Medewerker | Contributor

Francis Galloway
Bioskets | Biography
 
Francis Galloway behaal haar voor- en nagraadse kwalifikasies, insluitend ’n D.Litt., aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar loopbaan begin as dosent in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van die Noorde (Limpopo). Hierna is sy as navorser verbonde aan die Sentrum vir Letterkundenavorsing (SENSAL) van die RGN. Sy doen ondervinding op as akademiese uitgewer by Van Schaik Uitgewers voordat sy aan die Universiteit van Pretoria aangestel word as senior dosent in en koördineerder van die Uitgewersweseprogram in die Departement Inligtingkunde.


Haar navorsingsveld is Boekstudie/Boekgeskiedenis, met spesifieke fokus op uitgewery-ondersoek. Sy loods ’n innoverende navorsingsprogram, wat ook internasionaal hoog aangeskryf word, om kontemporêre boekbedryfstatistiek te genereer en te verpak. Twee uitvloeisels van hierdie program is ’n jaarlikse diepte-opname van en verslag oor die aard en omvang van die plaaslike boekbedryf en die instandhouding van ’n sentrale databasis wat ingespan word om veranderende patrone in die bedryf te moniteer.


Galloway het verskeie navorsingstoekennings ontvang, insluitend ’n toekenning van die Navorsingsontwikkelingsprogram van die Universiteit van Pretoria, twee maal toekennings van die Fokusarea-program van die Nasionale Navorsingstigting (NRF), en ook ’n toekenning van die Amerikaanse Delmas Foundation. Sy is tans besig met ’n uitgebreide navorsingsprojek rondom die materiële produksie (plaaslik en internasionaal) van die oeuvre van Breyten Breytenbach.


Sy is lid van die redaksionele raad van die Society for the History of Authorship, Reading & Publishing (SHARP) se bekroonde vaktydskrif Book History en van LOGOS: Forum of the World Book Community . Sy dien op die keurkomitee van die internasionale George A. & Jean S. DeLong Book History Prize, wat jaarliks vir die beste boek op hierdie terrein  toegeken word. Gedurende 2011 is sy genooi om deel te neem aan die World Book Summit – Book: the bearer of human development (ondersteun deur UNESCO) in Lubljana, Slovenië, met ’n referaat getiteld: “Publishing in nine tongues: The South African book publishing landscape”.


Sedert 2000 het sy aan twintig internasionale en vyftien plaaslike kongresse en forums deelgeneem, met referate en bydraes wat op empiriese navorsing oor die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf gebaseer is. Sy is die (mede-)skrywer van twaalf bedryfsverwante publikasies (wat as Surveys of the South African book publishing industry beskikbaar is op die webwerf van die Publishers’ Association of South Africa) en minstens vyftien navorsingsgebaseerde artikels in binnelandse en buitelandse vaktydskrifte. Sy lewer bydraes tot boekpublikasies (insluitend die Oxford companion to the book), was die samesteller van die jaaroorsigreeks SA Literature/Literatuur van SENSAL, en is die outeur van die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur.



LitNet