JJ (Johan) Henning is 'n oudstudent van die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar hy die grade BIur en LLB verwerf het deur deeltydse studie terwyl hy sy leerklerkskap voltooi het en daarna as prokureur toegelaat is. Nadat hy die doktorale eksamen in vennootskaps-, maatskappye- en kontraktereg aan UNISA geslaag en navorsing gedoen het aan die Universiteite van Londen en Cambridge en die Albert-Ludwigs-Universität in Freiburg, het hy sy LLD aan die UV voltooi.
Johan is in 1980 tot hoogleraar in handelsreg aan UNISA bevorder en in 1984 aangestel as direkteur van die Sentrum vir Ondernemingsreg aan die UV, ’n pos wat hy steeds beklee. In 1987 word hy hoof van die Departement Handelsreg aan die UV. Hy is in 1994 as een van die twee eerste uitstaande professore aangestel en in 1998 as dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, en beklee na verskeie heraanstellings steeds beide posisies.
Hy was vanaf 2000 tot 2010 deeltydse direkteur van die Centre for Partnership and Company Law van die Institute of Advanced Legal Studies aan die Universiteit van Londen, en beklee steeds ’n senior navorsingsgenootskap aan die instelling. Hy is in 2012 aangestel as die eerste permanente besoekende professor in vergelykende maatskappye- en vennootskapsreg aan die BPP University Law School in Londen. Hy is ’n eregenoot van die Society of Advanced Legal Studies (Verenigde Koninkryk) en ’n erelid van die Order of the Coif (Verenigde State), asook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ’n genoot van die Academy of Science of Southern Africa.