Jannie Pretorius is 48 jaar oud en was vir twintig jaar ʼn onderwyser aan drie Vrystaatse hoërskole voordat hy in Junie 2006 ʼn pos as lektor by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus aanvaar het. Ses maande later is hy in ʼn soortgelyke pos by die Fakulteit Opvoedkunde van die Vrystaatse Universiteit aangestel. In 2007 het hy ʼn doktorsgraad in bedryfsadministrasie aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Bloemfontein behaal. Tans is die fokus van sy navorsing Waarderende Ondersoek, estetiese onderrig en die gebruik van popmusiek vir onderwysopleiding en -ontwikkeling. Sedert 2008 is sewe artikels wat hy alleen of in samewerking met kollegas geskryf het, deur geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer.