Aan Raed-na-Gael wat neusoptrek vir die evolusieteorie

  • 19

Beste Raed-na-Gael,

Dit staan enigiemand natuurlik vry om, behalwe vir laster, enigiets kwyt te raak. Om van omie Darwin en sy trawant Dawkins te praat, is egter neerhalend, en bewys net dat jy minderwaardig teenoor hulle voel. Het jy al ooit iets wat hulle geskryf het, gelees? Ek betwyfel dit. Dit nou daar gelaat.

Alle wetenskaplike teorieë is valsifiseerbaar, en daarmee bedoel ek dat hulle ondersoek kan word, getoets kan word, en indien enige gebreke gevind word, kan hulle verander word, of selfs vervang word deur meer werkbare teorieë. Dit staan enige wetenskaplike dus vry om die atoomteorie, die swaartekragteorie, die evolusieteorie, die kwantumteorie, die stringteorie, ens te ondersoek, te verander of desnoods te vervang met nuwe, meer werkbare teorieë. Nuwe teorieë sal dan op soortgelyke wyse ook onder skoot kom.

Om maar net te sê iets is ʼn gestagneerde idee, en dit af te skryf met ʼn ag, nee! is ongelukkig nie genoeg nie.

Evolusie is nie net ʼn kwessie van programmering nie; die dryfkrag daarvan is natuurlike seleksie, en deur eiers met harde doppe te lê, is die hoender se manier om voort te bestaan. Gaan lees tog Dawkins se The Selfish Gene, en jy mag dalk so ʼn vae begrip kry van hoe dinge werk.  Dawkins se grappie nl. dat ʼn hoender maar net ʼn eier se manier is om nog ʼn eier te maak, is ʼn heel ernstige grappie wat jy ook dalk beter sal verstaan as jy hierdie boek, ten minste, van hom lees.

Alle slange plant voort deur middel van eiers. Party lê eiers, terwyl ander weer die eiers in hulle hou, en dan lyk dit asof hulle lewendig geboorte gee, soos bv die pofadder.  Selfs die mens se begin is ook maar ʼn eier.

Die evolusieteorie help om lewe op aarde beter te verstaan, en is tot dusver die enigste werkbare teorie. Landbou-en-veeteelt, die mediese wetenskap, ens, werk maar almal binne die raamwerk van die evolusieteorie.

Ruimtereise en sterrekunde val natuurlik buite die raamwerk van die evolusieteorie, maar kennis van daarvan  mag dalk help om lewe te begin en te verstaan, waar dit ook al nodig is. As die son sy laaste asem uitblaas oor sowat vyf miljard jaar, sal bioloë en wetenskaplikes dalk jou droom kan verwesenlik, en ander planete in ander sterrestelsels kan koloniseer. Tot dan sal jy maar geduldig moet wag.

Nou weet jy!

Angus

 

  • 19

Kommentaar

  • Beste Angus
    So n paar dae gelede was daar ‘n TV-program wat getoon het hoe ‘n veearts van Hartenbos ‘n beseerde dragtige pofadder toewerk om die inwendige spierwit eiers te bewaar. Die eiers was duidelik sigbaar waar die slang beseer was. Wens Raed kon dit sien. Sien is mos glo vir die kreasioniste as dit hulle pas. Anders is geloof alleen genoeg.
    Groete, Dirk

  • Ek sou dink dat 'n mens iets sou lees wat vir hom of haar van belang sou wees en sal kan bydra tot 'n beter bestaans- en verstaansbegrip. Jy is reg. Die menere hierbo val ongelukkig nie by my in hierdie kategorie nie.
    Nou weet ek, ja dankie, jy stem saam soos jy hierbo ruiterlik erken -
    "... en deur eiers met harde doppe te lê, is die hoender se manier om voort te bestaan."
    Dit was my punt heeltyd deur. (Eers hoender, dan eier.)
    en jou: "Die evolusieteorie help om lewe op aarde beter te verstaan," sal ek wysig met “poog om lewe op aarde beter te verstaan.” Dis nader aan die waarheid.
    Al die ander teorieë wat jy noem, asook landbou-en veeteelt (astrobiologie) en die mediese (biotegnologie) sal saam gaan ruimte toe.
    Die mens sal sy eie "evolusie" in die ruimte skep en die nuttelose en bizarre waarvan daar baie in Darwin se dinge is, tuis los.
    Ruimtelike groetnis
    Raed-na-Gael

  • Beste Angus

    Jy skryf:" As die son sy laaste asem uitblaas oor sowat vyf miljard jaar, sal bioloë en wetenskaplikes dalk jou droom kan verwesenlik, en ander planete in ander sterrestelsels kan koloniseer. Tot dan sal jy maar geduldig moet wag.

    Nou weet jy!"

    Die vraag wat jy eintlik moet beantwoord ,is wat word van die mens as die heelal tot sy einde kom? Verskuiwing van een planeet na 'n ander is 'n tydelike oplossing.
    Die Bybel daarteen bevat 'n permanente oplossing.

  • Hans Richardt

    More. Mense al hierdie redenasies maak my nie meer opgewonde nie. Dis byna soos om met iemand met Dementia te gesels, dieselfde punt word herhaal.
    Ek moes eenmaal iets by 'n kollega se gedenkdiens sê. Dit het die volgende behels-
    Ek het die man as 'n driftige persoon leer ken. Sy grootste pyn in die lewe was sy strewe na "gelykheid"! Soos enige ouer weet, word geen twee kinders van dieselfde ouers met gelyke talente in gelyke omstandighede gebore nie. Gelykheid is dikwels die strewe op papier na die Utopia. In die dood is ware gelykheid (einde van my toespraak).
    Dink mooi daaraan, ons kan nie duurder of beter koop in natuurlike proses van ontbinding nie, al wat sal oorbly is ons knie- en heupvervangings ... Dis die laaste stap van die hele evolusieproses en mense is bang daarvoor. Kan mens regtig lewe, as jy bang is om dood te gaan?

  • Beste Raed-naGael,
    Natuurlik stem ek saam dat hoenders eiers lê met harde doppe. Harde doppe is noodsaaklik vir die voortbestaan van die hoender. Harde doppe het gekom dmv natuurlike seleksie. Lees weer en jy sal sien dat ek nie sê die hoender was daar voor die eier nie. Alle lewe, nie net die hoender s'n nie, begin met die eier. Niks is volwasse geskape soos die Bybel beweer nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Hans Richardt,
    Ek verstaan! My oupa was 'n man wat in alles onder die son en ook anderkant die son, belang gestel het. Op sy 98ste verjaarsdag het hy egter net daarin belang gestel of sy gekookte eier se geel nog sag is.
    My ma het 'n heupvervanging gehad toe sy 84-jaar oud was. Toe sy wakker word na die operasie, wou sy weet of sy sal kan voortgaan met die reëlings vir die oumense se eetmaal die einde van die jaar. Ek kan jou verseker: drie maande later het die oumense heerlik gesmul aan hulle kersmaal, terwyl sy flink rondbeweeg het en 'n ogie oor alles gehou het.
    Groete,
    Angus

    • Hans Richardt

      Angus, die mense is lewende fossiel. Waarom is daar bv nie mbv genetiese manupilasie en rekenaartegnologie, al 'n lewende rekenaar geskep wat self bly ontwikkel nie? Dan kan ons die mens in die museums, in opgestopte vorm beskou ...

  • Beste FC Boot,
    As die heelal tot 'n einde kom, is dit weg met die mens en al sy drome, wense en versugtinge. Selfs Bybels sal met leuens en al verdwyn.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus

      Waarom soveel moeie doen as alles tot 'n einde kom, met geen beter vooruitsigte nie.

      Dit sal goed wees as jy nie net van Bybelleuens praat nie, maar ook aantoon waar dit staan.

      Lekker dag

      • Hans Richardt

        FC, Mattheus 1 het nogal leuens. 10 gebooie - jy mag nie begeer nie, nie sy maagd, diensmeisie ens. Jy mag nie egbreek nie, nie tasbaar of in gedagtes nie.
        Nou as die heilige gees Maria, Josef se maagdvrou verwagtend gemaak het, bly dit nog wonderbaarlike egbreek.
        Verder, as die Heilige Gees nou die pa is, terwyl Josef nie die pa is nie, dan is Josef se stamboom toegeken aan Jesus, mos Bybelse leuen. Een van vele.

        • Beste Hans
          Jy is bietjie deurmekaar ou. Matteus 1 handel oor Jesus se voorouers en Christus se geboorte. Ek weet ateïste raak hier 'n bietjie deurmekaar omdat hulle nie verstaan wat hul lees nie.
          Dit is so omdat jul begin klei trap sommer van die begin af oor die Skeppingsverhale. Nou is dit so dat mense kleitrap oor tyd. Vra hul om jou 'n definisie van tyd te gee, dan sit hul met 'n mond vol tande.
          Die begrip tyd het begin ontstaan toe die heelal in beweging gekom het. Ruimte is dit wat ons waarneem tussen objekte. Voor die oerknal was daar slegs 'n oneindigheid. Wat die Jode dus lank voor enigiemand oordink het was dat daar net EEN OORSAAK was waardeur die heelal tot stand gekom het.
          Daar bestaan nie woorde in die menslike woordeskat om die OORSAAK te omskryf of om te verstaan nie. Wanneer daar dus gepraat word van 'dag' word daar gepraat van 'n natuurverskynsel van donker wat deur lig opgevolg word, agv die rotasie van die aarde. So is 'n jaar 'n reis om die son so min of meer 365 dae en word 'n omwenteling van die planeet bepaal deur die spoed waarmee die planeet om sy as
          wentel.
          Hierdie is alles nodig vir die ontstaan van die lewe wat ons ken hier op aarde. Vra jouself af op dit alles inaggenome 'n lukrake ,onbeplande iets was. Nee dit dui op 'n wonderwerk wat buite ons verstandsbegrip val. So is die verwekking van lewe wat tot die geboorte van Jesus gelei het, 'n onverklaarbare wonderwerk.
          As jy dan vir iemand gelukwens met sy verjaardag, wens hom dan eerder geluk dat hy nog 'n reis om die son oorleef het, inaggenome wat die mens alles op die planeet aanvang.
          Vraag om oor na te dink – wat word van “tyd” in 'n statiese heelal ,dws niks beweeg nie.

  • Beste Hans,
    Met genetiese manupulasie van die mens, sal jy in groot moeilikheid beland. Hoe sal ek nou weet waarom daar nog nie lewende rekenaars geskep is nie. Dink jy miskien ek is alwetend? Wat vir 'n ding is 'n opgestopte vorm? Dink jy dalk fossiele is opgestopte vorms? Dan het jy dit ver mis.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Van watter moeite praat jy? Is dit vir jou moeite om te lewe? Dis mos lekker! Geniet dit!
    Daaar is al boeke vol geskryf oor al die leuens in die Bybel. Ek beskou dit nie as leuens nie, want die Bybel is fiksie, en in 'n fiktiewe wêreld is daar soms ander reëls as in ons wêreld.
    Groete,
    Angus

  • Hans Richardt

    Angus, met nanotegnologie, kunsmatige intelligensie wat self leer en die gebruik van beide reeds in mediese tegnologie, waarom is integrasie van rekenaartegnologie en genetiese manipulasie skielik so probleem?
    Die genetiese manipulasie van DNA of RNA om siektes te voorkom of beveg, is dan nuutste mediese tegnologie?

  • Hans Richardt

    Angus, die ewolusie gaan nie net oor biologie nie. Ewolusie gaan ook oor hoe bv mense se intelligensie ontwikkel het om van klippe as gereedskap, na 2018 se kunsmatige intelligensie-tegnologie te ontwikkel.
    Ewolusie gaan ook oor hoe mense se logika ontwikkel het, om nie meer agter 'n klip of bos te skyt nie, agv die risiko daarvan, na spoeltoilette en verskillende tipe papier in toilette. Rekenaars en kunsmatige intelligensie-ontwikkeling is ook ewolusie.
    Raed-na-gael dink dat ewolusie skynbaar net oor biologie gaan, maar ewolusie gaan oor gedrag, handeling ens. Alhoewel ek moet toegee, Afrika-politiek het min ewolusie ... en is voorspelbaar, net soos godsdiens fanatici.

  • Beste Hans,
    Raed-na-Gael dink reg. Darwinistiese evolusie het net betrekking op lewe: hoe plant en dier mettertyd verander het om by nuwe lewensomstandighede aan te pas. Dit het eintlik nie eens te make met hoe lewe ontstaan het nie. As ape mettertyd leer hoe om neute met klippe oop te kap, of spoeltoilette te gebruik, of rekenaars te ontwikkel sodat die gene van hulle spesies kan aanpas by nuwe en ander omstandighede, dan sluit dit evolusie in. Aan die ander kant is evolusie so 'n magtige natuurverskynsel, dat dit ander dissiplines begin insluit soos die evolusie van die motor vanaf ford se Model-T tot by Mercedes-Benz se vinnigste sportmotor. Soos wat evolusie in die natuur spesies verander, so praat ons ook van die evolusie van die vliegkuns, of die evolusie van die sterrekunde, die wetenskap, selfs die evolusie van die teologie en die boekdrukkuns. Die evolusieteorie het dit vir die mens makliker gemaak om biologie beter te verstaan, en is tot dusver die enigste werkbare teorie vir die wetenskap. Voor die evolusieteorie was daar die Bybelse skeppingsteorie waarvolgens wetenskaplikes gewerk het, maar dit het in onbruik geraak omdat die Darwinistiese teorie foute daarin gewys het en 'n werkbaarder teorie was.
    Groete,
    Angus

  • Beste Hans,
    Ek het dit teen die woord 'integrasie'. Die menslike liggaam en die rekenaar kan nie integreer nie. Die rekenaar kan gebruik word as hulpmiddel om DNS te manipuleer, maar dis nie integrasie nie. Die rekenaar se 'denkvermoë' (met 0 en 1) en sy programmering kan vervang word met 'n stelsel wat volgens die menslike brein en senustelsel werk , maar dis nog nie integrasie nie. Integrasie sal so iets wees soos half mens, half rekenaar.
    Groete,
    Angus

  • Hans Richardt

    Angus, ek weet nie veel van "matter" en "anti-matter" nie, net dat een amper skaduwee van ander is.
    Blykbaar moet mens dat God verstaan as die geheel, wanneer die "matter" en "anti-matter" een word ...
    As "anti-matter" nie sigbaar is nie, sou dit dan hiernamaals verteenwoordig?
    Dan die wedergeborenes, moet ontploffing wees wat alles vernietig? Hier in ons geweste van heelal is darem baie meer "matter" as "anti-matter"...

  • Beste Hans,
    Ek het op 'n ander plek vir jou verduidelik dat jy jou nie moet moeg maak oor matter en antimatter nie. Jy is al verward genoeg.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top