A History of the Iziko South African National Gallery – Reflections on Art and National Identity deur Anna Tietze: resensie

  • 0

A History of the Iziko South African National GalleryReflections on Art and National Identity
Anna Tietze
UCT Press
ISBN: 9781775822165

Kort voor lank kom die tameletjie van benoeming in haar inleiding ter sprake: “art gallery” of “art museum”?

Dis ’n ding wat op Afrikaans moeilik onder woorde gebring kan word. Tot onlangs kon “galery” nie die vertaling van die Engelse “gallery” – soos in kunslokaal – wees nie. En dus is dit amptelik die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum.

Tietze, ’n fyngevatte kunsgeskiedkundige, wys op die subtiele verskille in die tradisionele Engelse betekenisse, maar erken dat in die Iziko-geval die begrippe omruilbaar is. Juis omdat die grense  in die afbakening van kuns en kunsvorme die afgelope jare so verdof het, maar ook omdat die eietydse aard en rol van sodanige instansies so onkeerbaar omgedolwe is.

Wat die Iziko-SANK betref – sierlik en teatraal bokant sy trappe in Kaapstad se Kompanjiestuin geposisioneer – is daardie glibberige skeidslyne van museum/kunslokaal of histories/eietyds simbolies van die instelling se kulturele penarie in vandag se wêreld.     

Vir eietydse kunsgeskiedkundiges soos Tietze – anders as, sê, iemand soos die Suid-Afrikaanse baanbreker Esmé Berman, onlangs oorlede, wat bloot style en loopbane met sweempies filosofie moes kaart – is dit moeiliker tye.

Kuns staan deesdae vierkantig in die politiek. Dan is daar die gelaaide en tergende “kunsmark”. En hoe gerieflik dat kuns as beide sagte en harde teikens in enige propagandaveldtog ingespan kan word.

Tietze plaas dan ook haar relaas, wat die lang geskiedenis van meer as 150 jaar in lewendige vertelling karteer, vierkantig in die hede met verwysing na onlangse protes rondom kuns.

Hierdie verwysings – na die verbranding en sensuur by UK, asook die “My Lady”-episode van vroueprotes by die SANK – bied haar die geleentheid om oor kwessies en kulturele kwellinge te besin. Aldus dan daardie “reflections” in die bytitel.

Vrae soos die openbare kunsinrigting se rol en verhouding met die gemeenskap, definisies van aankoop-, uitstal- en versamelingstrategieë, kulturele en filosofiese leiding (skerp onder druk omdat kuns die eietydse speelpark van die skatrykes geword het), en dan ook of daar nog vandag so iets soos uitmuntende, betekenisvolle kuns bestaan en wie dít bepaal.

Hierdie is brandpunte wat die kunsmuseum se toekoms op ’n mespunt balanseer.

Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum (foto: https://www.iziko.org.za/museums/south-african-national-gallery)

Die geskiedenis van die SANK is inderdaad kleurvol, en Tietze is nie onwillig om dit goed te vertel nie: die unieke persoonlikhede van die direkteure oor die jare (totdat dié pos afgeskaf is), die soort kuns waarop besluit is, hoe beleid onder of sonder druk aangepas is, die enorme uitdaging van ’n instelling wat in glorieryke koloniale tye gebore is en nou daardie juk moet afskud, wat onder die “vlagskip” van Iziko met sy handvol museums straks in burokrasie vasgevang is.

Anna Tietze se A History of the Iziko South African National Gallery is ’n belangrike publikasie as die eerste deeglike boekstawing van een van die land se vernaamste kulturele instansies. En dit opper die soort vrae van ons almal oor die wie, waarom, en veral die betekenis en toekoms van dit wat teen daardie statige gebou se mure hang.

  • Op die voorblad van die boek is 'n foto van Mary Sibande se installasiekuns, getiteld The Reign (2010).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top