Medewerker | Contributor

Danie Jordaan
Bioskets | Biography
 

Daniël Jacobus Jordaan is op 16 Julie 1956 op Cradock in die Oos-Kaap gebore. Danie, soos almal hom geken het, slaag aan die einde van 1974 matriek aan die Hoërskool Cradock. Hy voltooi die Bed-graad aan die einde van 1978 aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (vandag NMMU). Aan die einde van 1979 behaal hy die honneursgraad in Afrikaans met lof. Na voltooiing van sy twee jaar diensplig begin hy skoolhou by die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth. Hy word aan die begin van 1984 bevorder tot departementshoof by Hoërskool Andrew Rabie en behaal sy meestersgraad, met lof, aan die einde van 1986. Gedurende 1990 begin hy as lektor werk by die eertydse Universiteit van Port Elizabeth en behaal aan die einde van 1990 sy doktorsgraad. Hy word in 1999 senior lektor in mediastudies aan NMMU en word gedurende dieselfde jaar tot professor bevorder. In Maart 1998 is kanker by hom gediagnoseer. Hy is op 4 Februarie 2012 oorlede na ’n 12 jaar lange stryd teen hierdie siekte. Gedurende hierdie tyd het hy onder andere intensiewe chemobehandeling in Kaapstad ondergaan en later ook twee beenmurg-oorplantings in die Pretoria-Oos-hospitaal. Danie was ’n akademikus in die waarde sin van die woord en het ’n passie vir die Afrikaanse taal gehad. Buiten sy akademiese loopbaan, wat hy met groot entoesiasme en toegewydheid onderneem het, was hy ook ’n avonturier en het as biker ’n groot vriendekring opgebou. Sy motorfiets was vir hom meer as ’n voertuig en hy het die talle ritte wat hy daarop onderneem het, terdeë geniet. Sy ander groot liefdes was sy gesin en die buitelewe.



Spesiale projekte | Special projects