Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V du Plessis: ’n onderhoud

  • 0

Politici oor die algemeen is geneig om voordeel te trek uit die kunste en daarom moet ons op ons pasoppens wees as Malusi Gigaba en Jacob Zuma kunstenaars in hul toesprake aanhaal.

So sê die skrywer, digter en rekenmeester Clinton V du Plessis oor die geneigdheid van politici in ons afgelope en eietydse geskiedenis om digters, skrywers of kunstenaars in hul toesprake aan te haal om ’n sekere boodskap of beeld van hulself oor te dra.

Dit is begin November in Cradock. Die berugte Karoohitte walm oor dié dorp van Matthew Goniwe (1947–1985) en Etienne van Heerden. Ek is daar om met Du Plessis te praat oor sy nuutste digbundel, Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust Publikasies).

Ons het afgespreek om die onderhoud in sy kantoor op die buitewyke van Cradock soos jy na die klein Karoodorp Hofmeyr ry, te doen. Die rit in ons onderskeie motors begin voor die munisipale kantore in JA Calatastraat, vernoem na die bekende en eertydse ANC-sekretaris-generaal, na wie ook ’n hoërskool in die nabygeleë Lingelihle-township vernoem is.

Ironies genoeg bevind ons ons in ’n straat wat na John Vorster vernoem is en sekondes daarna in ’n straat met ’n snaakse en vreemde naam, naamlik Piet-my-vroustraat. Wat? Kan dit waar wees? Beslis, ja.

“Hierdie hele gebied is Ornito Park. Jy het gesien al die straatname wat na die voëls verwys, maar hierdie straat (John Vorster, waar ons kantoor geleë is) is veronderstel om aan te sluit by ’n ontwikkeling wat bietjie verder lê. In die hele ontwikkeling sal jy straatname soos DF Malan, JG Strijdom, HF Verwoerd en so aan kry. So John Vorsterstraat was veronderstel (as die ontwikkeling voltooi was) om aan te sluit by die segment aan die ander kant.”

Du Plessis verduidelik verder: “Ek dink dit is ’n taamlik ou ontwikkeling. Ornito Park het ontstaan na die ou ontwikkeling wat na die ou presidente of eerste ministers vernoem is. So jy kan sien as jy na die straatname kyk hier in Ornito Park was daar ’n beweging weg van die ou politieke establishment.”

Net soos Zuma in 2013 tydens die lewering van sy begrotingsrede in die parlement vriend en vyand verras het deur Shakespeare aan te haal, net so het die nuwe minister van finansies verras deur onder andere die Nigeriese digter Ben Okri en die Indiese ontwikkelingsekonoom Amartya Sen tydens die lewering van sy eerste mediumtermynbegrotingsrede in Oktober aan te haal.

Zuma het die opposisie op die vingers geraps deur uit Shakespearce aan te haal: “Full of sound and fury signifying nothing”.

Gigaba het onder meer gesê ons moet begin om onsself te “remake” om ons “dreams” te “realise”. Om dit te beklemtoon het Gigaba ons herinner aan die gedig getiteld “Poetic fight” van Okri:

Will you be at the harvest,
Among the gatherers of new fruits?
Then you must begin today to remake
Your mental and spiritual world,
And join the warriors and celebrants of freedom,
Realizers of great dreams.
You can’t remake the world without remaking yourself.

Ook het die Minister ’n beroep gedoen op ons almal om bereid te wees om die “seeds” van die “harvest” te plant sodat ons almal daaruit voordeel kan trek. Om sy boodskap te onderstreep het hy ’n gedeelte uit die boek Development as freedom van Sen voorgelees:

Development has to be more concerned with enhancing the lives we lead and the freedoms we enjoy. Expanding the freedoms that we have reason to value not only makes our lives richer and more unfettered, but also allows us to be fuller social persons, exercising our own volitions and interacting with – and influencing – the world in which we live.

Net so het ook die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, tydens die lewering van sy laaste 2017-begrotingsrede pous Francis aangehaal: “Reforming the social structures which perpetuate poverty and the exclusion of the poor first requires a conversation of mind and heart.”

En ook die digter SEK Mqhayi wat ’n gedig geskryf het om hulde te bring aan soldate wat gesterf het tydens die sinking van die SS Mendi: “Kukhonza mnye ukuze kuphile abanye” (“Somebody has to serve, so that others can live”).

Clinton V du Plessis (foto: Hendrik Mentz)

Op ’n vraag oor hoe sy gedig “Bekentenis op bladsy 16 in Aantekeninge teen die skemeruur aansluit by die geneigheid van politici om digters of kunstenaars aan te haal, waarsku Du Plessis: “Mens moet versigtig wees wanneer politici kunste gebruik. Hulle is geneig om dinge te gebruik om voordeel daaruit te trek. In dié geval kan dit wees om ’n idee oor te dra van wydbelesenheid of ’n intellektuele onderbou. In die algemeen word kunstenaars nie ernstig opgeneem nie; veral Suid-Afrikaanse digters. So ek sal nie te veel waarde daaraan heg nie.”

Oor die vergelyking van die temas wat hy aanraak in sy laaste twee digbundels, Rangeer (2013) en Woorde roes in die water (2014), en ook in Aantekeninge teen die skemeruur, sê Du Plessis: “Kom ons vergelyk byvoorbeeld Rangeer en Aantekeninge teen die skemeruur. Rangeer het ontstaan na Flitse (2012). Flitse het onstaan na ’n lang stilte en dit was ’n vingeroefening net om my weer aan die gang te kry. Dit is ’n baie dun bundel. Iets wat ek altyd gedoen het, maar toe dink ek, ek moet gaan sit en iets meer omvattends skryf. Rangeer is die resultaat van die stof wat die naaste aan my was. So ek het teruggegaan na my grootwordjare en my pa se werk as spoorwegwerker. Met Woorde roes in die water het ek net oor ’n magdom onderwerpe geskryf. Oor die ekonomie en ook oor die liefde wat ek nog nooit voorheen gepubliseer het nie.”

Du Plessis sê Aantekeninge teen die skemeruur is anders. “Daar is ’n tipiese biografiese lyn in dié bundel teenwoordig. Dit gaan oor ’n ouerwordende skrywer of digter of kunstenaar. Jy kan dit tweërlei interpreteer. Dit kan wees aantekeninge teen die skemeruur wat dui op ’n tydstip. Met ander woorde aan die einde van die dag is die persoon besig om te skryf. Dit kan ook wees aantekeninge teen – soos “against” in Engels of “verset” in Afrikaans”.

Op ’n vraag of sy gewoonlik vlymskerp sosiale kommentaar in Rangeer oorskadu word deur sy outobiografiese vertellings en sy verhouding met sy ma in Aantekeninge teen die skemeruur, het hy geantwoord: “Tot ’n sekere mate, ja, maar nie noodwendig nie. In Rangeer is daar baie gedigte oor my grootwordjare en oor my pa. In Aantekeninge het ek vir die eerste keer oor my 90-jarige ma geskryf.”

Aantekeninge teen die skemeruur handel oor die digter, skrywer of kunstenaar se lewensloop. Dit is soos volg ingedeel:

i. Prewelings

Dit is ironies dat die bundel met prewelings begin, want dit is eintlik sterwenswoorde. So, dit moes eintlik die slotafdeling gewees het. Dit begin met die ou digter, maar dit gaan oor skryfwerk, skrywers, skryfkursusse wat bygewoon word.

ii. Littekens van landskappe

“Littekens van landskappe” gaan oor die sosio-ekonomiese omgewing wat ’n invloed op die digter gehad het. Sterk politieke gedigte kom in die afdeling voor. “Momente” is so ’n gedig:

History is written by the victors
– Walter Benjamin

Die datums om voortaan af te merk
op jou nasionale kalender
word bepaal deur die geheue van die bloedige loop
van die geweer.
Die name om voortaan te gedenk
verskyn in staatskoerante:
ordes, benoemings, postume hulde
aan nuwe helde.
Daar was ’n bom teen die deur
wat nie wou meegee,
daar was ’n lem teen ’n keel,
daar was ’n landmyn
in die omgeploegde land,
daar was ’n hak teen ’n nek
in die Republiek van Spekskiet
en Donder.

Geskiedenis kom altyd
met ’n masker aan,
die verlede is ’n flink,
flambojante fopdosser:
wat jy sien is nie
wat jou oë hul verbeel nie.

Vars hernoem verrys
snelweë, lughawens, stede.
’n Nuwe hand teken die geldnoot,
vir botter en brood buk jy laag,
betoon jy eer
aan die nuwe man
met boek en nuwe pen:
hy wat die nuwe absolute waarheid ken.

iii. Kiekies

“Kiekies” kom weer terug by die ou digter. Hy is besig om na ou foto’s te kyk. Die digter gebruik met opset die woord “kiekies”, want dit roep meer daai nostalgiese beeld op as foto’s.

iv. Restant

Dié afdeling kom ook weer by die digbundelopset oor sterwe in. As jy ’n testament opstel en jy het goed wat nie spesifiek aan mense bemaak word nie, dan noem jy dit die “restant”. Volgens Du Plessis is die gedigte onder “restant” gedigte wat nie lekker by enige afdeling kon inpas nie. 

v. Plakboek

Dit gaan weer terug na die afdeling “Kiekies”.

Jason Lloyd

vi. Wiegeliedjies

’n Wiegeliedjie is normaalweg ’n liedjie wat jy vir ’n kind sing om hom of haar aan die slaap te maak. Die afdeling bevat egter ontstellende verse oor kinders in die huidige opset in Suid-Afrika. Kinders wat misbruik word en wat op dwelms is.

Daar is ’n gedig oor Verdwaal. “Ek het nooit geweet daar bestaan so ’n plek met die naam Verdwaal nie. Dit is ’n interessante gedig oor vier swart kinders wat dood is van honger omdat hulle verdwaal het. Die plek Verdwaal is waar hulle toevallig verdwaal het. Die plek se naam was alreeds Verdwaal voordat die kinders daar verdwaal het.”

“Verdwaal” (bladsy 136):

Gepas, dié naam, maar onvanpas die gebeure
in hierdie land weet ons minder as wat ons dink
op ’n plek waarvan ek nie eens geweet het nie,
’n klad op die kollektiewe gewete,
ou nuus nou.

Verdwaal: drie seuns en ’n meisie,
Onkarabile, Nkune met die mankbeen, Sebengu en Mapule.
Ouderdomme:
2 6 7 9
sonder kos
sonder ma
sonder pa
sonder hoop
sonder land.

Drie seuns en ’n meisie
met net mieliemeel geleen van die bure
om slappap te maak. Nou dood,
dood van honger
dood van soek na ’n swanger ma
wat radeloos 18 km ver wou loop
om te soek na mieliemeel,
na hoenderstukkies, na lewe.

Drie seuns en ’n meisie. Verdwaal en versaak.
Dood. Dood in hierdie land
met sy Top Billing celebrities
met ’n glansbestaan met honde wat gebalanseerd vreet
met sportsterre met sportmotors en sportiewe hoere
met staatsamptenare wat bars uit die nate van hulle klere
met seminare werkswinkels spanboukampe en jaareindetes
met spyskaarte met drie soorte vleis en vis
met kerke met opwekkingsdienste
met bekers wat oorloop van God se genade
met duikbote met ministers wat ontken en systap en gaap.

Drie seuns en ’n meisie dood van honger en dors
hiér waar ons kinders verontwaardig
die tjips op die bord eenkant toe krap,

die vleis net halfpad eet,
die groente nors aangluur,
gister se brood verafsku.

Ek walg. Wonder hoe sterf jy van honger en dors:
Bid jy, berus jy, sit jy jou verbete teen, vloek jy?

Drie seuns en ’n meisie, dood
sonder ’n foto,
sonder geboortesertifikaat,
sonder land,

die lyke net vel en been.
Maar wie sal oor hulle ween?

Die lewe is wreed teenoor dié wat nie kan eet.

Verdwaal is ’n plek waarvan niemand weet.

vii. Nag

Nag is voordat jy gaan slaap. Of dit kan ook soos die uitdrukking “dit is nag” gelees of verstaan word. Met ander woorde hier kom nou groot probleme. Die heel laaste gedig, “Nuusberig as lykdig”, gaan oor ’n lyk. Dit gaan oor die dood van die SABC-joernalis Suna Venter. Met ander woorde, iemand sterf werklik.

Laatwerk of laatverse

Op ’n vraag of die gedig “Ou digter” op bladsy 13 oor Du Plessis handel of outobiografies van aard is, antwoord hy: “ Nie noodwendig nie.”

Volgens hom is die gedigte in Aantekeninge teen die skemeruur geensins laatwerk of laatverse nie. “Iemand het my in 2014 met die verskyning van Woorde roes in die water gevra of een of twee verse in dié bundel nie laatverse is nie. Toe antwoord ek deur te sê ek dink ek is te jonk vir laatverse. Hy het toe geantwoord deur te sê dit is nogal waar. Laatverse word hoofsaaklik gepleeg deur Breyten Breytenbach, TT Cloete en ander ouer digters wat aan die einde van hul lewe staan. Hulle skryf pakketgedigte wat getipeer kan word as laatgedigte.”

Du Plessis gee egter toe dat heelwat van die gedigte in die bundel wel as laatgedigte beskryf kan word. “Ek pas nie altyd noodwendig in nie. Miskien is dit gepas dat ek as ’n nie meer so ’n jong digter nie, maar darem ook nog nie so oud nie, laatgedigte op hierdie stadium skryf.”

Hoe dit ook al sy, dit sou heel veilig wees om te sê Aantekeninge teen die skemeruur is ’n gestoei met die mens se verganklikheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top