Wouter en die geskiedskrywers
Wouter,
Die Christelike Godsdiens het sy ontstaan en soos dit ontwikkel het soos ons dit ken, alreeds by Noag nog vóór die Sondvloed.
Hoewel jy goed vorder onderweg met jou ondersoeke na die Waarheid, het ek tog die aan en ander opmerkings te make.
Ons het al tevore hieraan geraak en ek het al aan jou uitgewys dat die historikus Dairmaid MacCulloch, byvoorbeeld, ’n persoon is wat skryf vanuit ’n bepaalde bevooroordeelde perspektief, met ’n baie sterk politieke en aktivistiese (hy is ’n praktiserende homoseksueel, wat hom met die Christendom baie “ongemaklik” laat voel) dryfveer. MacCalloch is juis nie een wat in staat is om die geskiedenis van verál die Christendom, omvattend vanuit ’n onbevange posisie te verantwoord nie en sal sy aanbieding misleidend wees, soos dit is. Een van MacCalloch se bykomende grootste flaters is dat hy sommer in die middel van die ontstaan en groei van Godsdiens, die fondament van die Christelike Godsdiens en die basis waaruit ander religieë hulle vertakkinge probeer fundeer, sy historiese verhaal aanbied, sonder inagneming van die werklike begin van ware Godsdiens, die Christelike Godsdiens.
Philip Jenkins, is deur en deur ’n agnostiese sekularis en sal uiteraard nie die dinamika van die ontstaan en groei van die Christelike Godsdiens vanuit die belangrike perspektief van Spiritualiteit kán benader of weergee, nie – en ons weet dat die Christendom in sy ontstaan en wese ’n Spirituele dinamika en grondslag het, waar begrip, kennis en ervaring van onontbeerlike dinge soos Spiritualiteit, Goddelike inspirasie en Goddelike openbaring en Goddelike beskikking van absolute deurslaggewende belang is, ten einde die ontstaan, geskiedenis en ontwikkeling van die Christelike Godsdiens behoorlik te begryp en te weergee. MacCalloch gaan ook mank. Ek het soortgelyke kritiek teen die ander bronne wat jy voorhou.
Die geskiedskrywer Gibbon, hoewel nie ’n Christen, het destyds duidelik uit sy objektiewe (soos ’n persoon van sekulêre oortuiging maar seker kan wees) ondersoeke die belang van Goddelike ingewing en inspirasie as primêre onstaansbron en dryfveer vir die groei en ontwikkeling van die Christelike Godsdiens in die Romeinse Ryk, raakgesien en as sodanig gerapporteer.
Dan is daar ook Philip Schaff, die gelowige geskiedskrywer wat uitstekende en omvattende werk lewer, wat jy ook kan raadpleeg vir ’n meer objektiewe en korrekte aanbieding. Schaff se bibliografie lys toon onmiddellik aan dat hy alles behalwe eenogig met die Christendom se geskiedenis omgaan, hy bestudeer en hanteer altyd skeptiese en sekulêre bronne (Chris Dippenaar is baie verkeerd as hy meen daar was nie destyds soiets nie) ook en is in staat om hulle te onderskei van diegene wat nie die insig en ervaring van die ware geloofswêreld het, nie.
Vir jou, sonder die voordeel van Goddelike openbaring en spirituele inspirasie, om werklik die ontstaan en ontwikkeling van die ware Godsdiens, die Christendom, te begryp en te verstaan, moet die werke van heelwat skrywers wat, met die nodige insig, vir jou die korrekte situasie sal gee, geraadpleeg word – ek noem van hulle in ’n kommentaar aan Chris Dippenaar wat ek meen, jy gelees het.
Ek kan hulle natuurlik weer voorsien, maar hier is te min plek.
Ek dink die probleem wat jy tans ondervind (en dalk nog nie besef nie), is dat jou ondersoek en jou weergawe ook dus nie objektief en korrek kán wees, tensy jy ook daardie belangrike dinge se invloed en dinamika in die ontwikkeling van die Christelike Godsdiens bytrek, nie. Sodra jy dít doen, sal jy sien dat die resultate anders is en die geskiedenis anders gerapporteer word – mens kan as geskiedkundige nie die geskiedenis korrek weergee, as jy aspekte van kernbelang in die ontstaan en ontwikkeling van die Godsdiens gewoon ignoreer of uitlaat, bloot omdat jy nie oor ’n werkbare of hanteerbare kennis, begrip en beheersing daarvan beskik, nie.
Chris “Gilgamesh” Dippenaar (as klastipe van die ateïstiese agnostikus) se vooroordele ten aansien en onbegrip van dié dinge is ingrypend en vir hom, fataal deabiliterend in sy pogings om daarmee om te gaan – en sy benadering is juis nie, soos joue, ’n poging om objektief en eerlik met die ingewikkelde kwessies om te gaan nie, maar sy beweegredes is antagonisties en sal hy opsetlik kennis en feite daaromtrent in die ban wil doen, natuurlik tot sy eie stagnasie (en dít is waar jy jou eweknieë strate voor is).
Groete,
Kobus de Klerk