An act of defiance: ’n onderhoud met Antoinette Louw

  • 0

Antoinette Louw het pas 'n toekenning as beste aktrise by die Kaapstadse Internasionale Filmfees ontvang. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar rol in die film An act of defiance.

Antoinette, baie geluk met die toekenning as beste aktrise vir jou rol in An act of defiance by die Kaapstadse Internasionale Filmfees! Vertel my eerste iets van die film, asseblief.

Baie dankie. An act of defiance gaan oor Bram Fischer se lewe tydens die Rivionia-hofsaak. Hoe dit sy en sy gesin se lewens beïnvloed het. Alhoewel die storie tydens die hofsaak afspeel, fokus die film op wie die man Bram Fischer was, en op sy vrou, Molly. Hulle lief en leed, en hoe hulle probeer oorleef het onder baie moeilike en vyandige omstandighede. Dis nie ‘n politieke film nie, maar ‘n menslike een.

En vertel my van jou karakter. Het jy dit geniet om die rol te vertolk? Wat was moeilik, wat was lekker?

Ek speel Molly Fischer. Ek dink die moeilikste vir my was die wete dat ek ‘n ware persoon moet vertolk. Daarby leef Bram en Molly se twee dogters, Ruth en Ilse, nog. Die druk was groot. Dit was vir my uiters belangrik om hulle goedkeuring weg te dra. Om ‘n Molly uit te beeld waarop nie net ek nie, maar ook hulle trots kan wees. Want Molly was ‘n merkwaardige vrou. Die ruggraat van Molly en Bram se verhouding. Inderdaad soos die ou gesegde sê, agter elke man ...

In dieselfde asem was dit ook die lekkerste. ‘n Groot uitdaging. Want Molly het soos ‘n vriendin geword vir wie ek baie lief is. En alhoewel ons baie verskillend is, is daar baie eienskappe van haar waarmee ek kon identifiseer. Ek wens met my hele hart ek het haar geken. Ek weet dat ons baie lekker saam sou wyn drink. Of altans, ek my wyn en sy haar whiskey.

Antoinette Louw as Molly Fischer (foto verskaf)

Jy is so veelsydig – hoe vind jy jou karakter se unieke stem, hoe leer jy haar telkens ken? En hierdie betrokke karakter: was daar iets spesifieks wat veroorsaak het dat jy makliker in haar vel kon inklim?

Eerstens, dankie vir die kompliment. Elke karakter is maar ‘n proses. Vrae soos: Wat wil die karakter in haar lewe hê? En hoekom? Waarvoor is sy bang? Wat is haar goeie eienskappe? En haar slegtes? Dis die antwoorde op hierdie vrae wat elke karakter – en mens – uniek maak.

Molly Fischer was vir my maklik om te verstaan. Want sy, nes ek, glo in menslikheid en geregtigheid. Het ‘n groot liefde vir ons land en haar mense. En dis waarop ek gefokus het.

Ons – kinders van ‘n sekere tyd en generasie – het selektiewe gedeeltes van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer toe ons nog op skool was. Het jy navorsing gedoen oor die tyd en die werklike mense waaroor hierdie film gehandel het? En wat het jy vasgestel?

Ek het alles wat ek in die hande kon kry, verslind. Boeke gelees, dokumentêre gekyk, met Ruth Fischer gepraat, die Rivonia-museum gaan besoek. Dit het my wêreld oorgeneem. Ek was van vooraf hartseer en kwaad – die emosies het my oorweldig. Hierdie ongelooflike mense wat so min Suid-Afrikaners van weet. Mense wat deur soveel pyn en hartseer is, en verwerping. Ek raak nog steeds kwaad en hartseer as ek daaroor praat. Daarom is ek so dankbaar dat Jean van Velde (die Nederlandse regisseur en skrywer) so braaf was om hierdie storie nie net met Suid-Afrika nie, maar ook die wêreld, te deel. Dis tyd. En dis nodig.

Sylvaine Strike (as Hilda Bernstein) en Antoinette Louw (as Molly Fischer): foto verskaf

Jy is pas by die Kaapstadse Internasionale Filmfees vir hierdie film bekroon, en die film het ook al in Nederland vertoon. Wanneer sal die algemene Suid-Afrikaanse publiek die film kan sien? 

Volgens die vervaardigers word die film volgende jaar Maart in Suid-Afrika uitgereik. Maar ek sal julle op hoogte hou!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top