Medewerker | Contributor

Riette Rust
Bioskets | Biography
 

Riette Rust is 'n vryskutjoernalis en wynskrywer wat al vir bykans alle Afrikaanse koerante en tydskrifte geskryf het.


Ná haar drama-, taal- en onderwysstudies aan die Universiteit van Stellenbosch het sy as skakelbeampte by KWV in die Paarl gewerk. Daar het sy verskeie wyn- en brandewynkursusse afgelê en landwyd gereis om self dié kursusse aan te bied.


Daarna was sy redakteur van KWV se personeelblad, Parskuip, en het sy vir die tydskrif Wynboer geskryf. Parskuip is verskeie kere deur die SA Vereniging van Bedryfsjoernaliste bekroon.


Riette het later vir die Worcester Standard geskryf, onder meer 'n wynrubriek en 'n vroueblad. Albei is deur die Vereniging vir Plattelandse Koerante bekroon.


Om self kortverhale te skryf, is 'n groot passie vir Riette. Van hulle het al verskyn in Die melkweg het 'n ster laat val (saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo), Literator, Insig en op LitNet.


Riette het al 'n TV-draaiboek geskryf en was self aanbieder van ‘n wynprogram op kykNET. Sy neem gereeld aan regstreekse radio-onderhoude deel.


Sy is tans die jongste lid van die gesogte SA Brandewyngilde, wat haar vir haar bydrae tot die brandewynbedryf vereer het. En ook lid van die webwerf Who's Who of Southern Africa.


Haar liefdes sluit in lees (sy's 'n bibliofiel), musiek (veral jazz), toneel, kunsflieks, goeie kos en wyn. Sy hou van avontuur. Sy het al valskerm gespring, self 'n helikopter gevlieg en saam met die bulle in Pamplona gehardloop.


Sy is met JD, 'n korporatiewe regsadviseur, getroud. Hulle het twee dogters. Die gesin woon in Welgemoed, Kaap.


 


Opgedateer/Updated: 2009-02-24


Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za.

Bio-info dated? Send an e-mail to
bio@litnet.co.za.



LitNet