ABSA Ketting: Gilbert Gibson gesels met IL de Villiers

  • 0

1. Wat en waar is die wortel van (jou) poësie?

As jy bedoel wát my laat verse skryf, weet ek regtig nie. Wat laat my met woorde peuter? Kan nie sê nie. Toe ek nog 'n student was, het ons verse geskryf oor die verhewe, swaarwigtige "amp" van die digter. Pure snert. Nou is dit eerder soos toe hulle my ongeveer in 1990 gevra het waaraan ek die sukses van Sarie as tydskrif toeskryf. Ek weet nie. Ons was 'n span wat iets iewers raakgevat het. Dalk werk dit met die poësie net so. Dat jy sekere woorde, gedagtes, wat ook al, bymekaar bring wanneer dit die régte tyd is. Ek moet veral my eerste reël(s) hê en wéét wat ek wil sê voor ek gaan neerskryf. Dit mag voor die gedig klaar is, weer grootliks verander: dat jy uiteindelik iewers uitkom wat glad nie aan die begin in jou gedagte was nie.

Ek werk byvoorbeeld nou al vier jaar aan 'n gedig oor my gunsteling-stad, Chicago, maar die gedig kom nie klaar nie. Ek het 'n vae vermoede waarom, maar weet nie hoe om dit op te los nie. Dalk wíl die gedig nie "opgelos" wees nie. Dalk wil dit aborteer. Want op 'n sekere stadium moet jy dit klaarmaak en laat gaan: óf via 'n bundel die wye wêreld in, óf snippermandjie toe omdat die gedig as fetus gesterf het.

Maar aan die einde van 'n gedig, goed of swak, moet ek vir myself 'n eerlike antwoord gee op die vraag: Wat wou ek eintlik aan almal sê, of kon dit maar gebly het?

Onlangs in Parys het ek gereeld by die standbeeld van Ronsard naby die Sorbonne se hoofgebou verbygestap. Hy was die voorste digter van die Franse Renaissance en het gesê die oerbronne van die poësie lê in die klassieke. Hy was 'n meester van die liriese sonnet. Hy het ook die teorie van iets soos goddelike inspirasie aangehang. Dalk is dit so. Hy was vir 'n paar honderd jaar vergete, maar het toe weer "in die mode" geraak in die twintigste eeu.

Sekere volke is dalk meer poëties is as ander, byvoorbeeld sekere Midde-Oosterse volke wat van feitlik alles 'n waardige gedig kan maak. En hul mense léés dit. Afrikaans se ouer digters het hul mense aangespreek omdat die lyding van oorlog hul tot verse gedryf het. Sou Leipoldt, Cilliers en Totius ooit verse geskryf het as daar geen Boere-oorlog was nie? Lyding, lyk dit my, was die "wortel". Word ons geslag digters - behalwe vir leeskringe en akademici - deur Jan-en-Alleman gelees? Dit terwyl ek daarvan oortuig is dat Afrikaans 'n sterk digtersmedium is, maar dat die moontlikhede in die taal nie altyd benut word nie.

Maar as jy die bedding van my verse bedoel waarin die verse "wortel", is dit in my geval eerstens die mistiek, die soeke na eenwording met God en natuur, die skaars oomblikke van "helderheid" wanneer 'n boom meer word as 'n boom.

Verder maak die toekoms van die Afrikaanse kultuur (in watter vorm ook al) en die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing deel uit van die akker. Ek voel - en ek hoop van harte verkeerdelik so - ons Afrikaanse rakleeftyd is feitlik verby.

Desnieteenstaande het Eben Venter se roman Horrelpoot my soos 'n vuis getref. Wanneer kom daar deesdae so 'n kragtoer in die poësie? (Of loop die prosa deesdae voor?) Maar nouja, die geskiedenis maak soms vreemde, onverwagte draaie. En daar bly altyd tekens van hoop.

Ek het dieselfde ongedurigheid oor my kerk, al van my eerste bundel in 1960 af. Ek onthou hoe ek in die middel van die nag opgestaan het (ek het 'n boek oor die disciplina arcani - die geheime rites van die ou, vervolgde Christene in Rome - gelees). Ek het by my lessenaar gaan sit en die eerste vers van "Leitourgos" (wat die slotvers in die bundel geword het) sonder moeite geskryf:

Iets van die ou disciplina arcani
rys uit die mis. Gestaltes skarrel
na die graftes om geheim te bly.
Snags word inisiante ingewy
en al die donker dinge van die Lig
geopenbaar. Die bloedgerig
van keisers wat hul bedes wil besweer,
maak dat hul in die laatnag éérs floreer.
Iets trek my snags na hierdie groep
wat sonder lig die Lig wil roep.

2. Wat lees jy? Wat lees jy oor die poësie?

Op die oomblik lees ek The Iris Trilogy van John Bayley, haar eggenoot. En tussenin The Assasin's Cloak, 'n versameling aanhalings uit beroemde dagboeke. Ek gaan môre vir my 'n biografie van Marie Antoinette koop wat ek vandag gesien het toe ek nie my kaart by my gehad het nie. Dit interesseer my omdat die flapteks praat van "a woman more sinned against than sinning". Ek glo dit nog die hele tyd. Ek lees heelwat oor die ekonomie, wat in my later lewe 'n soort stokperdjie geword het. Maar eintlik lees ek speurverhale, rillers, bangmakers en snert. Gelukkig lees ek teen 'n vinnige pas, soms selfs teologie en filosofie! Ek skaf die meeste Afrikaanse digbundels aan. Maar oor die teorie van poësie lees ek net mooi niks, behalwe dat ek Kannemeyer se boek oor die literatuurgeskiedenis byderhand hou.

O ja, natuurlik die Bybel ook, maar gee my 'n goeie riller of (veral Amerikaanse) speurverhaal en 'n stil laatnag en ek is tevrede. Ja, en Jack Reacher van Lee Child (die oud militêre polisieman-swerwer wat bendes stormloop) is my held.

3. Van waar die titel van jou laaste bundel?

Jerusalem fassineer my van kindsdag af. Dis die vreemde stad waarvan die meeste van my geslag gehoor het voordat ons van Parys gehoor het, die plek van die lyding en sterwe van Jesus Christus. Ek was al dikwels daar - in verskillende seisoene - en wil dit weer graag voor my dood sien. Johannesburg speel 'n vreemde rol in my lewe: my pa is hier gebore, met sy tweelingsuster Tita (Magrieta). Hulle was babas toe ouma De Villiers konsentrasiekamp toe is by Irene. Hul broertjie Petrus is daar dood. My oupa, 'n Bolander, bouer en melkboer, het geveg onder genl De la Rey. Die gesin is later jare terug Boland toe, maar my pa het nog vir skool agtergebly. Hy het altyd gepraat oor die wonders van Johannesburg en gesê: "Ek bly maar 'n Transvaler."
 
Ek sou nooit kon dink dat ek hier sou kom woon nie. Ek is hierheen verplaas toe ek redakteur van Rapport geword het. Die stad omhels my én stoot my weg. Dis boheems, anoniem en opwindend - en besig, geldmal en brutaal gevaarlik. Ek verlang na die Boland as my wêreld, maar kom ook nie juis hier weg nie. Buitendien is Johannesburg die smeltkroes van wat die Suid-Afrikaanse samelewing tans is. Wie wil weet waarheen die land op pad is, positief en/of negatief, moet lank hier kom kyk. Ek kry die gevoel ek het onlangs in Londen meer Afrikaans gehoor as wat ek in my eie voorstede hoor.

Jerusalem is die stad van my geloof van kindsbeen af. En Johannesburg dalk die stad van die einde van my aardse reis. Vandaar - min of meer - die titel. Dit was eers Van Jerusalem tot Johannesburg. 'n Keurder het dit as lomp beskou. Danie van Niekerk, my ou uitgewer en vriend, het voorgestel dat ek die van skrap. Stad van God. Stad van Goud.
Dis asof ek nog nie om dié tema "uitgeskryf" is nie. Die twee stede dring hulle nog steeds in my jongste verse aan my op. Dit nogal terwyl ek tans weer 'n groot Kaapse heimwee beleef.

4. Wat is die mooiste lyn/sin wat jy al ooit geskryf het?

Geen idee nie. Daar is reëls wat ek vanweë sentiment beter onthou as ander. Byvoorbeeld, soos wyle my ma se verjaardag weer nader kom, dink ek aan dekades gelede toe sy en ek soms in die ou Distrik Ses inkopies gedoen het. Ma het eendag vir haar 'n mooi vlootblou jas daar gekoop. Baie jare daarna het ek op my eie weer daar in die stil, afgetakelde vuil straatjie rondgeloop:

Helder water vloei uit 'n mangat uit,
blink in die bruin, gebarste winkelruit -
'n gradeboog. En oor die glas, oorkruis,
slaan 'n ou Maleier klavierkisplanke vas.
Job's Cash Store sterf
soos die jong vrou met die seuntjie en die nuwe nywiejas.

("Distrik Ses herbesoek": Uit Gelykenisse en ander Verse)

"Mooi" sou ek dit nie noem nie. Eerder 'n hartseer.

Ek kan jou egter 'n hele paar van my swakste reëls en verse opnoem, maar ons laat dit daar.

5. Wat maak 'n skryfsel vir jou 'n gedig? En/of wat is vir jou anders aan 'n gedig as blote prosa wat tipografies opgetjop is?

Nou raak jy 'n saak aan wat my lankal verwar in sekere "moderne" poësie. Ek is ietwat van 'n vormmaniak. In Jerusalem tot Johannesburg het ek my voorgeneem om so ver moontlik nie van vaste vorme (sonnet, kwatryn, distichon, tersine ens) af te wyk nie. Dit het my pad vol dubbeltjies gemaak, want rym en metrum verlei 'n mens tot allerlei maklike dwalinge. Maar ek wou deurdruk, eenvoudig omdat verse wat geen streng innerlike binding het nie (metafore, gedagtegang, baie sê met minimum woorde, en ja, rym en metrum), net so maklik soos rym em metrum in groot slaggate kan val.

Om 'n werklike goeie skilder te wees, moet jy eers goed kan teken. Daarna kan jy eksperimenteer soos Picasso. Vir my geld dieselfde vir die poësie. As jy nie die poëtiese grondreëls kan hanteer nie, waag jy baie om te eksperimenteer. Dan kan jy jou begewe op 'n pad van onsamehangende sinne wat, in jou woorde, niks meer is as "blote prosa wat tipografies opgetjop is" nie. En dikwels nie eens goeie prosa nie.

'n Digter soos Breyten het die gawe van die metafoor wat hy soos krale inryg, merkwaardige poësie. Wie kan hom dit nadoen? Opperman was meester van die vorm en rym. (Vergelyk wat hy skryf in "Scriba van die Carbonari"). Sy verse het my aangegryp, maar wie kan hóm dit nadoen? Cussons se verse bind in hul mistieke krag. Wie kan haar dit nadoen? Van Wyk Louw kon álles doen. Daar is digters wat reëls kan "optjop" en blink verse skryf: maar is die vingeroefeninge (rym ens) nie nodig nie? Soos toonlere wat jy aaneen moet oefen voordat jy werklik redelik kan klavier speel. Ek weet nie.

Dis vir sommige mense nou blykbaar modern om rym en metrum as oudmodies af te maak. Maar kom ek vra jou: Hoekom onthou mense "Do not go gentle into that good night./ Old age should burn and rave at close of day;/ Rage, rage against the dying of the light."? Kan enige nuwe mode dit verbeter? Ek dink Dylan Thomas se fyn balans van rym, assonans, metrum en emosie maak dit kláár en onvergeetlik. Of dalk is dit net my eie ouderdom se "rage"?

'n Ander voorbeeld: Kom ons skryf Totius se "Vergewe en Vergeet" so:

daar was 'n doringboom
klein, weerloos
te naby die waspoor die hoewe van osse
en nawe van swaar wiele
skawend teen die boompie
daar was dié doringboom
langs die wapad toe
word dit eendag platgetrap …

ens ens. Sou dit in dié mankementige trant gewerk het? Of het dit geslagte aangegryp - en, soos in die geval van Ronsard, mag dit eendag weer herleef - juis omdat dit 'n eenvoudige, rymende (rympierige) vers is?
 
Baie moderne "skryfsels" (jou woord) sal eenvoudig nie bly leef nie, omdat daar niks is om te leef nie: geen groot, aangrypende Idee, geen werklike spot, geen fyn humor, geen visie, geen noemenswaardige "private ache" (om met Hennie Aucamp te praat), geen bewuswording van naderende onheil, geen protes en profesie, geen rym of metrum of metafoor wat soos 'n kameraflits in jou gedagtes afgaan nie, en – dalk die belangrikste – eintlik niks te sê nie.

'n Senior studentemaat wat saam met my "aan die voete" van Merwe Scholtz op UK gesit het, het eenmaal oor 'n gedig van Breyten gesê: "Dis blote aantekeninge vir 'n gedig en nog ver van klaar. Dit moes nooit so gepubliseer gewees het nie." Merwe het hom gelyk gegee. My vriend het die wêreld van die letterkunde verlaat (ek dink uit pure frustrasie) vir sukses in die sakewêreld.

Ek het 'n vermoede dat woorde iewers 'n innerlike magnetisme het wat mekaar aantrek en patrone soek en maak, patrone wat dit nuwe lewe gee. Dalk begin dit met wat Rupert Brooke (ek dink dit was hy) gesê het oor die begin van kuns as "'n knop in die keel". Die woorde soek 'n "klimaat" waarin dit kan ontwikkel tot nuwe lewensvorme. Dan is dit poësie, ook al lyk dit met die eerste aanblik na "blote prosa wat opgetjop" is. Maar nou is ons weer by jou eerste vraag oor die wortel ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top