Aantekeninge vir Jan se hereksamen in Afrikaans

  • 6

Nee, Jan, ek sukkel nie om te verstaan wat jy probeer sê nie. Ek kan duidelik daaraan sien dat jy, wat taal betref, maar skryf oor hoe jy dink dit moet wees, en hoe jy dit graag wil hê. Dit is egter so ver verwyderd van hoe dit werklik is, soos die ooste van die weste.

Jy slaan verklarende woordeboeke mos hoog aan. Gaan soek daarin wat ʼn leenwoord is. ʼn Leenwoord is ʼn woord aan ʼn vreemde taal ontleen, niks minder nie en niks meer nie. Dit is ook maar ʼn indringerwoord, soos alle ander woorde. Die verskil wat jy trek tussen leenwoord en indringerwoord, nl dat ʼn leenwoord in die woordeboek gevind kan word, maar nie ʼn indringerwoord nie, is vals. Woordeboekmakers is glad en geheel nie voorskrywers van watter woorde in 'n taal gebruik mag word nie. Hulle taak is slegs om woorde wat gebruik word in ʼn taal aan te teken. Woordeboekmakers kan ook nie elke dag ʼn nuwe uitgawe van hulle woordeboeke laat publiseer nie, maw woordeboeke kan nie tred hou met nuwe woorde wat daagliks die taal binnekom nie. Dan is sommige woordeboekmakers ook konserwatief in die woorde wat hulle by latere uitgawes byvoeg. Buitendien kan hulle ook nie die boeke te dik maak nie. My Van Dale is al juis so dik dat, as ek dit optel, dan skeur sy rugstuk. As dit by woordeboeke kom, dan is die WAT miskien die beste keuse, maar die samestellers daarvan sit ook maar met die probleem van nuwe woorde. Hulle werk seker nou al aan P en dan moet hulle weer by al die vorige letters ook aanvullings maak. ʼn Elektroniese woordeboek sal seker beter werk; dan kan ʼn mens daagliks woorde bylas, en dit maak nie saak met watter letter dit begin nie.

ʼn Taal se bestaan hang egter af van die sprekers, die mense wat dit praat, nie van woordeboeke nie. Die woordeboek is maar ʼn bykomstige hulpmiddel; sprekers kan beslis nie die goed ronddra en as hulle wil praat, eers die sin neerskryf en dan in woordeboeke kyk watter woorde bestaan nie, dit dan onderstreep, sodat as hulle praat, hulle nie daardie woorde gebruik nie. Dis mos belaglik. Linguiste is nie daar om vir mense voor te skryf hoe om te praat nie. Hulle werk is om tale te bestudeer.

Ek kan sien dat jy nog nooit ʼn studie gemaak het van taalonderrig nie. Die beste manier om ʼn taal aan te leer is deur blootstelling aan die taal. Dis hoe die kind sy moedertaal leer: deur te luister hoe woorde gebruik word, hoe hulle aanmekaarskakel. Hy leer dit nie dmv ʼn woordeboek of ʼn grammatikaboek nie. Ek was so ʼn klompie jare verbonde aan ʼn onderwyskollege in die Afrikaans-departement. Die onderwysers moet die grammatika van ʼn taal ken, want hulle moet weet hoe dit funksioneer. Hulle aanbieding in die klaskamer is egter dmv die direkte metode, maw direkte blootstelling aan die taal. Ek het juis nou die dag een van my Indiërstudente raakgeloop. Hy is departementshoof van Afrikaans by een van die Indiërskole hier in Chatsworth.  

Grammatikakennis en kennis van ʼn besonderse taal is slegs vir die onderwyser, die linguis, en die student van ʼn taal. Die gewone gebruiker van ʼn taal weet niks daarvan af nie. Hy weet net hy moet “I am” so gebruik, maar hy weet nie waarom nie. Die ‘waarom’ sal die grammatikus kan verduidelik, want hy het die struktuur van die taal bestudeer. Hoe goed ken jy die Berlitzmetode wat jy so dikwels aanhaal? Berlitz het juis ontdek dat die grammatika-vertaalmetode nie werk nie. Die Berlitzmetode is soortgelyk aan die Direkte metode: glad nie gebaseer op grammatika nie, maar op blootstelling aan die teikentaal.  Lees hier:

 https://www.berlitz.us/en/About/The-Berlitz-Method 

Ek twyfel of jy enige grammatikaboeke vir Afrikaans of Engels op skool onder oë gehad het, tensy jy baie oud is. Ek het nog ʼn skoolgrammatikaboek van my pa geërf geskryf deur Potgieter, Afrikaanse grammatika. Nee, wat jy dink is grammatika, is eintlik maar net taaloefeninge: Vul die ontbrekende woord in, ens. Hierdie taaloefeninge kan nogal na grammatikaboeke lyk, want hulle gebruik dikwels grammatikaterme: vul die korrekte voorsetsels in; vul die korrekte vorm . Die enigste boek wat jy ken wat enigsins naby grammatika kom, is jou Duitse grammatikaboek, en dis maar baie elementêre grammatika, geskoei op dié van Latyn.

Wat my so effens bekommer is wanneer jy skryf: “Daar was nie sprake van “wette van Mede en Perse” nie, net grammatikareëls wat jy onder die knie moes kry om die taal te kan praat.” Bedoel jy daarmee dat julle nie sou kon praat as julle nie daardie reëls geleer het nie? As dit waar sou wees, kry ek die wêreld se kinders jammer as hulle eers moet wag om skool toe te gaan om grammatikareëls te leer voordat hulle kan praat.

Die werk van ʼn grammatikus is nie om ʼn taal te standaardiseer nie. Sy werk is om die struktuur van ʼn taal te bestudeer en dan daardie struktuur te beskryf deur middel van grammatiese terme dit is dan die grammatika van die taal. Is dit so moeilik om te verstaan?

Jy beweer dat grammatika voorskriftelik is. Ek wil by jou weet wie het dan die grammatika voorgeskryf? Spelling is voorskriftelik: dit word voorgeskryf deur ʼn kommissie wat spelling bestudeer. Kom, ek maak dit vir jou maklik. Wie het die grammatika van Afrikaans voorgeskryf. Wie het gesê so moet julle Afrikaans praat?

Jy ken nie die geskiedenis van Afrikaans nie. Reeds in Jan van Riebeeck se tyd het die mense Nederlands al so ʼn klein bietjie anders begin praat, en dis die begin van Afrikaans. Dit het al hoe meer begin afwyk, sodat baie begin kla het, soos jy nou kla oor die nuwe Afrikaans. In die negentiende eeu het die Engelse die Kaap oorgeneem, en toe was die nuwe Kaapse taal al goed op pad. Die Engelse bewindhebbers en veral Lord Charles Somerset wou van die Kaap ʼn Engelse kolonie maak. Taalwette is uitgevaardig om Kaaps as vak te verbied in die skole wat daar was, en daar is bepaal dat jy Engelssprekend moet wees om enige pos te beklee. Die 1820-Setlaars is ingevoer om die Oosgrens te verengels. Het jy nooit Geskiedenis as vak gehad en geleer van die redes vir die Groot Trek nie? Die mense het in opstand begin kom teen hierdie Engelse onderdrukking en tot aksie oorgegaan. Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners gestig met die doel om Afrikaans (nou nie meer Hollands of Kaaps of Kaaps-Hollands nie) te bevorder. Hier besluit hulle om 1. Die Afrikaanse volkslied te versprei, 2. Die Bybel in Afrikaans te vertaal, 3. ʼn Afrikaanse spraakkuns op te stel, 4. Die opstel van ʼn Afrikaanse woordeboek met net suiwer Afrikaanse woorde. Die skrywe van ʼn grammatika is ook oorweeg, maar besluit om eers ʼn spellys op te stel. Die grammatika sou eers moet wag. Vooraf moes eers ʼn ander tweeledige taak aangepak word: 1. Die Afrikanervolk moet eers tot erkenning en aanvaarding van sy eie taal, die werklike moedertaal gebring word. “en die taak is moeiliker as dit, oppervlakkig beskoud, lyk.” 2. Die taal self moet eers as ʼn skryftaal gebruik en beoefen word om tot ʼn vaste skryfvorm te geraak. (Aangehaal uit “Die Triomf van Afrikaans” deur E C Pienaar.)

Wat die volkslied betref, haal ek slegs die tweede strofe aan:

ʼn Ieder nasie het syn TAAL./ Ons praat, van Kaap tot in Transvaal,/ Wat almal maklik kan verstaan,/ Wat gaat die ander tale ons aan?/ Ons praat, so’s Pa en Oupapa,/ Die Landstaal van Suid-Afrika. (Ook Die Triomf van Afrikaans.)

Dis hoe Afrikaans doelbewus gestig is.

Nog verstaan jy nie die verskil tussen: oorslaan van Afrikaans na Engels, en Engelse woorde gebruik terwyl jy Afrikaans praat nie. Afrikaanssprekendes kan Engelssprekend word, maar Afrikaans kan nie Engels word deur die leen van Engelse woorde nie. Dit mag dalk ʼn heel ander nuwe taal word, maar nie Engels nie.

Hollands aan die Kaap het vreemde woorde ontleen en ten spyte van die gebrek aan onderwys, het dit nie ʼn geradbraakte taal tot gevolg gehad nie. Of dink jy dalk Afrikaans is ʼn geradbraakte taal? Ontlening aan Engels versterk net die seggingskrag.

Engelse sit hulle kinders in Afrikaanse skole: die Lockwoods, die MacDonalds, die O’Gradys, die Page, die Williamse, Thompsons, die McGees, die Millers, ens te veel om op te noem. Dit het niks aan Engels verander nie.

Natuurlik was Oudengels ʼn Germaanse taal en met die Normandiese inval het Engels hope Franse woorde ontleen. Engels het sommer so ʼn driedubbele skoot van Romaanse woorde weg: toe die Engelse Christene geword het (Die Rooms-Katolieke kerk), toe die Nore Engeland beset het, en met die Renaissance-beweging. (Romaans sluit al die tale in afkomstig van Vulgêrlatyn: Frans, Spaans, Italiaans, Portugees.)

As ek oor iets stry dan word dit deur feite gerugsteun. As jy stry dan stry jy omdat stry stry is met geen bewyse vir wat jy sê nie. ʼn Voorbeeld:

Ek sê grammatika is deskriptief, maw beskrywend van ʼn taal se struktuur. Ek het al  vir jou voorbeelde gegee van grammatika wat beskryf hoe ʼn taal werk. Ek kan vir jou verder dit bewys deur net vir jou eenvoudig te verduidelik dat taalkundiges nie bepaal hoe ʼn taal gepraat word nie; dit is die gebruikers van daardie taal wat dit bepaal.

Ek het aan jou verduidelik dat spelling preskriptief, maw voorskriftelik is. Ek kan dit bewys. Daar sit ʼn taalkommissie wat die spelling van Afrikaans bepaal.

Jy sê grammatika is voorskriftelik, maar jy praat sommer in die wind. Jy kan nie vir my sê wie skryf voor hoe ons moet praat nie. Jy dink maar net dis voorskriftelik omdat ʼn onderwyser jou Duits geleer het volgens die grammatika-vertaalmetode.

Angus

 

  • 6

Kommentaar

  • Beste Angus
    Jy ondersteun Jan in sy siening terwyl jy die teenoorgestelde betoog want jy sê: “'Ek kan sien dat jy nog nooit ʼn studie gemaak het van taalonderrig nie. Die beste manier om ʼn taal aan te leer is deur blootstelling aan die taal. Dis hoe die kind sy moedertaal leer: deur te luister hoe woorde gebruik word, hoe hulle aanmekaarskakel. "
    Dit is presies Jan se punt ,as die onderwyser (ouer) swak is is die leerling swak. As die onderwyser, se taal deurspek is met Engelse woorde, gaan die leerling se taal net so wees.
    Afrikaans word op alle gebiede doodgedruk want Engels is die intaal en Afrikaans nog steeds die taal van die verdrukker, wat lyk dit my uit 'n ANC-oogpunt so vinnig as wat moontlik is, met sy taal moet verdwyn. As dit nie so was nie sou Afrikaanse onderwysinrigtings, veral universiteite, nie so vinnig verengels het nie.

    • Beste FC Boot,
      Ek sien glad nie eers die rede vir jou skrywe nie. Nêrens is daar 'n teenstrydigheid in wat ek geskryf het nie. Blootstelling aan 'n taal om dit te leer, beteken as jy Duits wil leer, gaan woon in Duitsland. As jy Spaans wil leer, trou met 'n Spanjaard. As die ouers sogenaamde Kaaps praat, sal hulle kinders dit ook praat. As die Afrikaans-onderwyser in die klas leer dat dit oukei is om te sê iets is amazing, dan sal die leerlinge ook sê dis oukei en iets asemrowends as amazing beskryf. Waaroor kla jy?
      Groete,
      Angus

      • Beste Angus
        Jy beaam net wat ek sê: "As die onderwyser se taalgebruik swak is,is die leerling se taalgebruik swak."
        Was jy Engeland toe om Engels te leer?

        Lekker dag.

  • Beste Hans,
    Net as jy skryf, en jou sin is so deurmekaar dat ek nie verstaan wat jy wil sê nie, sal ek kla. Dan, natuurlik, ook spelling, want dit is voorskriftelik. Wat en hoe jy by die huis, en met jou vriende praat, ook daar op Orania, het ek vrede mee.
    Verder trek ek maar jou been, ag, ek bedoel, steek ek die draak met jou.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Die spreekwoord sê 'n goeie begrip het 'n halwe woord nodig. In jou geval sal 'n duisend woorde jou nog begriploos laat ronddobber.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top