Wie besluit oor lewe of dood?
Sy het wydsbeen die saal ingeloop gekom. Stywe lyf met ’n koenheid aan haar. My vriendin, het liggies aan my gestamp. Ons het agter gesit, en so die dames dopgehou wat vanuit hul verskeie dorpe arriveer. Hulle het gekom vir die naweek.
Ons het dadelik geweet wat fout is met haar. Liggaamstaal spreek. Maar ons was (moontlik) hierdie keer verkeerd. Sy was nie gay nie. Ek ken nie haar volle verhaal nie, sy was nie in my kleingroep. Ons het wel haar getuienis van vrymaking teen Sondagmiddag aangehoor.
Dis hoekom sy so geloop het. Haarself verag. Nog steeds die kind gevoel tussen haar bene wat sy laat aborteer het. Selfs gesien hoe hulle die stukke van die seuntjie vanuit haar binnenste opsny. Daarna, was selfmoord al oplossing, totdat iemand haar gesmeek het om net vir oulaas ’n kamp by te woon.
Na die aborsie was sy nooit weer dieselfde nie. En die wydloop van haar bene, wat die gevoelsplek van die kind dra, ’n ewige liggaamsherinnering. Sy wou nie vrou wees, wou nie kinders baar. Agterna wou haar bene ook nie teenmekaar sluit, soos die van ’n dame. Tot dié Sondagmiddag, toe sy voor ’n groep van 350 dames op die verhoog kon klim, en haar getuienis bring oor hoe Jesus Christus haar vrygemaak het van sondelas en sondeskuld. Haar in-beheer-masker afgeruk en vrouwees herstel het.
Selfhaat is ’n vyand waarmee jy snags saam in die bed klim. Met jou kind se beeld soos ’n foto ingebrand in jou agterbrein. Terwyl jy huil oor dit wat was of kon gewees het. Elke jaar, dieselfde tyd, met ’n brandruk op jou maag wakker skrik en weer onthou. Maar nie presies weet wat die kind se geboortedag sou wees. ’n Lewe geneem wat eintlik ’n geskenk vanaf God was.
In die JUIG!-tydskrif van Des 12, skryf Mathew Piercy, ’n spesialis-narkotiseur die volgende: “Ek sal nooit ’n dodelike dwelm aan iemand gee wat daarvoor vra nie en ek sal selfs nie eers ’n voorstel maak om dit te gebruik nie. Ek sal ook nie aan enige vrou medisyne gee wat ’n aborsie in die hand werk nie.” Hierdie woorde is Die Eed van Hippokrates, die ‘vader van die mediese wetenskap.’ Hy het aborsie gesien as moord op iemand anders, en “het dit vir die eerste keer in ’n praktykkode vir dokters geplaas.”
God, die Gewer van lewe, het alleen die mag en gesag om lewe te gee of te neem. Wanneer ’n ma besluit om haar kind se lewensbron af te sny, rebelleer sy in der waarheid teen God, haarself, asook die ongebore kind. Daarna, stap sy alleen die bitterpad van selfveragting en selfhaat.
Wie gee die mens die reg om oor lewe te besluit? Mathew Piercy sluit dan ook sy artikel af met hierdie woorde: “Die weiering in die Weste om die lewe te respekteer, is ’n simptoom van die tragiese skuif weg van die Bybelse wêreldbeskouing na evolusionêre humanisme.”
Ek skryf nie hierdie brief om myself of dienswerk in die Here, op te hef nie. In nederigheid is ek baie afhanklik van God en Sy wonderwerkende krag en genesing in al hierdie seer vroutjies se lewens. Sonder Sy hulp sal hulle nooit weer herstel of emosioneel intelligent kon word.
Ek het verslaaf geraak aan God se wonderwerke, al gaan dit gepaard met diepgebed en trane.
Trienie Mahne