Henriëtte Loubser is sedert 2004 aan die Departement Kurrikulumstudie, Universiteit Stellenbosch verbonde. In 2005 verwerf sy ’n MA (Afrikaanse Letterkunde) onder leiding van prof. Marlene van Niekerk. Verskeie van haar kortverhale, ook vir tieners, is reeds in versamel- en voorgeskrewe bundels gepubliseer. Sy is ’n vryskutskrywer vir populêre tydskrifte soos Rooi Rose. Van haar gedigte verskyn in die Nuwe Kinderverseboek, uitgegee deur Tafelberg 2009, en ook in Vonk@Verse!, wat in 2011 deur BestBooks uitgegee is. In 2010 het haar eerste akademiese artikel in Tydskrif vir Letterkunde verskyn. Om te skryf is ’n passie, maar nóg ’n groot lekkerte is die kontak met studente deur haar werk as bibliotekaris by die Opvoedkunde Biblioteek van die Universiteit Stellenbosch.