Xenofobie: Stories uit Yeoville

  • 0

Izak du Plessis (foto: Naomi Bruwer)

Toe die eerste berigte van die jongste vlaag xenofobiese aanvalle die land getref het, is elke moontlike kenner en ontleder nadergetrek om die verskynsel te ontleed.

Armoede, werkloosheid, misdaad en allerhande maatskaplike verskynsels is as motivering voorgelê. Vingers van oordeel is onmiddellik na die oortreders gewys en duisende Suid-Afrikaners is gemobiliseer om hulle teen xenofobiese aanvalle uit te spreek. Politici wat aanvanklik traag gereageer het, het uiteindelik die vinger na ’n onsigbare georkestreerde strategie gewys in ’n poging om te lyk asof hulle in beheer van die situasie is. Binne die bestek van ’n week is ’n komplekse probleem uitmekaargehaal, ontleed en ’n herstelstrategie verkondig.

Dit is eers heelwat later sedert die eerste voorvalle dat die media en ander rolspelers daaraan gedink het om met die mense te praat wat direk deur die geweld geraak word. Maar dié prysenswaardige stap is vertroebel deur eensydige beriggewing wat gefokus het op ’n “ons en hulle”-benadering. Die lot van duisende buitelanders is belig in teenstelling met die gewelddadigheid van die oortreders. Dit het die groter storie nog vol gate gelaat.

Dit word allerweë aanvaar dat objektiwiteit, die goue reël van joernalistiek, nie ten alle koste haalbaar is nie, weens verskeie uitdagings. Maar om alle rolspelers in ’n verskynsel soos xenofobie se stories langs mekaar te vertel, is al klaar ’n beter poging tot objektiwiteit. Dit is immers die werk van joernaliste: om stories te vertel sonder om vingers te wys en sonder om kant te kies. Dit wat hier volg, is ’n poging om dit te doen na ’n besoek aan Yeoville.

Yeoville (foto: http://www.southafrica.net/za/en/entry/article-yeoville)

Yeoville is ’n kakofonie van klanke wat uit elke oop deur en venster blêr. Die oorwegend Joodse gemeenskap van vroeër jare wat later die tuiste van kunstenaars, joernaliste, akteurs en kritici van die apartheidsregering geword het, is deesdae die blyplek van duisende Afrikane. Hier leef Somaliërs, Nigeriërs, Ghanese, Kongolese, Zimbabwiërs, Ethiopiërs en Suid-Afrikaners langs mekaar en selfs oor mekaar. Dit is glad nie vreemd om tot twintig mense in ’n woonstel te vind nie.

Dit is ’n mengelmoes wat soms dreig om oor te kook, sê Simphiwe, ’n Suid-Afrikaner wat hom aktief beywer vir die veiligheid van buitelanders. Volgens hom word daar gereeld gestry oor vroue, besittings en snoeker. Dit gebeur veral laatnag as die drank reeds alle rede benewel het. Maar dit het niks met xenofobie te doen nie, sê Simphiwe. Die tipe onmin is oorwegend drankverwant.

Hoewel Simphiwe hom ten sterkste uitlaat teen xenofobiese geweld, kan hy nie anders as om tog te sê waar die kern van die probleem volgens hom lê nie. Hy pak die skuld vierkant op die Zimbabwiërs. Zimbabwiërs steel en moor so ver as wat hulle gaan, verklaar hy sonder omhaal van woorde.

Ja, sê sy anonieme vriend, wat al effe aangeklam is, in Afrikaans, hulle soek net kak. Pasop vir hulle. En om sy punt te benadruk verskree hy iemand wat volgens hom te naby aan my rugsak gekom het. Jy moet mooi kyk hier, sê hy vir my.

Jimmy, ’n Zimbabwiër wat by ’n vulstasie werk, kom nadergestap en groet my twee begeleiers hartlik. Hulle omhels mekaar en vertel dat hulle groot vriende is. Dis nou ’n bewys dat ons teen xenofobie is, sê Simphiwe. Maar vertel bietjie hoe skelm kan die Zimbabwiërs wees, por hy vir Jimmy aan.

Jimmy open sy rede met ’n lang uiteensetting van hoe sake hier in Yeoville inmekaar steek en hoe dié diverse gemeenskap eintlik vreedsaam naas mekaar bestaan. Maar dit is so, eindig hy sy relaas: hier is baie Zimbabwiërs net moeilikheidmakers; ek weet nie hoekom dit so is nie.

Peter, ’n twee meter lange Kongolese kolos in die uniform van ’n veiligheidsmaatskappy, sluit hom by die groepie aan. Hy wys ook vinger na die Zimbabwiërs. Jimmy knik sy kop instemmend terwyl Peter praat. Hy is al sewentien jaar in Suid-Afrika, sê Peter. Aanvanklik het hy in ’n township gebly, maar die misdaad het te veel geword. Dit het hom laat besluit om Yeoville toe te kom. Hier gaan dit baie beter, terwyl die twee Suid-Afrikaners en Jimmy speel-speel boks na hom om hom oor sy grootte te terg.

Soos jy kan sien, kom ons eintlik baie goed oor die weg hier, sê Simphiwe. Maar kom ek gaan wys jou. Die bewys vir hulle oortuiging is ’n kroeg om die hoek. Dit is een van letterlik honderde kroeë in Yeoville. Dié kroeg behoort aan ’n Kongolees wat anoniem wil bly. Hy verduidelik met oordrewe gebare hoe gekant hulle teen xenofobie is en dat hulle nie begrip het vir die verskynsel nie. Kyk net hier, sê hy terwyl hy sy arm wyd swaai: hier sit Malawiërs, Kongolese, Zimbabwiërs en Suid-Afrikaners. Almal drink saam, niemand baklei nie, sê hy terwyl ’n vrou geklee in ’n manspak my aan my skouer ruk en in kru taal beveel dat ek moet maak dat ek wegkom. Jy is nie welkom hier nie, skreeu sy. Sy word gou op haar plek gesit en uit die kroeg geboender deur die mans wat rondom my staan.

Kom ek sê jou wat die probleem is, sê Cyril, ’n Venda, terwyl hy my aan die arm nadertrek. Xenofobie is nie ’n eenvoudige probleem nie, val hy met die deur in die huis. Dis glad nie so eenvoudig as wat mense dink nie. En die wortel van die probleem moet by regeringslui gesoek word. Dit is soos ’n familielid wat vir ’n vakansie by jou kom bly en kort voor lank kom jy agter die familielid word anders behandel as jy. Hy mag sy vuil teekoppie op die tafel los, nie help om tafel af te dek nie, eerste bad en die beste kos eerste skep. Enige mens sal mos kwaad word, nie waar nie, vra Cyril. En as ’n mens kwaad genoeg word, kan jy selfs so ver gaan as om dood te maak. Hy bly ’n rukkie stil ... toe verklaar hy plegtig dat hy xenofobie afkeur en dat almal in die kroeg sy vriende is.

’n Aangeklamde Suid-Afrikaanse vrou smeek my om met haar te praat. Ek is getroud met ’n Somaliër by wie ek ’n kind het, sê sy emosioneel. Hulle kan hom nie nou wegjaag nie. Wat gaan ek doen as my man nie meer by my is nie, wat gaan van my kind word, vra sy desperaat. Ons is afhanklik van sy inkomste. Haar groot bruin oë gryp myne vas voordat sy omdraai en effe onvas op haar voete wegloop.

Sly Silva van Ghana eggo dieselfde sentiment. Hy het twee seuns by ’n Sotho-vrou. Volgens hom bly hy al twintig jaar in Suid-Afrika en voel hy vir die eerste keer ongemaklik om hier te wees. Hy verduidelik soos al die ander dat hy vriende uit alle bevolkingsgroepe het. Daarom verstaan hy nie die huidige geweld nie. Eintlik, sê hy, het dit niks met xenofobie te doen nie. Dit is doodgewoon misdaad. Die bewys daarvan is volgens hom die klein groepies Suid-Afrikaners wat hulle daaraan skuldig maak, die feit dat hulle altyd winkels plunder en die sinnelose doodmaak van mense. Hulle is misdadigers, benadruk hy terwyl hy sy arm om die skouers van ’n Suid-Afrikaner langs hom slaan. Ons is broers, sê hy dan vol bravade. Die res van die mense in die groep eggo dit: Ons is broers!

Ja, dit is so, ons is broers sê Sipho, ’n Sothosprekende Suid-Afrikaner, bietjie later die aand aan my. Hy is ’n karwag in Raleighstraat. Volgens hom het hy baie empatie met die buitelanders omdat hulle baie arm is. Hulle sukkel maar om in Suid-Afrika te oorleef. Om boonop nog aan Suid-Afrikaners se argwaan blootgestel te wees, kan nie lekker wees nie. Ek kry hulle baie jammer, sê hy. Maar hy voel tog soms te na gekom, verduidelik hy verder na ’n kort stilte. Die buitelanders kry volgens hom al die beskikbare stukwerk, omdat hulle bereid is om teen heelwat goedkoper lone te werk. Hulle sal byvoorbeeld ’n muur van R3 000 vir R900 bou, sê Sipho. Ons Suid-Afrikaners weet dit is uitbuiting, daarom wil ons nie sulke werk aanvaar nie, verduidelik hy terwyl hy sy glimbaadjie regtrek en omdraai om ’n parkeerplek vir iemand aan te wys. Dit is hoekom sommige mense bereid is om moeilikheid te maak, roep hy so in die omdraaislag terug.

Ha, fokof, jou satangskind, hoor ek skielik langs my. Dit is Simphiwe se anonieme dronk vriend wat my nog die heelaand volg. Sien jy bossa, dis die Zimbabwiërs, verduidelik hy sy uitbarsting, maar ek weet nou nog nie wat die Zimbabwiër verkeerd gedoen het nie.

Lees ook Deel op Facebook of red 'n lewe? #xenomedia

Lees ook Instagram or intervention?

Lees ook Vreemdelingehaat en die gelaat van die ander

Lees ook Yeoville: Jesus was a makwerekwere

• Izak du Plessis is betrokke by RSG se programme Monitor en Spektrum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top