Medewerker | Contributor

Rachelle Greeff
Bioskets | Biography
 

Rachelle het B.Drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna Honneurs in Joernalistiek (cum laude). Later kry sy ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk (cum laude) aan die Universiteit van Kaapstad. In die tagtigs werk sy as verslaggewer by Die Burger en Huisgenoot en in die nuwe millennium vir 6 jaar as boekeredakteur by Rapport. Tussendeur werk sy as redigeerder, manuskripontwikkelaar, vertaler, joernalis en boekeresensent.
Sy debuteer in 1990 met die Die rugkant van die bruid waarvoor sy ’n CNA kry. In 2002 kry sy die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk vir haar kortverhaalbundel Merke van die nag. Van haar kortverhale is opgeneem in bundels wat in Amerika (New Letters), België (Deus ex machina), Denemarke (Opbrud) en Nederland (Dochters van Afrika) verskyn het.
Het jy geweet?
Haar tweede toneelstuk, Buitepos, open op die Woordfees 2012. Die spelers is Marko van der Colff, Deidre Wolhuter en Jill Middelkop.
Sy ontvang in 1999 die Sanlam-letterkundeprys vir die kortverhaal “Tell him it is never too late”, en dieselfde kortverhaal is in 2003 op die kortlys van die Caine-prys vir ’n Engelse kortverhaal wat deur ’n Afrika-skrywer in Afrika of elders geskryf en gepubliseer is. Dit het oorspronklik in The torn veilwomen’s short stories from the continent Africa (1998) verskyn.
In 2005 is Rachelle die wenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie met haar kortverhaal “Swiets in Rhodesië”.
As boekeredakteur het sy die boekebylae Rapport Boeke begin.
Haar debuuttoneelstuk, Die Naaimasjien, wen in 2008 die Nagtegaal-teksprys. Dit word van 2009 tot 2011, met Sandra Prinsloo in die hoofrol, sowat 190 maal opgevoer. Op die KKNK wen dit die Herrie Kanna Prys vir Gewildheid, asook in 2010 die Fleur de Cap vir Beste Inheemse Teks, Dit het uit ’n kortverhaal wat in BY gepubliseer is, ontstaan.
Boeke steeds in druk
Alles behalwe die geheim van my whiskies, Human & Rousseau (2008)
Palazzo van die laaste dans, Kwela (2006) 
Hanna, Tafelberg (2002) 
Merke van die nag, Tafelberg (2001)
Bekronings
CNA-debuutprys (1991) – Die rugkant van die bruid 
Sanlam-letterkundeprys (1999) – Vir die kortverhaal “Tell him it is never too late” 
ATKV-kinderboekprys 3-5 jaar (2000) – Net perfek 
RAU-prys vir skeppende skryfwerk (2002) – Merke van die nag 
Wenner van die Woordfees se nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie (2005) – vir haar kortverhaal, “Swiets in Rhodesië”. 
Nagtegaal-teksprys (2008) – Vir Die Naaimasjien (toneelstuk)
KKNK se Herrie-gewildheidsprys (2009) – Die Naaimasjien
Fleur de Cap Beste Inheemse teks (2010) – Die Naaimasjien
Lys van publikasies
Prosa
1990 Die rugkant van die bruid (kortverhale) 
1993 Onwaarskynlike engele (kortverhale) 
1996 Al die windrigtings van my wêreld (roman) 
1998 Spektakels en mirakels (sketse) 
2001 Merke van die nag (kortverhale) 
2002 Hanna (roman) 
2006 Palazzo van die laaste dans (kortverhale) 
2008 Alles behalwe die geheim van my whiskies (rubrieke)
2011 Die Naaimasjien (toneelstuk) LAPA Uitgewers
Kinderboeke
1996 Enebene en die ander (’n Ster-storie) 
1999 Net perfek
2004 ’n Ma moet soms jok (Rimpelstories)
Samesteller
1993 Veerkrag
1994 Lyfspel/Bodyplay: erotiese kortverhale deur Suid-Afrikaanse vroue
Bloemlesings
1991 Vuurslag
1992 Die wond en ander verhale
1994 Vrouevertellers
1998 The torn veil
1998 Borde, borde, boordevol
1999 Die mooiste liefde is verby
1999 Vonkfiksie
Vertalings
Al die windrigtings van my wêreld (1996) 
Duits (Wohin der wind dich trägt, 1999), Nederlands (Alle windrichtingen van mijn leven, 2002; Het huis aan de voet van de Tafelberg, 2004)
Uittreksels uit resensies
“Greeff’s play (Die Naaimasjien) is a precious gift: it is an accomplished, and triumphant, celebration of what it means to be human.” – Tyrone August, Cape Times, 17 February 2011.
“Greeff op dreef is super-onderhoudend. Sy is lakonies, wrang, filosofies en snaaks.” – Deborah Steinmair oor Alles behalwe die geheim van my whiskies, LitNet (2008)
“Rachelle Greeff se Palazzo van die laaste dans is ’n sterk en betowerende bundel. Dit is ’n dans van woorde wat die leser meesleur en intrek. Dit is ’n ode aan die laaste dans en die lewe as repetisie hiervoor.” – Madri Victor, LitNet (2007)
“Greeff skryf besonder visueel, sensueel meevoerend en is 'n vernuftige storieverteller wat die leser se aandag van die eerste sin in beslag neem. Merke van die nag is 'n bundel van ’n besondere allooi, een van die allerbeste wat die laaste paar jaar verskyn het.” – PH Roodt, Beeld (2001)
“Die navorsing is goed, die karakterbeelding getrou en die beeld van die vuurtoring, ook op die mooi, evokatiewe buiteblad, goed geïntegreer.” – Cecile Cilliers oor Hanna, Volksblad (2002)
“Nogtans illustreer hierdie roman waarom Greeff 'n steeds prominenter plek begin inneem in die galery van vroulike Afrikaanse skrywers. Hanna is 'n genietbare boek, met 'n positiewe, bemoedigende slot, vol van die troos wat volg wanneer twee uiteenlopende enkelinge saam op een wysie begin dans.” – Dorothea van Zyl oor Hanna, Die Burger (2002)



Spesiale projekte | Special projects