Wannie Carstens is ’n oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch. Hy was voorheen dosent aan die Universiteite van Stellenbosch (1977-1979) en Kaapstad (1980-1991) en is sedert Julie 1991 verbonde aan die voormalige PU vir CHO, tans Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus, waar hy die huidige direkteur van die Skool vir Tale is.
Hy is al jare lank betrokke by aktiwiteite wat Afrikaans raak (op beide akademiese en organisatoriese vlak), en was ten nouste betrokke by die proses wat gelei het tot die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR), eers as voorsitter van die Voortsettingskomitee (2003-2005), daarna as voorsitter van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) vir die duur van hierdie liggaam se bestaan (2005-2008), en hy is sedert Mei 2008 die voorsitter van die historiese eerste Afrikaanse Taalraad (ATR). Hy was ook lank lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (1992-2003), is die huidige ondervoorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) (sedert 2003) dien as direksielid van die Buro van die WAT (sedert 2002), is ondervoorsitter van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009-2012) en van die Afrikaanse Taalmuseum (sedert 2002). Verder was hy een van die stigter-oprigters van die versameling Afrikaanse poësie wat opgeneem is in die Poëziecentrum in Gent, België, en is ook leier van ’n projek om ’n digitale biblioteek oor Afrikaanse taalkundige bronne (BATL) tot stand te laat kom. Hy is ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting in Suid-Afrika en neem ook gereeld deel aan radio- en televisieprogramme oor taalsake.
Carstens het reeds twee selfstandige boeke gepubliseer en het pas die manuskrip van ’n boek oor die teorie en praktyk van teksredaksie saam met Kris van de Poel van die Universiteit van Antwerpen by die uitgewer ingedien. Hierdie boek sal in die loop van 2010 gepubliseer word. Hy is ook mede-outeur van die 9de uitgawe van Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die rigtinggewende publikasie oor spelling in Afrikaans. As lid van die Taalkommissie is hy ook mede-ontvanger van die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en hy het ook ’n ATKV-Woordwyser-toekenning vir sy boek Norme vir Afrikaans (4de uitgawe 2003) ontvang. Hy sal in die loop van die jaar ook die vyfde hersiene uitgawe van hierdie boek afrond vir publikasie in 2011.
Hy het reeds 32 akademiese artikels gepubliseer, asook talle populêre artikels. Hy tree ook op as moderator vir ander universiteite (UNISA, UV, UP), asook as eksterne eksaminator van verhandelinge en proefskrifte van ander universiteite.
Opgedateer/Updated: 2010-05-03
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za