Aantrekkingskrag deur Deon Opperman

  • 1

Titel: Aantrekkingskrag
Skrywer: Deon Opperman
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869199425

  
 

Koop Aantrekkingskrag by Kalahari.com.

 

Deon Opperman is al met die Hertzogprys en die Eugéne Marais-prys bekroon. Maar sy grootste waarde is sekerlik dat hy op die beste moontlike manier die publiek aan ons trotse teater- en filmgeskiedenis herinner. En hoe doen hy dit? Deur hedendaagse aktuele teater en film te skryf wat, soos Shakespeare, soos Pieter Fourie, Pieter-Dirk Uys, Chris Barnard, PG du Plessis en nog ‘n paar ander, die tye sal deurstaan, en oor 30 of 300 jaar steeds waarde, indien nie méér waarde nie, sal hê.

In sy teks “Aantrekkingskrag” knoop hy geniaal ‘n paar punte saam – inligting uit sy wydbelese ervaringsveld, soos die terreine van die einste Shakespeare, Einstein – ja, wetenskap – en die leefwêreld van die mens, die sielkunde, sy eie ervaring van die lewe ...

Wat Opperman regkry is om die leser, en uiteindelik ook die teaterganger, en selfs die TV-kyker, te boei met sy skryfwerk. ‘n Lees van “Aantrekkingskrag” is ‘n vreugde weens die humor, die interessante inhoud, die spanning, die struktuur, karakters, die taal – wat verskeie speletjies met idiome, en dubbelsinnighede betrek – die klimaks, en die ontknoping.

Waar Opperman se vroeëre stukke skamel te werk gaan met aanwysings, het hierdie teks die nodigste, soos “haar glas amper by haar mond” (bl 10).

Die vermaaklikheidswaarde van beide leesteks en die produksie (by Aardklop 2012) is sonder twyfel in die kombinasies, soos hier bo genoem, maar die slim gebruik van taal, die dubbelsinnigheid (die spel met die betekenisse van “tel”, later ook met “sterre”) regverdig ‘n ekstra kyk. Min skrywers sou so kan omgaan met taal sonder om sulke inhoud as studentikoos of geforseerd te laat voorkom. Opperman kan.

Nie ‘n woord word vermors nie. Nie ‘n gedagte word vermors nie. Elke ding wat herbesoek nodig het, word wel later in die stuk weer besoek en toegeknoop. Die teks is ‘n weefwerk van kruisverwysings, lieflik toeganklik vir die leser.

Interessante nuanses is die onderliggende menslike swakheid, steke, bagasie – sigbaar in ondertone van jaloesie, wat eers suggereer word, later op die spits gedryf word. Die wyse waarop sulke suggestie geskied, is subtiel, sonder om die onderwerp ter sprake te verander: subtiel ingevoeg as parallelle, en beeldspraak.

In die uiterste eenvoud word ‘n leser (en teaterganger) trakteer op ‘n lushof van spanning en bedekte konflik. ‘n Mens kan die botsing wat kom, van ver af sien kom – of kan jy? Baie van die inligting spruit voort tydens gesprekke oor obskure onderwerpe. Gesprekke is gereeld in sirkels, sonder om ooit die punt byster te raak. Ondanks die wetenskap wat gereeld opdoem, is daar in “Aantrekkingskrag” (en glo my ...) nie één keer ‘n vervelige oomblik nie.

Die fynproewer sou dalk ‘n debat kon uitmaak in die ontwikkeling van karakters. Hier is daar ontwikkeling sigbaar by amper elkeen, al is dit in baie abstrakte terme. Die “tot terme kom” van die getroude paar hier, Martin se ommeswaai, die uiteindelike finale van Suzzi kan almal as sleutels beskou word – soos klei in ‘n regisseur se hande.

‘n Interessante tegniek wat Opperman hier gebruik, nes in Kaburu (Protea Boekhuis, 2008), is die akteur wat na die gehoor draai en ‘n monoloog lewer, terwyl die ander aksie op die verhoog staak.

In druk is een van die humoristiese hoogtepunte die reaksie van einste Suzzie op ‘n strikvraag. Dit lyk so:

SUZZI:                    …? (bl 46)

Daarteenoor tref van die egthede mens tussen die oë. Die diepste persoonlike kliewing is opgesluit in Martin se woorde (bl 52):

MARTIN:                 En jy voel daarop geregtig om so iets vir haar te sê?

‘n Uiterste spanningsmeevallertjie vir die leser is wanneer mens in kursief raaklees (bl 56): “... MARTIN wat weet, en LEONOR wat besef dat dinge nou verkeerde kant toe loop”.

Hierdie woorde sal vir talle mense baie bekend lyk:

“… jy sien wat jy sien, omdat jy in daardie verhouding geword het wie en wat jy is” (bl 64).

Opperman dra die drama op aan Janine Neethling, met dié woorde:

   Vir Janine Neethling
by wie ek my laaste wentelbaan gevind het.

Die teks is netjies gebind, en binne die omslag netjies versorg. Opperman staan lankal bankvas tussen ons grotes van weleer. Meer nog: hy herinner aan hulle. Soms vat hy voor. Terwyl daar elemente is wat ons grotes van weleer die stil, donkertes in wil verdoem, laat Opperman dit nie met hom, of hulle, gebeur nie. Hy laat dit nie toe nie. Soos talle van sy werke is “Aantrekkingskrag” vernuwend, aktueel, en duidelik drama!

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top