WF 2012: Nat graf

  • 0

Ek het vroeg opgestaan daardie dag, die dag toe almal gesê het die wêreld sou vergaan, maar die wegraping het nie plaasgevind nie – die twee-en-twintigste het ook gekom en gegaan. Baie mense was geïrriteerd omdat niks gebeur het nie. Tien jaar is al verby en hier staan ek nog steeds, springlewendig en gesond, hartseer, maar gesond, met ’n ingenieursgraad op my naam. Iets was op pad, iets wat al die hippies en boomliefhebbers voorspel het: die ys by die pole was besig om te smelt. Jakobs het my al vertel van die nuwe masjiene wat hulle besig was om te ontwerp, masjiene wat in verseëlde geboue geplaas sou word sodat die water nie daarby sou kon uitkom nie. Die werk van hierdie masjiene sou wees om ons te huisves in ’n virtuele leefruimte totdat ons ’n oplossing kon kry vir die krisis. Dit skakel by jou rugmurg en medula oblongata in en stuur die neurologiese seine wat vir die senuweestelsel bedoel is deur drade, wat die seine as aksies vertolk in die virtuele leefruimte. Jy kan dus hardloop in die denkwêreld, maar stil lê in die werklike een.

Hulle het alreeds sulke masjiene gehad voor 2012. Daar is gesê dat mense dit al begin gebruik het, maar die meeste van hulle het vasgekeer geword in hulle onderbewussyn; hulle is opgeneem in hospitale en die masjiene is uitmekaargehaal. Ons het wel uit ons foute geleer en dit is herbou nadat ons gehoor het wat in 2022 sou gebeur. Teoreties gesproke sou die masjien ’n ruimte skep waarin mense steeds met mekaar kan kommunikeer en kan lewe.

Die watervlakke het al klaar begin styg en dit sit al by Tafelberg se voetenent; die Kasteel lê onder die see, vergete. Ons erfenis sal tien teen een heeltemal verdwyn onder die oseane, nes Atlantis, vergete; die blou planeet sal heeltemal blou word. Berigte vertel van miljoene mense wat versuip het in Hawaii, Miami, New-York, Japan, Australië, Nieu-Seeland, Engeland en Rusland. Die wêreldbevolking het binne ure met oor die biljoen mense gedaal. Die mens het vir homself ’n graf gegrawe wat met kiloliters diwaterstofoksied gevul sal word. Ons oormaat koolstofdioksied het Moeder Natuur te veel ontstel.

“Ons moet nou gaan,” sê Jakobs terwyl hy ’n tas oor sy skouer swaai. “Die Grot gaan nie vir ewig oop bly nie!” Ek draai om na hom met trane in my oë. My gesin was in die ou ammunisiestoor van die Kasteel toe die vloed begin het. Dit het nie lank gevat voordat die water daar uitgekom het en hulle versuip het nie. “Ek is gereed,” sê ek en swaai my eie tas oor my skouers. Soos ons ry, sien ek die honderde sonpanele wat op rubber gemonteer is wat aan die Grot elektrisiteit verskaf sodat die masjiene kan werk. Dis op my bevel op rubber gemonteer sodat dit kan dryf op die vloedwaters.

Die Grot was een van twintig verseëlde Beskermde Virtuele Realiteitsplase (BVR) in die Republiek van Suid-Afrika. Altesaam sou daar sewehonderd oor die hele aardbol wees, maar slegs vyfhonderd is voltooi – die smelting het vinniger plaasgevind as wat ons gedink het dit sou. “Jona, jy onthou hoekom ons in die Globale Virtuele Realiteitsnetwerk gaan inskakel, nè?” Jakobs se stem klink senuweeagtig langs my. “Ja,” antwoord ek. “Om ’n oplossing te kry vir die Natgrafkrisis.” Een sekonde in die werklike wêreld sou dae wees in die masjien, wat ons meer tyd gee om ’n oplossing te kry. Ons het dit die Natgrafkrisis genoem, want ons het ons eie graf gegrawe en die gevolg daarvan is ’n aardbol wat baie nat gaan wees.

Ons kom eindelik by die Grot aan en word welkom geheet deur ’n span wetenskaplikes en ingenieurs. Die Grot was die enigste verseëlde BVR wat vir professionele mense opsygesit is – die mense wat die oplossing moes kry. Die res was almal vir mense wat sou voortplant ná die Natgrafkrisis.

“Aa, Jona en Jakobs van Rensburg, dit is ’n eer om julle te ontmoet. Net ongelukkig dat dit op so ’n negatiewe dag moet gebeur,” sê ’n man wat ek nog nie vantevore gesien het nie. “Die naam is Danie, Danie Geldenhuys.” “Aangenaam,” antwoord ek en ons skud blad. “Die masjiene is almal reeds opgestel en gereed vir gebruik,” gaan Danie voort: “Ons wag net nog vir my dogter, Sandra, dan sal ons die Grot verseël.” Ek stap in. Daar lê sowat vyftig masjiene, gereed om ons te stuur na ’n wêreld wat deur ons breine geskep is. Uit my tas neem ek die foto, die laaste foto wat geneem is van my gesin. Dit was nog by Lanseria-lughawe. Ek moes weer terugkeer kantoor toe vir werk, maar ek het my kinders en vrou eers gaan wegsien. Ek moes hulle nooit laat gaan het nie. Vier masjiene met hulle name op lê nou leeg: viermiljoen rand se tegnologie wat ’n leemte in my hart skep net voor ek op ’n avontuur geskep deur rekenaars moes gaan.

Ek hoor die slotte toe klap, die verseëlaar wat in die gleuwe van die deur gespuit word. Ek sien Danie se dogter, Sandra. Sy herinner my aan my eggenote wat ek twee dae gelede verloor het. Hoekom het ek hulle nie gekeer by die lughawe nie? “Is almal gereed?” kom Jakobs se stem vanaf sy eie masjien. Krete van “Ja” eggo deur die Grot. “Reg, sien julle oor ’n rukkie. Kom ons gaan vind die oplossing!” Jakobs lê terug in sy masjien en maak die deksel toe. Sowat vier-en-veertig ander deksels klap toe. Ek sit stil vir ’n wyle en dink aan my vrou en kinders, hoe erg ek hulle mis. Sou ek ooit oor hierdie verdriet kom? Seker nie. Ek lê terug, klap die deksel toe en druk die “Aan”-knoppie. Die blik-vrouestem begin te praat: “Welkom by Operasie Nat Graf. U sal binnekort aanlyn wees ...” Ek hoor die geruis van water in die agtergrond en hoop dat die deur sal hou.

Lees nog oor die Kuberklas Kreatief WF-skryfkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top