In Memoriam: Stefans Grové

  • 1
Stefans Grové (Foto: Stephanus Muller)

Huldiging van Stefans Grové
23 Julie 1922 – 29 Mei 2014
Saamgestel deur Bertha Spies1

Met ’n groot hartseer het ons verlede week van Stefans Grové afskeid geneem. Sy innemende opregte geaardheid, sy verbluffende musikaliteit en vaardigheid, sy skerpsinnige intellek en fyn sin vir humor het hom geliefd gemaak by almal met wie hy in aanraking gekom het – hy het vele mense se lewens op ’n besonderse wyse aangeraak. Sy heengaan laat ’n groot leemte en ons innige simpatie gaan aan Alison en hulle kinders met die groot verlies.

Stefans Grové word as een van die grootste Suid-Afrikaanse komponiste beskou. Sy musiek het nie die gebaande weë gevolg nie, want die evokatiewe klankvelde wat hy geskep het, spreek eerder die verbeelding aan as wat dit by tradisionele klankformasies en -strukture aansluit. Dit beteken dat ’n mens nuut moet luister om ’n musiektaal wat met gebare en musikale effekte kommunikeer, te verstaan. Op die gebied van musiek is sy eiesoortige manier van uitdrukking met ander woorde metafories gesproke ’n “taal sonder woorde”. Die orrelis Gerrit Jordaan, aan wie Grové Afrika Hymnus II opgedra het, vind dit inderdaad ook “moeilik om oor prof Grové se werk te praat in woorde – ek doen dit liewers met my vingers, my ore en my hart”.2

Dit is dus nie verbasend dat Grové se kreatiewe uitdrukking deur middel van musiek so sterk aansluiting by Afrika gevind het nie – die Afrikalandskap, die natuur en die inheemse narratiewe was die inspirasie vir talle van sy werke. Titels van sy komposisies suggereer alreeds die neerslag van Afrika se magiese bekoring: die strykkwartet met die bykomende titel Gesang van die Afrika-geeste (1993), Nonyana, die seremoniële danser vir klavier (1994),3 Raka – ’n simfoniese toondig in die vorm van ’n konsert vir klavier en orkes (1995–6),4 Yemoja. Great Mother of the Waters (1999), Sielvoël vir fluit, tjello en klavier (1998), Towermusiek vir klavier (2010), om net ’n paar voorbeelde te noem. Die titels van die bronne aan die einde van hierdie huldiging onderstreep ook die belangrikheid van Grové se verbintenis met Afrika.

Maar om deur middel van musiek verhale te vertel en om beelde op te roep vereis nie net ’n kreatiewe gees nie, maar ook ’n vakmanskap van die hoogste orde. Wanneer Stefans Grové die gees van Afrika probeer vasvang, was die blote aanhaling van Afrika-melodieë nie die aangewese weg nie; hy het inderdaad die hart van Afrika probeer peil. Maar om dit te doen, het hy hoogs ontwikkelde komposisietegnieke gekombineer met ’n kennis van en insig in die klankmoontlikhede van die musiekinstrumente (insluitend die menslike stem) waarvoor hy geskryf het.

Sy strewe om die hart van Afrika op sy unieke manier in klank uit te beeld het op ’n doelbewuste manier neerslag gevind in ’n reeks komposisies wat hy as sy Afrika-reeks beskryf het.5 In 1984–1985 komponeer hy sy Sonate op Afrika-motiewe as nommer 1 van die reeks. Volgens Gerrit Jordaan het Stefans Grové “in ’n paar van sy laaste werke die tragedie van die San-kultuur wat aan die uitsterwe is, as inspirasie gebruik. Ek het die setwerk van die San-gebede Dubbelkonsert vir klavier en tjello gedoen – dit was sy laaste voltooide werk – werk 45 in sy Afrika-reeks.”6

As uitvoerende kunstenaar kan pianis Mareli Stolp die magiese in Grové se musiek direk beleef. Sy beskryf haar ondervinding soos volg:

Die Afrika van Stefans Grové se skeppingsruim was ’n Afrika van die verbeelding, vol magiese verhale en fantastiese figure, vasgevang deur sy eie unieke manier van skep vir die klavier. In Stefans se geselskap het ek kennis gemaak met Nonyana, en Yemoja; ek is getransporteer na ’n plek waar mbira melodieë op die nagbriese gedra word, voordat ’n toordokter ’n wilde dans begin en ’n ou impi terugdink aan die dae van sy jeug. Stefans se liefde vir sy land en kontinent, en sy onuitputbare kreatiewe gees, het hom die oorspronklike en merkwaardige komponis gemaak waarsonder Suid-Afrikaanse musiek nooit dieselfde sal wees nie. Sy menswees het hom ’n uitsonderlike onderwyser gemaak, ’n uitdagende leermeester, en ’n kosbare vriend. Ek was telkemale bevoorreg om ’n gas te wees in Stefans se musiekkamer, waar hy my op verbeeldingreise deur die wêrelde van sy musiek geneem het: altyd met geduld, passie, en genot in die aktiwiteit van gesamentlik musiek maak. Om sy musiek van Afrika vir hom te kon speel was die grootste voorreg.

Stefans Grové se versameling musiekmanuskripte (almal met die hand geskryf), boeke en dokumente word gehuisves in die Dokumentasiesentrum vir Musiek by die Universiteit Stellenbosch (DOMUS). DOMUS is tans besig om sy komposisies te digitaliseer. Tot dusver is 69 van Grové se manuskripte reeds in elektroniese formaat beskikbaar.7

Stephanus Muller, hoof van DOMUS, het ’n lang pad saam met die komponis gestap en het die vestiging van sy versameling by DOMUS geïnisieer en bestuur. In 2008 het hy die nominasie van Grové vir die toekenning van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erelidmaatskap soos volg gemotiveer:8

Eerstens het hy ’n hibriede medium ontwerp wat in die samesmelting van Westerse musikale tegnieke en Afrikamateriaal die moontlikhede van sintese van hierdie wêrelde geweldig uitgebrei het. Tweedens beteken sy Suid-Afrikanerskap dat sy werk in die postkoloniale, globaliserende wêreld ’n venster bied op ’n samelewing wat gekenmerk word deur versnelde historiese, politieke, sosiale en kulturele verandering. Laastens word sy skeppende werk gekenmerk deur ’n uitsonderlike breë register van taal en uitdrukking – veel daarvan verwoord in Afrikaans – wat ontwikkel het in ’n ryk opbrengs van titels, fabels, drome, intertekste, narratiewe en beskrywings wat sy Afrika-toonwêrelde vergesel.

In 2012 het die Odeion Skool vir Musiek in samewerking met DOMUS ’n fees gehou om die 90ste verjaardag van Stefans Grové te herdenk.9 Benewens uitvoerings en ’n simposium oor Grové en sy musiek was die komponis self teenwoordig om kommentaar te lewer en vrae te beantwoord. Die veelbekroonde pianis Ben Schoeman, wie se doktorstesis by die City University of London oor die klaviermusiek van Grové handel, het onder andere sy “Tweespalt” en “Sanguinies” uit sy Klavierstukke (1975), Nonyana, die seremoniële danser (1994), Afrika Beelde (1999) en Dance Song for the Nyau Dance (2003) uitgevoer. Tydens hierdie fees is Grové se My Jaargetye (wat deur die Odeion Skool vir Musiek vir Ben Schoeman aangevra is) en sy nuutgekomponeerde klavierkwintet A Venda Legend die eerste maal uitgevoer.

Ben Schoeman en Stefans Grové (Foto: Stephanus Muller)

Die musiek wat by Stefans Grové se negentigste verjaardagfees in Bloemfontein uitgevoer is, kan hier gehoor word.

Ben Schoeman skryf soos volg oor Grové se klaviermusiek:

Sy klaviermusiek het ’n groot invloed op my konsep van toonproduksie gehad. Die komplekse kleurpalet wat gepaard gaan met subtiele pedaalwerk is veral sy groot unieke bydrae. Sy laaste klavierwerke Towermusiek (2010) en My Jaargetye (2012) is sprekend van iemand wat ’n diepe liefde vir die klavier gehad het en wat die instrument in alle opsigte verstaan het. Terselfdertyd het hy die meer perkussiewe tradisies van Bartók en Prokofiev voortgesit en die atletiese gedrewenheid van die werke verleen daaraan ’n jeugdige varsheid. Sy kundigheid oor Bach-interpretasie het beslis sy voorliefde vir "senza pedale"-kleure en komplekse kontrapunt aangevuur.10

Tydskrif vir Geesteswetenskappe het in 2013 ’n huldigingsbundel ter ere van Stefans Grové met Izak Grové as redakteur gepubliseer. Die besonderhede van die artikels in hierdie Festschrift verskyn in die lys aan die einde van hierdie huldiging.

Stefans Grové was vanaf 1972 aan die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria verbonde nadat hy feitlik twee dekades in Amerika eers nagraads gestudeer en toe klas gegee het. Na sy voorgraadse studies by die Universiteit Kaapstad was hy die eerste Suid-Afrikaner wat die Fulbright-studiebeurs ontvang het (1953). Dit het hom na Harvard Universiteit geneem, en vanaf 1957 het hy lesings gegee by die Peabody-konservatorium in Baltimore. By die Universiteit van Pretoria is hy bevorder tot professor in komposisie en na sy aftrede was hy nog as inwonende komponis aan die universiteit verbonde.

Hoewel Stefans Grové 31 jaar lank orrelis van die Arcadia-gemeente van die Evangeliese Lutherse Kerk was, het die konsertorrel met al sy moontlikhede hom na aan die hart gelê. Dit was hierdie gedeelde liefde wat waarskynlik gemaak het dat Gerrit Jordaan al Grové se solo-orrelwerke uitgevoer het. Die titel van sy DMus-skripsie was “Die interpretasie en uitvoering van Stefans Grové se Afrika Hymnus II” (2008). Luister hier  na sy uitvoering van die drie bewegings van Afrika Hymnus I wat in Universiteitsoordkerk, Pretoria opgeneem is. Die tweede en derde beweging kan met die partituur gevolg word (1996).11

Gerrit Jordaan onthou sy leermeester en vriend met bewondering en nostalgie:

My eerste kennismaking met professor Grové was in 1986 in sy klas oor Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Wat ’n voorreg om die langslewende lid van die driemanskap vaders van die Suid-Afrikaanse kunsmusiek eerstehands te hoor praat oor sy vak. In die dekade tagtig wat Obelisk-musiek Suid-Afrikaanse werke gepremière het, het Étienne van Rensburg my gevra om Grové se Afrika Hymnus (later bekend as Nr 1) in te studeer. Prof Grové was bereid om saam met my registers uit te soek en te help met die interpretasie. In 1996 het ek die werk volledig op UNISA se Riegerorrel gespeel. Kort daarna het ons besluit om dit vir Oudemeester Stigting op CD op te neem by Universiteitsoordkerk. Dit was juis ná ons eerste sessie by hierdie imposante nuwe Rieger-instrument met sy geheue wat oor die duisend registerkombinasies kan stoor wat die Tweede Afrika Hymnus ontstaan het. Prof Grové was uitgelate en het al wat onmoontlike kombinasie uitprobeer soos ’n diep 16’ tongwerk saam met ’n skril 2’ Fluitjie. Een ding wou hy nie hê nie en dit is dat die instrument soos ’n kerkorrel moes klink.

Hy het altyd verwys na die Afrika Madonna-deel uit die Tweede Hymnus – waar die voete gelyktydig speel – ’n tromnabootsing in die uiterste omvang van die pedaalbord – as die rompskeurderdeel. Met die speel moes ’n bepaalde slotakkoord klink soos ’n sak kole wat val, of ’n moeë “ag ja”-uitroep. Met die skryf van die wilde imbongi-deel het hy by wyse van spreke gesê hy moet gaan rou vleis eet – sodat hy hierdie barre energieke deel kan skryf. As hy gaan komponeer het hy vertel dat hy op sy linkersy gaan lê. In sy musiek was dit veral die energieke dansmusiek en tokkates wat afgewissel is met misterieuse nagmusiek. As ek van sy werke oorsee gaan speel het, wou hy altyd graag hoor wat die terugvoer was.

’n Paar jaar terug het prof Grové sy heupe laat vervang – dit was ’n donker tyd en so klink sy musiek ook uit die tyd. Hy het eendag vir my ’n orrelwerk gewys wat netjies gekopieer was, afgerond met artikulasiedetail en dinamiese aanduidings. Hy vra toe of ek die werk ken. Dit het vir my gelyk soos ’n Afrika-interpretasie van ’n trio wat waarskynlik kort ná die Tweede Hymnus geskryf is. Hy skryf toe “Stemme uit die duisternis” en “Verlossing” by en noem die werk die Derde Afrika Hymnus. Ek het hom gevra of die engtevrees in hierdie tweede deel outobiografies is – waarop hy gesê het nee, dit gaan oor kulture wat vasgevang is in Afrika en uitsien na bevryding.

Met die trek na ’n meenthuis het hy ’n groot deel van sy boekery uitgedeel. Sy bladmusiek en musiekhandboeke het na my gekom. Tydens my laaste besoek het hy gesê, trek ’n stoel nader en kom sit hier – en hy het nog boeke een vir een vir my gegee – “Nee, hierdie een wil ek weer lees. Lees jy Duits?” So het hy die laaste tyd ’n paar keer gebel om te vra wat die omvang van sekere instrumente is. Jare terug het hy begin dink om ’n altvioolkonsert te skryf – ek onthou dat hy vertel het dat in die opening, die klarinet sou uitrank bo die orkes en dan sou die altviool haar eerste verskyning maak. Daar was egter nie befondsing beskikbaar nie en hy het die projek laat vaar. Drie weke terug was hy opgewonde omdat die eerste deel van die altvioolkonsert klaar was. Hy het daarna een keer gevra wat die algemeenste omvang van die konsertmarimba was en toe weer gebel oor die cassa rullante – die tenoortrom. Hy wou weet of daar verskillende groottes bestaan. Hy het my vertel dat die klank van ’n roffel met harde stokke op hierdie instrument vir hom so aantreklik is.

Donderdag met hemelvaart het ek die volgende SMS gekry: “Hi Gerrit. I am so sorry to inform you about this but my beloved father has passed away about 1 hr ago ... Christopher.” En met tenoortromgeroffel in my kop het ’n groot kolk van herinneringe ontstaan aan ’n groot man wat my nooit klein laat voel het nie. Ek hoor steeds sy singgroet, wat dieper word en opgly na bo “Tot siens!” Tot siens, professor Grové.

Stefans Grové sal veral onthou word vir sy jonkheid van gees. Die internasionaal-bekroonde Suid-Afrikaanse tjellis Anzel Gerber, wat tans ’n tjellodosent by die Universiteit Stellenbosch is, onthou hom so:12

Prof Grové het ’n sprankel in sy oë gehad – ’n manier van kyk na die lewe wat vir diegene wat bevoorreg was om hom te ken, ’n inspirasie was. Hierdie krag en energie was natuurlik ook hoorbaar in sy musiek.

Sy werksywer en kreatiwiteit tot in sy laaste dae was verstommend. Hy het ’n Dubbelconcerto vir Tjello, Klavier en Orkes en Verteller (Musiek vir Afrika No 45), genaamd “Bushman Prayers” vir my en Ben Schoeman gekomponeer, wat in Desember 2013 voltooi is. Gedurende die tyd wat hy die concerto komponeer het, het ons dikwels gesels en het hy opgewonde vertel hoe hy die temas in sy drome gehoor het. Die concerto bestaan uit drie dele, “Prayer to the Sun”, “Prayer to the Moon” en “Prayer to the brightest Star in the Sky” wat op gedigte gebaseer is en deur ’n verteller voorgelees word tydens die uitvoering. Die gedigte, deur Dia!Kwain, kom voor in “Oorsprong van die dood” en is vervat in WH Bleek se opname van vertellinge en gedigte deur Noord-Kaapse Boesmans wat in die Breakwater Convict Station as gevangenes hulle vonnis uitgedien het.

Die Japannese dirigent Yasuo Shinozaki was ook opgewonde om die concerto te dirigeer. Tydens Shinozaki se besoek aan Suid-Afrika het ons in Pretoria met Grové ontmoet en die eerste beweging en konsep van die concerto bespreek. Die netjiese handskrif van Grové se partituur was opvallend. Die première van die concerto met Yasuo Shinozaki, my en Ben Schoeman was geskeduleer om op 27 Februarie 2014 plaas te vind met die KZNPO in Durban. Die reisreëlings was reeds getref dat Grové die repetisies en première sou bywoon. Ongelukkig is Ben Schoeman in Londen, Engeland, aangeval en was sy regterhand in so ’n mate beseer dat hy vir byna drie maande nie kon optree nie. Ek het toe die Elgar-tjelloconcerto gespeel en ons hoop om in 2015 die Grové concerto uit te voer. Alhoewel ek met Grové aan die ’ gewerk het, sou ons so graag in sy teenwoordigheid die première wou gedoen het.

Ten tye van sy afsterwe was Grové besig om ’n altvioolconcerto vir Jeanne-Louise Moolman te komponeer. Die eerste beweging was reeds voltooi en daar is met die tweede beweging begin, maar ongelukkig is hierdie werk nie voltooi nie.

Ben Schoeman se doktorale verhandeling, wat hy aan City University London doen, is bykans voltooi en handel onder andere oor die pedagogiese waarde en toepassing van klaviertegniek in die uitvoering van Grové se klavierwerke. Grové het ook klavierwerke aan Ben Schoeman opgedra wat hy dikwels internasionaal uitvoer.

Ons sal Stefans Grové in groot liefde onthou en sy musiek laat voortleef deur dit nasionaal en internasionaal uit te voer.

OSM Camerata en Matildie Thom Wium voer onder andere Grové se Liedere op Boesmanverse in die Glazunovsaal van die Rimsky Korsakov Konservatorium in St Petersburg, Rusland uit tydens die dertiende Internasionale Konservatoriumfees. (Foto voorsien deur die Rimsky Korsakov Konservatorium)

Vir die program van die Internasionale Konservatoriumfees klik hier: http://www.conservatory.ru/node/3045

In ’n e-pos-boodskap sluit Ben Schoeman by Anzel Gerber se bydrae aan:

My hart is baie seer oor Stefans Grové. Ek het in Maart my 90 000 woorde-tesis oor hom klaargeskryf en is tans besig met die verbeteringe voordat ek finaal inhandig. Dit was vir my wonderlik om hom deur sy werke beter te kon leer ken en sy unieke benadering tot die klavier as instrument te kon ervaar. Ek sal hom geweldig baie mis, en is veral baie spyt dat hy nie by sal wees met die première van die Concerto vir Tjello, Klavier en Orkes wat hy in November 2013 vir my en Anzel Gerber klaargeskryf het nie.

Grové het altyd na nuwe insigte en kleure gestreef en dit maak van hom sekerlik een van die belangrikste kunstenaars wat Suid-Afrika opgelewer het (of sou ek sê dat hy ons land vir ewig verryk het met sy genialiteit, al moet daar nog baie gedoen word om sy musiek onder die algehele publiek se aandag te bring).

Die heengaan van Stefans Grové was ook vir Chris Walton, ’n voormalige hoof van die Musiekdepartement by die Universiteit van Pretoria, ’n groot verlies. Hy doseer tans musiekgeskiedenis by die Basle University of Music in Switserland.

It was in February this year when last we met (though to use the past tense pains me). Stefans may have waned in physical strength, but his mind and spirit remained undimmed and nimble. He spoke of his newest works, showed me the scores, and told stories as he always did. These included the tale of a trip by car through Germany in 1961 – one I hadn’t heard before. We had been friends for over a decade, and in my last three years in Pretoria we had set a jour fixe for regular breakfaststhroughout the term when we would meet and talk of the world and all those in it. So I thought I knew him well. But last February I realized again how this master storyteller could still surprise me with tales as yet untold. So it was, too, in the music of his final decade – that remarkable Grovéian, Indian summer – when he would always think of something new to say, just when you thought he surely couldn’t any more. Like the piano growls in his “Limping Lion”, the exquisite heterophony of his Light and Shadows, or the quietly ecstatic chords in his orchestral Meditations (a work that enthralled the audience at its Swiss première four years ago; no new work in the season before or after prompted so much delight among the interval-chattering classes).

Recent years have seen a steady increase in performances abroad, while the efforts of DOMUS and the honours bestowed by ATKV, FAK and the South African Academy for Science and Arts have affirmed his standing at home. All the same: South Africa is a thankless place. We can expect no plaques to mark the homes he dwelt in, no Grové busts in hallowed halls, no state memorials, though he would deserve them all. But we do have his music. And in its ever-newness it will delight and enthral and be loved, long after we too are gone who knew and loved the man who made it.

Gerrit Olivier het Stefans Grové reeds veertig jaar lank geken. Hy skryf soos volg oor sy herinneringe van sy eertydse leermeester en latere kollega:

Ek het Stefans Grové in 1974 in Pretoria leer ken. Hy was my studieleier en mentor vir twee hoër grade. In die gang van sake het ons vriende geword en later ook kollegas. Hoe onthou ’n mens so ’n unieke mens, hoe vat jy hom saam in ’n paar woorde op papier?

Ek onthou hom eerstens as ’n sagte, mensliewende mens. In die veertig jaar wat ek hom geken het, het hy nooit van iemand sleg gepraat nie. Hy was ’n sagte mens wat almal die son gegun het wat oor hulle skyn. As studieleier het hy ’n mens nooit in enige rigting probeer dwing nie. Op sy kalm, bedaarde manier het hy rustig en altyd met respek voorstelle gemaak, meesal in die vorm van indringende vrae.

Ek onthou sy fyn humorsin en skerp waarnemingsvermoë. Dit word baie goed geïllustreer deur sy bundel sketse Van mense, diere en dinge. Min dinge het sy aandag ontsnap. Ek onthou hoe hy bewegingsloos soos ’n verkleurmannetjie sit en dan, in ’n oogwink, kom ’n briljante stukkie kommentaar wat bewys dat sy vlymskerp verstand die hele tyd wawyd wakker was.

Ons het in talle gesprekke baie min oor sy eie musiek gepraat. Soos alle werklik groot geeste was hy nederig en beskeie, ook oor sy prestasies en die talle eerbetonings wat hom te beurt geval het.

Benewens sy belangstelling in verskeie vertakkings van musiek, het hy ’n spesiale liefde gehad vir die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek. Hy was trots op dit wat hier ontstaan en ontwikkel het en op die prestasies van ons eie skeppende kunstenaars. ’n Nagraadse kursus daarin is deur sy toedoen ingestel. Op dié manier kon studente aan die Universiteit van Pretoria hulle eie musikale wortels leer ontdek en waardeer.

Die term "kunsmusiek" is aan hom te danke. Daarmee is die terminologiese verwarring tussen die begrippe "klassieke" musiek en musiek van die Klassieke era, "ernstige" teenoor "ligte" musiek uitgeskakel.

Sy groot liefde vir en enorme kennis van JS Bach se kantates was aansteeklik, dit het respek afgedwing en nóg ’n nagraadse kursus tot gevolg gehad. Wanneer ek na ’n Bach-kantate luister, het ek altyd onwillekeurig aan Stefans Grové gedink, want hy het my daarmee bekend gestel. Ek kan my goed voorstel dat hy homself teen hierdie tyd aan JS Bach gaan voorstel het en dat hulle oor baie dinge in die musiek sal gesels, maar veral oor die kantates. Terwyl ons swaar afskeid neem met “Alle Menschen müssen sterben" klink daar by hulle die vreugdetone van “Jauchzet frohlocket'. Stefans Grové is tuis. Ek groet hom met groot dankbaarheid en liefde.

***

Publikasies wat Stefans Grové en sy musiek as onderwerp het

Benewens talle nagraadse skripsies, verhandelings en proefskrifte word Stefans Grové en sy musiek onder andere deur die volgende publikasies gehuldig. Weens beperkte tyd is die lys nie volledig nie.

Barz, G. 2013. Stimulus en afstand in die komposisies van Stefans Grové: ter wille van ’n stilistiek van die Suid-Afrikaanse komposisiepraktyk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):131–7.

Grové, I. 2013. Tussen Bethlehem en Bloubergstrand: vanaf die oue na die eie in Stefans Grové se oeuvre. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):138–55.

—. 2014. Musiekgees word gegroet. Die Burger, 3 Junie, p. 10.

Hinch, J. 2004. Stefans Grové: Winds of change. Journal of Musical Arts in
Africa. 1:24–41.

James, C. 1992. An examination of compositional methods in Stefans Grové’s
Concerto overture "Five salutations", an orchestral study on two Zulu themes.
SAMUS, 12:107 ? 22.

Jordaan, G. 2013. Stefans Grové se Afrika Hymni as evokatiewe klankskildering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):170–86.

Muller, S. 2000. Imagining Afrikaners musically: reflections on the “African Music” of Stefans Grové, Literator 21(3):123–38.

—. 2007. A composer in Africa: interview with Stefans Grové, Tempo 61(240):20–7.

Muller, S en C Walton (reds.). 2006. A composer in Africa essays on the life and work of Stefans Grové, with an annotated work catalogue and bibliography. Stellenbosch: Sun Press.

Olivier, G. 2007. "A Voice from Africa" –  Compositional processes and techniques in the music of Stefans Grové (b 1922), doyen of South African composers of art music. Intercultural Music. Volume 6. RM Kwami, CT Kimberlin, A Euba (reds). Point Richmond, Calif.: Mri Press.

Pooley, T. 2013. "Afrika-Voorstellings": Stefans Grové se Liedere en danse van Afrika as fiksies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):170–86.

Spies, BM. 2009. Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Stefans Grové, Musicus, 37(1):134–6.

—. 2013. Stefans Grové se Raka as musikale narratief. LitNet Akademies,10(2).

Stolp, M. 2013. Yemoja in momente: ’n Uitvoerderperspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):187–204.

Swart, I. 2013. Mistieke klankwêrelde in Stefans Grové se musiek met spesifieke verwysing na sy Towermusiek vir klavier. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):204–30.

Thom Wium, M. 2013. Die bydrae van Stefans Grové se Raka tot die Raka-diskoers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):231–47.

Walton, C. 2006a. Connect, only connect: Stefans Grové's road from Bethlehem to Damascus. In Muller en Walton (reds) 2006.

—. 2006b. Musikalische Moderne in afrikanischer Synthese. Die Musik des südafrikanischen Komponisten Stefans Grové. Neue Zeitschrift für Musik, 167(5):38–9.

—. 2007. Composing Africa: Stefans Grové at 85. The Musical Times 148(1899):19–36.

Weyer, W. 2013. Die eksotiese element in Stefans Grové se musiek: ’n manifestasie van "kulturele vertaling". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(2):231–47.

1. Strykkwartet :Gesang van die Afrika-geeste (vier bewegings)
Derek Ochse (eerste viool), Abrie de Wet (tweede viool), John Wille (altviool), Michael Haller (tjello)

2. Liedere en danse uit Afrika
Andrew Cruickshank (klavier)

a Stampdans
b Naglied uit die verte
c Begroeting van die nuwe dag
d Sagte lied in die skemering
e Dans van die toordokter
f Mbira-lied op die nagbries gedra
g Dans van die windgees

3. Nonyana, die seremoniële danser
Andrew Cruickshank (klavier)

4. Sonate vir altviool en klavier
Jeanne-Louise Moolman (altviool), Piet Moolman (klavier)

a Dans van die jeug
b Maanskynmusiek
c Vergadering van die oudstes

***

1 Met dank aan die volgende persone wat op kort kennisgewing op verskillende maniere bydraes gelewer het: Marius Coetzee, Santie de Jong, Anzel Gerber, Melissa Gerber, Ralph Giraudeaux, Gerrit Jordaan, Naomi Kotze, Stephanus Muller, Mageshen Naidoo, Gerrit Olivier, Ninette Pretorius, Mareli Stolp, Isobel Rycroft, Ben Schoeman, Chris Walton.

2 In Spies (2009).

Raka – soos dit uitgevoer is in die destydse Ou Mutualsaal van Unisa in 1999. Mark Nixon was die pianis en Gérard Korsten het die New Arts Philharmonic Orchestra Pretoria (NAPOP) gedirigeer. Om te luister na die eerste deel van Raka (“Early morning scene at the river”) , klik op http://youtu.be/GNYo0EPFJKo.

5 Die aanloop tot hierdie verbintenis met Afrika en dus die uiteindelike vestiging van sy Afrika-reeks word uiteengesit in Chris Walton se hoofstuk oor Grové se pad van Bethlehem (sy geboortedorp) na Damaskus (Walton 2006). Na aanleiding van die titel van Muller en Walton se boek oor Grové, A Composer in Africa, het Gregory Barz gevra of Stefans Grové ’n komponis in of van Afrika is. Lees die komponis se reaksie hierop in Barz (2013).

6 Lees Jordaan se volledige bydrae, getitel “Enkele persoonlike herinneringe aan Professor Stefans Grové” hier.

7 Beskikbaar by http://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/2001. Verdere inligting oor die Grové-versameling kan ook via die DOMUS-blad gevind word by http://www.domus.ac.za/afrikaans/content/view/32/ 5/#G, http://sacomposers.co.za/sacomposers/Grove,_Stefans.html, http://en.wikipedia.org/w iki/Stefans_Grove. Meer inligting oor die musiek van Grové kan ook gevind word by www.samrofoundation.org.za.

8 In Spies (2009).

9 Die program kan hier gelees word.

10 In ’n e-posboodskap van 2 Junie 2014.

11 Hierdie Claremont-produksie (GSE 1546) is geborg deur die Oude Meester Stigting. Jordaan is verder die redakteur van Afrika Hymnus Nr 1–3, ’n kritiese uitgawe (2014) en Stefans Grové se stylnabootsings.

12 Anzel Gerber en Ben Schoeman was die algehele wenners in die Ibla Grand Prize International Music Competition in Italië (2012).

Alle opnames is met toestemming van die kunstenaars gebruik.

Lees ook Jeanne Zaidel-Rudolph se huldeblyk aan Stefans Grové.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top