Johan Lötz (gebore op 23 September 1954) is ’n professor in die Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria. Hy het die grade Bluris, LLB en LLD (Universiteit van Pretoria) en LLM (Universiteit van die Witwatersrand) verwerf. Hy was vanaf 1972 tot 1982 in diens van die Departement van Justisie, onderskeidelik as klerk van die hof, staatsaanklaer, landdros en staatsregsadviseur. Nadat hy sy klerkskap gedurende 1983–1984 voltooi het, is hy in 1985 as prokureur en aktevervaardiger toegelaat en praktiseer tans as sodanig. Op 1 Januarie 1987 word hy as senior lektor in die Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria aangestel en tot medeprofessor (1995) en professor (1997) bevorder. Hy doseer hoofsaaklik besondere kontrakte en is die skrywer van ongeveer 48 geakrediteerde artikels, aantekeninge en vonnisbesprekings. Hy is ook die mede-outeur van etlike handboeke.