Aardklop 2017: vele hoogtepunte

  • 2

Aardklop is dood, lank lewe Aardklop! Vanjaar was die tweede jaar van die “nuwe” Aardklop ná die fees in 2016 uit die draak se bek geruk is. Soos verlede jaar, was die program kleiner as in die verlede, maar die gehalte het beslis daarvoor vergoed.

Van die sterkste produksies van ander feeste vanjaar was te sien – toneelstukke soos Nêrens, Noord-Kaap, Asem, Die reuk van appels, Moedertaal, Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran en Pa, maak vir my ’n vlieër Pa, en musiekproduksies soos Amanda Strydom se So onner deur die maan, Piekniek by Mpande (née Dingaan) en Rooidag, waar Leon Gropp die werk van NP Van Wyk Louw getoonset het.

Maar Aardklop, onder die bekwame leiding van Alexa Strachan, wat sedert verlede jaar die hoofvrou oor vele is, het vanjaar ook gesorg vir debuutproduksies wat hopelik weer by ander feeste en teaters te sien sal wees.

Die stuk wat almal aan die praat gehad het, én die meeste van die fees se toekennings gewen het, was Melk en vleis. Die teks is deur Marina Albertyn geskryf, ’n jong dramaturg wat beslis dopgehou moet word. Dit is gebaseer op Euripides se Medea en teatergangers weet dus voor die tyd dat die duiwels onder rond draai. Illse Roos en Paul du Toit is onderskeidelik as beste aktrise en beste akteur by die fees aangewys. Die regisseur is Marthinus Basson en Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka is die ander twee spelers in die baie sterk rolverdeling.

Sesethu Zamxaka, Ilse Roos, Paul du Toit en Nomkhita Bavuma

Melk en vleis is 80 minute suiwer teater. Dit trek jou in, gooi jou rond; jy trek jou asem in oor die wreedheid van die mens. Jy wil op die verhoog klim en ’n paar klappe uitdeel. Die laaste paar minute tref jou soos ’n voorslaghamer teen die kop. Jy wéét wat gaan gebeur, maar tog …

Ek sal dit altyd onthou as my 15-jarige seun se eerste groot teateroomblik, die oomblik waar die emosie jou oorval en die trane loop en jy so bewe dat jy skaars kan loop. (Hy was nie die enigste een wat bewerig was nie.) “Shit, dit was next level,” het hy gesê terwyl hy ná die tyd sy emosies onder beheer probeer kry het. In die kar op pad terug na die gastehuis het hy gevra of die reaksie wat hy gehad het, normaal was. Ja, het ek vir hom gesê, jy het vanaand beleef wat goeie teater of kuns of musiek aan jou kan doen en dis nie net normaal nie, dis ’n voorreg. “Marthinus Basson is ’n bliksem,” het hy gemompel. “Dalk, maar ook ’n meester,” het ek gesê.

Soloproduksies is die afgelope tyd al meer algemeen op feesprogramme. Net by Aardklop alleen was daar 14 solostukke, waarvan ses debute was. Dis net toneel en komedie, nie solomusiekproduksies ook nie.

Weerkaats, Milan Murray se eerste solovertoning, is ’n stuk wat verdien om ’n lang speelvak te hê. Met ’n teks deur Retief Scholtz en Philip Rademeyer as regisseur, het die driemanskap ’n stuk geskep wat veral tot vroue sal spreek. Milan speel die rol van vyf verskillende vroue, elkeen met haar eie verhaal, maar tog ’n draad wat almal aan mekaar bind. Die stel- en beligtingsontwerp verdien ook ’n pluimpie. Sit Weerkaats beslis op jou lys as jy die kans kry om dit te sien.

Milan Murray in Weerkaats

Half leeg, geskryf deur Tara Notcutt en vertaal deur Amy Jephta, is ook beslis ’n stuk wat met vroue sal praat. (Hierdie jaar is, om die waarheid te sê, ’n baie goeie jaar by feeste vir vroue. Nie net die rolle wat hulle gespeel het nie, maar ook die kwessies wat aangeraak is.) Cintaine Schutte is ’n vrou wat in die laatnag in ’n kroeg wag. Sy was vroeër by ’n bachelorette, ’n raserige partytjie op ’n bus wat nie afgeloop het soos sy gedink het dit sou nie. Die musiek help om die storie te vertel en Cintaine wys dat sy met ewe groot sukses ’n hele spektrum emosies in een stuk kan speel. Nog ’n stuk wat jy met gemak op jou sien-lys kan sit.

Cintaine Schutte in Half leeg

DEURnis is nie ’n nuwe konsep nie, maar is vir die eerste keer vir ’n Afrikaanse kunstefees vervaardig. DEURnis is by ’n groot huis buite Potchefstoom aangebied en verskeie kamers in die huis en buitevetrekke is gebruik. Daar was vier pakkette, elkeen met drie stukke van 20 minute elk. Dit is een-tot-een-teater, met ander woorde daar is een speler en jy is die enigste gehoorlid. As voorbeeld: Jy klop aan ’n kamerdeur. ’n Vrou maak oop, vra jou om in te kom. Dis ’n slaapkamer en teen die kas hang ’n bruidsrok. Sy is besig om reg te maak vir haar troue later, maar is nie seker of sy moet voortgaan nie. Jy moet op jou tong byt, want jy is nie daar om saam te praat nie, jy is daar om haar storie te hoor. Aan die einde het jy tog ’n sê, is jy die een wat moet besluit of die sluier op haar kop gesit word of nie. Dit is egter nie so met elkeen van die stukke nie. Daar is dié waar jy aan die einde uitgejaag word, waar jy stil-stil die vertrek verlaat om te gaan verteer wat jy beleef het. ’n Baie interessante, en soms intimiderende, ervaring.

Die huldeblyk aan PG du Plessis, PG: ’n Lewe vol, het vir ’n hele paar hoogtepunte gesorg, onder meer Sandra Prinsloo en Marius Weyers wat oor Siener in die suburbs gepraat het, Christo Davids se monoloog, en PG se goeie vriend Hans du Plessis se roerende en tegelyk humoristiese huldeblyk, gedoen sonder ’n stukkie papier in sy hand, uit die vuis en uit die hart uit.

Twee nuwe stukke wat beslis feestreffers gaan wees, is Manne en Mike en Mavis. In Manne, ’n nuwe stuk deur Chris Vorster waarin hy ook speel en die regisseur is, gaan drie vriende na ’n plaas vir ’n jagnaweek. Op die plaas wag twee broers. Dinge loop skeef en weer skeef met humoristiese én dramatiese gevolge. In die rolverdeling saam met Vorster is Hennie Jacobs, Hannes Brümmer, Theodore Jantjies en Francois Lensley. Deon Coetzee maak ook sy verskyning op die videoskerm as die polisie-ondervraer.

Elize Cawood en Wilson Dunster in Mike en Mavis

Mike en Mavis bring weer vir Elize Cawood en Wilson Dunster na die verhoog in ’n nuwe stuk deur Wessel Pretorius. Mavis is ’n weduwee wat haar tyd verwyl deur kerk toe te gaan en vir haar dogter in die buiteland te skryf. Sy kry ’n uitnodiging om na die opening van ’n nuwe fliekteater te gaan en besluit om dit te aanvaar. Daar ontmoet sy vir Mike, ’n man wat haar hart wil wen. Dit is, om die Engelse woord te gebruik, delightful! ’n Lieflike stuk teater wat jou met ’n warm hart laat. Sit dit ook op die lysie.

Die lawwe manne van Stok, Jahn Beukes, Leon Ecroignard en Hennie Jacobs, is na ’n lang stilte terug. Van die dele in hierdie produksie is al voorheen in ander Stok-produksies gesien, maar dit is steeds ’n plesier om te beleef. Stok is egter soos Hotel, die komediereeks op kykNET. Jy gaan dit snap en waardeer, of jy gaan nie. Dis swart of wit, nie eens een skakering van grys tussenin nie. As jy ’n aanhanger is, soos ek is, gaan jy elke oomblik geniet. As jy nie een is nie, gaan jy heel moontlik meer as een keer verdwaas prewel: “Waddehel?”.

Aardklop is op die regte pad. Die program is net groot genoeg om iets vir almal te wees. Daar is, benewens die toneel, komedie en musiek, steeds gesprekke, boekbesprekings en kunsuitstallings, asook stalletjies vir chip sticks en aarbeie-en-room. Vroeg reeds in die week is gesê dat die kaartjieverkope verlede jaar s’n verbygesteek het. Dis goeie nuus. Die kunste in Suid-Afrika, en veral die vervaardiging en ondersteuning van nuwe werk, kan nie bekostig om ’n fees te verloor nie. Mag die span by Aardklop net ’n wyle asem skep voor hulle aan volgende jaar se fees begin beplan. Mag dit ’n heuglike 21ste wees!

  • 2

Kommentaar

  • Aardklop bo - beslis was daar vele hoogtepunte en die shows was uit die boonste rakke - hou aan met die goeie werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top