Aandagafleibaarheid en skoolkinders

  • 1

Waar ’n skoolkind teenwoordig is, is daar uitdagings. Waar ’n skoolkind teenwoordig is, is daar ook positiewe ontwikkelingspotensiaal. Ronel Wiese, wat jare lank onderwyseres was, het navorsing gedoen oor hoe om te werk met leerders wat aandagtekorte het. Sy het met Estelle Kruger oor haar bevindinge gesels. Lees ook die LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel deur Ronel Wiese en medeskrywers:

Ondersteuningstrategieë vir gedragsbevoegdheid by grondslagfaseleerders met aandagtekort-/hiperaktiwiteitsversteuring

Wat is jou eie ervaring in die onderwys wat daartoe gelei het dat jy bewus geraak het van aandagtekort-/hiperaktiwiteitsversteuring by grondslagfaseleerders – maw wat is die agtergrond van jou betrokkenheid by die studie?

Ek was vir 20 jaar ’n graad 1-onderwyseres en dis vir my wonderlik om te sien hoe leerders in hul eerste skooljaar op skolastiese gebied ontwikkel. Dis my talent om leerders wat nie emosioneel gereed is vir hulle graad nie, of diegene wat leeruitvalle (’n wiskundige agterstand of ’n taalagterstand) toon, met die nodige ondersteuning tot volle potensiaal te laat ontwikkel.

Ek het my BEd Hons-studie in leerondersteuning en my MEd-studie beide deur die Departement Vroeë Kinderonderwys en die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, verwerf. Die studie se fokus op aandagtekort-/hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) was verrykend omdat ek na elke moontlike oplossing gesoek het om my eie twee seuns met ATHV en disleksie te kon help om hulle leeruitvalle op te hef en op skolastiese gebied vordering te maak.

Jy maak melding in jou artikel dat onvoldoende onderwyseropleiding moontlik die ondersteuning van leerders met hindernisse soos ATHV bemoeilik. Wat sou jy wou byvoeg by bestaande onderwysopleiding vir grondslagfaseleerders om hierdie probleem meer doeltreffend te identifiseer en hanteer?

Ek is ’n voorstander van ’n volle vier jaar se opleidingskwalifikasie by ’n onderwysinstansie. Onderwysers wat tot die beroep toetree beskik soms oor ander kwalifikasies met die byvoeging van ’n jaar se HOD-kwalifikasie.

In my navorsingstudie het al drie skole se opvoeders/deelnemers ’n behoefte aangedui vir voortdurende opleiding en verrykingskursusse, maar het terselfdertyd ook afstand en tyd as struikelblokke voorgehou. By ons eie privaatskool word gassprekers genooi wat opleiding bied in ons eie midde, gemaksone en tydskedule, en dit toon suksesvolle resultate.

Volgens julle navorsing is ATHV ’n neurologiese toestand. Wat is die geskiedenis daarvan dat dit in die volksmond egter meestal as ’n gedragsafwykingstoestand gesien word?

Dis ’n jammerte dat ons na hierdie leerders se gedrag verwys as afwykend. Ek verkies eerder die beskrywing “onbevoegde gedrag”.

ATHV-lyers het ’n biochemiese wanbalans in hul brein en in 80% van die gevalle word dit oorgeërf, terwyl die ander 20% aan ander faktore toegeskryf word. Leerders met ATHV het dikwels ook uitdagings met selfregulering en impulsbeheer. Hul denkwyse is konkreet, nie altyd buigsaam nie; hul oorreageer, sê onvanpaste dinge en doen soms dinge wat nie geskik is vir spesifieke situasies nie.

Enige huishouding met kinders voorsien uitdagings, maar kinders met onbevoegde gedrag, leeruitvalle en onderprestasie veroorsaak meestal dat ’n huishouding disfunksioneel is, wat geweldige konflik en huwelikspanning teweegbring.

Dit blyk duidelik in julle artikel dat ouers van leerders met ATHV-steurnis besondere behoeftes het. Hoe kan ouers beter toegerus word om hulle kinders met hierdie steurnis meer doeltreffend te hanteer?

’n Baie groot persentasie ouers, veral moeders van kinders met ATHV, is emosioneel uitgeput en ervaar geweldig baie spanning en/of angstigheid met die hantering van hul kind se skolastiese uitdagings of leeruitvalle. Hul selfbeeld het meestal ’n knou weg en hul toon skuldgevoelens rakende swak ouerskap en onvoldoende dissipline. Onsimpatieke pa’s wat waarskynlik ook die ATHV-geen dra, ontken dit oor die algemeen en is van mening dat hul destyds op skool reg gefoeter is oor stoutigheid en dat medikasie taboe is.

Ouers kan beter toegerus word deur in te skakel by ’n ATHV-ondersteuningsgroep wat sprekers met inligtingsessies bied en sodoende hul kennis verryk. Die ouer en onderwyser moet ook ’n noue pad van goeie kommunikasie, betrokkenheid en ondersteuning ter wille van die kind saam stap.

Hoe sou jy “selfreguleringsvaardighede” in ongeveer 25 woorde aan ’n jong en onervare onderwyser beskryf?

Selfregulering is die bewuste selfbeheersing om gedagtes, gedrag, emosies en liggaamsbeweging te bestuur tydens ’n konfrontasie. Dis buigsaamheid wanneer verwagtinge of situasies verander en die vermoë ​​om oorsake van gefrustreerde uitbarstings te herken en te vermy.

In die artikel meld julle dat dit belangrik is dat onderwysers aangestel moet word wat spesifieke vaardighede het. Op watter manier word onderwysers gekeur voor aanstelling om te toon dat hulle hierdie vaardighede besit?

Onderwysers se persoonlikhede verskil – daar is onderwysers wat empatie en geduld vir leeruitvalle en leerondersteuning het, of nie. Onderwysers met jare se onderwyservaring, diegene wat meer gevestig is en al ’n ouer of ouma is, hanteer ATHV, onbevoegde gedrag en leeruitvalle uit hul ervaringsveld met meer geduld en behendigheid.

Daar word telkemale in die artikel van “breingim” melding gemaak. Kan jy asseblief verduidelik wat dit behels? Hoe sou jy dit byvoorbeeld aan ’n onderwyser verduidelik ter ondersteuning in die klaskamer?

Breingimnastiekoefeninge is vinnige, pretbewegings wat die leerders se aandag rig en fokus voordat die onderwyser met ’n les begin. Elke oefening is ontwerp om die brein te betrek, om van oortollige energie ontslae te raak, stres te ontlaai en om leer te verbeter. Die aktiwiteite kan in die klaskamer by die leerder se sitplek gedoen word, en alhoewel baie van die oefeninge die beste met jonger leerders werk, kan ouer leerders en selfs volwassenes voordeel trek uit die breingimnasium.

Een breingimoefening is: “Kruis jou linkerbeen oor jou regterbeen by jou enkels. Plaas dan jou linkerhand se arm oor jou regterhand by die polse, draai jou handpalms na mekaar en verweef jou vingers. Buig jou elmboë en krul jou hande na binne en draai die polse sodat jou verweefde vingers na jou borsbeen beweeg en die elmboë na buite wys. Sit vir ’n paar minute in hierdie posisie en asem diep in en stadig uit.” Dit is ’n kalmerende oefening wat energievlakke verlaag, stres verminder en fokus bevorder vir die klaskameraktiwiteite en die leerproses.

Sien ook hierdie wenke oor breingimnastiek:

1. De Jager, Melodie. 2005. An evaluation of brain gym as a technique to promote whole brain learning: A personal and professional perspective. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Johannesburg, Rand Afrikaans Universiteit.

2. Kyk na die gesprek op Kwêla met die guru van Brain Gym – wat sy ook Mind Moves noem – Melodie de Jager

Ons leef in ’n tyd van sensoriese oorlading met allerlei elektroniese toestelle wat (amper) tot elke kind se beskikking is. Hoe kan ouers opgelei word om dit te hanteer sodat kinders meer kan leer om te leer fokus op enige taak wat verrig moet word?

Te veel blootstelling aan televisie en elektroniese toestelle perk kreatiwiteit in en maak van ons kinders ’n passiewe generasie. Ouderdomsbeperkinge op elektroniese speletjies word geïgnoreer en ons stel ons kinders in ons eie onkundigheid bloot aan geweld waarvoor hulle nie noodwendig emosioneel gereed is nie. ’n Visuele rooster of uiteensetting van ’n tydskedule of kleurkodes kan vir die leerder ’n roetine en selfdissipline leer. Die visuele rooster kan uit ’n oggendroetine bestaan, asook ’n roetine vanaf tuiskoms smiddae tot slapenstyd. Konsekwente optrede, gestruktureerde roetine en streng dissipline moet deurgaans gehandhaaf word.

Een van die ondersteuningstrategieë wat julle bespreek, is “isolering”. Wat word hiermee bedoel? Kan dit nie lei tot ander negatiewe emosionele toestande nie (byvoorbeeld verwerping of uitsluiting)?

Isolering het verskeie betekenisse. Isolering tydens sensoriese oorlading met onbevoegde gedrag het ’n positiewe effek op sulke leerders, omdat hul baat vind daarby om vir ’n wyle uit die groep geneem te word vir ruimte en persoonlike spasie om te kalmeer.

Isolering kan wel ook met straf gepaard gaan indien daar ’n oortreding was en die kind vir ’n oomblik vir die juffrou in haar stoorkamer moet wag omdat sy alleen met die leerder wil praat en die leerder wil betig.

’n Negatiewe en baie oneffektiewe manier van isolering is om die leerder buite die klas te laat staan as ’n straf. Dit weerspieël onmiddellik ’n onvermoë om dissipline te handhaaf en ’n onvermoë tot begrip rakende onbevoegde gedrag. ’n Leerder met ATHV verstaan nie die doel daarvan nie, want hy of sy is altyd hiperaktief en dis boonop ’n vernederende en verkleinerende aksie. Enige leerder is skoolpligtig en geregtig op onderrig omdat sy ouers skoolgelde betaal, en in die ATHV-kind se geval gaan hy na tien minute nie meer daar staan nie.

In hierdie artikel word die doel van isolering as iets positiefs beskryf, nl om persoonlike ruimte vir die leerder wat sensories sensitief is te skep en om hul ’n oomblik te gee om hul onbevoegde gedrag onder beheer te kry. Isoleer die kind eerder ongesiens op ’n positiewe wyse deur hom te stuur om vir jou ’n glas water te gaan haal of om ’n fotostaat te gaan maak, of stuur hom met ’n boodskap.

Kan jy verduidelik hoe ekstrinsieke en intrinsieke motivering ter sprake is as ondersteuningstrategie?

Intrinsieke motivering laat ’n individu speel, verken en betrokke raak by aktiwiteite vir die inherente pret, uitdaging en die opwinding daarvan. Hierdie interne gedrag het ’n oorsaaklikheid wat beteken dat die mens uit die self ervaar, deur ’n gevoel van nuuskierigheid en belangstelling eerder as wat die ervaring voortspruit uit eksterne bronne. Intrinsieke motivering en leer verwys na gedrag wat in die afwesigheid van eksterne stukrag vir die mens interessant en genotvol is.

Ekstrinsieke motivering en leer word gebruik in gevalle waar intrinsieke motivering afwesig is. Leerders benodig ander eksterne aansporings om ’n verwagte uitkoms te bereik. Ekstrinsieke motivering behels die uitvoer van ’n aktiwiteit vir ’n aparte beloning, soos ’n fisiese beloning ter bereiking van ’n uitkoms.

Wat het jy van jouself geleer in die proses van navorsing en publikasie van julle artikel?

In atletiek is daar kortafstandatlete en marathonatlete. Ek vergelyk navorsing en studies met ’n marathon en in my akademiese marathon was daar baie sterk kortafstand akademiese kandidate (medestudente) wat uitgesak het op die lang pad. Deursettingsvermoë, uithouvermoë en selfbeslotenheid is belangrike eienskappe wat ’n mens ver in die lewe bring. As jy ’n doel voor oë stel, kan jy in geloof enige iets bereik met die prys van opoffering en baie harde werk. Ek is ’n aanhouer en uithouer en ek het ’n baie sterk voltooiingsbeginsel om ’n projek wat ek begin het, deur te voer en af te handel.

Is daar nuwe navorsing op jou horison? Kan jy ons daarvan vertel sonder om jou geheime te verklap?

Ek vervul daagliks ’n organisatoriese bestuursrol by Bronberg Akademie. Ek is ook ’n PhD-student aan die Universiteit van Pretoria en my navorsingstudie behels die leierskapgedrag van laerskoolskoolhoofde om op akademiese gebied ’n positiewe skoolklimaat te bewerkstellig.

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Prinsloo

    Insiggewende artikel!
    My stuiwer in die opleidingsarmbeurs is dat daar 'n behoorlike module of drie in aanvanklike onderwysersopleiding as verpligte vak geneem moet word.
    Na toetreding behoort onderwysdepartemente deurlopende programme te hê wat alle onderwysers help om met leerders met spesiale behoeftes te werk.
    Daar is nou maar eenmaal net veel meer leerders wat met hierdie uitdagings stoei as wat ons wil erken.
    Die voortgesette professionele ontwikkelingsprogram waardeur onderwysers punte moet verdien oor drie jaar siklusse kan help om onderwysers te bemagtig.
    Sterkte vir daai PhD, Ronel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top