AfriForum: EFF lede-werwers par excellence

  • 3

Own goals meaning:

  1. Soccer: a goal scored (for the opposite team)* by a player accidentally playing the ball into his own team’s net;
  2. Any action that results in disadvantage to the person who took it or to a party, group etc with whom that person is associated. (Collins English Dictionary)

AfriForum het aangekondig dat hulle privaatvervolging teen Julius Malema, leier van die EFF, wil instel.

As hulle gedink het Malema gaan bewend ineenstort, sit hulle die pot ver mis. Inteendeel, hulle het waarskynlik die enkele grootste ding gedoen wat hulle kon om Malema se verkiesingsveldtog op ’n hoë noot af te skop.

Daar is twee aspekte van hierdie privaatvervolging waarna behoorlik gekyk moet word: die regsaspek en die politieke aspek.

Eerstens die regsaspek.

Die konsep van privaatvervolgings is oud in ons reg, maar dit word bitter selde gebruik, en dit is onderhewig aan streng reëls.

Die heel eerste reël is dat privaatburgers nie kan inmeng in ’n saak waarmee die staat besig is nie. Dit beteken dat privaatpersone (of, in sekere omstandighede, regspersone) moet wag totdat die staat aandui dat hulle nie gaan vervolg nie voordat hulle kan inspring. Dit gebeur gewoonlik deurdat die staat ’n sertifikaat nolle prosequi (letterlik: “wil nie vervolg nie”) uitreik waarmee hulle hulle gebrek aan belangstelling in die saak aandui. Daar is natuurlik ’n aantal redes waarom die staat kan besluit hulle wil nie vervolg nie.

Die staat het nog nie in hierdie geval aangedui dat hulle vervolging staak nie. Inteendeel, hulle direkteur van openbare vervolgings het aangedui dat hulle eers teen Augustus vanjaar ’n besluit oor die aangeleentheid sal neem.

In sommige beperkte gevalle is daar wetgewing wat privaatpersone toelaat om privaatvervolgings in te stel selfs waar die saak nie ge-nolle is nie. Hierdie saak val, ongelukkig vir AfriForum of gelukkig vir Malema, nie in daardie kategorie nie.

Die tweede reël is dat die persoon wat die vervolging instel, ’n direkte en persoonlike belang by die uitkoms moet hê. Normaalweg beteken dit die persoon wat die vervolging instel, moet bewys dat hy persoonlik te na gekom is deur die optrede van die ander party in die privaatvervolging. Organisasies en regspersone kan nie persoonlik benadeel word nie, wat beteken dat AfriForum nie in eie naam die vervolging kan instel nie. Hulle moet dus ’n klaer vind wat kan bewys dat hulle uit eie reg en direk benadeel is deur Malema se beweerde korrupsie, want dis waarvan hulle hom wil aankla. Kallie Kriel, Afriform se hoof, was ’n klaer op die oorspronklike saak, maar of hy persoonlike belang en benadeling kan bewys, is ’n ope vraag. Hulle kan nie argumenteer dat hulle in openbare belang, namens ander burgers, optree nie, want klasaksies word nie toegelaat in privaatvervolgings nie.

Die heel eerste hekkie wat AfriForum moet oorkom: hulle sal die Strafproseswet soos gewysig moet aanval en ’n hof so ver kry om dele daarvan ongeldig te laat verklaar voordat hulle naby Malema kan kom. Dis nou op die veronderstelling dat die staat aandui hulle stel nie belang om Malema self te vervolg nie.Ek twyfel of enige hof sonder meer die wet sal wysig.

Maar goed, net interessantheidshalwe: Wat gebeur in die onwaarskynlike geval dat AfriForum dit regkry om die regshekkies te oorkom? Heel eerste, indien hulle die nolle prosequi ontvang, het hulle drie maande om die vervolging in te stel. Hulle moet ’n sekuriteitsdeposito by die toepaslike hof inbetaal. Die bedrag word van tyd tot tyd aangepas, gewoonlik deur ’n aankondiging in die Staatskoerant. Die beskuldigde in ’n privaatvervolging word nie in hegtenis geneem nie, sodat die normale gekibbel oor borg ens nie deel van die prosedure is nie. Indien die vervolgende party nie by die eerste verskyning opdaag nie (bv Gerrie Nel kry griep en is plat in die bed), word die saak teruggetrek en hulle mag nie weer teen Malema optree nie.

Die tweede aspek wat aandag verdien, is die politieke sy van die saak.

Die stukrag van die EFF is grootliks geneutraliseer toe Zuma as president verwyder is. Kiesers wat onvergenoegd met die ANC was, en bereid was om EFF toe oor te gaan, is skielik weer ’n meer aanvaarbare ANC aangebied. Malema en die EFF moes vinnig hulle verkiesingsboodskap verander. Dus: grondonteiening sonder vergoeding.

Malema het sy vinger baie goed op die pols van wat kiesers nodig het. Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse kiesers wil grond besit. Wat dit prakties beteken, grond of behoorlike behuising, is nie binne die omvang van hierdie artikel nie. Kom ons aanvaar vir doeleindes van hierdie artikel net bloot dat mense grondeienaars wil wees. Malema bied hulle dit aan as deel van sy verkiesingsbeloftes. Dis nie ter sprake of hy in staat sal wees om dit te lewer nie; dis die belofte.

Nou kom hierdie organisasie wat algemeen aanvaar word as die beskermer van wit belange, en hulle vervolg Malema vir ’n saak waarvan die meeste mense in die land al vergeet het. Kort voor die verkiesing, en kort nadat hy belowe het hy gaan hom beywer daarvoor dat swart mense grond kry. Voilà. AfriForum het so pas daarin geslaag om die indruk te gee dat Malema vervolg word omdat wit mense swart mense daarvan wil weerhou om grond te bekom. Dis beslis die boodskap wat Malema gaan verkondig. Dit blaas nuwe vuur in sy verkiesingsveldtog.

Dis die effektiefste ledewerwingstrategie wat ek in ’n lang ruk gesien het. Ek reken AfriForum behoort ’n rekening vir Malema te stuur vir dienste gelewer: ledewerwing.

Die beste regsuitkoms waarop AfriForum kan hoop, is dat hulle druk op die Nasionale Vervolgingsowerheid sal plaas om Malema te vervolg. Hulle eie hande is grootliks gebind en hulle het nie regtig regsgronde waarop hulle Malema kan vervolg in privaathoedanigheid nie.

Ongeag watter kant toe die saak gaan, dit sal nie betyds afgehandel word voor die algemene verkiesing volgende jaar nie, veral nie indien die ANC ’n vervroegde verkiesing uitroep nie.

Intussen het AfriForum Malema ’n geskenk gegee wat beter is as een vir Kersfees, Nuwejaar, Paasfees en sy verjaarsdag ineengerol. Dis die beste demonstrasie van scoring own goals wat ek in ’n lang tyd gesien het, maar natuurlik presies wat van AfriForum verwag kan word.

Veels geluk, Kallie Kriel en Gerrie Nel!

 

* My toevoeging

  • 3

Kommentaar

  • Bettina, ek is redelik seker dat Nel meer as bewus is van die regsaspekte van die inisiatief. So wat jy berig weet hy reeds. Dis nie nuus nie. My opsomming van die politieke dimensie - hy sal sê "dit pla hom nie want hy werk nie vir 'n politieke party nie" Hy wil reg en geregtigheid laat seëvier. Is die beskuldigde skuldig of onskuldig. As die NVG vervolg is dit die ANC regering teen Malema.

  • Chris Marnewick SC

    Die persepsie (reg of verkeerd) wat die EFF en Afriforum met hulle retoriek en wedersydse dreigemente skep is dat hulle maar net swart (Eff) en wit (Afriforum) is wat 'n windmeul van weerskante aanpak.

    Sulke mense kan geen stukrag geniet as ons hulle manewales ignoreer nie.

  • Ag ek dink die skrywer van die artikel is bietjie bevooroordeeld teen Afriforum. Die persoonlike vervolging teen Malema het nou skielik 'n ander wending volgens hom. Ek sien geen verband tussen die verkiesing en die vervolging nie. Ek glo ook verseker dat Gerrie Nel die wet ken. Dalk wis hulle mekaar nog uit voor die verkiesing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top