Elvis Saal studeer in die Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en behaal sy BA-, honneurs- en magistergrade cum laude (1987–1995). In 2009 behaal hy sy PhD oor tienertaal in MIV-voorligtingstekste aan die Radboud Universiteit Nijmegen. Sy akademiese loopbaan begin in 1995 aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) as dosent in die Afrikaanse taalkunde. Mettertyd spesialiseer hy in dokumentontwerp en sosiolinguistiek, met ’n spesifieke fokus op Afrikaanse tienertaal. Hy spits hom in sy voorgraadse onderrig toe op teksontwerpkursusse, onder andere skryfvaardighede vir die kommunikasiepraktyk en oorredende tekste (spesifiek gedrukte advertensies). Op nagraadse vlak gee hy studieleiding aan studente in die sosiolinguistiek en dokumentontwerp. Hy tree op as eksterne eksaminator vir teksontwerpkursusse aan die Universiteit van Pretoria. Hy lewer vyftien referate en bydraes by sowel plaaslike as internasionale kongresse. Hy publiseer sewe artikels in binne- en buitelandse vaktydskrifte en lewer ’n hoofstukbydrae tot die boek Adapting health communication to cultural needs (2008). Hy was lid van die Taalkommissie (2005–2007) en is lid van die Linguistevereniging van Suider-Afrika (LVSA).
Opgedateer/Updated: 2011-11-10
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za