SêNet-briewe | Letters

 
Wie besluit oor lewe of dood?

Sy het wydsbeen die saal ingeloop gekom. Stywe lyf met ’n koenheid aan haar. My vriendin, het liggies aan my gestamp. Ons het agter gesit, en so die dames dopgehou wat vanuit hul verskeie dorpe arriveer. Hulle het gekom vir die naweek.

Ons het dadelik geweet wat fout is met haar. Liggaamstaal spreek. Maar ons was (moontlik) hierdie keer verkeerd. Sy was nie gay nie. Ek ken nie haar volle verhaal nie, sy was nie in my kleingroep. Ons het wel haar getuienis van vrymaking teen Sondagmiddag aangehoor.

Dis hoekom sy so geloop het. Haarself verag. Nog steeds die kind gevoel tussen haar bene wat sy laat aborteer het. Selfs gesien hoe hulle die stukke van die seuntjie vanuit haar binnenste opsny. Daarna, was selfmoord al oplossing, totdat iemand haar gesmeek het om net vir oulaas ’n kamp by te woon.  

Na die aborsie was sy nooit weer dieselfde nie. En die wydloop van haar bene, wat die gevoelsplek van die kind dra, ’n ewige liggaamsherinnering. Sy wou nie vrou wees, wou nie kinders baar. Agterna wou haar bene ook nie teenmekaar sluit, soos die van ’n dame. Tot dié Sondagmiddag, toe sy voor ’n groep van 350 dames op die verhoog kon klim, en haar getuienis bring oor hoe Jesus Christus haar vrygemaak het van sondelas en sondeskuld. Haar in-beheer-masker afgeruk en vrouwees herstel het.

Selfhaat is ’n vyand waarmee jy snags saam in die bed klim. Met jou kind se beeld soos ’n foto ingebrand in jou agterbrein. Terwyl jy huil oor dit wat was of kon gewees het. Elke jaar, dieselfde tyd, met ’n brandruk op jou maag wakker skrik en weer onthou. Maar nie presies weet wat die kind se geboortedag sou wees. ’n Lewe geneem wat eintlik ’n geskenk vanaf God was.

In die JUIG!-tydskrif van Des 12, skryf Mathew Piercy, ’n spesialis-narkotiseur die volgende: “Ek sal  nooit ’n dodelike dwelm aan iemand gee wat daarvoor vra nie en ek sal selfs nie eers ’n voorstel maak om dit te gebruik nie. Ek sal ook nie aan enige vrou medisyne gee wat ’n aborsie in die hand werk nie.” Hierdie woorde is Die Eed van Hippokrates, die ‘vader van die mediese wetenskap.’ Hy het aborsie gesien as moord op iemand anders, en “het dit vir die eerste keer in ’n praktykkode vir dokters geplaas.”

God, die Gewer van lewe, het alleen die mag en gesag om lewe te gee of te neem. Wanneer ’n ma besluit om haar kind se lewensbron af te sny, rebelleer sy in der waarheid teen God, haarself, asook die ongebore kind. Daarna, stap sy alleen die bitterpad van selfveragting en selfhaat.

Wie gee die mens die reg om oor lewe te besluit? Mathew Piercy sluit dan ook sy artikel af met hierdie woorde: “Die weiering in die Weste om die lewe te respekteer, is ’n simptoom van die tragiese skuif weg van die Bybelse wêreldbeskouing na evolusionêre humanisme.”  

Ek skryf nie hierdie brief om myself of dienswerk in die Here, op te hef nie. In nederigheid is ek baie afhanklik van God en Sy wonderwerkende krag en genesing in al hierdie seer vroutjies se lewens. Sonder Sy hulp sal hulle nooit weer herstel of emosioneel intelligent kon word.

Ek het verslaaf geraak aan God se wonderwerke, al gaan dit gepaard met diepgebed en trane.

Trienie Mahne


Comments 5 Reaksies | 5 Comments
Delete Comment
avatar
Thys Human (PTA)
2012-12-10 @23:06

Ag shame! Wat ’n tragiese ou storietjie! Ag foei, wat ’n klomp tjol.

’n Fetus het nie "lewe" nie. Dit word eers ’n lewende wese wanneer asem ingetrek word. Om enigiets anders te beweer is eenvoudig fisiese en fisiologiese twak.

Enige vrou het die reg om binne die perke van mediese "veiligheid" ’n aborsie te ondergaan. Maar dit is iets soos ’n laaste uitvlug. Dit moenie as net nog ’n vorm van geboortebeperking gebruik word nie want dit is ’n ernstige  aanval op die vroulike liggaam en dus fisiologies traumaties. Om vroue as't ware van sonde en moord te beskuldig as hulle wel ’n aborsie ondergaan – veral MOET ondergaan – is ’n gruwelike sonde want dit veroorsaak net nog erger trauma.  Skei juit met julle liederlike gebruik!  

Om vir my of enigiemand te probeer wysmaak dat slegs een of ander godheid beheer het oor lewe en dood is eers tjol.  As jy dit wil glo en deel van jou lewe maak, gaaf, maar moenie probeer om sendingwerk daarmee te doen nie!

Delete Comment
avatar
Chris Dippenaar
2012-12-11 @11:45

Thys, is dit nie maar net wat die kerke en hulle gesante nog altyd gedoen het nie? Oortuig jou dat jy siek is en gaan uit hulle pad uit om jou skuldig te laat voel. Met vroom geestige begeesterheid bied hulle dan die "oplossing" aan. Die Christen-geloof werk op sy beste waar daar nood en pyn is en wanneer dit onderbreek is daar altyd slawe van die "gees" om dit te skep. Die ou wat sy hand uitsteek om jou op te help is baie keer dieselfde ou wat jou gepootjie het.

Trienie is ’n groter plaag in die gemeenskap as wat ’n duisend Kobusse ooit sal wees. Kobus se gat is gegom aan sy stoel voor sy rekenaar in sy eie fantasie, terwyl Trienie ’n aktiewe parasiet is wat haarself inwurm in die lewens van werklike mense. Haar verskoning elders aan Cornelius dat sy nie hier is om haar eie snaar te slaan nie laat my siek voel.

"DR" Trienie se diagnose uit die Bybel (as dit ooit daar voorkom) oor die gemoedstoestand van vroue wat aborsies ondergaan het kom uit dieselfde mond wat rooivleis vreet sonder om ooit die regte van diere te oorweeg. Dit kom uit dieselfde kop wat elke aand rustig slaap (en droom van ridderKdK?) op ’n sagte kussing, met die wete dat sy nie vir ewig gaan brand in die hel soos die meeste van ons nie. 

Delete Comment
avatar
Raed-na-Gael
2012-12-12 @15:04

Behalwe in die geval van Johannes die Doper en Jesus se moeder se bymekaar kom slag, verwys die Bybel nie na die ongebore baba nie.

Die verbond met die baba word eers na die geboorte gesluit .

Die trauma wat die moeders na aborsie ondervind is subjektief.

Ek dink dis die moederinstink wat hier rebelleer.

Nou ja, nadat dit gesê is, is die verwekking ’n Godsbesluit of nie ?

As jy Gal. 5: 23, 30 lees kom daar insig.

Getroude pare moet bid vir hul kinders voor verwekking.

Aborteer sy dan sonder ’n mediese rede, wel dan ...

kan 300 mense in ’n saal nie vergiffenis gee nie, God alleen kan !

Read-na-Gael.

Delete Comment
avatar
Charl le Roux
2012-12-12 @15:33

Trienie baseer haar emosionele argument hoofsaaklik op Christelike argumente, maar sleep die Eed van Hippokrates in. Aangesien sy die eed aanhaal, moet sy bewus wees daarvan dat dit so begin: "Ek sweer by Apollo, die Geneesheer, by Asklepios, by Hygieia, by Panaceia en alle gode en godinne, as getuies, om na my vermoë en oordeel hierdie eed en verbintenis uit te voer: [....]"  Nou wonder ek of ’n Christen wat ’n eed aan die Hellenistiese gode aflê daardeur gebonde behoort te voel, Trienie?

Die meer pragmatiese benadering sou natuurlik wees om liefs maar die gode uit die argument te hou en dit op meriete te beoordeel.  Daar moet ons die regte van die swanger vrou opweeg teen die belange van die embrio of foetus.  Die mees algemene norm vandag is om nie enige regte van ’n foetus toe te ken voor dit nie lewensvatbaar word nie.  Tot op daardie stadium word slegs die regte en belange van die swanger vrou in aanmerking geneem.  Dit is ’n sinvolle benadering; ’n embrio is immers nie ’n mens nie net soos wat ’n akker nie ’n boom is nie.

Daar is geen rede vir ’n vrou wat ’n tydige aborsie kies om enige gewetenswroeging daaroor te hê nie.

Delete Comment
avatar
Chris Dippenaar
2012-12-13 @11:28

Hello Raed-na-Gael

Sou jy omgee om die gedeelte uit Galasiërs waarna jy verwys te verduidelik. Ek moet toegee dat ek jou punt dalk mis oor my eie onnooslikheid, maar ek sien nie die insig wat dit bied wanneer dit kom by ’n uitspraak op aborsie nie. Ek vermoed dat ’n besluit, of dalk eerder ’n keuse tussen goed en kwaad, volgens jou, gelei word deur die Heilige Gees, leiding wat jou dan neem na die oorsprong van lewe: ’n Gebed aan God vir kinders voor verwekking?

Chris

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address