:358–60). Die draers van hierdie verandering was die Oorlams (die produk van Suid-Afrikaanse kontak met die Europese kultuur) en die sendelinge (bewustelik of nie, agente van verandering en Europese magsuitbreiding). Afrikaans, eweneens die produk van Europese kontak met Suid-Afrika, is deur hierdie groepe in Namibië ingebring, en die verdere verspreiding van die taal het ook in dié tyd ten nouste saamgehang met die verdere uitbreiding van die Oorlams se mag en die aktiwiteite van die sendelinge. Gevolglik is dit nodig om hierdie prosesse in enige besonderhede na te gaan.

In 1811 het die eerste sendingspoging in Namibië tot ’n einde gekom toe Jager Afrikaner Warmbad aangeval en verwoes het. Hierdie aggressiewe daad was die gevolg van die wantroue en onenigheid wat tussen die Bondelswarts (wat rondom Warmbad gewoon het) en die Afrikaners geheers het (Dedering 1990:35). ’n Hele paar jaar lank was daar ’n “lae intensiteit”-oorlog tussen hierdie twee groepe – iets wat simptomaties was van die vestiging en uitbreiding van die Oorlams se mag.

Lau argumenteer dat die Oorlams se opkoms en groei as militêre mag in drie fases verdeel kan word. Die eerste was ’n kontakfase toe die Oorlams nét in Namibië ingetrek het en met die plaaslike Nama in kontak gekom het (soos in afdeling 3.3 beskryf). Daar was egter reeds van vroeg af aan onenigheid en wantroue tussen hierdie groepe, omdat albei gepoog het om toegang tot Westerse kommoditeite (veral vuurwapens) te verseker, hoofsaaklik deur die vestiging van sendelinge in hul gebiede. Die tweede fase het tot ongeveer die middel van die 1830’s voortgeduur.

Dit was gedurende hierdie tydperk dat die Oorlams se getalle en invloed uitgebrei is deur verdere trekke dieper in Namibië in. Maar terselfdertyd het die gevegte en onenigheid tussen die Nama en die Oorlams só toegeneem dat alle sendingwerk gedurende 1825 en 1834 tot stilstand gekom het. Hierdie fase het oorgegaan (vanaf ca. 1840) in ’n derde een, waartydens Jonker Afrikaner sy politiese hegemonie in Suid- en Sentraal-Namibië gevestig het (vgl. Lau 1987:24–8).

4.2 Die Oorlams se verowerings

Die teenwoordigheid van Oorlamsgroepe en die sendelinge in Suid-Namibië het aanleiding gegee tot verdere trekke van ander Oorlamsgroepe uit die Noord-Kaap. Die sendeling Johann Schmelen, wat op Pella gestasioneer was, het in 1814 op uitnodiging van kaptein Vlermuis van die Veldskoendraers na Groot Namakwaland vertrek op soek na ’n geskikte standplaas (Heese 1978:34). Saam met Schmelen het die groep onder Amraal Lambert asook die Ambraalse en die !Aman vanuit Pella na Namibië getrek. Hierdie Oorlamsgroepe het hulle saam met Schmelen by /Ui=gantes gevestig, waar die Oorlamskaptein Jakobus Boois alreeds tien jaar lank gewoon het. Hier het Schmelen ’n sendingstasie gestig wat later as Bethanië bekend sou staan (Lau 1987:34–5; Nienaber 1989:118–19). Kort hierna het nog ’n Oorlamsgroep, die Berseba-groep onder leiding van Dietrich Isaak, Namibië binnegetrek. Hulle het aanvanklik na die Karasberg-omgewing noord van Warmbad getrek, maar hulle na vele omswerwinge uiteindelik aan die voet van die Broekarosberg gevestig. Hier is in 1850 die sendingstasie Berseba gestig met Samuel Hahn as eerste sendeling (Lau 1987:35; Nienaber 1989:184).

Mens moet besef dat die skielike invloei van mense met ’n ander kultuur en lewenswyse ’n bron van frustrasie en ongelukkigheid vir die Nama moes gewees het. Dedering (1991:100) skryf dat die Nama gefrustreerd was omdat hulle ’n krisis in hul ekonomiese en politieke sisteme gedurende hierdie tyd ondervind het. Dit is veroorsaak deur die indringing van beide die Oorlams en die sendelinge, wat bygedra het tot die verbrokkeling van die inheemse mense se lewenswyse. Die Nama se sosio-ekonomiese en politiese strukture was baie broos, en hul afhanklikheid van die natuur vir water en weiding het nie veel bygedra tot suksesvolle weerstand teen die nuwe intrekkers nie.9

’n Voorbeeld van hierdie proses was die gemeenskap in Bethanië. Aanvanklik het Kobus Boois, wat toestemming by die Nama gekry het om daar te woon, oor die weg gekom met die plaaslike inwoners. Boois het egter later begin om strooptogte uit te voer na die Nama by die Visrivier. Die plaaslike gemeenskap het in die 1820’s gedisintegreer soos die stryd om weiveld en water tussen die Nama en die Oorlams toegeneem het. In 1822 was Schmelen verplig om die sendingstasie daar te verlaat, en Amraal Lambert en sy mense, asook lede van die Boois-familie, het weggetrek (Nienaber 1989:215; Lau 1987:25–6).

Die grootste onenigheid is egter deur die Afrikaners veroorsaak. Alhoewel hulle numeries sterker was, was die Nama nie opgewasse teen die Afrikaners met hul wapens en gevegsvaardigheid nie. Volgens Nienaber word dit gereflekteer deur die Nama-woord vir die Afrikaners: //Aixa-//ain, wat dui op die “vuurspuwende” wapens van die Afrikaners. Later het die naam ontwikkel tot //Aixa-/ain, wat “bose/kwaai volk” beteken (Nienaber 1989:99–103). Soos Legassick (1989:376) tereg opmerk: “Firearms not only caused the breakdown of existing social structures but also transformed them.” Die Oorlams se sukses met kommando-bedrywighede het waarskynlik gelei tot die Nama se begeerte om self vuurwapens te besit, en dit het weer gelei tot verdere onenigheid oor toegang tot sulke Europese kommoditeite.

Dit was ’n tydperk van intense stryd om grond en hulpbronne. Die Bondelswarts het onsuksesvol probeer weerstand bied teen Jager Afrikaner se poging om sy heerskappy in die suide van Namibië te vestig (Dedering 1997:77-8; Penn 2005:281–3). Ná Jager se dood in 1823 het sy seun Jonker sy verowerings voortgesit. Teen die einde van die dekade het Jonker Afrikaner die hele suidelike deel van Namibië onderwerp (Lau 1987:28–9).

Gedurende dieselfde periode het die groot Nama-stam, die Rooinasie, ’n oorlog gevoer teen die Herero wat besig was om eersgenoemde se weiveld in te neem in Sentraal-Namibië. Moderne historici vermoed dat die Rooinasie onder leiding van //Oaseb ’n verdrag met die Afrikaners gesluit het om hulle te help. Hoe dit ook sy, die Afrikaners het Hereroland onderwerp en hulself in Windhoek gevestig as die magtigste Oorlamsgroep met groot gebiede as hul invloedsfeer. Die Rooinasie het onafhanklik gebly, maar op vriendelike voet met die Afrikaners verkeer. Aldus het dit gebeur dat teen ca. 1840 die Afrikaners (en ander Oorlamsgroepe) groot gedeeltes van Sentraal- en Suid-Namibië beheer het met hul kommandogroepe (Wellington 1967:152–3; Lau 1987:29–31).

Die oorwinnings van die Oorlamsgroepe het veroorsaak dat Afrikaans oor ’n groter geografiese gebied versprei het. Ewe belangrik is dat die hegemoniese posisie wat die Oorlams weens hierdie oorwinnings verkry het, baie bygedra het tot die vestiging, verspreiding en ingrawing van Afrikaans as lingua franca oor ’n groot gebied tussen 1840 en 1860 (sien afdeling 5).

4.3 Die sendelinge se rol

Die sendelinge het ’n baie belangrike rol gespeel in die transformasie van die Namibiese gemeenskap en in die daarmee gepaardgaande vestiging en verspreiding van Afrikaans as lingua franca. Die tydperk van die sendinggeskiedenis nadat die eerste sendingpoging in Namibië tot ’n einde gekom het (in 1811), totdat sendelinge in die 1840’s op groter skaal die land binnegekom en bearbei het, weerspieël die veranderinge in, en die verval van, die ou Namibiese gemeenskappe. Dit weerspieël ook die ontwikkeling en groei van ’n nuwe samelewing gebaseer op die kommando-sisteem en afhanklik van Europese kommoditeite.

Ná die vernietiging van Warmbad in 1811 was daar vir ’n ruk geen sendelinge noord van die Oranjerivier nie. Schmelen was in Bethanië werksaam vanaf 1814 tot 1822, en met die uitsondering van Johann Ebner (te Jerusalem, 1815–1818 en daarna by Warmbad) en Robert Moffat (Jerusalem, 1818–1819) was hy dan ook die enigste sendeling in Namibië in hierdie periode. Ná Schmelen het eers James Archbell gedurende 1821–1822 en William Threlfall in 1825 gepoog om die sending voort te sit, maar Archbell het moed opgegee en Threlfall is vermoor. Sending in Namibië het voorlopig tot ’n einde gekom en dit was eers ná 1834 dat daar weer permanente sendingstasies in Namibië tot stand gekom het.

Daar word later besin oor die redes waarom die vroeë sendingaktiwiteite misluk het. Vervolgens word daar gekonsentreer op die rol van die sendelinge in die transformasie van die Namibiese gemeenskappe.

Die sendelinge het ’n ander siening as die Nama gehad oor die meeste aspekte van die lewe, maar veral oor sosio-ekonomiese en kulturele sake. Dedering (1990:31–2) merk tereg op dat “[m]ission ideology was informed by a Eurocentric notion of sedentary farmers and livestock breeders, which was not compatible with the nomadic lifestyle of Nama herders.” Op hierdie manier het die sendelinge die ou sosio-ekonomiese stelstel van die Nama begin vernietig, juis op die tydstip wat die Oorlams met hul eiesoortige sosio-ekonomiese organisasie begin het om Namibië binne te dring.

Aldus het die sendelinge meegehelp aan die proses van verandering wat deur die Oorlams ingelui is. In ’n poging om die nomadiese lewenswyse van die Nama teë te werk en hulle aan te moedig om eerder op die sendingstasies te woon, het die sendelinge Europese kommoditeite ingevoer en aan die Nama beskikbaar gestel. Die Nama het afhanklik begin raak van Europese goedere en sodoende binne die sfeer van die Europese handel gekom. Hierdie “missionary gift-giving”, argumenteer Dedering (1991:33), “raised enormous expectations among the impoverished herders and hunters. Small wonder that by the 1820s missionaries came to be regarded ... as inexhaustible sources of wealth which could be distributed outside the traditional relations of production.”

Uit die Nama se uitsprake blyk dit dat hulle dikwels die sendelinge as ’n onuitputlike bron van rykdom beskou het. So byvoorbeeld was die kaptein van die Bondelswarts kwaad vir die sendelinge omdat hulle nie ’n geweer aan hom wou verkoop nie (Heese 1978:25). Later, in die 1820’s, toe daar geen sendelinge meer naby was nie, skryf die Bondelswarts in ’n brief oor die sendelinge onder meer: “They will also give us powder, since the time the first teachers [d.i. sendelinge] left, we have not been able to obtain any” (aangehaal in Dedering 1991:94). Hierdie voorbeelde (en verskeie ander – vgl. Lau 1987:78–9) illustreer duidelik beide die ekonomiese mag van die sendelinge wat kontak met die Westerse markte gehad het, én die Nama se groeiende afhanklikheid van Europese kommoditeite (asook hul afhanklikheid van die sendelinge om toegang daartoe te verseker).

As gevolg van hul groeiende afhanklikheid van Europese kommoditeite het die Nama se tradisionele sosio-ekonomiese sisteem verbrokkel en het ’n nuwe een begin ontwikkel. Die nuwe samelewing wat aan ’t ontwikkel was, het bestaan uit die geakkultureerde Nama en Oorlams wat interafhanklik met sendelinge rondom ’n sendingstasie gewoon het (vgl. Dedering 1990:35–40). ’n Goeie voorbeeld hiervan was die sendingstasie Bethanië, waar verskeie groepe, ná vele onderlinge struwelinge, ontwikkel het tot ’n sosiale eenheid wat as die Bethaniërs bekend gestaan het.

Die sendelinge het dus nie net die geestelike of kulturele vlakke beïnvloed nie, maar het ook ’n groot impak op die sosio-ekonomiese struktuur van die Nama gehad, omdat hulle die (indirekte) verteenwoordigers was van ’n ander (sosiopolitiese en ekonomiese) gemeenskap. Hierdie proses word goed opgesom deur Legassick (1989:360): “[M]issionaries, bearers of ideology, also came to be bearers of trade and political domination.” Die sendelinge in Namibië was as ’t ware ’n naelstring met die Westerse regering en ekonomie aan die Kaap. Hulle het nie net die ekonomiese en politiese skakels tussen die Kaap en die noordelike grensgebied gevorm nie, maar het ook hierdie skakels gestabiliseer en versterk (Dedering 1990:27–8). Die sendelinge was ongetwyfeld ook verteenwoordigers van Westerse politieke mag, en was dan ook die agente wat die sluiting van die grensgebied in Namibië teweeggebring het. Legassick (1989:364) beskou die sendelinge as die Kaapse regering se “bearers of authority” wat probeer het om die grensgebied te sluit, met ander woorde, die mag van die Kaapse regering te vestig (hetsy ekonomies of polities). Die volgende twee voorbeelde dui op hierdie mag van die sendelinge, en hul pogings om die grensgebied te sluit.

Schmelen het gedurende die 1820’s, nadat hy gedwing is om Bethanië te verlaat, deur die oorloggeteisterde Namibië gereis op soek na ’n geskikte plek vir ’n sendingstasie. Hy het hard probeer om die Kaapse regering te oorreed om in te gryp in die situasie en beskerming aan hom te verleen (Lau 1987:26–7). Schmelen het selfs ná die moord op Threlfall aangebied om namens die Kaapse regering ’n strafekspedisie na Namibië te lei (Dedering 1991:98).

’n Meer insiggewende voorbeeld kom uit ’n ietwat later tyd, maar toon eweneens aan hoe die sendelinge deur die plaaslike bevolking beskou is, selfs die maghebbendes onder hulle. So skryf Jonker Afrikaner in 1851 aan die sendeling Friedrich Kolbe:

Ik groop om te say mein groot jammer en hartseer oor de oorlocht die ik aan u gethan hap om che cheren de arme Damaras huise, die derchte by u huis um, en wohn unter U trusten, en de is end u werft verstroyet. Ik wiet, dat U under die Engelse Goverment hier wohn, und ik groop, dat U de Engelse Goverment mak fragt dat wat ik gethan hap, meen vergief sall worte. Ik belooft U dat nicht van dieser dinge vier sall angaan. (Aangehaal in Van der Merwe 1989:47)

Afrikaner besef duidelik dat die sendelinge magtig is en (wat meer is) verteenwoordigers van die koloniale regering in die Kaap is. Waar die sendelinge in 1811 uit Namibië moes vlug vir die Afrikaners, moes laasgenoemde ’n paar dekades later die sendelinge se guns probeer behou.

Ons sien hier in ’n neutedop hoedat die sendelinge se posisie oor die jare verander het, en dat juis deur hul teenwoordigheid en die rol wat hulle vervul het, die grensgebied gesluit is. Omdat die sendelinge basies verteenwoordigers van die Kaapse regering was, het hulle toegang gehad tot die Kaapse mark en kon die inheemse inwoners van Namibië dus via hulle wettige toegang tot vuurwapens kry (Legassick 1989:377).

Naas hul sosiopolitiese impak het die sendelinge ook die kultuur van die Nama beïnvloed. Dedering (1990:28) skryf van die sendelinge: “They taught Dutch in mission schools and performed functions as traders, technicians and political intermediaries.” Deurdat Hollands die werkstaal van die sendelinge was, is hulle bedrywighede op alle vlakke met dié taal geassosieer. Hollands (en sy gesproke variëteit, Afrikaans) word aldus die taal van die nuwe samelewing wat gedurende hierdie tydperk aan ’t ontwikkel was.

Godsdiens en onderwys was baie nou aan mekaar verwant vir die sendelinge. Deelname aan beide aktiwiteite was nodig om te wys dat mens die nuwe orde aanhang. Hierdie aktiwiteite het ook ’n sekere prestige-waarde in die veranderende samelewing besit. So byvoorbeeld het Jager Afrikaner se versoek om ’n sendeling gepaard gegaan met ’n versoek vir Bybels en gesangeboeke (Heese 1978:39). Kort nadat Ebner die sendingstasie Jerusalem naby Afrikanerskraal gestig het, is Jager en sy broer, Titus, gedoop. Jager en verskeie lede van sy familie het ook leer lees (Heese 1978:41–2). Volgens Moffat (Ebner se opvolger by Jerusalem) het Jager gereeld sy godsdiensoefeninge bygewoon. Jager het hom ook gereeld in die Nuwe Testament verdiep en Moffat in vele sake bygestaan (Heese 1978:45-6).

Die noue band wat tussen die kultuur van die sendelinge en die leierskap van die Oorlams bestaan het, het sekerlik verder gedien om ’n prestige-waarde aan die nuwe kultuur te verleen. Sodoende het die interaksie tussen die Oorlams en die sendelinge gehelp om die Namibiese gemeenskap te verander. Afrikaans was die taal van hierdie verandering, en het ’n sekere status en prestige-waarde verwerf deur die aktiwiteite, aansien en mag van die persone (by name die sendelinge en die Oorlams-leiers) wat dit gebruik het.

Ons sien dus dat die verhouding tussen die inheemse inwoners en die sendelinge in Namibië gedurende die onderhawige periode deur twee fases gegaan het (vgl. Dedering 1991:103–4). Aanvanklik was daar entoesiasme aan beide kante. Die euforie en intense belewing van die godsdiens weerspieël volgens Dedering die verwagtinge en hoop wat by die Oorlams en Nama ontstaan het. Die tweede fase is gekenmerk deur meer realistiese sosiale interaksie: die sendelinge het besef dat die plaaslike inwoners se motiewe nie altyd godsdienstig was nie, en terselfdertyd het die Nama en Oorlams besef dat die sendelinge nie in al hul materiële behoeftes kan of wil voorsien nie. Daarby het die verandering in die inheemse mense se lewenstyl tot ’n krisis gelei toe hulpbronne begin opraak het. Aldus is albei kante teleurgestel, wat tot probleme gelei het. Dedering beskou dan ook die onmin wat by Bethanië tussen die sendeling en sy volgelinge ontstaan het, asook die moord op Threlfall, teen hierdie agtergrond. Albei gebeure is simptomaties van die verslegte verhouding tussen die twee groepe – en die moord op Threlfall verteenwoordig die toppunt van hierdie onmin (Dedering 1991:91).

Die moord op Threlfall het egter ’n keerpunt veroorsaak deurdat die Nama en Oorlams besef het dat hulle afhanklik van die sendelinge is vir die voorsiening van die noodsaaklike kommoditeit waarop hul samelewing reeds begin rus het: vuurwapens. Ná die moord op Threlfall en die straf van sy moordenaars, het kapteins Abraham Christian en Kido Witbooi die Kaapse regering versoek om handel tussen die Namibiese inwoners en die Kaap te wettig en te fasiliteer. Teen hierdie tyd was die Namibiese gemeenskappe dus reeds by die Kaapse ekonomie ingesluit, was hulle afhanklik daarvan vir hulle voortbestaan en begerig om deel daarvan te bly.

Hierdie kontak, en die indringing van die Westerse ekonomiese mag in Namibië, kom na vore in die ooreenkoms wat die Kaapse regering met die Bondelswarts en Witboois gesluit het om as “grenspolisie” vir die regering op te tree (Dedering 1991:99–100). Die Namibiese gemeenskap was afhanklik van toegang tot vuurwapens en dus van handel met die Kaap. Teen 1834 het die Wesleyaanse Sendinggenootskap die stasie by Warmbad heropen, en is die sendelinge daar beskou as tussengangers met die Kaapse regering. Sodoende het die sendelinge meegehelp aan die transformasie van die sosiale strukture in Suid- en Sentraal-Namibië. Hulle het Namibië oopgemaak en die weg gebaan vir ’n grootskaalse invloei van Europeërs in die vorm van handelaars en sendelinge na Namibië in die 1840’s (Dedering 1991:110–11). Die transformasie wat in sosiale strukture in Namibië plaasgevind het, het gelei tot ’n nuwe gemeenskap wat bygedra het tot die verspreiding van Afrikaans as lingua franca.

5. Afrikaans as lingua franca, ca. 1840–1880

5.1 Die Oorlams se hegemonie

Teen 1840 was die Oorlams in beheer van Groot Namakwaland. Tot met die koms van die Duitse magte veertig jaar later, was hulle (ten spyte van onderlinge oorloë en onenigheid) die magtigste groep in Namibië. Die hegemonie van die Oorlams op politieke vlak het gelei tot ’n nog groter vermenging met die Nama, en ’n bykans algehele integrasie van die Nama met die Oorlams op sosiale vlak.

Teen 1850 het Jonker Afrikaner vanuit Windhoek omtrent een vyfde van die totale bevolking van Suid- en Sentraal-Namibië beheer, en was hy allerweë beskou as die magtigste kaptein in die gebied. Teen dié tyd het die transformasie van die politieke en sosiale verhoudings tussen die Nama en Oorlams al grotendeels plaasgevind: die sosiale verskille tussen die twee groepe was aan ’t verdwyn en ’n nuwe samelewing, gebaseer op kommando’s en afhanklikheid van handel met die Kaap, het ontwikkel. Nama-groepe het, net soos die Oorlams, vuurwapens, waens en perde besit en dit gebruik om strooptogte uit te voer. Die tradisionele nomadiese bestaan van die Nama is vervang deur ’n meer gevestigde bestaan. Mense het hulle rondom ’n sterk Nama- of Oorlamsfamilie geskaar wat ’n sekere gebied as hul eie beskou en beset het, dikwels met ’n sendingstasie as kern. Sodoende het meer stabiele en gebiedsgebaseerde gemeenskappe ontstaan wat totaal verskil het van die nomadiese groepe wat skaars vyftig jaar vantevore in Namibië rondgeswerf het (vgl. Lau 1987:31–2; Von Moltke 1976:37).

Hierdie integrasie van die Nama-kultuur en -gewoontes met dié van die Oorlams het ook op persoonlike vlak plaasgevind. Heelwat ondertrouery het plaasgevind tussen die Nama en Oorlams, en die verhoudings tussen verskillende groepe is soms versterk deur “strategiese” troues. So byvoorbeeld het die Oorlamse Boois van Rehoboth heeltemal ondertrou met die Nama Swartboois; terwyl Jonker Afrikaner se suster met ’n Nama-leier, Abraham Bondel, getroud is. Jonker self het met die dogter van Kobus Boois van Bethanië getrou. Ook op polities-ekonomiese vlak was daar groter samewerking deurdat kommando-aktiwiteite dikwels georganiseer en uitgevoer is deur kommando’s bestaande uit Oorlams én Nama. Teen 1850 het die ou stamstrukture heeltemal verdwyn en plek gemaak vir ’n nuwe, geïntegreerde samelewing gebaseer op die kommando-groep (Lau 1987:40; Von Moltke 1976:43). Hierdie transformasie, en die uiteindelike hegemonie van die Oorlams, word goed opgesom deur Lau (1987:74) waar sy skryf:

Namaland underwent a rapid social transformation in the first decades of the   last century, from kinship-based, pastoral, self-sufficient groups to military oligarchies supported by Christianity, dependent for reproduction on a     destructive trade network at the Cape.”

Wat was die gevolg van hierdie hegemonie van die Afrikaanssprekende Oorlams en hul lewenswyse vir die posisie en gebruik van Afrikaans in Namibië? Deurdat die Oorlams nou oor ’n groter gebied verspreid was, het dit beteken dat Afrikaans as moedertaal dwarsoor Suid- en Sentraal-Namibië versprei het. Net so belangrik is dat die Oorlams deur hul politieke mag en sukses meer prestige verkry het, en dat dit oorgedra is na hul taal. As gevolg van die toenemende voorkeur aan en oorname van die Oorlamskultuur deur die Nama, asook die groter vermenging tussen die twee (taal)groepe, het Afrikaans toenemend ’n hoër aansien as Nama begin geniet. Alhoewel Nama nooit as moedertaal uitgesterf het nie, het heelwat Nama kennis van Afrikaans nodig geag weens hul groter integrasie met die Oorlams, asook laasgenoemde se magsoorwig.

Die Oorlams se hegemonie het nie net belangrike gevolge gehad vir die verspreiding en uitbreiding van Afrikaans as moedertaal nie, maar ook vir die uitbreiding in die funksies van die taal. Omdat die Oorlams die magsoorwig gehad het, is hulle taal gebruik vir kommunikasie met anderstaliges. Weens hul politieke en militêre hegemonie het hulle nie nodig gehad om andere se taal te gebruik nie. Maar hierdie proses werk ook na die ander kant toe. Weens die prestige van die Oorlams is hul taal ook as ’n prestigetaal beskou en het die Nama dit dus wenslik geag om dit te ken. Dit lyk selfs asof die Nama hul eie taal begin verag het. So byvoorbeeld berig die sendeling Hans Christian Knudsen in 1844 van die Nama op Bethanië: “Bei Ihren grossen Hochmut verachten sie doch beides, sich selbst und ihre sprache bei Vergleichung mit anderen.” ’n Paar jaar later rapporteer Johann Krönlein ook: “Der Kapitän mit seinem ganzen Volk wollte nich mehr die Namaquasprache. Die Leute schämen sich ihrer und verachten sie mit charakterlosen Abscheu” (beide aanhalings in Van der Merwe 1989:28). Hierdie geweldige “pro-Hollandse gevoel” onder die Nama kom ook na vore in die bekende uitroep van David Christian op Bethanië, toe daar oor die skooltaal besluit moes word: “Alleen Hollands, niks as Hollands nie; ek verag myself en voel lus om in die bossies weg te kruip as ek my Hottentot-taal praat” (aangehaal in Steyn 1980:126).

Weens die hegemonie van die Oorlams het Afrikaans nie net geografies wyer versprei nie, maar het sowel sy aantal sprekers as sy prestige toegeneem. Dit is as gevolg hiervan dat anderstaliges Afrikaans as lingua franca moes gebruik. Van der Merwe (1989:99) het heeltemal gelyk wanneer sy voorstel dat mens kan aanneem dat elke bevolkingsgroep in Namibië sy eie taal in lae funksies onder mekaar gebruik het (alhoewel daar ’n voorkeur vir Afrikaans onder die Nama begin ontwikkel het), maar dat Afrikaans as lingua franca gebruik is wanneer verskillende taalgroepe met mekaar wou kommunikeer. Die kennis van Afrikaans onder niemoedertaalsprekers in Namibië het dus weens die hegemonie van die Oorlams toegeneem. Dat baie van die Nama Afrikaans magtig sou wees, is te verwagte weens hul grootskaalse integrasie en noue kontak met die Oorlams. Heelwat van die leiers van die ander groepe in Namibië, soos die Herero, het ook Afrikaans leer praat (Von Moltke 1976:43). Afrikaans het dus ’n egte lingua franca in Namibië geword, en is in verskillende funksies vir hierdie doel gebruik.

5.2 Staatkunde en diplomasie

Afrikaans het gedurende die onderhawige periode as ’n regeringstaal in Namibië ontwikkel, en is dikwels gebruik as lingua franca in staatkundige en diplomatieke funksies tussen verskillende politieke groeperinge. Soos in die voorgaande afdeling (5.1) aangedui is, het daar gedurende hierdie era ’n nuwe politiese struktuur ontwikkel bestaande uit verskillende groepe wat elk sy eie gebied beheer het. Omdat die Oorlams polities magtig en invloedryk was, was dit húl taal wat deur ander groepe in korrespondensie met hulle gebruik is. Vir die Oorlams was ’n hoër register van hul eie taal ook die natuurlike keuse om hul wette in op te stel. Reeds in 1847 het die Bethaniërs hul “Ryksboek” bestaande uit al die wette en regte van hul kapteinskap in Hollands opgestel. Dit is gevolg deur soortgelyke dokumente vir ander kapteinskappe in Rehoboth, Berseba, Windhoek en Warmbad. Later (1872) is ook die meer omvangryke “Wetboek der Rehobother Bastaards” in Hollands opgestel (Van der Merwe 1989:24; Lau 1987:47). Gevolglik het die Oorlams self ook hul eie taal gebruik in korrespondensie met ander magtiger moondhede, soos byvoorbeeld die (Engelstalige) Kaapse koloniale regering.

Alhoewel die tydperk tussen die Oorlams se oorwinnings en dié van die Duitsers in die algemeen beskou kan word as ’n tyd van relatiewe Oorlamse hegemonie, beteken dit nie dat dié era polities stabiel was nie. Die tydperk van 1840 tot 1880 is trouens gekenmerk deur geweldige en soms gewelddadige politieke aktiwiteite. Gevolglik het heelwat onderhandelinge en ander diplomatieke bedrywighede plaasgevind. Dit is daarom geen toeval nie dat die meeste Hollandse briewe en dokumente uit prekoloniale Namibië van die 1850’s en later dateer. Dit is deels die gevolg van sendelingaktiwiteite, maar ook weens die aktiewe diplomasie wat die nuwe Namibiese samelewing met sy verskeie politieke gemeenskappe vereis het. Gevolglik is die meeste korrespondensie wat uit dié tyd behoue gebly het, dan ook grotendeels polities en diplomaties van aard, eerder as persoonlik.10

Gedurende die 1840’s en 1850’s het die verhouding tussen Jonker Afrikaner en sy bure, die Rooinasie onder leiding van //Oaseb, gewissel tussen onenigheid en konflik enersyds, en verdraagsaamheid en samewerking andersyds. Gedurende 1854–1855 het die Rooinasie saam met die Rehobothers die Afrikaners aangeval en ’n oorlog het gevolg. Interessant is dat, ten spyte van //Oaseb se pogings om ’n “Nama-nasionalisme” te laat posvat,11 heelparty Nama-groepe ’n alliansie met die Afrikaners gevorm het. Aan die ander kant het ’n Oorlamsgroep, die Booise, weer ’n tyd lank saam die Rooinasie teen die Afrikaners geveg (vgl. Lau 1987:112–6).

Teen 1857 het //Oaseb besef dat die Afrikaners te magtig vir hom is, en het hy besluit om sy ondergeskikte posisie aan Jonker Afrikaner te erken (Lau 1987:117–8). Op 9 Januarie 1858 het Jonker Afrikaner, //Oaseb en nege ander kapteins die Vredestraktaat van !Hoaxa!nas onderteken. Hierdie traktaat is in Hollands opgestel en is onderteken deur beide Nama- en Oorlamkapteins (vgl. Van der Merwe 1989:184–6). Insiggewend is dat dit slegs in Hollands opgestel is, en nie ook in Nama nie. Afrikaans word dus as regeringstaal gebruik en dien, ten minste in hierdie hoë funksie, as lingua franca tussen twee taalgroepe waarvan die polities-dominante groep Afrikaanssprekend was.12

Dit was nie net tussen die Nama en Oorlams dat Afrikaans as lingua franca gedien het vir staatkundige en diplomatieke sake nie. Soos reeds hier bo uitgewys is, was verskeie Herero-kapteins ook Afrikaans magtig. Die politieke situasie het dit van hulle vereis. Sedert die 1840’s was sommige Herero-leiers ondergeskik aan die Afrikaners en het hulle namens hulle strooptogte uitgevoer. Gedurende die 1860’s was daar ’n oorlog tussen verskillende politieke groepe dwarsoor Namibië. Die Herero het, met die ondersteuning en aanmoediging van die handelaar Charles Andersson, teen die Afrikaners geveg. Die Afrikaners se aanval op Otjimbingwe in 1864 was onsuksesvol, en die Herero was daarna nie meer aan hulle skatpligtig nie. Hierdie de facto-situasie is met die vredesonderhandelinge te Okahandja in 1870 amptelik bevestig toe die Afrikaners alle mag oor die Herero afgesweer het (Lau 1987:120–41). Verskeie briewe aan Herero-kapteins in Hollands is in die 1880’s en 1890’s deur Hendrik Witbooi geskryf en het behoue gebly. Dat Afrikaans deur die Herero-leiers verstaan is, en ten minste op staatkundige vlak deur hulle gebruik is, blyk uit die feit dat daar ook Hollandse briewe bestaan wat deur Herero-kapteins aan Witbooi geskryf is (vgl. o.m. Witbooi 1929:110–11 en 148–51).13

Afrikaans is ook as lingua franca op staatkundige vlak tussen die Namibiese gemeenskappe en ander moondhede, veral die Engelse koloniale regering van die tyd, gebruik. Alhoewel die Engelse amptenare meestal in Engels geskryf het, was korrespondensie van die Oorlams altyd in Hollands. So skryf Jan Jonker Afrikaner (die seun van Jonker) in 1869 aan sir Philip Woodhouse, die Kaapse goewerneur, dat laasgenoemde voortaan in Hollands aan hom moet skryf:

Verder verzoek ik vriendelyk als myn Heer brief krygen van Damaraland of Grood Namaqwaland die heb my nam an is dan moet myn hoolans zoo ik kan verstan, dat verzoek ik u my Heer moet zoo goedwesen [sic] heb ik altyt my Koorand krygen op hoolans gedrooken ben dan zal ik alles hoort die hieft hulle my nam slaggebruik hieft .... (Aangehaal in Von Moltke 1976:43; ook in Luijks 2000, Volume 2, pp. 47–8 en 210)

Witbooi (bv. 1929:152–66 en 193–9) skryf ook verskeie briewe in Hollands aan die Engelse magistraat in Walvisbaai. Ten spyte van sy en sy familie se jare lange kontak met die Engelse (vgl. Witbooi 1929:152–3), is Afrikaans vir Witbooi die natuurlike taal om in te skryf, en verwag hy dat dit verstaan sal word.

Afrikaans was dus vanaf die middel van die 19de eeu dié taal wat as lingua franca op staatkundige en diplomatieke gebied in Namibië gebruik is.

5.3 Godsdiens, onderwys en sending

Afrikaans is in die onderhawige periode nie net op politieke vlak nie, maar ook op sosiale vlak – vernaamlik in die godsdiens en onderwys – al hoe wyer gebruik. Die aktiwiteite van sendelinge op hierdie gebiede het die gebruik van Afrikaans as lingua franca in Namibië verder uitgebrei en bevorder.

Die Wesleyaanse Sendinggenootskap het in 1834 weer ’n sendingstasie te Warmbad begin. Gedurende die 1840’s het die Rynse Sendinggenootskap van Duitsland ook die Namibiese sendingveld betree en teen 1860 was daar reeds twaalf Rynse sendingstasies in Namibië. Die Londense Sendinggenootskap het in 1840 hul aktiwiteite in Namibië gestaak, en in 1865 het die Wesleyaanse genootskap hul sendingstasies aan die Rynse genootskap oorhandig (Wellington 1967:159–60; Heese 1978:253–4). Die groei van sendingbedrywighede is gefasiliteer deur die veranderde samelewing wat ontstaan het (vgl. afdeling 5.1) weens die Oorlams se hegemonie. Die stigting van sendingstasies het meegewerk aan hierdie verandering deurdat die sendeling as anker van die gemeenskap gesien is (Lau 1987:76). Soos in afdeling 4.3 aangedui is, het die sendelinge as verteenwoordigers van ’n Westerse kultuur verskeie rolle vervul. So was ’n sendingstasie in dié tyd ook ’n militêre sentrum, ’n mark vir handelaars en ’n sosiale sentrum vir godsdiens- en skoolopvoeding (Lau 1987:77-82). Omdat sendelinge soveel meer invloed as net godsdienstig gehad het, en dikwels ’n gemeenskap magtig(er) kon maak omdat hulle teenwoordigheid Westerse kommoditeite en vuurwapens meegebring het, was Jonker Afrikaner huiwerig om sendelinge onder die Herero toe te laat (vgl. Lau 1987:116). Ten spyte hiervan kon Hugo Hahn ’n sendingstasie te Barmen stig, en later ook in Otjimbingwe en Okahandja, ten einde die Herero te bearbei. Teen 1865 was daar dus sendingstasies (meestal deur Duitssprekendes beman) dwarsoor Suid- en Sentraal-Namibië met gemeentes wie se moedertale Afrikaans, Nama en Bantu-tale was.

Die sendelinge en hul aktiwiteite het ’n sekere prestige besit wat verder toegeneem het omdat diegene met mag en invloed hul werk ondersteun het, en soms self daaraan meegedoen het. So byvoorbeeld het veral die vooraanstaande lede van die gemeenskap hul vroue en kinders na die kerk en skool gestuur, onder wie selfs Jonker Afrikaner (Lau 1987:46). Welgestelde mense met genoeg bediendes het voldoende tyd gehad om te leer lees en skryf, en het soms groot gedeeltes van die (Nederlandse) Bybel gememoriseer (Lau 1987:80). Hierdie vooraanstaande mense was meestal Oorlams wie se taal (Afrikaans) alreeds weens hul magsoorwig prestige gedra het. Dit was waarskynlik een van die redes waarom Afrikaans/Hollands as taal vir godsdiens en onderwys deur die Duitse sendelinge gebruik is. Daarby het Afrikaans alreeds teen die middeldekades van die 19de eeu as lingua franca gedien tussen die Oorlams en die Nama, terwyl die Nama ook ten gunste van die taal was weens sy prestige-waarde.

Selfs die Nama wat (nog) nie Afrikaans kon verstaan nie, het op preke in Hollands aangedring. So skryf die sendeling Friedrich Eggert in 1856 op Gobabis: “Leider mussten Leute, da wieder kein Dolmetscher auf dem Platze war, holländische Gottesdienste gehalten werden, wovon die Hälfte der Leute nichts versteht” (aangehaal in Van der Merwe 1989:26, my kursivering). Gevolglik is preke dikwels getolk, soos die ontdekkingsreisiger James Alexander in 1837 oor Warmbad berig: “After breakfast Mr. Jackson preached in Dutch to a crowded Namaqua congregation, and his sermon was interpreted, sentence by sentence, into the Namaqua language, by a native schoolmaster” (aangehaal in Von Moltke 1976:37; vgl. Heese 1978:65–6). Toe die sendeling James Ridsdale ’n paar jaar later hier sy werksaamhede begin het, was hierdie gebruik nog steeds gangbaar (Heese 1978:83). Ten spyte daarvan dat enkele Nama nie die Hollands kon volg nie, was die gevoel tóg dat Hollands vir godsdiens gebruik moet word.

Hollands was ook grotendeels die taal van die skoolopvoeding. Die Nama, soos byvoorbeeld die Swartboois, het daarop aangedring dat hul kinders Hollands moes leer (Von Moltke 1976:43). Alhoewel sendelinge soos Hans Christian Knudsen en Hermann Kreft probeer het om onderrig in die Nama-taal in te voer, was ouers teen skoolonderrig in hul moedertaal gekant (Heese 1978:136, 146-7). Alhoewel iemand soos Krönlein, wat baie gedoen het vir die Nama-taal deur sy vertalings, wel onderrig in Nama op Berseba gegee het, was hy ook van mening dat leerlinge wel ook in Hollands onderrig moes word weens die toenemende kontak met die Kaapkolonie (Heese 1978:182). Selfs Friedrich Weber, die sendeling van die Rooinasie by Hoachanas wat aanvanklik gekant was teen onderrig in Hollands, het ter wille van die Nama se pro-Hollandse gevoel tog van besluit verander (Heese 1978:224). Ook in die sendingstasies van Hereroland, en veral in die Augustineum te Otjimbingwe, waar die seuns van vooraanstaande Herero’s opgevoed is, het onderrig in beide Engels en Hollands plaasgevind (Heese 1978:304–5).

Die meeste sendelinge was Duitssprekend, maar moes Afrikaans gebruik om met hul volgelinge te kon kommunikeer, en het op laasgenoemde se aandrang Hollands in die skole onderrig. Dit blyk daaruit dat die sendelinge dikwels ’n private dagboek in Duits (of soms Engels) gehou het, maar andersins Hollands moes skryf. So byvoorbeeld is in die Kirchenbuch Gibeon al die inskrywings in Hollands, al was die plaaslike sendeling, Johannes Olpp, Duitssprekend (Van der Merwe 1989:25). Die sendelinge self het briewe ontvang van Nama en Oorlams wat in Hollands geskryf is (vgl. o.m. Andersson 1989:257–60, 272; Van der Merwe 1989:46–7 en 191–2). Daar bestaan ook ’n Hollandse brief van Amraal Lamberts uit 1853 wat hy aan die “Rheinlandsche Genootschap” in Duitsland gestuur het (Van der Merwe 1989:48). In dié opsig het Afrikaans dus ook as ’n lingua franca gedien tussen Nama-, Herero- en Afrikaanssprekendes aan die een kant en Duitssprekende sendelinge aan die ander kant. ’n Baie insiggewende dokument is een wat die Duitse sendeling Franz Kleinschmidt in 1864 aan die Engelse handelaar Frederick Green te Otjimbingwe gestuur het (Andersson 1989:202–4). Die brief is in Hollands geskryf, wat ’n aanduiding is van hoe algemeen Afrikaans as lingua franca in Namibië gebruik is, selfs tussen twee persone wat nie een Afrikaans of selfs Nederlands as moedertaal gehad het nie.

Afrikaans is as lingua franca deur die sendelinge gebruik om met hul gemeentelede te kommunikeer. Alhoewel die sendelinge soms ambivalent was oor die gebruik van Hollands, moes hulle tog op aandrang van die plaaslike inwoners dié taal in die godsdiens en onderwys gebruik. Sodoende is daar nie net bygedra tot die prestige van die taal nie, maar is kennis van die taal ook uitgebrei. Veral die onderwysaktiwiteite van die sendelinge het baie daartoe bygedra om kennis van spesifiek geskrewe Hollands te verbeter.

5.4 Handel en ekonomie

Die 1840’s het nóg ’n verdere verandering in die Namibiese samelewing teweeggebring, naamlik die groeiende belangstelling van Europese handelaars in Namibië. Voor 1840 was daar feitlik geen belangstelling van die Kaapse regering of handelaars in Namibië nie, omdat dit as ’n onwinsgewende gebied beskou is. Daar was slegs ’n paar walvisjagters aan die kus, maar min of geen handel met die inwoners nie (Pilossof 2005:45–6). Maar dié situasie het in die 1840’s verander: “For the first time in the history of missionary and Khoikhoi interaction, trade relations between Namibia and the colonial market began to take off” (Dedering 1990:39).

Dit was ’n direkte uitvloeisel van die gebeure van die voorafgaande paar dekades in Namibië. Die Oorlams se kommando’s was daarop ingestel om vee te roof en daarom was hulle afhanklik van Westerse kommoditeite soos vuurwapens, wat vir vee verruil is. Dit was veral die Oorlams se strooptogte teen die veeryke Herero wat ’n winsgewende bedryf was. Aldus het ’n mark vir Westerse gebruiksgoedere ontstaan, én die middele om daarvoor te betaal. Die ander meehelpende faktor was die teenwoordigheid van Europese sendelinge. Nie net het hulle alreeds gedien as tussengangers met die Kaapse mark nie, maar hulle het ook meegewerk aan die vestiging van ’n verwesterste infrastruktuur (vaste woonplaatse) wat tot die handelaars se voordeel was. Op dié wyse is die “oopmaak” van Namibië deur die Oorlams en die sendelinge gevolg deur die uitbuiting van die gebied deur handelaars. Hierdie ekonomiese veranderinge is nie los te maak van die sosiopolitiese en kulturele veranderinge wat aan ’t ontwikkel was gedurend hierdie tydperk in Namibië nie. Die handelaars het inderdaad meegehelp aan die transformasie van die Namibiese gemeenskap (vgl. Dedering 1997:163–8, 173–5; Pilossof 2005:47–61).

Handel met die Oorlams en Nama was uiters winsgewend en verskeie handelaars het na Namibië verhuis om voordeel daaruit te trek. Teen die 1850’s is tussen 8 000 en 10 000 beeste per jaar na die Kaapkolonie uitgevoer (Lau 1987:89). In ruil hiervoor wou die Oorlams en Nama vuurwapens, ammunisie, waens en perde hê – duur kommoditeite wat hulle weer gebruik het om verdere strooptogte mee uit te voer. Hieruit het die handelaars groot wins gemaak (Lau 1987:92-3).

Die nuwe samelewing wat gedurende hierdie tyd aan ’t ontwikkel was, was afhanklik van die handelaars. Kapteins het jaloers gewaak oor wie toegang gehad het tot handelaars. So het Jonker Afrikaner byvoorbeeld probeer verhoed dat die Herero toegang verkry tot vuurwapens (Lau 1987:100). Ten einde handel te fasiliteer het Jonker ook met groot moeite en onkoste twee paaie in die 1840’s vanaf Windhoek laat bou: een na Walvisbaai en die ander op die roete oor die Auasberge na die Kaap (Lau 1987:61). Daarby het Jonker ook gereeld jaarmarkte in Windhoek gehou waarheen hy die Herero uitgenooi het. Windhoek het inderdaad in ’n belangrike handelsentrum ontwikkel (Lau 1987:108).

Ongelukkig was handel op lang termyn nie tot die voordeel van die Namibiërs nie. Hulle was nie die gelyke van die handelaars nie – hulle was veel eerder afhanklik van hulle. Die onderskeie kapteins het op verskeie maniere probeer om die handelaars se monopolie te verbreek, maar was onsuksesvol (vgl. Lau 1987:101–4). Teen die 1860’s en 1870’s, toe die handel sy hoogtepunt bereik het, was dit geheel en al onder beheer van die handelaars (Lau 1987:88). Dit is daarom dat handelaars soos Andersson hulself as belangrik en magtig genoeg beskou het om in te gryp in die politiek van Namibië.

Weens die groot belangrikheid van handel vir die Namibiese samelewing wou mense hulself bemagtig deur toegang tot handelaars te kon hê – ook taalkundige toegang. Weens die prestige wat Afrikaans reeds in Namibië geniet het, en die feit dat dit op vele vlakke reeds as lingua franca gebruik is, is dit ook deur die handelaars as sodanig aangewend. So byvoorbeeld het Charles John Andersson, ’n handelaar van Sweeds-Engelse afkoms, briewe in Hollands van beide Oorlams- en Nama-kapteins soos Christian Afrikaner en Dawid Swartbooi ontvang (Andersson 1989:201–2, 256–7). Later het ook Hendrik Witbooi Hollandse briewe aan handelaars van verskillende nasionaliteite gestuur (vgl. o.m. Witbooi 1929:38–41, 71–3, 109 en 119–20). Die handelaars self moes Afrikaans gebruik het in die omgang met hul klante. So byvoorbeeld bestaan daar ’n interessante brief wat vier handelaars van verskillende nasionaliteite in Julie 1863 “Aan de hoofden der Afrikaners” in Hollands geskryf het (Andersson 1989:260). Aldus is Afrikaans ook op ekonomiese gebied as lingua franca tussen verskille taalgroepe in Namibië gebruik.

As gevolg hiervan, en van die belangrike plek wat handelaars in die lewens van Namibiërs verteenwoordig het, was ’n kennis van Afrikaans vir niemoedertaalsprekendes belangrik. Omdat die handelstaal Afrikaans was, het dit bygedra tot die Nama se besef dat ’n kennis daarvan vir hulle voordelig sou wees (vgl. Von Moltke 1976:41). So byvoorbeeld het die Nama-kaptein Willem Swartbooi so erg oor dié saak gevoel dat hy sy kleinseun se Nama-boek uit die hand geruk het, met sy voet daarop gestamp het, en uitgeroep het dat die kind Hollands moet leer sodat hy kan verstaan wat die handelaars sê (Von Moltke 1976:37; Steyn 1980:126). Ook in Hoachanas, die setel van die Rooinasie, het die ouers in 1858 geëis dat hul kinders Hollands moet leer, volgens die getuienis van die sendeling Franz Vollmer: “Der Abgesandte sagte mir auch erlich, dass der holländische Unterricht gewunscht würde, damit die Leute besser mit den Händlern umgehen und ihnen sagen könnten: Für dieses Schaf will ich so und soviel Messer haben usw” (aangehaal in Van der Merwe 1989:29, my kursivering; vgl. Lau 1987:79). Afrikaans was dus teen die middel van die 19de eeu die lingua franca van handel in Namibië, en mense het besef dat dit voordelig sou wees om dit te kan praat.

Die onderhawige periode verteenwoordig ’n tyd toe kennis van Afrikaans uitgebrei is in Namibië, hoofsaaklik weens die aktiwiteite en posisie van die Oorlams.14 Weens laasgenoemde se mag, en die bedrywighede van die sendelinge en handelaars, is Afrikaans ook as lingua franca in sekere hoë funksies gebruik. Afrikaans was die prestigetaal, en het die meeste voorkeur gekry (vgl. Van der Merwe 1989:100). Gevolglik is dit gebruik in die politiek, die sosiale lewe en op ekonomiese gebied. Die tydperk van ca. 1870 tot 1920 verteenwoordig, ten spyte van die kolonisering deur Duitsland, ’n era waarin meer sprekers van ander Afrikaanse variëteite Namibië binnegekom het en aldus die posisie van die taal versterk het.

6. Afrikaans in Namibië, ca. 1870–1920

6.1 Die vestiging van die Basters

Soos reeds (in afdeling 3.2) verduidelik is, het daar gedurende die 18de eeu weens die interaksie tussen Europeërs, slawe en inheemse Suid-Afrikaners verskillende nuwe groepe ontstaan wat elk in ’n mindere of meerdere mate verwesters was. Een hiervan was die sogenaamde “Bastaards” oftewel “Basters”, dikwels beskou as die afstammelinge van verhoudings tussen Europese koloniste en slawe of Khoi-Khoin, alhoewel dit lyk asof die onderskeid tussen die Basters en Oorlams nie altyd ewe duidelik was nie.

Hoe dit ook sy, vanaf die laat 18de eeu het sommige van die Afrikaanssprekende Basters in groepe na die Noord-Kaap getrek, waar hulle hulle gevestig het. Weens die voortdurende noordwaartse uitbreiding van die blanke boere het die Basters steeds verder getrek. Vanaf 1861 het hulle veral in Boesmanland ingetrek, waar twee groepe by De Tuin, oos van Pella, saamgetrek het. Een van dié groepe het onder Dirk Vylander verder getrek en hulle teen 1865 by Mier en Rietfontein, net oos van die huidige Namibiese grens, bevind (Marais 1939:85–97).

Die groep onder Hermanus van Wyk het ’n ruk lank by De Tuin gewoon. In 1865 het die Kaapse regering die “Land Beacons Act” geproklameer, wat vereis het dat alle grondbewoners die eienaarskap van die grondgebied wat hulle beset het, moes kon bewys (Wellington 1967:155). In 1868 het die Van Wyk-groep die regering versoek om die gebied rondom De Tuin as ’n “Baster woongebied” te verklaar. Hierdie versoek is geweier, wat die Van Wyk-groep genoop het om weer eens verder noord te trek, en op 16 November 1868 het hulle die Oranjerivier oorgesteek (Marais 1939:98; Van der Merwe 1989:19).

Op soek na ’n vaste woonplek het hulle ’n ruk lank in Namibië rondgeswerf en teen 1870 by Rehoboth aangekom. Die sendeling Hahn het toestemming van die Herero-kaptein, Maherero, ontvang dat die Basters hulle in dié omgewing kon vestig waar die Nama Swartboois al reeds vir dekades gewoon het. Dertig Baster-gesinne het hulle in die Rehoboth-omgewing gevestig, waar hulle as buffer tussen die Afrikaners en die Herero gedien het. In 1909 het die Duitse besettingsmag die presiese grense van die “Bastard Gebiet” vasgestel met, op daardie stadium, tussen 2 000 en 3 000 Basters as inwoners (Marais 1939:98–102; Wellington 1967:155–6; Lau 1987:19). Die sogenaamde Rehoboth-Basters het spesiale behandeling ontvang van die Duitsers, wat hulle as “verhewe” bo die Nama en Oorlams beskou het – ’n onderskeiding wat hulle gedurende die 20ste eeu probeer handhaaf het (Dedering 2009:794).

Volgens die sendeling Olpp was daar in 1876 drie ander Bastergroepe naas die Rehobothers in Namibië, naamlik by Grootfontein, Kalkfontein en Rietfontein (Van der Merwe 1989:18). Alhoewel laasgenoemde net buite die oosgrens van moderne Namibië lê, verander dit niks aan die feit dat daar vanaf die 1870’s ’n taamlike teenwoordigheid van die Basters in Namibië was nie. Aldus is die aantal sprekers van Afrikaans in Namibië verhoog weens die migrasie van die Basters. Dit was ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Afrikaans in dié land, aangesien ’n taal se posisie nie slegs afhang van sy gebruik in hoë funksies nie, maar ook van ’n voldoende aantal moedertaalsprekers.

6.2 Die vestiging van blanke boere

Teen die 1860’s was daar slegs drie blanke boeregesinne in Namibië, wat onderskeidelik in die omgewings van Keetmanshoop, Rehoboth en Otjimbingwe gewoon het (Van der Merwe 1989:21). Vanaf die 1870’s het die situasie verander, enersyds omdat die potensiaal van die land deur die binnekoms van handelaars en sendelinge aangetoon is, maar andersyds ook omdat die Duitsers ná 1884 die gebied beheer het en daar algemeen gevoel is dat hulle die boere teen die inheemse inwoners van Namibië sou bevoordeel en beskerm.

In 1874 het ene Hendrik van Zyl, ’n jagter en handelaar, na Hereroland getrek. Nadat hy vir ’n ruk lank weer in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), oftewel die Transvaal, vertoef het, het hy ’n aantal plaaslike boere oorreed om saam met hom na Namibië te trek om die winsgewendheid van Hereroland te benut (vgl. Trümpelmann 1948:14–18). Dit is interessant dat die meeste boere eers na die noorde van Namibië getrek het, moontlik weens ekologiese oorwegings, maar dalk ook omdat Suid-Namibië alreeds beset was deur verwesterste mense wat op hul regte gestaan het. Hoe dit ook al sy, mens kan argumenteer dat dit die Transvaalse boere was wat Afrikaans na die noorde van Namibië gebring het, aangesien die Oorlams nooit dáár gevestig het nie, en die Herero en ander swart groepe nooit die taal as moedertaal aangeneem het nie.

Van die boere wat in dié tyd in Hereroland aangekom het, het deel uitgemaak van die sogenaamde Dorsland-trek. Sommige van die boere in die ZAR was ontevrede met die verkiesing van Thomas Burgers as president en het in 1875 begin om weg te trek (Preller 1941:87). ’n Groepie gesinne (waaronder veral die Albertse, die Van der Merwes en die Van Niekerks) het onder leiding van Gert Alberts weswaarts deur die Kalahari getrek en in 1876 in Namibië aangekom (Preller 1941:93, 99). Kaptein Amraal Lamberts het hulle toestemming verleen om in die omgewing van Gobabis te woon, maar hulle het ná ’n ruk weer verder getrek. Hierdie boere het saam met die latere “Dorsland-trekkers” die Kaapse regering om bystand gevra en is toegelaat om in die noordoostelike deel van Namibië (die sogenaamde Kaukauveld) te boer. Hulle was egter ontevrede met die grond en het in 1879 verder na Suid-Angola getrek (Wellington 1967:163). Sommige van hierdie trekkers was egter ook in Angola ongelukkig, en het onder leiding van Willem Jordaan weer teruggetrek na Noord-Namibië. Daar het hulle in 1885 die “Republiek Upingtonia” gestig. Kaptein Maherero was ongelukkig met hierdie verloop van sake, maar die republiek het in elk geval ná die dood van Jordaan tot ’n einde gekom. Gedurende 1887–1888 het heelwat van hierdie boere weer teruggetrek na die Transvaal of Angola toe (Wellington 1967:163; Van der Merwe 1989:22).15

Ten spyte daarvan dat die vestiging van blanke boere in Noord-Namibië, wat uiteraard Afrikaans van die Transvaalse variëteit gepraat het, nie baie suksesvol was nie, het dit tog ’n rol gespeel in die geskiedenis van Afrikaans in Namibië. Aan die begin van die 20ste eeu was daar reeds meer as ’n honderd boere in Damaraland (Trümpelmann 1948:105). Die koms van die Afrikaanssprekende boere het nie net die aantal moedertaalsprekers van dié taal in Namibië verhoog nie, maar hulle het dit ook oor ’n groter geografiese gebied versprei. Omdat die boere nie Herero geken het nie, en Afrikaans wél in sekere funksies deur die Herero as lingua franca gebruik is, kan mens aanneem dat Afrikaans ook vir kommunikasie tussen die boere van Suid-Afrikaanse herkoms en die plaaslike Herero in Noord-Namibië gebruik is. Op hierdie wyse het hulle meegehelp aan die uitbreiding van die gebruik van Afrikaans as lingua franca in Namibië.

Dit was ook gedurende hierdie era dat blanke boere in Suid- en Sentraal-Namibië begin intrek het. Teen 1888 was daar, met enkele uitsonderings, geen teenwoordigheid van blankes in Groot Namakwaland nie. Gedurende 1889–1890 het ’n groep verarmde boere uit die Piketberg-distrik onder leiding van Hendrik Smit noordwaarts getrek en hulle oor ’n tydperk van vier jaar in Suid- en Sentraal-Namibië gevestig (Preller 1941:238, 243; Trümpelmann 1948:64–9). Teen die einde van 1893 was daar 200 boere in Groot Namakwaland. Ná die Duitsers se onderwerping van die Nama en Oorlams in 1894 het Suid-Afrikaanse boere gevoel dat Namibië veiliger vir hulle sou wees, en het hulle getalle gevolglik vinnig toegeneem. So was daar teen die einde van 1895 reeds 610 blanke boere in Suid- en Sentraal-Namibië (Trümpelmann 1948:83). Hierdie boere, wat grotendeels uit die Kaapkolonie, maar ook uit die Oranje-Vrystaat gekom het (vgl. Trümpelmann 1948:77), was ook Afrikaanssprekend. Hulle het ook Afrikaans se posisie versterk deurdat daar meer moedertaalsprekers van die taal as ooit vantevore in Namibië was. Teen 1903 was daar in die hele Namibië meer blanke Afrikaanssprekendes as Duitsers (Cluver 1996:10). Uiteraard het hulle met die plaaslike Oorlams in Afrikaans gekommunikeer, en mens kan verwag dat dié taal ook deur hulle as lingua franca gebruik is vir omgang met die Nama en Duitsers.

6.3 Die Duitse besetting

Dit is nie noodsaaklik vir die doeleindes van hierdie artikel om op die besonderhede van die Duitse besetting in te gaan nie. Opsommenderwys kan mens noem dat Namibië onder Duitse invloed was vanaf 1884, toe die Duitse regering onderneem het om Lüderitz as “verversingspos” te beskerm, en veral ná 1890, toe Brittanje en Duitsland amptelik ooreengekom het dat Namibië ’n Duitse kolonie was, tot en met 1915 toe die Duitse magte aan die Suid-Afrikaners oorgegee het in die konteks van die Eerste Wêreldoorlog. Die Duitse oorname van Namibië het egter nie sonder teenkanting van die plaaslike bevolking plaasgevind nie. So byvoorbeeld het die Oorlamsleier Hendrik Witbooi gedurende 1884­­–1894, en weer in 1904–1905, probeer om die Duitsers teen te staan. Die Herero het ook in 1904 teen die Duitse magte in opstand gekom. Beide opstande was onsuksesvol en het tragiese gevolge vir die plaaslike inwoners gehad (vgl. o.m. Wellington 1967:167–224; Esterhuyse 1968). Die Duitsers was vir bykans dertig jaar die maghebbers (in meerder of mindere mate) in Namibië. Wat was die gevolg hiervan vir die posisie van Afrikaans in dié land?

Met die anneksasie van Namibië het aansienlik meer Duitsers die land binnegekom as ooit vantevore. Die Duitse sendelinge se aktiwiteite was een van die redes waarom Namibië in ’n Duitse invloedsfeer ontwikkel het, en verdere belangstelling in die land onder Duitsers aangewakker is. Met die dat Namibië ’n Duitse kolonie geword het, het staatsamptenare, soldate, handelaars en gewone burgers uit Duitsland die land beset. So byvoorbeeld het die aantal blanke mans van 2 800 in 1904 tot 4 900 in 1907 gegroei (Wellington 1967:217). Uit die aard van die saak kan mens verwag dat die aantal Duitssprekendes in Namibië sterk toegeneem het, en dat hulle juis diegene was met mag.

Gedurende die Duitse anneksasie was Duits die amptelike taal van Namibië, of Duits-Suidwes-Afrika, soos dit genoem was (Cluver 1992:118). Die Duitsers het ’n negatiewe houding teenoor Afrikaans (Hollands) gehad, en die gebruik daarvan as amptelike taal verwerp en pogings aangewend om hul eie taal te bevorder (Cluver 1992:124; Cluver 1996:12-14; Deumert 2009:356–61). Alhoewel die administrasie van die land en kommunikasie tussen die koloniale regering in Namibië en Duitsland in Duits was, was dit nie die geval sover dit kommunikasie met die plaaslike inwoners geraak het nie. Afrikaans was reeds voor die Duitsers se oorname as ’n lingua franca tussen verskillende taalgroepe in ’n verskeidenheid funksies gebruik (vgl. afdeling 5 hier bo). Omdat die magsposisie na die Duitssprekendes verskuif het, het Duits die regerings- en administrasietaal van die land geword. Afrikaans het egter ’n lingua franca gebly tussen die verskillende taalgemeenskappe van Namibië, insluitende die Duitsers.

As voorbeeld van die volgehoue posisie van Afrikaans dien die korrespondensie van Hendrik Witbooi met die Duitse magte. So skryf Witbooi (1929:73–7) oor politieke sake aan dr. Heinrich Ernst Göring, die Duitse “Kommisar für das Sudwest-afrikanischen Schützgebiet” gedurende 1885–90 (Esterhuyse 1968:99). Göring self het in Duits geskryf (vgl. Witbooi 1929:73, aantekening 1), maar Witbooi antwoord hom in Hollands. Witbooi (1929:126, 180–1) skryf ook in Hollands aan August Köhler, die “assessor” wat deur die Duitse regering uitgestuur is om kaptein Curt von François met die administrasie en regspleging van die kolonie by te staan (Esterhuyse 1968:169). Interessant is dat Köhler vir Witbooi met ’n Nederlandse brief antwoord (Witbooi 1929:182-3). Afrikaans was duidelik nog steeds die taal van die diplomasie, en die Duitsers het besef dat ’n kennis daarvan nodig sou wees om met die inwoners van Namibië te kan kommunikeer.

In Julie 1892 was daar ’n ontmoeting tussen Witbooi en Von François, sedert 1890 die Duitse “Landeshauptmann” vir Namibië. Witbooi (1929:130–9) het ’n notule bygehou van wat in die onderhoud gesê is. Hierin antwoord Von François in Afrikaans. Of hy dit wel gepraat het, weet ons nie uit die beskikbare getuienis nie, maar dit is tog belangrik om daarop te let dat Afrikaans steeds op politieke vlak as ’n lingua franca tussen verskillende gemeenskappe gebruik is. Gedurende die beleëring van Witbooi in Mei 1894 te Nauwkloof het hy ’n hele reeks briewe in Hollands aan majoor Theodor Leutwein, Von François se opvolger, geskryf (vgl. Witbooi 1929:204–39). Daar bestaan ook ’n brief wat Leutwein aan Witbooi in Hollands geskryf het (Witbooi 1929:228–9). Afrikaans het dus selfs gedurende die Duitse besetting as lingua franca gedien, selfs al was dit nie meer die taal van die politieke maghebbers nie.

Die Duitsers het besef dat Afrikaans die algemene lingua franca van Namibië was, en het ten spyte van hul voorkeur aan Duits tog daarvoor voorsiening gemaak. So byvoorbeeld is die “Verordening aangaande de invoer van vuur-wapens en amonitië in het zuid west afrikaansche beschermingsgebied”, onderteken deur Von François, in beide Duits en ’n Hollandse vertaling in 1892 in Rehoboth opgespyker (Witbooi 1929:239–42). Dieselfde proses is gevolg met ’n mynwet wat deur die Duitse mynowerheid opgestel is (Witbooi 1929:243).

’n Belangrike dokument, opgestel deur luitenant-generaal Lothar von Trotha, dien as ’n goeie illustrasie van hoe wydverspreid Hollands steeds as lingua franca in Namibië halfverwege die Duitse besetting was. Von Trotha het in 1904 met militêre versterkings in Namibië aangekom om die militêre pligte van Leutwein oor te neem. Hy is spesifiek afgevaardig deur die Duitse kabinet om die oorlog teen die Herero tot ’n einde te bring, wat hy wel met groot ongenaakbaarheid en deeglikheid gedoen het. Weens die wreedheid van die Duitse veldtog teen die Herero het Witbooi en die meeste ander Nama- en Oorlamskapteins in Oktober 1904 teen die Duitsers oorlog verklaar. Hulle was egter nie opgewasse teen die Duitse magte nie, en teen die einde van 1905 het Von Trotha die meeste van die “rebellies” suksesvol onderdruk (Wellington 1967:206–12). Op 22 April 1905 het Von Trotha ’n ope brief gerig “Aan de ontstuimige Nama” waarin hy hulle waarsku oor die gevolge van hul teenstand en wys op die mag en sukses van die Duitse soldate. Verder verklaar hy ook Hendrik Witbooi en die ander “schuldige hoofden” voëlvry en bied hy ’n bedrag geld vir die dood of inhegtenisname van elkeen aan.16 Hierdie dokument is nie net insiggewend in die toon en aard daarvan nie, maar ook die taal. Von Trotha skryf in Hollands (of laat dit in Hollands skryf) omdat dit die lingua franca van Suid- en Sentraal-Namibië was, ten spyte van die Duitsers se teenwoordigheid daar vir meer as twee dekades.

Dit blyk dus uit bostaande dat die Duitse besetting van Namibië wel veranderinge op die taalgebied vir die land meegebring het deurdat daar ’n groter aantal Duitssprekendes die land binnegekom het en hul taal in sekere hoë funksies gebruik is. Wat egter ook duidelik blyk, is dat Afrikaans teen dié tyd so sterk ingewortel was as lingua franca dat die Duitsers dit moes toegee en in hul omgang met die plaaslike inwoners voorsiening daarvoor gemaak het. Afrikaans was dus teen die vroeg 20ste17 eeu stééds die lingua franca in Namibië tussen verskillende taalgroepe in sekere funksies.

6.4 Die oorname deur Suid-Afrika

Suid-Afrika, as deel van die Geallieerde magte, het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog Namibië, synde ’n Duitse kolonie, binnegeval. In Julie 1915 het die Duitse magte oorgegee en het Suid-Afrika vir die duur van die oorlog die gebied beheer. Die Unie van Suid-Afrika het in September 1919 die mandaat vir “Duits-Suidwes-Afrika” aanvaar en die land vir die volgende 70 jaar beset (Wellington 1967:270).

Die besetting van Namibië deur Suid-Afrika het belangrike gevolge gehad vir die stand en funksie van Afrikaans. Namibië is bestuur deur amptenare van Suid-Afrika, en dit het gelei tot ’n groter teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse blankes in die stedelike sentra van die land. Die Suid-Afrikaanse regering het ook kort ná die toekenning van die mandaat ’n doelgerigte veldtog geloods om die blanke bevolking van Namibië te vergroot. Gevolglik is heelwat plase aan Suid-Afrikaanse boere toegeken, wat daartoe gelei het dat die Afrikaanssprekende boere in die noorde van Namibië (Hereroland) drasties toegeneem het (Wellington 1967:273–4; Von Moltke 1976:39).

Met die Suid-Afrikaanse oorname van die Namibiese administrasie het die amptelike tale van die Unie, naamlik Nederlands en Engels, ook die amptelike tale van Namibië geword. Duits was slegs erken as ’n semi-amptelike taal. Toe Afrikaans in 1925 een van die amptelike tale van die Unie geword het, het dit ook Namibië gegeld (Cluver 1992:119). Aanvanklik was Engels in die praktyk die taal van administrasie in Namibië, maar binne ’n paar jaar het die groot aantal Afrikaanssprekende boere en staatsamptenare veroorsaak dat Afrikaans die mees gebruikte taal in regeringsfunksies geword het (Cluver 1992:121). Aldus het Afrikaans nog verder gegroei as gevolg van die toename in lae funksies, terwyl die taal se hoë status verder verhoog is deur die amptelike erkenning daarvan (Van der Merwe 1989:101).

Die oorname en bestuur van Namibië deur Suid-Afrika het dus iets van ’n voortsetting én verandering in die status en gebruik van Afrikaans verteenwoordig. Meer Afrikaanssprekendes het die land binnegekom en die taal oor selfs nog ’n groter gebied versprei. Daarby het hierdie mense die politieke en ekonomiese mag gehad en dus Afrikaans se gebruik in die hoë funksies voortgesit. Afrikaans was reeds ’n lingua franca in Namibië vóór die koms van die Suid-Afrikaners, maar deur hul teenwoordigheid is sy posisie versterk, ook in die noorde van die land waar Afrikaans nie voorheen as lingua franca in lae funksies gedien het nie. Die koms van die Suid-Afrikaanse maghebbers het ook die amptelike status van Afrikaans verander wat weer, na 30 jaar van Duitse oorheersing, as regeringstaal gedien het. Dit is duidelik dat weens die teenwoordigheid van Suid-Afrika in Namibië, die bevolking van die land se kennis van Afrikaans toegeneem het (vgl. Van der Merwe 1989:100). Wat egter ewe belangrik is om te besef, is dat die grootskaalse oorname deur Afrikaanssprekende blankes van die hoë funksies (bv. regering, onderwys en handel) veroorsaak het dat een variëteit van Afrikaans voorkeur gekry het en die prestigetaal geword het. Die variëteite wat vir baie jare deur die Oorlams en Basters gebruik is, het gestigmatiseer geraak en daar is gevolglik deur skoolopvoeding gepoog om Standaardafrikaans te bevorder. As gevolg hiervan het Standaardafrikaans vanaf die 1920’s die taal geword wat in hoë funksies in Namibië gebruik is (vgl. L.T. du Plessis 1985:59–61).

7. Gevolgtrekking

Teen die tyd van die Suid-Afrikaanse oorname in Namibië was ’n vorm van Afrikaans reeds vir langer as ’n eeu in dié land in gebruik. In die voorgaande gedeeltes is die vestiging, verspreiding en aard van Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800–1920, beskryf teen die agtergrond van die sosiopolitiese, ekonomiese en kulturele veranderinge wat die Namibiese gemeenskappe gedurende die onderhawige tyd ondergaan het. Dit was uiteraard nie moontlik om op elke aspek van die geskiedenis in te gaan nie, maar die belangrikste ontwikkelinge met betrekking tot die geskiedenis van die vestiging en verspreiding van Afrikaans is wel aangetoon.

Die kontak tussen die Europese taal en kultuur en dié van die Khoi-Khoin het nie net nuwe sosiale groepe laat ontstaan nie, maar ook meegehelp aan die ontwikkeling van ’n nuwe taal, Afrikaans. Een van hierdie verwesterste en geakkultureerde groepe, die Oorlams, speel ’n baie belangrike rol in hierdie geskiedenis. Dit is ironies dat die Oorlams deur kontak met Europeërs ontstaan het, maar dit juis as gevolg daarvan nodig gevind het om die Kaapkolonie te verlaat. Dit was hierdie Oorlams wat in verskillende groepe Afrikaans gedurende ca. 1800–1810 Suid-Namibië binnegebring het. Maar die Oorlams het ook ’n hele nuwe kultuur met hulle saamgebring. Saam met die sendelinge, wat gedurende dieselfde periode aktief in Namibië begin raak het, het hulle ’n verwesterste kultuur afhanklik van Westerse kommoditeite die land binnegedra. Deur interaksie tussen die verwesterste Oorlams, die sendelinge en die Nama het ’n nuwe gemeenskap in die periode 1810–1840 ontstaan wat op die kommando-stelsel gebaseer en afhanklik van die Kaapse markte was. Weens die status en mag van die Oorlams in hierdie samelewing het Afrikaans dus ’n prestigetaal geword. Gedurende hierdie tydperk het Afrikaans dan ook gedien as ’n lingua franca in lae funksies tussen die Nama, Oorlams, Europeërs en sommige van die Herero. Dit het egter veral weens sy prestige die lingua franca in hoë funksies geword, en is gebruik as regeringstaal, skooltaal, kerktaal en handelstaal. Vanaf ca. 1870 is die posisie van Afrikaans verder versterk deur die binnekoms van ander Afrikaanssprekende groepe, soos die Basters en blanke boere. Dit was ’n belangrike ontwikkeling, aangesien ’n taal wat slegs in, of meestal net vir, hoë funksies gebruik word, kan stagneer of selfs uitsterf. Die toename in Afrikaanssprekendes wat gedurende hierdie tyd plaasgevind het, het die taal se funksie as lingua franca verder verhoog. Juis as gevolg van hierdie sterk posisie teen die 1880’s kon Duits nie Afrikaans as lingua franca bedreig nie, ten spyte van die koloniale magte se pogings om hul taal te bevorder. Alhoewel Duits gedurende die koloniale tyd die amptelike en regeringstaal geword het, het dit nooit baie algemeen geword nie, en is die Duitsers gedwing om Afrikaans as lingua franca te erken en te gebruik. Met die oorname van Namibië deur Suid-Afrika is die posisie van Afrikaans versterk deurdat dit mettertyd die amptelike taal van die land geword het en meer sprekers daarvan hulle in Namibië gevestig het.

Gevolglik kan mens met regte saam met Van der Merwe (1989:27) tot dié gevolgtrekking kom: “Afrikaans was (...) die lingua franca wat gebruik is waar Duitssprekende sendelinge en offisiere, Afrikaanssprekende Oorlamkapteins en Basters, en Namasprekendes wou kommunikeer.”

Maar watter soort lingua franca was Afrikaans in Namibië?

Met eerste oogopslag lyk dit asof Afrikaans, volgens Heine se onderskeid (vgl. afdeling 2.1), ’n B-tipe lingua franca was. Afrikaans self het sy ontstaan te danke aan Europese kontak met Afrika. Een van die gevolge van hierdie kontak was die Oorlamsgroepe wat ’n vroeë vorm van Afrikaans as hul moedertaal gebesig het. Die kontak met die Europese beskawing aan die Kaap het egter veroorsaak dat die Oorlams moes migreer, maar hulle was reeds aangewese op Europese kommoditeite vir die voortbestaan van hul kultuur en lewenswyse. Dit is hierdie kultuur wat hulle in Namibië ingebring het. Met die hulp van Europese sendelinge is die taal nog verder versprei. Omdat die Oorlams (aanvanklik) die magtigste groep in die Namibiese samelewing was, het hulle taal ’n sekere prestige-waarde ontwikkel en het dit die teikentaal geword van veral die plaaslike Nama wat grotendeels met die Oorlams geassimileer het. Alhoewel Afrikaans tot met die Duitse besetting merendeels die taal was wat vir hoë funksies gebruik is, het dit tog nie heeltemal die ander tale in Namibië verplaas in lae funksies nie. Nama het steeds die moedertaal van baie mense gebly, en is selfs in skole en kerke gebruik. Ten spyte hiervan was Afrikaans die taal met prestige en het die meeste Nama uiteindelik  tweetalig geword. Afrikaans het ook (sover ons weet) nie algemeen bekend onder die Herero geword nie, aangesien die Oorlams nooit so diep in hulle gebied ingedring het as wat die geval in Suid- en Sentraal-Namibië was nie. Dit was eers met die besetting van Noord-Namibië deur Afrikaanssprekende boere uit Suid-Afrika dat die taal deur hulle as lingua franca gebruik is om met die Herero te kommunikeer.

Ten spyte van die voorgaande redenasie, het die situasie met betrekking tot Afrikaans as lingua franca in 19de-eeuse Namibië tog elemente van ’n A-tipe-taal. Die taal wat die lingua franca geword het, is die land binnegebring deur indringers wat onder andere deur militêre oorwinnings die gebied oorgeneem het. Daarby het dit in ’n tydperk gebeur voordat Europese kolonisasie in Namibië begin het, en was daar geen Europese moondheid direk by betrokke nie. Desnieteenstaande staan dit vas dat Afrikaans in die vroeë 19de eeu deur die Oorlams na Namibië gebring is. Weens hul militêre oorwinnings en die integrasie met sommige van die ander Namibiese groepe, én met die hulp van die sendelinge, het ’n nuwe samelewing in Suid- en Sentraal-Namibië ontstaan waarvan Afrikaans as die lingua franca in die lae, maar veral ook in die hoë funksies, gedien het. Vanaf die laat 19de eeu, en veral ná die besetting deur Suid-Afrika, is die posisie van Afrikaans in Namibië verder versterk deur die migrasie van verdere Afrikaanssprekendes. Op hierdie wyse het Afrikaans dus die lingua franca van Namibië geword. Dit behou steeds, ten spyte van ’n veranderde politieke klimaat, hierdie status in groot dele van die land.

 

Bibliografie

Andersson, C.J. 1989. Trade and politics in central Namibia, 1860–1864: Diaries and correspondence of Charles John Andersson. Windhoek: Nasionale Argief.

Arends, J., P. Muysken en N. Smith (reds.). 1994. Pidgins and creoles: An introduction. Amsterdam en Philadelphia: John Benjamins.

Bakker, P. 1994. Pidgins. In Arends, Muysken en Smith (reds.) 1994.

Bradlow, E. 1980. Petrus Pienaar: Ruffian or courageous pioneer? Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, 34(3):94–9.

Cluver, A.D. de V. 1992. Language planning in Namibia: The selection of an official language. In Herbert (red.) 1992.

—. 1996. The role of stereotypes in the German perception of Afrikaans in Namibia at the turn of the century. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde Supplement, 32:3–22.

Dedering, T. 1990. Khoikhoi and missionaries in early nineteenth-century southern Namibia: Social change in a frontier zone. Kleio, 22(1):24–41.

—. 1991. The murder of William Threlfall: The missionaries in southern Namibia and the Cape government in the 1820s. Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal, 24(1):90–111.

—. 1997. Hate the old and follow the new: Khoekhoe and missionaries in early nineteenth-century Namibia. Stuttgart: Franz Steiner Verlag.

—. 2009. Petitioning Geneva: Transnational aspects of protest and resistance in South West Africa/Namibia after the First World War. Journal of Southern African Studies, 35(4):785–801.

Deumert, A. 2009. Namibian Kiche Duits: The making (and decline) of a neo-African language. Journal of Germanic Linguistics, 21(4):349–417.

Deumert, A. en W. Vandenbussche (reds.). 2003. Germanic standardizations: Past to present. Amsterdam en Philadelphia: John Benjamins.

Du Plessis, H.G.W. 1985. Afrikaans as “imposed” of “colonial” in SWA/Namibië. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 3(1):43–57.

—. 1994. Taalkontakvariasie in Afrikaans. In Olivier en Coetzee (reds.) 1994.

Du Plessis, L.T. 1985. Afrikaans afgedwing in SWA/Namibië? Du Plessis vs. UNIN. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 3(1):58–61.

Elphick, R. 1985. Khoikhoi and the founding of white South Africa. Johannesburg: Ravan Press.

Elphick, R. en H. Giliomee (reds.). 1989. The shaping of South African society, 1652–1840. 2de uitgawe. Kaapstad: Maskew Miller Longman.

Elphick, R. en V.C. Malherbe. 1989. The Khoisan to 1828. In Elphick en Giliomee (reds.) 1989.

Elphick, R. en R. Shell. 1989. Intergroup relations: Khoikhoi, settlers, slaves and free blacks, 1652–1795. In Elphick en Giliomee (reds.) 1989.

Esterhuyse, J.H. 1968. South West Africa, 1880–1894: The establishment of German authority in South West Africa. Kaapstad: C. Struik.

Ferguson, C.A. 1959. Diglossia. Word, 15:325–40.

Fishman, J.A. (red.). 1968. Readings in the sociology of language. Den Haag en Parys: Mouton.

Groenewald, G.J. 2002. Slawe, Khoekhoens en Nederlandse pidgins aan die Kaap, ca. 1590–1720: ’n Kritiese ondersoek na die sosiohistoriese grondslae van die Konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

—. 2004. To Leibniz, from Dorha: A Khoi prayer in the Republic of Letters. Itinerario, 28(1):29–48.

Heese, C.P. 1978. Die verband tussen onderwys en sendingwerk in Suidwes-Afrika, 1806–1870: ’n Kritiese beskouing van bepaalde aspekte. Ongepubliseerde MEd-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.

Heine, B. 1970. Status and use of African lingua francas. München: Weltforum Verlag.

Herbert, R.K. (red.). 1992. Language and society in Africa: The theory and practice of sociolinguistics. Johannesburg: Wits University Press.

Lau, B. 1987. Central and southern Namibia in Jonker Afrikaner’s time. Windhoek: Nasionale Argief.

Legassick, M. 1989. The northern frontier to c. 1840: The rise and decline of the Griqua people. In Elphick en Giliomee (reds.) 1989.

Luijks, C.A.D.M. 2000. The realisation of syntactic principles in non-standard Afrikaans: The correspondence of Jan Jonker Afrikaner (1820–1889). 2 volumes. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Kaapstad.

Marais, J.S. 1939. The Cape coloured people, 1652–1937. Londen, New York en Toronto: Longmans, Green and Co.

Mentzel, O.F. 1944. A geographical and topographical description of the Cape of Good Hope (vertaal deur G.V. Marais en J. Hoge). Volume 3. Kaapstad: Van Riebeeck Society.

Nienaber, G.S. 1989. Khoekhoense stamname: ’n Voorlopige verkenning. Pretoria en Kaapstad: Academica.

Olivier, G. en A. Coetzee (reds.). 1994. Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans: Opgedra aan Edith H. Raidt. Johannesburg: Southern Publishers.

Penn, N. 1999. Rogues, rebels and runaways: Eighteenth-century Cape characters. Cape Town: David Philip.

—. 2005. The forgotten frontier: Colonist and Khoisan on the Cape’s northern frontier in the 18th century. Athene: Ohio University Press; Kaapstad: Double Storey Books. 

Pilossof, R. 2005. Filling the void: Reconstructing Namibia’s maritime trade and economic connections with the Cape trading nexus, 1857–1895. Historical Approaches, 4(1):45–62.

Preller, G.S. 1941. Voortrekkers van Suidwes. Kaapstad: Nasionale Pers.

Pütz, M. en R. Dirven (reds.). 1989. Wheels within wheels: Papers of the Duisberg symposium on pidgin and creole languages. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. 3de uitgawe. Kaapstad: Nasou Beperk.

Roberge, P.T. 2003. Afrikaans. In Deumert en Vandenbussche (reds.) 2003.

Samarin, W.J. 1968. Lingua francas of the world. In Fishman (red.) 1968.

Stals, E.L.P. en F.A. Ponelis. 2001. Só het Afrikaans na Namibië gekom: Hollands-Afrikaans in Namibië vóór die koloniale tyd. Windhoek: Gamsberg Macmillan.

Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Trudgill, P. 1995. Sociolinguistics: An introduction to language and society. Hersiene uitgawe. Harmondsworth: Penguin.

Trümpelmann, G.P.J. 1948. Die boer in Suidwes-Afrika. Argief-Jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 11(2):1–166.

Van der Merwe, E.G. 1989. Die ontwikkeling, stand en toekoms van Afrikaans in SWA/Namibië. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Van Rensburg, M.C.J. 1989. Orange River Afrikaans: A stage in the pidgin/creole cycle. In Pütz en Dirven (reds.) 1989.

Von Moltke, J. 1976. Die Oorlams-Hottentotte en Afrikaans. SWA-Jaarboek 1976.  

Wellington, J.H. 1967. South West Africa and its human issues. Oxford: Clarendon.

Witbooi, H. 1929. Die dagboek van Hendrik Witbooi. Kaapstad: Van Riebeeck Vereniging.

—. 1996. The Hendrik Witbooi papers (vertaal deur A. Heywood en E. Maasdorp). 2de uitgawe. Windhoek: Nasionale Argief.

 

Eindnotas

1         Vir ’n bespreking van die ontstaan en die posisie van Oranjerivierafrikaans in die variëteite van Afrikaans, sien veral Van Rensburg (1989) en, meer onlangs, Luijks (2000:45–89).

2         Let daarop dat hierdie definisie op grond van die funksie van die taal geformuleer word, en nie op grond van enige taalkundige kenmerke nie. Verskeie taalkundige en sosiaal-funksionele faktore moet in ag geneem word ten einde ’n pidgin te definieer; vgl. kortliks hieroor Bakker (1994:26–7). ’n Meer uitgebreide bespreking, in die konteks van die ontstaan van Afrikaans, is te vinde in Groenewald (2002:39–85) en (2002:219–21).

3        Diglossie verwys na ’n situasie waar verskillende variëteite van ’n taal in verskillende funksies gebruik word, veral waar één spesifieke variëteit meer status as die ander het en gevolglik in die hoë funksies gebruik word (vgl. Ferguson 1959). Hierdie situasie het tot die laat negentiende eeu in Suid-Afrika geheers waar Afrikaans algemeen in die omgang gebruik is (m.a.w. dit was die spreektaal), maar Nederlands vir hoë funksies, soos vir regering, onderwys en godsdiens (m.a.w. dit was hoofsaaklik die skryftaal); vgl. hieroor Raidt (1991:238–42) en Steyn (1980:135–6). Ook tans bestaan daar ’n soort diglossie-situasie in die Afrikaanse taalgemeenskap.

4        Die Nama was nooit numeries baie sterk nie en teen die middel van die negentiende eeu was daar slegs omtrent 12 000 Nama (Lau 1987:8).

5         Visagie “had his grant of a farm at present-day Keetmanshoop in Namibia revoked for leading a band of ‘half-breed and Hottentot’ raiders, and was returned to the colony by an Oorlam-led colonial commando” gedurende die laat 1790’s (Legassick 1989:369; Lau 1987:21). Volgens Preller (1941:14) was Visagie se seun egter “veertig jaar later” (ná 1792) nog in die Keetmanshoop-omgewing.

6        Verwesterste (en bewapende) Khoisan het lankal reeds deel uitgemaak van kommando’s, maar in 1781 het goewerneur Van Plettenberg besluit dat bewapende mans van Khoi-Khoin-afkoms ook ’n aparte milisie moes vorm soos die sg. burgerwacht van Kaapstad. In die 1790’s het die Corps Pandoeren gegroei tot die sg. Hottentotten Regiment met sy eie offisiere, uniforms en vlae. Heelwat mense van “gemengde” afkoms was ongelukkig oor hul insluiting by hierdie liggame wat spesifiek op ’n kleurskeiding gebaseer is (vgl. Elphick en Malherbe 1989:35–6).

7        Dit is eers ná die skryf en aavaarding van hierdie artikel dat Stals en Ponelis (2001) onder my aandag gekom het. Alhoewel die doel van hierdie artikel in sommige opsigte van hul werk verskil (en ’n langer periode dek), kan die voorbeelde in die onderhawige artikel heelwat uitgebrei word aan die hand van materiaal in genoemde publikasie. Die twee werke behoort dus saam gelees te word.

8       Die woord Afrikaner (of Africaander) het natuurlik ’n veel ouer geskiedenis. Hier gaan dit spesifiek om die gebruik van die woord as ’n eienaam.

9        Selfs al het die Nama aanvanklik die sendelinge verwelkom, moet mens dit teen die agtergrond van die veranderde situasie in die vroeë-negentiende-eeuse Namibië sien: verwesterste Oorlams was reeds in Namibië en die Kaapse koloniale regering se mag net ten suide van die Oranjerivier. Die Nama het waarskynlik gemeen dat ’n sendeling voordelig vir hulle sou wees. 

10         Vergelyk die primêre dokumente wat in Andersson (1989), Luijks (2000) en Van der Merwe (1989) versamel is.

11         Dit het uitdrukking gevind in ’n teëstand teen die Europese kultuur en Christelike waardes, en ’n teruggryp na die “ou” Nama-kultuur van die tyd vóór verwestersing. So byvoorbeeld het kaptein Swartbooi en sy raadslede in 1854 besluit om vroue te dwing om weer die “tradisionele” Nama-kleredrag aan te neem, en ook om poligamie weer in te stel (die kaptein self het vyf vroue getrou). Dit is intrigerend dat die ontevrede lede van die gemeenskap, asook die meeste vroue en sommige jong mans (onder wie die kaptein se seun, David), hulle rondom die sendeling en sy kultuur geskaar het. Dit is moontlik dat hierdie splitsing ook op taalgebied plaasgevind het, al berig ons bronne niks hieroor nie. Hoe dit ook sy, ná 1857 het Swartbooi sy pogings om hierdie veranderinge af te dwing, laat vaar (vgl. Lau 1987:83–6, 114).

12        Dat dit inderdaad polities voordelig was om Afrikaans te ken, blyk uit die kwaai brief wat Willem Swartbooi, die Nama-leier van Rehoboth, te midde van die oorloë in die 1860’s op 16 Januarie 1864 aan Jonker Afrikaner oor die Griekwas geskryf het: “Hoor gij griekennaars [sic], kom niet weder met uwen worden ondertuien tegen mij, ik kend uwe hollands, ik kend uwe handschrif en ook de Afrikaner handschrif” (in Andersson 1989:279, my kursivering).

13        Witbooi (1996) bevat Engelse vertalings (met uitvoerige redaksionele kommentaar deur Brigitte Lau) van die dokumente in Witbooi (1929), asook enkele verdere dokumente van Witbooi wat ná 1929 ontdek is en nie in die vroeëre versameling ingesluit is nie. Aangesien dit hier om die geskiedenis van Afrikaans gaan, word daar verwys na die oorspronklike Hollandse dokumente van die 1929-uitgawe, al is laasgenoemde boek nie meer algemeen verkrygbaar nie. Helaas verskaf die meer onlangse versameling nie die oorspronklike Hollandse tekste naas die vertalings nie.

14         Dit geld ook Afrikaans in Suid-Afrika: gedurende presies dieselfde periode (1840–80) het migrante vanuit die Oos-Kaap (die sg. Voortrekkers) die area waar Afrikaans gebruik word, aansienlik uitgebrei met hul trek na en militêre dominansie van die Hoëveld.

15        Die sage van die sg. Dorsland-trekkers het eers in die twintigste eeu tot ’n einde gekom toe bykans 2 000 van hulle gedurende 1928–9 weer uit Angola na Namibië getrek het, waar die meeste hulle gevestig het. Dit is egter interessant dat sommige van die swart bediendes van die Dorsland-trekkers, wat mettertyd Afrikaans as hul moedertaal aangeneem het, in Angola agtergebly het en vir jare ’n variëteit hiervan (die sg. Van der Merwe-Afrikaans) gehandhaaf het (vgl. Du Plessis 1994:127–8).

16        My dank aan wyle dr. Carla Luijks wat ’n fotokopie van die oorspronklike Nederlandse dokument in die Windhoekse Argief aan my beskikbaar gestel het. ’n Engelse vertaling van die proklamasie is te vinde in Witbooi (1996:220).

17       Daar was wel ’n impak van Duits deurdat die kinders van Duitse mans en plaaslike vroue soms in Duits opgevoed is, terwyl die werkers en bediendes van die Duitse koloniste in sommige gevalle ook ’n variëteit van Duits aangeleer het, wat tot vandag in sekere gebiede (veral Swakopmund) gebesig word (vgl. Deumert 2009).

 

 
 
 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top