Medewerker | Contributor

Engemi Ferreira
Bioskets | Biography
 

Engemi Ferreira is op 19 Maart 1943 op ʼn kleinhoewe genaamd Ferreira, net buite Bloemfontein, gebore. Kort hierna verhuis haar ouers na Suidwes-Afrika, waar sy grootgeword het. Toe sy tien jaar oud was, vertoef sy ’n jaar lank by haar twee oudste susters wie se mans in Holland studeer het, waar sy dikwels pendel tussen Amsterdam en Utrecht en ’n liefde aanleer vir reis.

Sedert haar terugkeer na Suid-Afrika gaan sy skool in Pretoria, waar sy as sestienjarige matrikuleer. Haar eerste gedigte verskyn in Tydskrif vir Letterkunde terwyl sy in klas 11 (standerd 9) is, en in dié jaar begin sy sang studeer by Albrecht Lewald. Op skool begin sy op eie inisiatief ’n skoolkoerant en tree op as redakteur, verslaggewer en verspreider.

Sy studeer drama onder prof Anna Neethling-Pohl, Truida Louw en Francois Swart by Tukkies, waar ’n kleintydse liefde vir die teater gevoed en verder verstewig word. Sy studeer ook in ander dissiplines, oa beeldhou en skilderkuns by die Kunsskool aan Pretoria Technikon. In sang word sy gevestig as liriese sopraan met voorliefde vir Lieder; aan Tukkies studeer sy ook moderne tale, filosofie en sielkunde. Sy was stigterslid van die Max Stibbe Waldorfskool in Pretoria saam met Mario en Margaret Schiess, waar sy 'n tyd lank onderrig gegee het. In dié tyd bly sy besig met vryskut joernalistieke skryfwerk wat later uitloop op ’n redakteurskap van die Carletonville Herald se vroueafdeling.

’n Verhuising na die Laeveld volg en die jare hierna word in beslag geneem deur verskeie bedrywighede, waaronder as kurator van die plaaslike kunsforum saam met Leigh Voigt, met oa die aankoop van skilderye vir die dorp as hoofaktiwiteit. Sy begin ook ’n tweemaandelikse blaadjie, Die Boekbrief, wat sy aanvanklik op eie inisiatief landswyd versprei na leeskringe, met die doel om hulle te bedien van inligting oor nuwe Afrikaanse publikasies op ’n tydstip toe sulke inligting baie skaars was op die platteland. Sy vervul ’n ernstige leemte deur hulp te verleen aan lesers om boeke en bandjies te bekom wat nie by hulle plaaslike boekwinkels beskikbaar is nie.

Sy skryf Die jaar toe my ma begin sing het na ’n besoek in 1984 aan die Skryfskool in Potchefstroom en dit verskyn sowat drie jaar later. Die boek was twee keer naaswenner van die Rapport-prys en word steeds herdruk. Sedert publikasie by Lapa Uitgewers was Die jaar toe my Ma begin sing het nog elke jaar voorgeskryf by skole en/of universiteite en kolleges.

Engemi stig ’n skrywerskring in Nelspruit, waaraan 20 lede met meerdere en mindere sukses deelneem. In die jare tussen 1990 en 1996 woon sy in die gesin se dorpshuis in Lydenburg ter wille van skool vir die kinders. Hier tree sy op as impresario en gaan voort met wat vandag algemene praktyk is, maar in daardie jare effe meer ongewoon was en waarmee sy reeds in die vroeë tagtigerjare in Nelspruit begin het. Sy nooi die opkomende kunstenaars van die land uit vir Afrikaanse Aande met Konsert en Kos, waartydens ook Afrikaanse boeke en cd’s verkoop is.

’n Bundel kortverhale verskyn in 1993, genaamd Brood vir die Engele. Sy skryf ook drie dramas in dié tyd, wat by Kampustoneel opgevoer word, en verskeie kinderproduksies vir skole in die omgewings sien die lig, as ook lirieke. Sy word deel van die Bacchus-kwartet, ’n a capella-groep wat oral in die Laeveld en in Pretoria optree.

Engemi is, sover bekend, die enigste Afrikaanse skrywer wat ingeskrewe lid is van Cosaw sedert 1993. Sy was een van vier Suid-Afrikaners wat genooi was na die gereelde vierjaarlikse International Women’s Playwright Conference wat daardie jaar in Adelaide, Australië gehou was en moes lid wees van ’n skrywerskring. Op daardie stadium het haar jarelange lidmaatskap by Die Afrikaanse Skrywerskring verval.

Engemi Ferreira is ’n gewilde spreker wat gereeld genooi word na skole, lees- en dameskringe en besigheidsforums, waar sy oor diverse onderwerpe praat, maar verkieslik dié dinge waarin sy met passie glo: Afrikaans as fenomeen en kunsvorm, die letterkunde en die teater. Sy hou ook dikwels Afrikaanse Poësieaande met lied en liriek en ’n wye verskeidenheid temas. Sy skryf elke dag van haar lewe en sê dat sy al die halwe stories en dramas op haar woordenaar sal voltooi sodra sy tyd vind.