Winkel toe in stofpad?

  • 0

Ek moes dikwels stofpad draf winkel toe, om sigarette te gaan koop. Dit was nog ’n winkel met swart nikkerbolle, Wilson-toffies en geel appelkose op die toonbank in groot glasbottels! Ek dink dit was met die halfkroon styf vasgeklem in ’n vuil hand en skurwe kaalvoete vol swart koffieblertse uit die blikbeker van oggendkoffie! Nog halwe streepsakke suiker, meel en growwesout op die stukkende plankvloer, wat plek-plek met stukkies sink reg gemaak was! Blouseep in sulke stawe op die rak agter die toonbank, wat vir bad, wasgoed, ook vir meelsakvadoeke en skottelgoed gebruik was. Swartes se donkiekarre op die sypaadjie voor die winkel! Jitte, dis net sowat 4 en 'n 1/2 dekades gelede se SA? Sulke blikadvertensies was aan die muur opgekap op 'n lang sementstoep. Daar is in fynskrif dat die 20,679 dokters se opinies deur onafhanklike ouditeure bevestig was! My ouer susters, wie in WO2 gebore was, het nog in plaaslike tabakfabrieke handewerk gedoen! Was ons net ver agter omdat dit platteland was of was wit nog in 'arm blanke tyd'? Die spoorwegbus se roete het nog daar verby gegaan vir swartes!

Hans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top