Medewerker | Contributor

Braam Roux
Bioskets | Biography
 

 

A.P.J. (Braam) Roux was 30 jaar aan die Departement Filosofie van Unisa verbonde, sedert 1987 as professor. Hy was etlike jare lank die departementshoof, die visedekaan van Kultuurwetenskappe en lid van talle universiteitskomitees. Ná sy aftrede aan die einde van 1993 het hy twee jaar aangebly as spesiale assistent vir die Dekaan van Lettere en Wysbegeerte. Hy het sy aanvanklike opleiding aan die Universiteit van Pretoria ontvang, waar hy in 1950 ’n BA-graad, in 1953 HOD en1961 die MA-graad in Filosofie met 'n verhandeling oor George Berkeley verwerf. Voor hy by Unisa aansluit, gee hy tien jaar onderwys en doseer twee jaar aan die destydse Pretoriase Kollege vir Gevorderde Tegniese Onderwys. Hy behaal in 1958 die BEd-graad aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy studier ook onder prof R.S. Peters aan die London Institute for Education se Filosofiedepartement. In 1985 verwerf hy die DLitt et Phil-graad aan Unisa met die proefskrif “Die leerverskynsel: 'n Filosofiese analise” met prof R.S. Meyer as promotor. Verskeie kandidate het onder sy leiding gepromoveer.

Hy het hom vir 'n filosofietydskrif in Suid-Afrika beywer, en met die hulp van die destydse Buro vir Wetenskaplike Publikasies het die South African Journal of Philosophy/Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte in 1981 tot stand gekom met hom as eerste redakteur, 'n pos wat hy nege jaar lank beklee het. Hy was medesamesteller van Philosophy from Africa: A Text with Readings (Oxford University Press, 2000) en samesteller van Life, World and Meaning (Unisa). Hy was ook die skrywer van verskeie gepubliseerde artikels en verslae, veral oor die onderrig van Filosofie.
Hy is onverwags op 4 September 2012 oorlede.