Gebore in Fraserburg in die Noord-Kaap, maar grootgeword en my skoolonderrig in Oudtshoorn ontvang, waar ek aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer het. Ek verwerf my onderwysdiploma aan die Opleidingskollege Suid-Kaapland en studeer daarna deeltyds aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar ek die BA-graad (Tale) verwerf. Ek het dit later opgevolg met ’n honneursgraad in arbeidsreg aan die Universiteit van Kaapstad en ’n seniorbestuursontwikkelingsprogram aan die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool.
Ek was verbonde aan verskeie skole in die Wes-Kaap as prinsipaal, waarna ek heeltyds by die onderwysvakbonde betrokke geraak het. Ek was hoofonderhandelaar in die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys asook die Staatsdiensbedingingsraad. Ook was ek ’n projekleier verbonde aan die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame voordat ek as hoof uitvoerende beampte by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aangesluit het.
Benewens my passie vir Afrikaans het ek ook ’n groot passie vir die ontwikkeling van skilders in voorheen benadeelde gemeenskappe. Ek is tans by ’n projek betrokke om opkomende skilders se werk te bemark en om aan hulle groter blootstelling te verleen.
Ek is geskei en het twee kinders, Andrè (24), ’n joernalis, en Danielle (22), ’n derdejaarstudent in siviele ingenieurswese.