Woorde vir André

  • 0

André P Brink en Karina Sczcurek (foto: Chrizane van Zyl)

“’When the end draws near,’ wrote Cartaphilus, ’there no longer remain any remembered images; only words remain.’” (Jorge Luis Borges, “The Immortal”)

My eerste ontmoeting met André P Brink was op ’n Saterdagmiddag in Augustus 1976. Met bravade en vrees het ek en ’n kennis aan die voordeur van die befaamde woning in Markstraat geklop. ’n Norse Brink het die deur oopgemaak en eers nadat ek my naam herhaal het, geregistreer wie ek is. Later sou ek verneem hy het gedink ons was Jehovasgetuies wat sy Saterdag-rugby kom versteur het. God/Satan kyk rugby! God/Satan nooi my vir ’n vleisbraaiery die volgende dag om (departementshoof) Johan en Cosette Smuts te ontmoet! So het die vertaling van legende tot mens begin. So ook die ruime gasvryheid en milde gawes en die toelaat om iets van die skeppingsproses mee te maak.

Die man agter die boek verdien al die woorde wat vriendskap, menslikheid en mentorskap kan insluit: beskeie, besielend, die ekstra myl, gasvry, gul, liefdevol, privaat, skaam, vergewensgesind, vrygewig. Die cliché “Man van die Renaissance” was ’n portret “ende al waar” van hierdie belese man met sy ensiklopediese kennis van die lettere, die musiek, die skone kunste, die wysbegeerte, sy liefde vir sport en sy vriendelike meedingery op die tennisbaan. As dosent was hy befaamd as besielend, as een wat ingewikkelde prosesse kon toelig sonder om tot oorvereenvoudiging oor te gaan. Sy werksvermoë was benydenswaardig, sy reaksie op opstelle, tekste en voorleggings snel en omvattend.

André was baie privaat: min het tot die drumpel van sy innerlike allerheiligdom gevorder, en dán, nét die drumpel. Slegs die toetsbord het sy diepste gedagtes verneem en dan slegs as fiksie, as kodes, as patrone en strukture.

Die oeuvre was groot en wydlopend. Reeds in die jare sewentig het hy sy stewige bydrae tot die reisliteratuur en toneel grootliks agtergelaat. Hy het die Nuwe Drama in Afrikaans help vestig met sy eksperimente met die teater van die absurde en die epiese drama. Lewenslank het hy ’n bemoeienis met vertaling gehad. Sy kritiek en kritiese versamelings was van die beste beoordeling in Afrikaans en dien as waardevolle bydrae tot die periodisering van die Afrikaanse letterkunde as sisteem.
Dit is egter met fiksie, en by name die roman, waarin hy sy kenmerkendste en mees diepgaande bydrae gelewer het. Daar het hy as die meturgeman en sjamaan van sy generasie opgetree.

Die enfant terrible en die enfant savant is reeds gesoute skrywer: vir Die Jongspan, een roman-avontuur-erotika op 13, tydskrifverhale – “potboilers” – om den brode onder ’n magdom skuilname. In die laat jare vyftig ’n toneelstuk en drie romans in die trant van die Ou Drama/Prosa (sy coinage), maar reeds die kenmerkende à la Brinkage: liefde; hoogs individuele mans op soek na waarheid en outentisiteit; die vroue as onmisbare, significant other (maar reeds dikwels simboliese, selfs argetipiese figure); politieke spanning; die gebruik van die geskiedenis om aktuele politiek te ondersoek; ’n vermoë vir “vormgewing”, “styl”.

Dan Parys/Damaskus ... verwerk wanneer Rob Antonissen hom Grahamstad toe beroep. Die eerste vrug daarvan die onbeholpe versdrama Caesar (Van Wyk Louw, TS Eliot, Shakespeare), maar die onmiskenbare eksistensiële modernisme. The rest is history: Lobola vir die lewe (Tim ontdek boeke as erotiek), Die ambassadeur (Tim ontdek Dante) – in sy eie woorde: Sestig as die dekade van seks en simbole.

Die deurbraak van die jare sewentig en tagtig is die Afrikabewussyn (ook by Miles, Stockenström ea), die outentieke as die betrokkene, maar nog steeds met die eksistensiële as intellektuele basis. In sy romans van die tyd is daar ’n bewustheid van ’n gemeenskap waarin reg en geregtigheid verval het en die skade wat dit aan die enkeling en dié se wording gedoen het. Dit is in hierdie periode dat ek André leer ken het en ’n skramse blik kon kry op die skryfproses van veral Houd-den-bek, Gerugte van reën en ’n Droë wit seisoen en in ’n mindere mate Die muur van die pes en States of emergency. My bydrae was deels as navorser – die soek na verwysings, een maal gepaste Engelse gesange vir die TV-reeks The Settlers. Ook as “buite-oog” – draai die retoriek so ’n bietjie af, onthou dit, dat, wat van die mitiese stramien, en in die geval van States of emergency, die ontdek van ’n hele psigoanalitiese interpretasie van Wagner se” Ring”, veral oor die jong Siegfried.

Vanaf die laat tagtigs tot die negentigerjare (vermoed ek) het Maresa en later Karina daardie funksies verrig. Brink het, soos alle groot skeppers, voortdurend deur persoonlike skeppingsontwikkelings gegaan en sy fiksie en denke het verander en evolueer. Sy latere werk behou soveel van die kenmerke wat ek van vroeër herken, maar ’n nuwe manlike feministiese bewustheid kom by en ook is daar ’n groter bewuswording van die postmodernisme en die postkoloniale, die magiese realisme, veral in skittertekste soos Inteendeel, Duiwelskloof en Bidsprinkaan. Laasgenoemde was die laaste skop van die blikkantien: ’n versoek om die fragment oor Kupido Kakkerlak wat jare vantevore in Standpunte verskyn het, op te spoor.

Die laaste sien: twee weke voor sy dood. Ek en Gerhard en Karen de Jager klop aan en word gul deur Karina ontvang. Sy gaan kamer toe en stoot André, maer en duidelik in pyn, uit in ’n rolstoel. Hoflik, verwelkomend, pligsgetrou soos Amakeia. Ecce Homo ... O man van smarte met de doornenkroon ... O vriendskap wat liefde heet ... my woorde ontval my.

Beste André, jy’s dood. Hierdie woorde stroom die eindelose niet binne: wie spreek ek aan? Hoe verwoord ek die werklikheid van jou? Om te praat is om te vervang, om die werklikheid dood te praat en so op ’n afstand te bly.

Doodgaan is ’n gaan na die begin: die ontbinding van die nimlike, noemlike jy tot die elemente, tot oermaterie en die oorgaan tot oerenergie, tot daardie alomteenwoordige in die begin was die woord, is die Groot Knal. Totsiens en tot daar, jou ou karnallie. Mooi loop!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top