Willemien historiese romanse op sy beste

  • 0



Titel: Willemien
Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799351491
Prys: R113.95

Klik hier om Willemien te koop by Kalahari.com.

Chanette Paul se Daveltjies, soos dié reeks oor die Davelvroue onder lesers bekend staan, is pas op aanvraag heruitgegee met pragtige, nuwe omslae. Voor in elkeen van die boeke vertel die skrywer ’n ietsie oor die heruitgawe, die navorsing wat sy daarvoor gedoen het, en wat die lesersreaksie op die eerste uitgawe was. Tamara, die eerste boek, is met die herdenking van die Boereoorlog in opdrag van die uitgewer geskryf en aanvanklik in 1999 onder die titel Bittersoet wals gepubliseer. Ses jaar later is dit heruitgegee as historiese romanse onder die titel Tamara. Tamara was so gewild onder lesers dat die uitgewer vir ’n opvolg gevra het. Willemien het vervolgens die lig gesien en is die tweede in dié reeks van sewe.

Willemien, oftewel Mientjie, is Tamara se niggie en maak haar verskyning in die eerste boek wanneer die Engelse tydens die Boereoorlog al die Davel-vroue (dis nou Groot Dawid se dogter Tamara en die skoondogters) en hulle kinders van die plaas af jaag en in ’n konsentrasiekamp opneem. In Tamara is Mientjie die tiener wat kophou, haar ma probeer troos en Tamara bewonder vir haar veggees, dapperheid en slim opstand teen die Kakies. In Willemien is min te sien van daardie dogter. Sy moes toesien hoe haar ma, broers en susters een vir een sterf en moes later met ’n vernuftige plan self uit die kamp vlug. Die Mientjie wat op Bergendal by Tamara en Joshua aankom, is sieklik, verhonger en net vel en been. Maar Mientjie is van dieselfde stoffasie as haar tante gemaak en skud vinnig die konsentrasiekamp af. Sy kies om Willemien genoem te word en los Mientjie in daardie haglike toestande agter haar. Tog loop Willemien met ’n diepgewortelde haat teenoor die Engelse, ’n verbitterheid wat soos gif in haar sit.

Deur Tamara se toedoen gee die skatryk Jood, Ruben Gould, vir Willemien ’n beurs om by die Christian Teachers’ Academy for Ladies te gaan studeer, mits sy na afloop van haar studie die Gould-seuns tuis onderrig. Willemien is die enigste Boer tussen die Engelse meisies en word beslis nie met ope arms ontvang nie. Maar die Davel-deursettingsvermoë slaan duidelik deur wanneer sy die Award for Excellence met die gradeplegtigheid ontvang. Hier ontmoet sy twee mans wat haar lewe spoedig verander: Theron du Toit, die prinsipaal van die Akademie se manlike eweknie, en Aidan Connelly, die jong Ier wat van meet af sy belangstelling in haar duidelik maak. Aidan maak ’n onteenseglike passie in Willemien wakker. Sy kan haar aangetrokkenheid tot hom nie verklaar of onderdruk nie. Maar Aidan is ’n Ier – wat volgens Willemien net so goed soos ’n Engelsman is. En benewens die gerugte dat hy van adellike afkoms is, fluister mense ook oor sy deelname in die oorlog. Dat hy haar mense doodgemaak het, kan Willemien hom nie vergewe nie. Die verlede lê veels te vlak daarvoor, die impak van die oorlog nog te rou om haar in die lewens van die Afrikanervolk. Theron, daarenteen, maak ’n veel beter maat: hy is, soos sy, ’n patriot met ’n liefde vir Afrikaans. Theron glo aan ’n “kultuurerfenis en ’n kultuurtoekoms. En aan die taal wat tuis in die volksmond lê” (46). Dit is sy droom om ’n Afrikaanse skool oop te maak, met Willemien as ’n onderwyser daar. Hy mag dalk nie so passievol soos Aidan wees of dieselfde gevoelens in haar wakkermaak nie, maar hy is ’n Afrikaner in murg en been. En dít dra in ’n na-oorlogse samelewing baie gewig. Willemien se lewe word behoorlik op sy kop gekeer wanneer sy eers die Gould-huishouding betree, en haar keuses is nie maklik nie. Hoe vergeet jy die verlede, die onreg en ellende wat onder jou vel kom lê het? En hoe kan jy ooit anders kies as vir jou eie mense, jou taal?

Met Willemien het Chanette Paul destyds die tekens begin toon dat sy ’n nuwe rigting inslaan, weg van die romanse. Want hoewel dit as ’n historiese romanse uitgegee is, neig Willemien sterker na die kant van die liefdesroman. Die ontwikkeling van die liefdesverhouding tussen die held en heldin staan hier nie so stewig in die kern van die verhaal nie. Die fokus is eerder op Willemien se ontwikkeling as karakter en groei na emosionele volwassenheid – veral wat haar verbitterdheid rondom die oorlog betref. Sy word nie net met keuses rondom die liefde gekonfronteer nie, maar moet ook belangrike besluite in verband met haar loopbaan neem. Sy is een van weinig Afrikaanse meisies wat kan studeer; sy móét ’n sukses van haar loopbaan maak en dit bo ’n romantiese verhouding stel. Willemien word nie net by die Akademie met afkeer en afguns bejeën nie; ook Joanna Gould maak geen geheim daarvan dat sy Willemien nie veel beter as ’n bediende op Orange Hall beskou nie. Vir Willemien is die uitdaging dus nie bloot om die regte man te kies nie, maar ook om haarself as kundig en begaafde onderwyseres te bewys en só ’n diep-gesetelde dunk onder die Engelse wat betref die Afrikaner te verander.

Chanette Paul skep die milieu goed en gee die leser ’n realistiese blik op die politieke en ekonomiese gees kort na die Boereoorlog, die taalstryd en wantroue onder Boere jeens Afrikaans as voertaal vir byvoorbeeld skole, en die spanning tussen Afrikaner en Engelsman. Die invloed van die oorlog – op Afrikaner sowel as byvoorbeeld die Joodse Gould-gesin, word fyn verweef in die verhaal, sodat dit nooit ’n klaagsang oor Engelse onderdrukking raak nie. Ook die newekarakters word in meer diepte ontwikkel as wat die geval is in ’n romanse. Willemien se ontknoping is egter dié van ’n romanse, eerder as ’n liefdesroman. En toegegee, Willemien kan (nog) nie kers vashou teen Chanette se Gys-reeks wat karakterontwikkeling, ruimtebeskrywing en spanning betref nie. Maar dit sou onregverdig wees om dieselfde bedrewenheid of diepte te verwag van Willemien, wat bedoel is om romanse te wees. Chanette Paul bewys egter dat sy weet hoe om haar leser in te katrol en die aandag te hou. Sy versmoor nie haar liefdesverhaal met te veel historiese feite rondom die politieke situasie en taalkwessie nie, maar gebruik dit eerder om emosionele diepte te skep.

Willemien is nie slegs vermaaklik nie, maar ook insiggewend. As historiese romanse slaag dit skitterend. En sit jy dié Daveltjie neer, kan jy nie help om te wonder wat van die volgende Davel-vroue gaan word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top