Afrikaans, Afrika en Japan: Afrikaans-Japannese woordeboek

  • 15

Ernst Kotzé (Foto: https://www.researchgate.net/profile/Ernst_Kotze)

’n Tweetalige Afrikaans-Japannese woordeboek vorm deel van ’n reeks woordeboeke wat deur die Instituut vir die Tale en Kulture van Asië en Afrika aan die Tokiose Universiteit vir Buitelandse Studies uitgegee word.

Menán van Heerden gesels met die outeur van die Afrikaans-Japannese Woordeboek (2017), Ernst Kotzé, oor die Japannese taal en die verskil tussen hierdie taal en die Chinese tale (wat die dialekgroep Mandaryns insluit).

Waarop is die aanvraag vir hierdie woordeboek gebaseer? Kulturele bande met Japan en Suid-Afrika en/of besigheidsbande tussen die twee lande?

Hoewel daar sterk sake- en kulturele bande tussen Suid-Afrika en Japan bestaan, was dit nie die primêre, of selfs ’n belangrike, oorweging wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van hierdie woordeboek nie. Trouens, die publikasie daarvan is glad nie kommersieel van aard nie, maar in die eerste plek akademies, omdat ’n vertalende woordeboek waarskynlik een van die beste maniere is om die woordeskat, uitspraak en kulturele agtergrond van tale met mekaar te vergelyk. Terugskouend was dit vir my ook ’n manier om met ’n ander oog na Afrikaans te kyk en ontdekkings oor die taal self te maak.

Die ontstaan van hierdie woordeboek kan teruggevoer word na ’n vyfjaarlikse kongres van die Internasionale Germanistevereniging in 1990, waarvan Afrikaans ook deel uitgemaak het (te danke aan Edith Raidt se bemoeienis by die Cambridge-kongres jare gelede), en daar belangstelling vanuit Japannese geledere was om so ’n woordeboek die lig te laat sien. Dit het daartoe gelei dat die Instituut vir die Tale en Kulture van Asië en Afrika aan die Tokiose Universiteit vir Buitelandse Studies (ILCAA) ’n uitnodiging aan my gerig het om as gasnavorser ’n periode van agt maande vir dié doel daar deur te bring, en die Universiteit van Kioto enkele jare later vir ’n periode van ses maande. Die antwoord op jou vraag is dus dat Afrikaans as taal van Afrika in Japan geïdentifiseer is om deel te vorm van ’n reeks woordeboeke wat deur ILCAA uitgegee word.

Waar kom jou eie belangstelling in hierdie taal vandaan?

Dit het ontstaan deur die kennismaking met ’n Afrikaansvaardige kollega, Takashi Sakurai, wat die gedagte aan ’n tweetalige woordeboek geopper het, en deur my persoonlike blootstelling aan die Japannese lewenswêreld tydens die 1990-kongres en daarna.

Vertel vir ons meer van Japannees as taal. Byvoorbeeld, hoe lyk die Japannese skryfstelsel en verskil dit van die Chinese skryfstelsel? Is Japannees deur Chinees beïnvloed (of omgekeerd)? Is daar verskillende dialekte van tale in Japan?

Japannees as taal is enersyds taaltipologies losstaande van ander Oosterse tale (daar is sekere strukturele ooreenkomste met Koreaans, maar hulle is nie genealogies verwant nie); en andersyds is daar bande met Chinees wat betref hulle skrifstelsel, en ook ’n taamlike voorraad ontleende woordeskatitems. Maar Japannees en Chinees (of liewer die Chinese tale, wat onderling beduidend van mekaar verskil) het grammaties en fonologies weinig met mekaar gemeen. Deur die kulturele dominansie van China, in vergelyking met die geïsoleerde posisie van Japan oor ’n lang tydperk, het Japan aanvanklik probeer om die Chinese skrifstelsel (of kanji, wat in Mandaryns hanzi genoem word) oor te neem, maar daar is mettertyd besef dat die groot verskille tussen die tale die eenvoudige oorname van dié stelsel (wat slegs betekenis aandui, en nie ook uitspraak nie) onmoontlik gemaak het. Dit het gelei tot die ontstaan van ’n uitspraakgebaseerde, beperkte skrifstelsel (die sg hiragana), waardeur die uitspraak van alle Japannese woorde moontlik is, asook ’n parallelle sisteem, die sg katakana, wat oa beperk is tot die uitspraak van Westerse leenwoorde en ander klankgebaseerde woordeskatitems.

Aan die een kant is die Japannese skrifstelsel dus meer gekompliseerd as die Chinese een (deurdat dit verskillende eiesoortige subsisteme bevat), maar aan die ander kant is dit vir Westerlinge en sprekers van tale wat uitspraakgebaseerde skrifstelsels het, veel makliker om agter die kap van die byl te kom, wat betref beide uitspraak en woord- en sinsbou. Daarbenewens het Japannees ook ’n skrifstelsel wat op die Romeinse alfabet berus, die sg roomaji, wat ’n betreklik maklike brug verteenwoordig tussen die onbekende eiesoortige Japannese skrif (kanji) en die bekende skrifsisteme van die Westerse en ander tale wat die Romeinse alfabet benut. Die Chinese het intussen ook ’n Romeinse skrifstelsel ontwerp wat op die uitspraak van Mandaryns berus (die sogenaamde pinying-stelsel), maar moeilik is om uit te spreek, omdat die klankwaardes van Romeinse letters afwyk van dit waarmee sprekers van byvoorbeeld Westerse tale bekend is. So word die naam Beijing byvoorbeeld in Mandaryns uitgespreek as “Peitsjieng”, omdat die letters p en b in die pinying-alfabet slegs ooreenstem met ’n geaspireerde teenoor ’n ongeaspireerde p, onderskeidelik.

Hoe word Mandaryns gedefinieer? Is dit Chinees, is dit ’n dialek?

Wat interessant is omtrent die Chinese tale, is dat verskillende tale wat onderling onverstaanbaar is, in hoofdialekgroepe ingedeel word. Elders is daar gewoonlik sprake van tale wat onderling verstaanbare dialekte omvat. In China is daar altesaam vyf dialekgroepe, waarvan Mandaryns een is (in Beijing staan Standaardmandaryns bekend as Putonghua, en in Taiwan as Guoyu), terwyl die ander vier Min, Wu, Hakka en Yue heet. Terloops, Kantonees, wat in Hongkong gepraat word, is ook een van die Yue-tale.

Is daar ’n aanvraag vir ’n Standaardmandarynse woordeboek in Suid-Afrika?

Ek vermoed dat dit toenemend die geval sal wees soos wat die betrokkenheid van China in Suid-Afrika toeneem, maar dit sal besondere strategieë verg om dit as aanleerwoordeboek bruikbaar te maak, aangesien die uitspraak van Mandaryns bepaalde uitdagings verteenwoordig. Toonhoogteverskille vir andersins identiese vokale word nie in die Chinese skrif (hanzi) aangedui nie, en die pinying-skrif sal dus ook diakritiese tekens moet bevat om die korrekte betekenis duidelik te maak.

Watter ander tweetalige woordeboeke met Afrikaans as een van die tale is al gepubliseer (byvoorbeeld Afrikaans-Zulu)?

Daar is al ’n hele aantal, wat veral ook ander Afrikatale behels, maar ook Europese tale (bv Duits, Latyn en Russies), almal van uiteenlopende omvang. Dit is dalk ’n vraag waaroor ’n mens ’n hele gesprek sou kon voer.

Is daar vanuit ons meertalige Suid-Afrikaanse perspektief (met mense wat nie altyd met mekaar in hul eie tale kan praat nie) ’n groter behoefte aan ander Afrikatale en Afrikaans-woordeboeke?

Bepaald. My ervaring, deurdat ek ook betrokke was by die samestelling van ’n Afrikaans-Zulu-woordeboek, is dat tweetalige woordeboeke nie net tweerigtingkommunikasie tussen sprekers van die betrokke tale bevorder nie, maar ook belangstelling prikkel in die taal en kultuur van die sprekers wat van twee kante by so ’n woordeboek betrek word. 

  • 15

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Hanno, volgens die jongste AWS (11de uitgawe, 2017) is albei spellings korrek. Ek dink die probleem het gekom met die provinsienaam, KwaZulu-Natal, wat net op hierdie manier geskryf word. Maar ek is ongelukkig oor die jongste AWS omdat daar redaksioneel nie konsekwent sensiwiteit is vir voorkeur aan bv "ingewikkeld" bo "kompleks" (p i, v) en "begrip" (p xix) bo "konsep" (p x) nie. Om Afrikaans doeltreffend te bevorder, beteken onder meer dat ons moet sorg dat Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar moet wees. Die Taalkommissie is "polities sensitief" (p x) en volg die "tydsgees" na (p vi), met die gevolg dat Afrikaanse woorde met uitstekende, selfs unieke, seggingskrag om politieke redes in die slag bly. Myns insiens behoort daar voorkeur aan taalkundige bo politieke oorwegings gegee te word. Selfs die WAT gaan gebuk onder politieke korrektheid en verarm Afrikaans weens die toepassing van sensuur.

    • "Efforts to maintain the "purity" of a language only succeed in establishing
      an elite class of people who know the shibboleths. Ordinary folks know
      better, even if they don't know what "shibboleth" means." - Larry Wall

    • Beste Johannes Comestor,
      Ek volg nie jou redenasie nie. Aan die een kant veroordeel jy die sensuur wat die WAT toepas weens politieke druk (ek stem saam), maar aan die ander kant wil jy hê die AWS moet voorkeur gee aan 'ingewikkeld" bo "kompleks", "begrip" bo "konsep", ens.
      Jy sê self woorde soos "ingewikkeld" en "begrip" het unieke seggingskrag, maw dit beteken nie presies dieselfde as "kompleks" en "konsep" nie. Afgesien daarvan kan daar ook sintaktiese verskille wees. Aan die eenkant bepleit jy verarming, en aan die ander kant veroordeel jy dit. Hoe so?
      Groete,
      Angus

      • Johannes Comestor

        Angus, my opmerking oor die unieke seggingskrag van sekere woorde verwys nie na "ingewikkeld" en "begrip" nie maar na sommige woorde wat "rassistiese" status verwerf het en wat ek seker nie mag noem nie. Ek gee voorkeur aan "ingewikkeld" en "begrip" omdat dit meer taaleie-Afrikaans as "kompleks" en "konsep" is, maw ek wil Afrikaans liefs so duidelik moontlik van Engels onderskei.

        • Hallo Karien

          Gee my net kans tot ná die 29ste - ek vertrek môre na Skandinawië vir 'n kongres, en sal dan weer terug wees. As jy begin September nog niks van my verneem het nie, stuur asb net 'n herinneringsnota.

          Groete

          Ernst

  • Karien Behrens

    Baie dankie Ernst , ek will regtig graag een van die woordeboeke bestel. Een van my kleinseuns gaan volgende jaar Japan toe vir sy M-graad en hy sal dit waardeer om die woordeboek te kry. Beste groete Karien Behrens.

  • Beste Johannes Comestor,
    Gee jy altyd voorkeur aan begrip bo konsep en ingewikkeld bo kompleks? As dit so is, dan is ek maar te bly dat jy weinig, indien enige, seggenskap het oor Afrikaans se verloop.
    Daar bestaan amper nie so iets soos algehele sinonimie nie, en hierdie woorde kom maar net met enkele betekenismomente ooreen. 'n Mens het begrip daarvoor, maar praat van 'n konsepgrondwet. Iets kan ingewikkeld wees, maar die man het 'n kompleks oor een of ander saak. Dan praat 'n mens ook van 'n kompleks woonstelle. Daar is ook 'n gevoelsverskil tussen 'n ingewikkelde probleem en 'n komplekse probleem.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top