Kuberklas Kreatief | Nuwe skryfwerk

 
WF 2012: Ruimtewesens

“So, wat as hy nie van my hou nie?” vra Samuel.

Hy lek die smeltende roomys met ’n vinnige beweging van sy hand af.

“Alles sal goed gaan, want ek het melktert gemaak,” terg ek.

Ek spring op en loop na die glasdeur aan die einde van die tuin. Ek loop verby die rankplante wat lemoene dra. En die rose, lelies en sonneblomme wat uit een bos groei. Die enigste ding wat die valsheid verklap, is die effens pers lug.

Die enigste ding wat Redding nie kon red nie.

Ek roep oor my skouer na Samuel wat nog op die tuinbankie sit. “Weet jy, ek wonder hoe dom die mensdom moes wees om die vernietiging toe te laat ...”

Samuel gooi die laaste stukkie roomys weg en kom staan reg voor my.

“Wat verwag jy, Liefie? Dit was 2012. Die mense het die hele tyd Redding misgekyk.”

Sy groen oë sprankel van humor. Ek lag en stap na die sitkamer. Hy gryp die bottel Redding van die kombuistafel af en plons langs my neer op die sitbank. Hy vat ’n sluk en gee dit vir my. Terwyl ek die soetigheid afsluk, dink ek hoe alles begin het.

Redding.

Die konkoksie wat die wêreld verander het. Dit het die vermoë om enige kwaal te herstel en regenerasie te versnel. Dit kan alles herstel: van kanker tot ouderdom. Ongelukkig word ’n skadelike gas vrygestel met die vervaardiging van Redding, wat  die atmosfeer en plantlewe stadig versmoor. Maar mense was jonk en gesond en het vir alles ’n plaasvervanger ontwerp. Die resultaat was ’n idilliese lewe met pers lug, plastiekblomme en geen siektes nie.

Totdat die Ander ingemeng het, natuurlik.

“Liefie?”

Ek skrik en sit die bottel neer. Samuel vat my hand in syne.

“Ek dink jy stres meer as wat ek doen.” Hy trek my hare en gee ’n senuweeagtige lag.

My hart gee ’n onnatuurlike ruk. Hy sit sy hand teen my wang. Hy draai my gesig na syne en kom nader en nader en ... toe lui die deurklokkie.

“Nie nou nie!” mompel ek. Geïrriteerd hardloop ek na die deur, terwyl Samuel op die bank sit en giggel.

’n Kort, donker man met ’n stywe hempie staan voor my.

“Hallo, Lief. Jy lyk asof jy vreeslik warm kry, hoor. Kyk na daardie rooi wangetjies van jou. Miskien moet ek jou ’n ekstra skoot Redding vanaand injaag. Dit lyk asof jy dit nodig gaan kry.”

Hy stap in en hang sy baadjie op. Ek staar hom agterna in die hoop dat hy my vuil kyk raaksien.

“Hallo, Pa.”

Hy draai om en soen my op my hare. Ek keer hom net voor hy die sitkamer binnegaan.

“Pa, onthou jy toe ek jou verlede maand van Samuel vertel het?

“Ja, en?” Sy een wenkbrou skiet op.

“Wel ... hy sit nou in die sitkamer.” Ek gee hom my mooiste glimlag.

Hy rol sy oë. “Ek hoop hy is beter as die vorige een.”

Ek lag en soen hom op sy wang.

“Ek belowe hy is anders.”

Samuel het intussen die televisie aangeskakel en die eerste kanaal is die nuus. Die miniatuurbeeld van die aanbieder loop op die koffietafel. Sy digitale stem verwelkom ons.

“Die gedenkdiens van die oorlede Justin Bieber is vandag in die nuwe Mars-stadion gehou. Talle aanhangers het hul hare in eerbied teenoor die destydse ikoon gesny,” lees die aanbieder met ’n verveelde stem.

Samuel gewaar ons en steek ’n hand uit na my pa.
“’n Eer om u te ontmoet, Meneer.”

“Naand, seun. Ek het al baie van jou gehoor.”

Die nuusleser  onderbreek die ongemaklike stilte.

“Op die internasionale front is nog ’n suksesvolle arrestasie van ’n Ander gemaak. Die polisie wil die publiek nogmaals waarsku dat die Ander hulself as mense kan kamoefleer. Die Ander is ruimtewesens van die planeet Akirfa. Hul doel is om die resep van Redding te steel en hulle word as uiters gevaarlik beskou.”

Ek skakel die televisie af.

“Is julle lus vir melktert?”

Ek het skaars aan my tert geraak toe Samuel praat.

“Kan u my die ontstaan van Redding verduidelik, asseblief? As dit nie moeite ...”

“Nee, dis reg so!” 

My pa klap sy hande en vryf sy groeiende boep.

“My oupagrootjie het lank gelede op die stoep gesit en miere dopgehou. Hy wonder toe waarom hulle nooit moeg raak nie en heeldag aan die gang bly. Met dit in gedagte, skep hy toe iets wat later alles sou verander. Tot hierdie dag is die resep ’n familiegeheim.”

Hy rond dit af met ’n tevrede glimlag.

“Sjoe, jy weet hoe om te lieg,” sê Samuel.

Ek ruk my kop op.

“Wat bedoel jy, seun?” vra my pa agterdogtig.

“Wel, ek het verwag jy sou vertel hoe jy die Ander besteel het.”

Samuel staan op en sy stem raak harder en harder, sy oë groener en groener.

“Hoe jou oupagrootjie ’n nasie se waardevolste besitting gesteel het en dit as sy eie bemark het!”

Hy skeur sy gesig af en onthul die kenmerkende gelaatstrekke van ’n Ander. Hy haal ’n rewolwer uit.

“In die naam van die Ander-koningin arresteer ek jou vir die diefstal van die Redding-resep.”

Samuel gryp my pa en druk hom vloer toe. Pa stamp die rewolwer uit sy hand. Samuel klap hom en probeer die elektriese boeie sluit.

My hande bewe onder die gewig van die rewolwer wat ek opgetel het. Ek rig dit op Samuel.

“Ek het jou gesoen. Jou laat lag. Jou liefgehad ...”

Die trane stroom, maar ek sien steeds hoe Samuel gereed maak om ’n klein messie in my rigting te gooi. Pa probeer keer en ek neem my besluit.

“Liefie!” skree Samuel met ’n stem wat soveel herinneringe oproep.

Net ’n jammerte dat dit alles vals was.

Die skoot verdoof my en ek val neer.

Die melktert proe na niks. Ek bewe en kyk hoe Pa Redding op sy gebreekte arm smeer.

“Pa?”

“Lief?”

“Wat hy gesê het ... oor jou oupagrootjie. Asseblief, sê my dis nie waar nie.”

Hy sug en lyk skielik ’n duisend jaar ouer.

“Lief. Ek moet jou ’n storie vertel.”


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address