Medewerker | Contributor

André Duvenhage
Bioskets | Biography
 

André Duvenhage behaal die grade BA en BA Honneurs in politieke wetenskap (beide met onderskeiding) aan die PU vir CHO. In Januarie 1984 word hy aangestel as junior lektor aan die PU vir CHO met doseeropdrag in ontwikkelingsadministrasie, openbare bestuur en later ook staatsleer, en in 1989 verwerf hy ʼn magisterkwalifikasie in ontwikkelingsadministrasie. Hy verlaat die PU vir CHO aan die begin van 1991 en word aangestel as lektor in politieke wetenskap aand die UOVS (nou UV), waar hy in 1994 sy PhD voltooi met ʼn proefskrif getiteld “Politieke transformasie in oorgangsamelewings”. Hy word tot senior lektor bevorder. In 1999 inisieer André ʼn nuwe akademiese program in regeerkunde en transformasie wat op nasionale vlak erkenning verwerf, en hy word gedurende 2000 bevorder tot medeprofessor in politieke wetenskap en terselfdertyd aangestel as direkteur van genoemde program. Binne die bestek van ses jaar het dié nuwe program bykans ʼn honderd magisterstudente gelewer. Tydens 2006 was hy ʼn besoekende dosent aan die Universiteit van Saskatchewan in Saskatoon, Kanada. Hy keer teen die begin van Oktober 2006 terug na sy alma mater om die pos van navorsingsdirekteur in volhoubare sosiale ontwikkeling (tans sosiale transformasie) aan die Noordwes-Universiteit te aanvaar. Sy akademiese spesialis-areas sluit in politieke teorie, politieke transformasie, regeerkunde en scenario-ontledings, en die Suid-Afrikaanse politiek. André is ʼn bekende politieke ontleder en neem gereeld deel aan gesprekke en onderhoude op radio en televisie wat veral op die Suid-Afrikaanse politiek fokus.


 


Opgedateer/Updated: 2011-10-20


Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za



LitNet