Adam Small-fees: Ramaphosa moet homself eers bewys

  • 0

Jean Oosthuizen en Jacques Pauw by die Adam Small-fees

President Cyril Ramaphosa sal ’n opdraande stryd hê om die land van korrupsie te red. Suid-Afrikaners moenie te gou opgewonde raak oor sy presidentskap nie. Almal dink Ramaphosa is ’n goeie ou maar ons weet nog nie regtig of dit wel so is nie en sal eers moet wag en sien wat hy gaan doen.

So sê Jacques Pauw, die skrywer van die boek The President's Keepers wie se boek binne enkele dae na die publikasie daarvan alle rekordverkope vir ’n Suid-Afrikaanse boek oortref het.

Pauw het die afgelope naweek tydens die tweede Adam Small-fees op Pniël buite Stellenbosch ’n skrikwekkende prentjie geskilder hoe die Zuma-administrasie die land geplunder het om hulself te verryk. Miljarde rand is oor ’n lang tyd gesteel en dit sal naïef wees om te dink Ramaphosa kan dit ongedaan maak, het Pauw gesê.

Pauw het die gehoor gemaan om nie te gou opgewonde te raak oor Ramaphosa nie. Hy sê daar moet in gedagte gehou word dat hy Zuma se hand vir baie jare vasgehou het en hom verdedig het. Almal in die land is skielik baie opgewonde oor die nuwe president maar Pauw sê Suid-Afrikaners sou gejuig het selfs al het Leon Schuster  in die plek van Zuma president geword.

Oud-regter Johan Kriegler en Adrian Lackey het gesels oor Lackey se boek Rogue - The Inside Story Of SARS's Elite Crime-busting Unit. Net soos Pauw het hulle die gehoor se hare laat rys oor die grootskaalse korrupsie, rampokkery en onderduimse skelmstreke wat die land onder Zuma se bewind geteister het. Baie van diegene wat gehelp het om die land rot en kaal te steel is steeds in belangrike regeringsposte.

Volgens Pauw is al manier om die grootskaalse korrupsie wat in soveel staats- en semi-staatsinstellings wortel geskied het uit te roei, is om die kundige mense wat die land se wetstoepassingsowerhede verlaat het, terug te bring.

Hy sê daar het omtrent niks van die Valke oorgebly nie. By die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is daar hoegenaamd geen ondersoekeenheid meer oor nie. Dit was nog nooit veiliger om grootskaalse belastingbedrog in Suid-Afrika te pleeg as nou nie.

As die kundigheid wat die land se vervolgingseenhede verlaat het nie teruggebring word nie, sien hy min hoop dat die skuldiges ooit aan die pen sal ry.

Pauw voorsien nie dat daar grootskaalse vervolgings gaan wees as gevolg van staatskaping nie. Sulke sake kan jare duur en dit gaan ’n fortuin kos aan regskoste alleen omdat die skuldiges van die beste regshulp in die wêreld sal gebruik maak om hulle uit die tronk te hou.

Hy hoop egter Zuma sal wel aangekla word en dat hy sy dag uiteindelik na 12 jaar in die hof sal kry soos wat hy graag wou hê. Daar is ’n berg van getuies beskikbaar om die katnes van korrupsie oop te vlek. Die probleem is dat die organisasies wat moet sorg dat reg en geregtigheid in die land geskied feitlik tot op die grond vernietig is deur Zuma en sy trawante.

Die enigste drie pilare wat die land tot dusver in stand gehou en gesorg het alles stort nie in duie nie, is die howe, die media en die burgerlike samelewing, sê Pauw. Hy het die burgerlike samelewing aangemoedig om nie nou op hulle louere te rus omdat Ramaphosa die land se nuwe president is nie. Ramaphosa alleen kan die land nie red nie.

Die grootste tekortkoming in ons land se grondwet is volgens Pauw dat dit te veel mag in die President se hande plaas. “Die grondwet is geskryf met ’n Nelson Mandela in gedagte. Niemand het kon droom ons sal met ’n Zuma sit nie.” Zuma het al die belangrike staatsinstellings en wetstoepassingsowerhede feitlik vernietig deurdat hy sy lakeie oral in strategiese posisies aangestel het ingevolge die mag wat die grondwet aan hom verleen het.

Op ’n vraag of hy vrees vir sy veiligheid en bang is hy gaan in die tronk gegooi word as gevolg van sy boek het Pauw gesê, nee, nie een van die twee nie. Sy uitgewers het aanvanklik ’n lyfwag aan hom voorsien na die dreigemente wat hy na die boek se verskyning ontvang het. Hy het egter gou besluit om van die lyfwag ontslae te raak omdat daar derduisende Suid-Afrikaners is wat hom ondersteun en bystaan. Hy het ook geen vrees dat hy tronk toe sal gaan nie, want diegene wat hom in die tronk wil hê het geen saak teen hom nie en tree soos amateurs op.

Adrian Lackay, die fluitjieblaser en voormalige woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat sy werk verloor het omdat hy die waarheid gepraat het, sê diegene wat die land so besteel het moet aangekla word en tronk toe gaan.

Lackay het 11 jaar vir SARS gewerk toe hy feitlik geen ander keuse gehad het as om te bedank nie omdat hy nie meer geassosieer wou word met die onreëlmatighede by die Suid-Afrikaanse inkomstediens nie.

Hy is die medeskrywer van die boek Rogue - The Inside Story Of SARS's Elite Crime-busting Unit wat die verhaal van Johann van Loggerenberg vertel en die binnestorie by SARS wat hom uiteindelik sy werk gekos het.

Lackay is ’n boorling van Pniël waar die Adam Small-fees jaarliks gehou word en is deur die gemeenskap geloof vir sy integriteit, eerlikheid en waagmoed.

Oud-regter Johan Kriegler wat Lackay bygestaan het in die moeilike tye toe hy vals beskuldig is van allerhande onreëlmatighede sê regtens is daar min wat gedoen kan word om diegene wat hulle werk as gevolg van die afgelope jare se onreëlmatighede verloor het heraangestel te kry. Hy hoop egter die nuwe winde van verandering wat oor die land waai sal sorg dat hulle name weer in ere herstel word.

Lackay en ander onskuldige mense soos Johann van Loggerenberg se integriteit is beswadder as gevolg van die Sunday Times se tientalle vals berigte oor die sogenaamde rouge unit by SARS. Meer as 30 vals berigte het oor ’n lang tydperk verskyn voordat die koerant verskoning moes vra omdat hulle vals inligting wat aan hulle gelek is vir die waarheid opgedis het. Kriegler sê ten spyte van die ongelukkige voorval verkies hy steeds ’n land met joernaliste wat jok as ’n land met geen joernaliste nie.

Die afgelope jare se donker politieke wolke wat die naweek oor die Adam Small-fees in Pniël gehang het, is opgehelder met die stemme van Breyten Breytenbach wat van sy ongepubliseerde gedigte voorgelees het en Hemelbesem wat die gehoor met sy aansteeklike en inspirerende optimisme hoop gegee dat mens nie hoef vas te steek in die verlede of die moeilike omstandighede waaruit ons kom nie.

Deur openlik oor sy eie wonde te praat en dit vir die mense te wys inspireer hy vandag ander mense wat uit dieselfde moeilike omstandighede as hy kom. Baie van die goed wat vandag in die wêreld gebeur is volgens Hemelbesem die gevolg van foute wat in die verlede gemaak is waaruit iets goed gebore is en die mensdom iets kon leer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top